Artikels

Titel: SKRYF
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek kan nie leeg gaan slaap nie, daarom is dit my gewoonte om ’n uur of wat voordat ek gaan inkruip, te lees.
Ek koop nie meer boeke nie, omdat ek net nie ’n versamelaar is nie en omdat die gedrukte Media klaar uit sorteer en aan my genoeg voorlê om in my beperkte tyd, in te neem.

Saterdag se Beeld, en veral ook die bylae, ’By’, is vir my ’n juweel.

In Saterdag. 3 September, in die reeks, ‘Middagete saam met…’ Skryf Willem van der Berg oor sy afspraak met die biograaf en taalwetenskaplike , J.C. Steyn.
Steyn het net een bundel in sy lewe gepubliseer; Die grammatika van liefhê.
Onder hierdie selfde naam, het Steyn beide ’n digbundel en kortverhaal geskryf.
Soms weet ek nie hoekom lees ek die goed nie. Dit bring elke keer net die besef van my eie onvermoë na vore.
Willem skilder die nederigheid van die grote taalman, Steyn, absoluut.

Steyn het nooit getrou nie. Hy het self daaroor geskryf. Willem vertel wat Steyn self daaroor geskryf het:
“Soms kry ’n mens een mens só lief dat jy nie daarna weer kan liefhê nie.”
Luister hoe skryf Steyn in sy gedig:

Is liefhê ‘n te “groot’ woord vir jou, te
lank?
Kort ons iets korters, met minder
klank?
Iets soos min. Min jy my?
Of is jy dalk my aan’t vermy?
Een min een, dag ek, maak twee
of reken jy een min een maak niks?
Iemand minus iemand gee niemand.

Ek moes eers vir my gaan koffie maak.

Diepdenkend, terug by Willem se artikel, word ek verwys na ’n ander artikel.

J.C. Kannemeyer se artikel oor twee skrywer broers.
Die artikel reeks is; Binnekring.

Ek kyk na die twee groot foto’s van die broers.
N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw.
Ek kyk in N.P. se oë; Sag, kalm, gevoel vol, liefdevol.
Ek kyk in W.E.G. se oë; Ek sien en kyk weer.
Ek sien Bruce, my Bullterrier reun; Knorrig, weerbarstig, hardegat.

Ek lees wat Kannemeyer skryf. Vroutjie het uit die bed opgestaan en kom kyk of ek nie van my kop af is nie. Die lesers lag soms vir my skrywes. Ek nie. Ek sien soms nie die grap nie.
By hierdie lees moes ek knyp van die lag.
Die twee broers het vir mekaar geskryf, liewers as om te praat.
Die een sê selfs vir die ander:
“Gaan weg, ek sal vir jou skryf!”

Al hierdie briefwisselings word nou in ’n bundel uitgegee.
Ek krul vir W.E.G. se stille ontsteltenis omdat N.P. –alreeds vervreemd van sy vrou- in Nederland struikel oor Sheila Cussons.

Dan kom W.E.G. se natuur te voorskyn in sy brief aan N.P.
Lag saam met my. Hy skryf:

“Veertien dae gelede – of dit is glo al drie weke – het ek een Saterdagaand ’n dinee van die skrywersvereniging bygewoon, ter geleentheid van die ‘feestelike inhuldiging van die Jaarboek’.
“Dit was – wat my aan betref – ’n tragiese mislukking gewees. Al die kultuur-olannas was daar: C.M., Abel Coetzee, Haarhoff, ens. Ook die uitgevrete speenvark P.J. Nienaber, wat deur blote literêre diarree vir hom ingewerk het in die skrywers geledere. Hy is werklik vir my ’n onuitstaanbare arme van gees, daarby dom en half ongemanierd in sy omgang. Sonder enige snobisme gesê: ’n armblanke wat ontuis is onder beskaafde mense.
“ Daar is die aand baie geëet en baie gedrink, soveel dat C.M. in ’n toestand van rustige beskonkenheid sy toespraak na ete afgelees het en ’n paar keer vreemd gestruikel het met sy eie teks. Éénkeer, dit was iets oor invloed, was hy nie seker of dit ‘van binne’ of ‘van buite’ was nie en het albei woorde ’n paar keer herhaal. Haarhoff was so salwend en sagsinnig soos ek gehoor het dat hy was en het reeds voor die ete oor ’n glasie sjerrie vir my begin vertel van ’n nuwe klassieke drama wat hy besig was om in Afrikaans ‘te vertolk’.
“ En tog is ek bly dat ek die here eenmaal gesien het.”

Sien ek hier iets tussen die lyne?
Sien ek hier iets van Woes se afgelope geskiedenis?
Kan skryf die geskiedenis laat herleef?
Vroulief boer met Bullterriers.

Met hierdie skrywe wil ek net my dank uitspreek aan Yvonne Beyers, Redaktrise van By en aan die skrywers, Willem van der Berg en J.C. Kannemeyer. Dan sommer ook aan al die ander bydraers tot die puik Bylae.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

...
Het die uittreksel uit JC Steyn se stuk baie waardeer. Dankie Sneeu!
7 jaar 10 maande 3 weke 2 dae 20 ure oud


SKRYF
'n Interessante literere geskinder onder broers en 'n plonsie op die plaasdam wat deur Kannemeyer en Willem van den Berg kringe maak tot aan die wortels van die ou Apiesdoorn wat God se genade skilder...

Ai, ja!
8 jaar 1 maand 1 week 4 dae 10 ure oud


rex
Skryf ...
Ja, die ouens laat 'n mens klein voel, ne?
8 jaar 1 maand 1 week 5 dae 18 ure oud


By
Willie heeltemal iets anders uit jou pen. Het dit werklik geniet...en ook gewonder oor woes!
8 jaar 1 maand 1 week 6 dae 5 ure oud


Dankie
Lekker gelees. Omdat ek so besig is met die negatiewe en so ernstig skryf, geniet ek jou energieke bydraes baie.
8 jaar 1 maand 1 week 6 dae 21 ure oud


Skryf
Baie interessant en hou van die vergelyking!
8 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 2 ure oud


Nou weet ek sommer...
...watter boek ek vir Kersfees wil hê!
8 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 13 ure oud


JC Steyn
Dankie dat jy hierdie met ons gedeel het. Ek het ook Saterdag die onderhoud met JC Steyn gelees en nogal gevoel dis nou 'n skrywer wat ek graag sou wou ontmoet. Wat 'n treffende gedig!

W.E.G. se brief aan N.P. is skreeusnaaks! Sy slotsom, “ En tog is ek bly dat ek die here eenmaal gesien het.” is 'n groot waarheid -'n mens moet van alles kennis neem, maar jy hoef nie altyd van alles te hou nie, nè?

8 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 23 ure oud


Kan skryf die geskiedenis laat herleef?
My beskeie antwoord op hierdie vraag:
As ons net dieper wil kyk in die hart van Woes sal ons ook die siel ontdek wat daardie hart laat klop! Dit is skrywers soos jy en baie ander wat die die siel hier vorm. Die geskiedenis herhaal homself in elk geval. Die kwaliteit, egter, hang af van die invloed wat medeskrywers op mekaar het. Ook dat hulle bereid is om (in nederigheid) te gee en nie net altyd te ontvang nie!

Dankie vir jou artikel!
8 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 2 ure oud


Kommentaar
Daar is iets salwends daaraan wanneer skrywers oor skrywers besin en oor hulle skryf. En die skryfkuns nader aan Woes bring. Dit doen iets aan 'n skrywershart wat net skrywers verstaan.

Dankie vir hierdie bydrae, dit is nie net insiggewend nie, maar ook 'n riem onder die hart.

Vonnie
8 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 3 ure oud


Skryf
Ja, ek het dit ook gelees, maar nie die konneksie met Woes gemaak nie - slim van jou!
8 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 4 ure oud



Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar