Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons het toe mos ons intrek geneem in die ou plaashuis hier op Langverwacht. Dit is ‘n huis wat darem ‘n menigte seisoene agter die blad, (of moet ek sê agter die muur), het. Daar is oral op die dorp interresante stories oor vorige inwoners. Die plaas se geskiedenis loop homself terug na die drie-jarige oorlog toe. So met die intrek is daar mos nie altyd alles reg en gereed nie. Dit is mos maar ‘n gedoente. Ons is nie slaafse navolgers van televisie stories nie, daarom het ons dit nie eerste prioriteit gemaak om die televisie op te koppel nie.
Ek glo daar sal baie wees wat weet van radio luister. Ons het mos groot geword met radio. Die ou programme van ‘Bog met Blou Maandag’, en natuurlik die stories, versoek-programme soos Hospitaaltyd en dies meer. Dit was lekker. Maar so het ek toe nou oplaas besluit dat ek is nie haastig met die televisie nie. Ek het mos die klein Fm’pie. Ek gaan in die aande radio luister. Dit was my grootword kultuur. So het ek toe nou ‘n baie lojale aand-luisteraar geraak van die gesels-programme wat hier om en by nege uur saans begin. Sit lekker in die kombuis langs die tafel en luister aandagtig. Selfs Deon Maas se programme het amper interresant begin raak.
Nou moet ek bietjie agtergrond gee. Die kombuis is reg langs ‘n kamer wat in die middel van die huis is. Geen vensters in die kamer nie. Daar is ‘n deur na die gang, en ‘n deur na die stoep. Die Fm’pie is niks van ‘n wonderse aard nie. Dit is maar net ‘n radiotjie. Dit gebeur toe naderhand dat as ek saans die radio klaar geluister het maar nie afskakel nie, dan sal die radio sommer self om tien uur afskakel. As ek nie nege uur die radio aan het nie, dan skakel die radio self aan om nege uur. Ek praat toe nou maar nie veel daaroor nie. Ek is ‘n man van die helm. Was in besit van die geboorte vlies vir baie jare. My vrou se een broer het op ‘n stadium gereeld nagte aaneen by ons oorgebly. Maar my swaer, (ek sal liefs nie sy naam noe nie want hy is nog met ons), begin toe vir my vra hoekom gaan die radio self aan en af. Ek sê toe maar, dit is seker die Antie. Hy wil meer weet en ek brei ook nie uit nie.
Die kamer reg langs die kombuis, die kamer sonder vensters, is die kamer waar die swaer van my altyd slaap. Die meubelement is nog van die ou soort. Die katel is nog met die draadhak vere. As jy omrol maak jy die hele huishouding wakker. Laat ‘n mens altyd wonder hoe groot gesinne moontlik was in die ou-tyd. Daar is dan ook so ‘n groot embuia hangkas teen die muur. Die hangkas het toe die gewoonte begin ontwikkel dat sommer vir geen rede, die deur sal oopswaai. Dit sorg soms vir ‘n redelike skrik as die deur sommer so oopswaai en teen die kant van die spieëlkas vas slaan. So vra my swaer ook wat is die rede. Ek sê toe maar dit is die Antie wat so maak. Die kas sou soms in die middel van die nag sommer net oopgaan. Dit het toe deel geword van die atmosfeer. Ek en my vrou het vrede met die Antie wat in die kas is, of ten minste inspeksie in die kas doen.
Soos die swaer van my versigtig raak, (wil nie sê bang nie), sou hy naderhand ‘n slaappilletjie drink in die aand net om te help verby die Antie te kom. Ons sal in die sitkamer sit en televisie kyk, dan hoor jy daar gaan die kasdeur. As ou swaer moet badkamer toe, dan moet hy by die kamer verby. Nooit bang nie. Hy was maar altyd lief om te fluit. So fluit hy kliphard badkamer toe, deur die hele badkamer oefening deur, en terug tot in die sitkamer. Probeer dan ook die heeltyd na die dak kyk ingeval iets miskien in die gang kan staan. Maar hy het nooit weer iets gesê of gevra oor die Antie nie. Hy het glad naderhand heelnag met die bedlampie aan geslaap.
Die storie van die Antie het toe mos nou maar pos gevat en bly sit. Omtrent die hele familie het al geweet van die Antie. Almal het ook naderhand op een of ander stadium die ‘oumens’ reuk van Zambok en Vicks gekry, dan maak ons maar die gemoedere stil met ‘n ‘Ag, dit is net die Antie’. Ek moet sê wat verbasend was, is die feit dat daar wondergom aan die binnekant van die deur geplak was, dan gesluit, en dan waai hy maar steeds oop. As die kinders kom kuier het, dan word die bagasie ewe spoggerig na die Antie se kamer geneem, maar slaap? Nie sommer nie. Meeste van die kinders sal kamstig laat wil televisie kyk en dan slaap hulle ook sommer maar in die sitkamer. Die bonus was darem altyd as die dogter en die twee seuns alleen kom kuier, dan het sy en die kinders hul intrek sommer in ons kamer geneem. Lekker groot familie vergadering en almal is bymekaar. Maar slaap in die Antie se kamer? Soos ek reeds gesê het, almal was maar versigtig. Ook die skoonseun. Die skoonseun kan nie altyd saam kom kuier nie, maar die kere wat hy wel kom kuier het, was dit dan hulle kamer. Hoewel ons dogter nie daar sal slaap as sy alleen is nie, sal sy darem daar slaap as haar man daar is. Hy moet haar mos maar beskerm. Dan lag sy, want dan is die man van haar mos net so skrikkerig vir die kamer.
Baie mense sê dat diere het ‘n goeie aanvoeling vir sulke dinge. Die klein Jack Russel, Spokie, het al soms skrikkerig voorgekom, maar nie die kat of die Skotse hond nie. Ons het wel al mense aan’t huis gehad wat vra of ons kuier mense het. As ons sou vra hoekom, dan was die antwoord maar altyd dat daar iemand verby gestap het kamer toe. Ons het nooit verder probeer delwe agter moontlike redes of verdwaaldes aan nie. Ons het mos maar gedink, as sy ons nie hinder nie, kan ons mos maar die huis deel met wie ook al.
My vrou het intussen besluit om te skuif aan die meubels. Sy het ‘n hele verandering gemaak aan die kamer en die hangkas teen die teenoorgestelde muur geskuif. Die skuif moes seker die Antie geval het. Sedert die verandering het die kasdeur nog net eenkeer oop gegaan, so al asof dit ‘n finale goedkeuring was aan die verandering. Nodeloos om te sê, geen troos wat ons probeer bring word geglo ten opsigte van die Antie wat nou stil is nie. Die kamer sal altyd sy misterie behou vir die kinders. Die kamer met die Antie en die kas.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek
verlang daai dae, dankie vir die storie.
7 jaar 9 maande 2 weke 2 dae 4 ure oud


spookstories
Om lekker saam te sit en spookstories vertel terwyl die kinders grootoog luister, is 'n kuns wat besig is om verlore te raak.
8 jaar 10 maande 1 week 4 dae 20 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

VOLLEDIG CHRISTEN, VOLLEDIG MéNS

deur Johann P. Boshoff

"We need to rediscover ourselves as full human beings and discover that it is precisely as full human beings that God wants us to come to him. His salvation, his love, his mercy are designed for full human beings, not for theological or religious creatures who have stifled their humanity or repressed their deepest emotions. We ought to be fully human and unashamed of our humanity ... as we approach the God who made us that way and is waiting for us to come to him in that way. Jesus himself approached God in that way and communicated with his whole heart in prayer to the Father. (Hebrews 4:15-16 and 5:7) The Spirit is imparting to our heart the faith and desire to approach God." ■ Ralph Martin in Hungry for God (1974)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar