Artikels

Titel: Alles soos dit moet wees

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

'n Ou hoekhuis in Parys, Vrystaat, met parketvloere, staalplafonne en Art Deco-ligskerms het 'n nuwe rede om te leef: dis in 'n winkel omskep.
  Deur 'n paar binnemure uit te breek is 'n oop ruimte geskep, maar hiér kan jy nie 'n kat swaai nie!
  Knap onder die plafon is draad van muur tot muur gespan waaraan 'n klompie blikgieters, drie Globe-stoele en 'n paar emaljekose hang. In 'n uitstalkas rus 'n rooi blikkie grammafoonnaalde, kobaltblou Vicks-botteltjies en 'n paar glaspotjies met vergeelde salwe vir skete uit 'n ander era.
  Die mense van vroëer het gely aan die borswater, vlieënde jig, sinkpyne en hul senuwees.
  'n Tannie kom energiek met haar vonds van voor en versigtig tru is al genade.
  'n Venster kyk uit oor 'n stil systraat wat afloop na die Vaalrivier, wyd genoeg vir 'n ossewa om in te draai, met leivore aan weerskante. Teen die muur hiér is 'n rak vol 1930-filmprojektors,'n stel koedoehorings en twee Brownie-kameras, een 'n vroeër model as die ander.
  Daar is ook 'n ry bakeliet 'draadlose', elk met 'n plakker op om te sê of dit werk of nie. Hierdie radio's kan in kort- en mediumgolf opvang en nadat ons een by 'n kragprop ingedruk, gewag het dat dit 'opwarm' en aan die knoppies gevroetel het, kom The Voice of America staties maar duidelik hoorbaar oor die luggolwe.
  Langs die radio's staan twee Singer-trapmodel naaimasjiene en 'n sinkbad groot genoeg vir 'n volwassene om in gemak in te kan bad voor 'n Aga-stoof.
  Ek kom agter die korrekte manier om die prys van 'n item uit te vind, is om dit in die lug te hou as jy kan, en te skree "En hierie een?!"
  Oor 'n volgepakte toonbank sonder plek vir elmboë word hewig oor rugby gestry, maar in die muffelskemer van 'n agterkamer hurk 'n staankas met geboë glaspanele vol soepkomme, visborde, ivoorhefmesse en bolgeblaasde glase rustig.
  Op 'n patryshouttafel skuur Victoriaanse teekoppies ore teen 'n Bloedrivier-gedenkbord, lê 'n rooi trekklavier geduldig, trek die Voortrekkers teen die hange van die Drakensberge en tuur 'Die Leeu van die Noorde' in die verte. Hier bied 'n wastafel weer staanplek aan 'n waskom-en-lampetbeker, hang 'n pelsstola aan die hankasdeur, lê 'n stofjas oor die leerbandgebinde reiskoffer.
  Verby 'De Breë en de Smalle Weg' en óm 'n houtstoel wat kan oopvou in 'n spensleer vind ek my eie vonds: 'n stel gekleurde sjerrieglase met 'n goudpatroontjie op die rante.
  Egte goud, word my beduie. Ja, sê ek, ek weet.
  Vroeër was alles eg.
  Uit 'n Coca-Cola-yskas in die hoek kies ek 'n 340 ml. glasbotteltjie rooi koeldrank en knak die prop af in die botteloopmaker aan die kant.
  Die eienaar sê as dit reën is hy weeksdae van tienuur af oop, Saterdae bietjie vroeër.
  As dit reën?
  Ja.
  En as dit nie reën nie?
  Dan is hy gewoonlik weg, met sy trokkie en sy hond, opsoek na oudhede. Of partykeer ry hy sommer net ... hy wil juis bietjie ry om te kyk of die Vaalrivier gaan afkom hierdie seisoen.
  Ek kyk spekulerend na hom; hy lyk nog jonk. Iets sê vir my hy hy gaan oor dertig jaar nog steeds jonk lyk.
  Hy draai my glase versigtig in ou koerantpapier toe, vind die regte grootte kartondoos en pak dit daarin.
  Vir die slegte pad, sê hy.
  Ek betaal kontant, want hy beskik nie oor die fasiliteit om handel te dryf in 'plastiek' nie.
  Wanneer ek groet en uitstap in die sonlig, verby die dikwielfiets en die slapende hond, kyk ek om en dink hoe rég die naam is wat vir my aanvanklik so onvanpas vir 'n winkel gelyk het: Sweet Waters.

Sweet Waters is geleë op die hoek van Breë- en Noorderstraat, Parys (Vrystaat) sowat 1 1/2 uur se ry van Johannesburg af. Die eienaar is Bradley Carter, tel. 056 817 2846. Die GPS koördinate vir Parys is S 26° 54' 1.08" O 27° 27' 23.76".




© I. le Roux
Apr 2011



Kommentaar

Ougoed.
Una voce particulare! Definitivo!
9 maande 2 weke 2 dae 12 ure 56 minute oud


So hou ek van Afrikaans!
Hier is twee baie goeie dinge aan hierdie skryfstuk van jou:
Jy ons van ‘n plekkie wat mens ongetwyfeld moet gaan opsoek – daar sal ek definitief ietsie kry vir ‘n spesiale plekkie in my studeerkamer...

En dan, het jy Afrikaans uitmuntend gebruik in ‘n samevloeiing tussen heerlike beskrywings van lank reeds vegete items met hul egte name. So het jy my nou waaragtig met hierdie pragstukkie Afrikaans, die winkel sommer laat voel en ruik...

So hou ek van Afrikaans!!
1 jaar 3 weke 4 dae 14 ure 13 minute oud


die weervoorspelling
n reis deur ander mense se 'nostalgie'...
goed geskryf.
1 jaar 3 weke 5 dae 6 ure 2 minute oud


Alles soos dit moet weesh
Parys, plek waar my ouers Desember 1957 gaan wittebrood hou het na hulle huweliksbevestiging op Excelsior. Ai Inlo, ek voel nou skoon nostalgies, want ek ken hoeveel sulke ou snuistery winkeltjies (Kalkbaai wemel daarvan)en vandag is hoeka ideaal vir rondsnuffel in so 'n ou plekkie. Nosalgies en deernisvol geskryf.
1 jaar 3 weke 5 dae 8 ure 40 minute oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar