Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het eendag iewer in die helfte van die film Custody op televisie afgekom toe ek dit aanskakel en natuurlik toe net daar vasgehaak. Wat ‘n mooi storielyn. Iets wat wel my aandag getrek het was iets wat ‘n byspeler so terloops gesê het naamlik: “Never trouble Trouble, untill Trouble troubles you”. Dit is tog so WAAR. In gewone Afrikaans: Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie; of: Moenie ‘n berg van ‘n molshoop maak nie. Baie van ons is maar ‘n klomp Drama Queens! En sien assseblief die ONS raak in die sin (soos ek ook al agtergekom het).

Drama is dan mos so reg in die mens se natuur en om verskeie redes ook. Die grootste is sekerlik om ‘n vervelige bestaan (hoe gering ookal) ‘n bietjie op te kikker of ‘n sogenaamde dodelike roetine te breek. Dan is daar die sogenaamde “verslawings” wat sommige mense het vir sekere hormone. Dit sluit die hele wye spektrum van emosies en die direkte effek van die hormone wat dit afskei op die selle in jou liggaam ook in. Kyk maar na die “vreemde” en interessante dokumentêre film: What The Bleep Do We Know? wat dit so mooi uitbeeld. Mense wat doodeenvoudig MOET baklei, in padwoede uitbars of ‘n Jammer Sannie moet wees, anders sal hulle nie gelukkig wees nie, hulle is net so verslaaf aan daardie emosies en hormone. Die drama is tog sooo lekker!

So sal ons die drama mos ook soek tot ons dit kry. Die oumense het ‘n gesegde gehad dat as ‘n kind ‘n pak slae soek, kan jy hom roomys gee, maar hy sal aanhou vra vir die slae tot hy dit kry. Net so sal die soeke na die porsie drama en opwinding ‘n mens soms ook in lelike moeilikheid laat beland. Die ongeluk is dat jy gewoonlik daardie moeilikheid vooraf kan voorspel, maar nietemin sal aanhou. Jy word so verblind deur die sogenaamde opwinding, dat jy alle 'verblindende rooi ligte en oorverdowende sirenes' ignoreer. Mens hap in die proses ook baiekeer meer af as wat jy kan kou, met die nodige nagevolge natuurlik.

Ek weet goed ek moenie goed opblaas tot wat dit nie is nie, maar ek trap te veel kere steeds in daardie slaggat! Dit het vroeër gewoonlik veral in spitsverkeer gebeur - kan nie glo met hoeveel idiote ons ‘n pad moet deel nie! Julle sien wat ek bedoel?! Ek kan wel nou met trots getuig dat ek daardie een al lankal oorwin het. Deur dit te laat gaan en geen emosie daaraan te koppel nie, kan dit jou nie so ontstel nie. Slegte of negatiewe goeters kan jou net ontstel as jy dit toelaat – jyself gee die toestemming daarvoor, niemand anders nie. Jou eie gees lei die skade deur ‘n erge ontsteltenis, nie die een wat jou ontstel het nie. Hy weet dalk nie eens daarvan nie. Daarmee saam is ook die feit dat niemand jou kan laat sleg of minderwaardig voel sonder jou toestemming nie.

Wat ek wel al agtergekom het, is dat enigiets erger voel as jy moeg is of die stresvlakke ietwat hoog! Hoe erger die vlakke van stres natuurlik ook, hoe groter die effek en die skade aan liggaam en siel en hoe slegter hanteer ‘n mens sulke situasies. Die eeue oue gelofie van diep asemhaal of tot tien tel as iemand jou kwaad maak, het lykmy toe wel meriete. In dr. Piet Muller se boek oor visualisering verduidelik hy hoekom. Wanneer jy drie tot vyf keer gewoon diep asemhaal en so lank en stadig moontlik uitasem, kalmeer die Vagussenuwee (wat van die onderkant van die brein in die nek af loop tot by die hart, longe en ingewande) en jy ontspan dadelik. Mens moet dit net onthou wanneer jy dit nodig het!

Hy vertel ook dat jy (soos tydens ‘n bevalling) met die kort bewegings van “oe-oe-oe” kan uitasem deur die mond (en verkieslik in privaatheid nauurlik). Stel jou net voor jy doen so iets in die teenwoordigheid van die sogenaamde “buffel” wat jou sopas ontstel het, of ‘n kollega, of jou kwaai baas!! Eina! Jy sal oplae maak, in die ergste graad, maar ‘n bietjie humor is dalk net wat nodig was. Wie sou weet. In dieselfde boek is vele sentreer- en ontspanningsoefeninge om later te doen voor die skade aangerig is, of op gereelde basis. En stres kan groot skade maak op die lang duur, dis gewaarborg.

Ek het daar gelees van die noodsaaklikheid van die regte musiek. Sekere baie swaar of morbiede klassieke musiek, of sekere barokmusiek akkodeer nie so lekker met my “ongekultureelde gestel” (veral op my nugter maag) nie. Julle weet dalk van die Mozart-effek. Die volume no. ll CD wat ontspanning en genesing bevorder is regtig baie mooi (daar is nog drie ander in die reeks, gaan kyk gerus). Ek het begin om die musiek te luister soveel ek kan (veral soggens wanneer ek klaarmaak vir werk) om te toets. Ek het ook tydjies afgeknyp om van die oefeninge in die boek te doen (daar is iets wat almal se persoonlikheid pas). Met eerlikheid kan ek sê dit help. Ek voel nie naastenby meer so gejaagd en geirriteerd in die verkeer met almal wat sleg bestuur nie. Ek vervies my wel nog soms, maar daar is nie meer sprake van ontsteltenis nie. Ek voel oor die algemeen ook baie meer ontspanne en in beheer.

Hiermee saam gaan meditasie wat ’n dieper vlak van onspaning is. Die musiek en die toepassing van dr. Muller se oefeninge bevorder die opwekking van die brein se Alfagolwe, wat probleemoplossing en kreatiwiteit aanhelp, op ’n ontspanne maar wakker en parate manier. Op hierdie breinvlak kan die liggaam en gees rus en genesing bevorder word. In so ’n geval het ’n mens baie beter streshantering en sien jy makliker eeder die struikelblok of probleem vir wat dit werklik is, met ’n meer positiewe gesindheid. Jy is ook baie meer kreatief en skeppend, hetsy in geval van probleemoplossing of die skepping van ’n kunswerk. Die liewe Vader plaas niks op ons pad wat ons nie kan oorkom nie, al voel dit nie dan so nie. Dis wanneer ons nie vertrou nie dat dinge soveel erger blyk te wees.

Die lekkerste en maklikste manier om stres en drama te hanteer waarvan ek weet, is LAG! Mens sien so maklik die donker kant van dinge raak, dat ons soms al die snaaksighede en alledaagse humor om ons miskyk. Al waaraan jy kan dink en al wat jy sien is die sogenaamde probleem. ‘n Koddige taai kleintjie in die winkel wat sy verleë ma saam met hom besmeer byvoorbeeld, of iets kosteliks kwytraak, mag dalk nie dan snaaks wees as iemand sopas die parkeerplek voor jou neus weggeraap het nie. Dis net so moeilik om ‘n grappie te vang as jou lyf so erg pyn dat jy wil gek word daarvan. Iemand met terminale siekte is sekerlik ook nie lus vir lawwigheid nie. Ek het eenkeer gelees dat familie nie noodwendig ‘van jou bloed’ is nie, maar diegene in jou lewe wat jou in hulle lewe wil hê. Hulle wat jou aanvaar vir wie jy is, wat enigiets vir jou sal doen en vir jou lief is, ongeag of jy dit altyd verdien of nie. Die waarde van ‘n opregte vriend mag nooit onderskat word nie. So iemand is daar om jou dramas en probleme te help dra en is ongelooflik kosbaar en sekerlik sy of haar gewig in goud werd.

Daar is al soveel bewyse van wonderwerke waar mense genees is deur te lag, soos julle dalk ook al in die film The Scret gesien het. Baie dinge in die lewe is makliker gesê as gedaan, vir my ook besef ek maar terdeë. Maar wat het ons om te verloor as ons dit probeer? Wat is die alternatief as ons dit nié probeer nie? Dis wetenskaplik al soveel keer bewys dat ‘n mens beter voel na ‘n goeie lagbui. Ons moet net daarvan onthou en dalk net ‘n punt maak daarvan om rond te kyk vir humor. Dit is dalk nie ‘n slegte idee om die wêreld-lagdag uit te brei na elke week nie. Mens kan dalk besluit om as gesin of vriendekring maandeliks ’n snaakse film te kyk. Wat sê julle? Die mediese professie sal dalk ’n bietjie begin swaar kry. Mense sal al minder kla oor allerhande kwale en dinge en al minder vir die dokter wil gaan kuier.

Hier is nog iets wat ek met julle wil deel. Ek het klompie jare gelede vir my kinders die Betakit GlobalTM with AHATA Sound Harmonics, gekoop vir studiehulp (’n Suid-Afrikaanse produk). Die een CD het ’n Inleiding snit, ‘n FOCUS snit (blounewel klank vir volle gefokusde studie met Beta breingolwe), ’n MEMREE snit (kabbelende rivier om die twee breinhelftes te balanseer) en ’n MEMREE (barok snit), wat albei Alfa breingolwe opwek, vir studies. Die tweede CD het ’n RECHARGE snit met kommentaar, ’n snit sonder kommentaar (Theta breinvlak vir vinnige kwaliteit rus) en ’n SLEEP STARTER snit (Delta breinvlak vir slaaploosheid). Recharge is ’n halfuur se totale rus, maar laat jou geheel en al verfris, wakker en gereed daarna. Jy kan ook “wakker word” midde in die program as dit sou nodig wees. Ek het later gesien dat die stel anders lyk en ek dink dit het ook meer CD’s. My dogter hou niks daarvan nie en sê dit pla haar, maar ek en my seun vind baie baat daarby (dit het my sekerlik van “beinskade” gered tydens my laaste studies – toe ek in daardie stadium mos darem lanklaas geleer het, hie-hie).

Dit is jammer om op te merk hoedat mense al suurder word met die oudedom. Dan is dit soms selfs diegene wat na my mening regtig niks het om oor suur te wees nie, behalwe die “ouderdom” (wat tog ook soveel wysheid en vreugdes kan inhou). Ons koop soms op ‘n Sondag by die supermark van die heerlike gekookte etes wat jyself in houers kan skep (Manlief se bederf). Hy was eenkeer so geskok en verontwaardig oor sogenaamde senior burgers wat jou behoorlik uit die aarde stamp en stoei by die kosbakke. So asof die hele wêreld hulle iets skuld. Nogal hartseer, aangesien hulle diegene is waarna jongmense behoort op te sien.

Ek het gehoor dat life begins at fourty, maar my vriendin, Annie Coetzee (sielkundige, motiveringspreker, skrywer en life coach) sê dis eintlik op vyftig. Toe dag ek, wat is vekeerd met sestig? Ek weet ook van sewentigjariges wat hoogs suksesvolle nuwe loopbane begin het. Wys jou nou net! Kinders lag en speel so onbevange - ons kan gerus bietjie by hulle iets leer. My dogter sal baie maklik my of haar pa Mr. of Mrs. Grumpy Gills noem (so in ‘n grappie, ala die oulike animasie film Finding Nemo) as een se bui nie te lekker is nie, wat nogal effektief werk. So kan ons mekaar mos ook help.

Mens hoef nie so oorstuur deur die lewe te gaan en ‘n slagoffer van die moderne rotresies en traumas te word nie. Gelukkig is daar deesdae baie hulpmiddels tot ons beskikking. Waarom dan nie daarvan gebruik maak nie? Dit laat nie erge trauma en drama verdwyn nie, maar wanneer mens na gees en liggaam uitgerus en verkwik is, hanteer mens enigiets net soveel makliker. Kom ons vertel makaar hoe ons stres en drama hanteer. Ons kan ook lekker lag-flieks wat ons geniet het met mekaar deel. En as ons elke dag dankbaar is vir al ons ontelbare seëninge, is ons koppe deur! Daar is net te veel om op te noem, van lopende water, supermarkte, wasmasjiene, gesinne, 'n werk, 'n motor om mee werk toe te ry, tot 'n mens se gesondheid (waarsonder jy eintlik niks is nie)!

Die lewe is nie altyd maklik nie en ‘n mens word so maklik en per ongeluk by iemand anders se dramas en slegte buie en dinge ingesleep. Nog iets waardevols wat ek gelees het is dat mense geskape is om liefgehê te word en dinge om gebruik te word. Die een groot probleem in ons samelewing deesdae is dat ons geneig is om dinge lief te hê en mense te gebruik! Probeer ook om nie ‘n Drama Queen te wees en almal om jou se lewens versuur saam met jou eie nie. ‘n Voormalige sielkunde professor en vriend het eenkeer gesê die hond moet die stert swaai en nie die stert die hond nie! Mens laat so maklik toe dat jou omstandighede oor jou heers, soos ons kan sien in die film: Reign Over Me. Neem die Koning se hand en neem beheer! You GO friend!!

BRONNELYS:
1.      Custody – Drama, 2007. Met Rob Morrow, James Denton en Nadia Tass.
2.      Muller Piet dr. Visualisering: Wat jy bedink, kan jy beklink. Protea Boekhuis, Pretoria, RSA.
3.      The Mozart Effect. Volume ll, Heal The Body (Music for Rest & Relaxation. Compiled and Squenced by Don Campbell.
4.      Betakit GlobalTM with AHATA Sound Harmonics. www.soundharmonics.com
5.      Byrne Rhonda. The Secret – Dokumentêre Film, maar die boek of oudio-boek verduidelik beter na jy die film gekyk het. (www.thesecret.com)
6.      Finding Nemo – Animasie.
7.      Reign Over Me – Drama. Met Adam Sandler en Don Cheadle.






Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

DRAMA
Hier slaan jy soveel spykers, reg op die kop. Ek kan ook n hele dosyn eiers hieroor le. Wat vir my die heel belangrikste is, is 'n gesegde wat ek gereeld aanhaal: "you've got to want to". Jammer dat party mense, 'want to' suur en ongelukkig wees. Met die ouderdom saam leer ek om minder ernstig oor alles te wees.
Beoordeling:
Daar is van jou sinne wat te lank is en jy is suinig met kommas. Ek stel voor jy lees jou werk hardop en plaas kommas waar jy asem skep.
Ek dink ook jy kan baat vind by die gebruik van aksent tekens om sekere woorde te beklemtoon. Dit maak lees en verstaan makliker.
In die sin waar jy praat van mense is gemaak om lief gehe te word en dinge.... Ek het eers verstaan wat jy bedoel, nadat ek die volgende sin gelees het. Dit was dalk 'n direkte vertaling uit die Engels, things are made to be used. Dalk sal goeters(goed) 'n meer beskrywende woord wees.
In die sin wat eindig 'almal om jou se lewens versuur saam met jou eie', sal dit dalk beter wees om te se ingesluit jou eie.
Spelfoute:
iewer ipv iewers
baiekeer ipv baie keer
lykmy ipv lyk my
makaar ipv mekaar.

Jy het 'n baie goeie onderwerp op 'n baie interessante manier omskryf. Lekker gemaklike manier van praat in dood gewone verstaanbare taal. Goeie skryfwerk en navorsing.

PS In my beoordeling gebruik ek nie kappies nie want ek het geen idee hoe om daai toolbar aktief te kry wanneer ek kommentaar skryf nie.
3 jaar 4 maande 3 weke 6 dae 17 ure oud


In beheer
Lekker gedagte - dat ek kan besluit of ek my wil vervies of nie. Dit verg wel bietjie oefening!
3 jaar 4 maande 4 weke 6 ure oud


Drama
Maritha,
Jy dryf nou 'n ander spyker die plank in. Morbied, beswaard, stres,
dan praat ek nie eers van die smart vrate nie.
Dit is emosies wat ek nie verstaan nie. Ek is al beskuldig en aangespreek omdat ek 'n lagvraat is.
Negatieweteit is 'n kop siekte, tot selfs aangebore. Geen pille daarvoor nie.
Ek sien die humor daarin, juis omdat dit ontstaan uit selfgeskepte doen en late.
Boeke vol te skryf hieroor.
3 jaar 4 maande 4 weke 14 ure oud



Waarheen met die nuwe wyn

deur Christo Nel

Dr Christo Nel skryf hier oor die nuwe wyn-waarhede in die Bybel wat sy en ander se lewens verander het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar