Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Iemand beduie my in die gange af en ek kom by 'n kamer waar mense van verskillende dinominasies en ouderdomme in 'n ry staan en wag. Skuins voor my staan 'n ou tannie met 'n netjiese grys bollatjie agter haar kop, netjies in 'n bondeltjie saamgevat in 'n bollarek. Sy staan met haar bene gemaklik uitmekaar en haar kierie het sy staangemaak so entjie in die middel voor en daarop rus altwee hande. Haar handsak hang oor haar linker voorarm. Haar brilletjie sit gesofistikeerd so entjie af op haar neus.

Ek skuifel ongeduldig rond, eers op die een been, dan op die ander been en staan dan so entjie uit die ry om te kyk hoe ver ek nog van voor af is. Ek sien die ry is nog baie lank.

Ek praat geïrriteerd hardop met myself: “Dit gaan nog 'n ewigheid vat.”

Terwyl ek so entjie uit die ry staan, sien ek ver, baie ver voor in die ry staan 'n tafel met twee stoele daarlangs waarop twee persone in wit klere sit. Die een kyk in 'n groot boek en soek die naam van die man wat voor hom staan en die ander skribbel iets op 'n papiertjie en oorhandig dit aan hom. Die man glimlag opgewonde en stap by 'n sydeur uit. Dit gaan redelik vinnig, maar nie so vinnig soos wat ek dit graag sou wou hê nie.

“Wat de joos is dit hierdie?” vra ek weer ongeduldig met die hoop dat iemand my sal antwoord. Ek maak nie maklik vriende nie en was nog nooit goed met kommunikasie nie. Al wat ek weet is dat ek 'n baie belangrike afspraak gaan mis as hierdie spulletjie nog veel langer aanhou.

'n Rastaman van agter my, wat ek nie sien inkom het nie, stamp aan my terwyl hy een van sy dreadlocks wat onder sy groen, geel, rooi en swart mus uitgepeul het en nou oor sy voorkop hang, weer terugsit onder sy mus en kyk my met stil oë aan en sê: “Wees geduldig.” As ek nie so klein van postuur was teen die man agter my nie, sou ek hom iets toegesnou het. Met geduld was ek in elkgeval agter in die ry toe dit uitgedeel was en as hierdie Rasta nog een keer aan my stamp, sal hy nou 'n ding sien van hierdie klein boervroutjie.

Ek hoor iemand raas daar voor en ek staan so entjie uit die ry om te sien wat ver voor afspeel en ek hoor 'n lang skraal man met 'n effense boepie en 'n lappie oor sy bles vir die twee mans voor sê: “Dit is nie moontlik nie. Ek moet nog soveel doen. Ek het nog soveel om te bied. Gun my tog nog die geleentheid om my ouers te groet.” Daar is angs in sy oë toe hy na my kyk, terwyl hy die sydeur agter hom toetrek.

Die tannie draai om na my en sê met 'n sagte vriendelike stem, wat my aan my ma laat dink,”Jy moet jouself beheer en geduldig wag. Ons almal is in dieselfde ry om te wag vir die antwoord wat van voor kom.”

“Watse antwoord? Ek dog dis die ry waar mens uitteken?”

“Ja, dit is die ry waar hulle jou uitteken. Dit is die ry waar hulle jou tyd gee.”

“Watter tyd? Moet ons dan nou weer terugkom hierheen?”

“Nee,” sê die tannie met die grootste geduld, soos iemand wat 'n gestremde kos gee, “dit is die tyd wat jy nog oor het.”

Ek kyk haar geskok, verstom aan en my mond val effens oop, terwyl ek haar skaamteloos aankyk asof sy 'n paar varkjies verloor het en glimlag wrang.

Die Rastaman van agter my stamp aan my en ek kyk vies om na hom: “Jy was in 'n ongeluk. Jy lê in die hospitaal. Jou mense staan om jou bed. Hulle huil.”

Ek trek vir hom 'n effense skewe mond met vernoude oë: “Is jy 'psycic'?”

“Nee, ek is 'n 'believer'.”

Ek storm verby die Rastaman en nog 'n paar ander mense, wie ek nie sien inkom het nie, maar die deur kan nie oopmaak van binne nie, daar is geen handvatsel aan nie.

“Al hoe jy kan terug, is as iemand van buite vir jou oopmaak.” sê die Rastaman.

Die tannie voor my glimlag ingenome en draai weer terug, terwyl sy 'n tree vorentoe staan en dieselfde posisie inneem.

“Wil jy nou vir my sê, al hierdie mense was in 'n ongeluk? Is ons dood?”

“Nee, net jy was in 'n ongeluk en niemand is dood nie, ons wag net vir ons tyd. Almal moet hulle tyd eers kry.”

Ek draai weer om in die ry agter die ou tannie. Ek kyk op my arm, maar my horlosie is weg. Die ry het vinnig korter geword, terwyl die Rastaman gepraat het. Ek raak rustig, want ek dink hierdie is maar net 'n droom en kort voor lank sal ek wakker word.

Dis asof die tannie voor my, my gedagtes kan lees en sy draai om na my. “Dit is geen droom nie,” en sy druk met haar kierie hard op my groottoon en ek voel die pyn.

Ek berus my daarby en wag die laaste rukkie sonder teëstribbeling en met groot geduld, sprakeloos agter die ou tannie tot dit tyd is vir haar om te gaan. Dit kan seker nie so erg wees nie. Jy kry net jou tyd en dan loop jy. Die tannie staan einde laaste voor die tafel en 'n papiertjie word aan haar oorhandig. Sy gooi haar kierie op die grond neer en gryp die stukkie papier met altwee hande vas: “Dankie, o, Dankie!” is al wat sy uitkry en sy kyk na my met vreugdestrane in haar oë, terwyl sy die sydeur agter haar toetrek.

Dis my beurt. Die man voor my kyk emosieloos op na my, terwyl hy die stukkie papier in my hand druk. Ek vou dit gretig oop. 10 minute. “Wat beteken dit?”

“Jy het nog 10 minute oor.”

“Wat moet ek met 10 minute maak?” My stem weergalm in die amper leë kamer waar ek en nog vier mense agter my in die ry staan.

“Ek kan nie eers 'n koppie koffie drink in 10 minute nie. Wat dink jy kan mens in 10 minute doen? Ek kan nie abseiling doen nie. Dit is 15 minute. Ek kan nie die grasperk sny nie. Dit is 20 minute. Ek kan nie eers met die hysbak tot op die boonste verdieping gaan om die son nog vir oulaas te sien nie. Dit gaan my 15 minute vat. Miskien as ek Superman was, kon ek by die venster uitgevlieg het en op 'n randjie loop sit het om die koel luggie op my vel te voel, maar ek is geen Superman. So, sê jy vir my wat moet ek in 10 minute doen!”

“Jy kan vergifnis vra en daar is nou net 8 minute oor. Jy het reeds 20 % van jou tyd verkwis op redekawel. Volgende!”

Ek stap geskok by die deur uit en trek dit hard agter my toe en toe begin ek huil. Ek gryp my gesig vas en sak net daar op die grond duskant die deur op my hurke af en my skouers ruk, want dis die einde, en ek het nog soveel gehad om te doen. Ek kan nie eers meer onthou watse simpel afspraak ek moes nakom nie.

Ek kan nie dink dat ek ooit geleef het nie, het maar net bestaan. Ek het elke dag net my daaglikse pligte nagekom, kinders versorg, kos gemaak, klere gewas, huis toe, werk toe, slaap. Ek kan nie aan een ding dink waar ek kon sê dat ek waarlik geleef het nie, waar my adrenalien gepomp het en waar ek kon sê: “Jip, dis die lewe!” Dit was net 'n gesukkel om kop bo water te hou, dag in en dag uit, maand in en maand uit, jaar in en jaar uit.

As ek nog net bietjie meer tyd gehad het, soos 24 uur, sou ek vandag nog gaan abseiling doen het en vliegtuig gery het en met 'n trekker binneband in die rivier afgeroei het en op die krans gaan staan en kyk hoe die swaels oor my kop vlieg. Die soet geur van die doringboom se blommetjies geruik het en die muggies om my kop gewaai het en die son warm op my voorkop gevoel het. Ek sou in die kuil se blink water gaan duik het en langs die dam gaan sit en kyk het hoe die Visarend sy grote uit die dam opswiep, terwyl die Hadidas en wit Bosluisvoëls oor my kop vlieg. Ek sou gesit en luister het hoe die koeie loei by die melkstal en die trein toet as hy verby ry en ek sou gelos het om kos te maak, vir elkeen net 'n broodjie smeer en vir oulaas vir my kinders 'n storie lees en my man iets gee om my mee te onthou.

Dieselfde ou tannetjie kom vat my aan my skouers en sê dat ek nie meer moet huil nie. “Alles is nie verby nie. Jy het nog 5 minute oor. Moenie die laaste bietjie tyd verkwis op onbenullige geween en gekners van tande en verwyte en moes doen, nie.”

Sy haal 'n sakdoek uit haar handsak en vee my trane af, dan bring sy 'n notaboekie en potlood te voorskyn en druk dit in my hand. Ek kyk haar vraend aan en wonder wat de joos dink sy moet ek nou in my laaste 5 minute voor skryf.

“Jy mors tyd, kind. Jy weet wat jy moet doen. Die man het gesê, jy kan vergifnis vra. Hoe kan mens vergifnis vra as niemand by jou is nie, jy skryf, jy skryf 'n brief. Wit op swart. Sê vir hulle. Vra vergifnis.” Sy tik met haar krom rematiek wysvinger op die notaboekie voor my en ek begin skryf.

Ek vra om vergifnis vir my ma wat in siekte gelê het en ek haar nie gebel of by haar gaan kuier het nie.
Ek vra om vergifnis omdat ek gesit en TV kyk het en ek my kinders weggewys het toe hulle net bietjie na aan my wou wees.
Ek vra om vergifnis vir my man omdat ek altyd teen hom gewerk het, in plaas van saam met hom.
Ek vra om vergifnis vir my baas omdat ek hom nie die lojaliteit en aandag gegee het wat hy verdien het nie.
Ek vra om vergifnis vir my familie omdat ek so min tyd aan hulle bestee het.
Ek vra om vergifnis vir my bure omdat ek nie verdraagsamer met hulle troeteldiere was nie.
Ek vra om vergifnis vir my vriende omdat ek hulle nie die onderskraging en liefde gegee het wat hulle van my gevra het nie.
Ek vra om vergifnis vir my kerk omdat ek nooit tyd gehad het om met enige aspek behulpsaam te wees nie.
Ek vra om vergifnis vir my land se kabinet omdat ek net verkleineer het en nie my deel gedoen het nie.
Ek vra om vergifnis vir my omgewing omdat ek nie help papiere optel en my deel gedoen het om water te spaar, die diere te versorg en die osoonlaag te beskerm nie.
Ek vra om vergifnis vir my God omdat ek nie die doel bereik het waarvoor hy my hier op aarde geplaas het nie – om vir hom tot eer te lewe.
Ek vra om vergifnis...

my tyd is op.

Die tannie glimlag vir my ... en die deur agter my gaan oop ...

Sy bring 'n botteljie olie te voorskyn terwyl sy die notaboekie en potlood teruggooi in haar handsak en begin proppiesvol op my kop uitgiet. “Die Vrug van die Gees,” sê sy in 'n vroom, opgewekte, amper jonger gesig, “'n proppie vir liefde ... vreugde ... vrede ... geduld ... vriendelikheid ... goedhartigheid ... getrouheid ... nederigheid ... selfbeheersing.”

'n Man met wit klere staan langs my en trek my op aan my arm. My lippe bewe, want ek weet nie waarheen hy my wil vat nie - by die ligte deur in, of by die donker deur in.

“Gee my jou hand.” Sy stem is kragtig en spreek van mag en waardigheid. Ek maak die hand oop waarin die natgeswete, opgevrommelde papierjie lê waarop daar 10 minute staan. Hy haal die papier uit my hand en oorhandig dit aan die ou tannie. Sy glimlag ingenome met haarself en haar oë vonkel. Die man sit 'n nuwe papiertjie in my hand en ek vou dit angstig oop. “In Ewigheid” lees ek hardop. “Het jy 'n fout gemaak?” vra ek stomgeslaan en dink aan die afloop van die afgryslike 10 minute.

“Nee, jy het begin leef! Jy het iets reg gedoen. Jy het vergifnis gevra, berou getoon en daardeur die ewige lewe bekom.” Hy sien die vrae in my oë. "Vat dit net. Jy is vergewe. Dit is joune nou." en hy vou die papiertjie in my hand toe.

Toe ek wegstap vra ek die tannie hoeveel tyd het sy gekry. “2 jaar,” sê sy, “en tien minute vir elke siel wat ek op die regte pad lei.”

Ek maak my oë oop en sien die gesigte van my geliefdes om die hospitaal bed staan met gemengde gevoelens van skok, verwildering en blydskap. "Mamma, jy het jou oë oopgemaak. Ek het geweet jy sou. Ek is so bly."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kommentaar
Wat 'n pragtige verhaal. Dit het my aangeraak. Baie dankie dat ek dit kon lees. Vergifnis ....... Ons almal staan skuldig.
9 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 5 ure oud


10 minute

Ai Aspiranza, hierdie is 'n lieflike stuk skryfwerk wat elke mens moet lees! Ja, as die meeste mense maar nog 'n laaste kansie kon kry! Vir sommiges is dit egter oombliklik plotseling verby, sonder daardie ekstra paar ure grasie.... Maar ek glo elke mens kry tog kanse - dis net nie almal wat dit 'carpe diem' nie! Dankie vir hierdie mooi gedagtes wat jy kom deel het. -S
9 jaar 6 maande 2 weke 4 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

VREEMDELING IN MY VADERLAND

deur Piet Schoombie

Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar