Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek is vandag ‘n volwasse gay man, gelukkig getroud met die man van my drome. Wanneer ‘n mens die man jou drome eers op die ouderdom van 50 ontmoet dan begin jy terug dink aan jou verlede. Waarom het dit so lank geneem om nou eers ryp genoeg te wees om in ‘n standvastige verhouding te wees?

Lees ek van die aanhoudende homofobiese uitsprake op facebook en ander media deur sogenaamde geleerdes, kom ek tot die ontstellende gevolgtrekking dat my jeug van my gesteel was. Die kerkleiers het dit in my tyd gedoen en dit doen hulle ook aan die jongmense van vandag.

Destyds, en ek glo steeds vandag, word die gay kind die voorreg ontneem wat sy straight maatjies het. Die onskuldige ontdekking van hul seksualiteit.

Waar my straight maatjies sonder probleme en soms met groot aanmoediging deur hulle ouers en leraars bygestaan is wanneer hulle hul eerste kys briefie aan die ou of meise van hul drome kon skryf, moes ek droë bek sit en toekyk.

Nooit kon ek vir die outjie in die klas op wie ek ‘n ‘crush’ gehad het so-iets skryf nie. Ja ek besef dat ek miskien ‘n ‘crush’ op ‘n straight ou sou gehad het en dat daar niks van sou gekom het nie. Ongelukkig was daar, en vandag nog, die stigma aan om ‘moffie’ of ‘les’ te wees. Ek sou heel moontlik gespot word en selfs geslaan gewees het. In die tye wat ek groot geword het, was ek duidelik bewus daarvan dat dit verkeerd was. Maar dit het so reg gevoel vir my, net soos dit vir die straight tieners reg voel.

Ek het ook briefies van meisies gekry. Ek het net eenvoudig aan hulle gesê dat ek nie belang stel nie. Ek het nie ‘n bohaai daaroor gemaak nie. Ek het hulle nie verneder nie. Hulle nie name genoem nie.

Ek is doodseker dat baie van hulle afgehaal was en hulle het moontlik lang trane gehuil oor hul onbeantwoorde liefde vir my. Maar ten minste het hulle geweet ek stel nie belang nie.

Ek het ook lang trane gehuil. Myne was egter anders. Ek het NOOIT geweet of die ou dalk miskien, net miskien in my sou belang stel het nie. Ek kon hom nooit vra nie. Ek moes maar net aanvaar dat hy nie in my belang stel nie.

Die onsekerheid brand soos ‘n vuur in jou.

Ek dink baie dae wat sou gebeur het indien ek ook die voorreg gehad het om ‘n ou uit te vra en hy sê ja ons kan kys. Sou dit lekker gewees het om ook hand aan hand tydens pouse by die skool te stap soos die ouens en hul meisies? Om sonder dat daar enigsins seks by betrokke is ‘n liefdesverhouding met iemand van dieselfde geslag te hê.

Net ‘n soentjie hier en ‘n verliefde kyk daar en hand om die lyf sit. Dis al wat ek begeer het.

Wat moes ek doen? Ek het die verliefde kyk skelm gedoen. Niemand het geweet nie. Ek het die hand-om-die-lyf ding weggesteek deur te gaan rugby speel. Daar in die skrum, in die tackles kon ek ongemerk aan die ouens van wie ek hou se lywe raak. Niemand het iets vermoed nie. Dis mos ‘n kontak sport. Dit is geoorloof. Jy is mos ‘n man as jy rugby speel.

Wel ek het nuus vir julle homofobe: Dit was al manier waarop ek my natuurlike onskuldige liefdesbetuigings kon doen. Ek het op daardie stadium nie eers gedink aan hoe ons die seks daad sou doen nie. Dit was nie belangrik nie. Net om aan die ou van my drome te kon raak was genoeg.

Maar eintlik was dit onvervullend. Ek kon hom nie soen nie. Ek kon nie liefdevol aan hom raak nie. Ek kon nie aan hom sê: Ek is lief vir jou nie. Ek kon nie ervaar dat hy my soen nie. Ek kon nie sy liefdevolle aanraking ervaar nie. Trouens, hy het selde indien ooit aan my geraak in die rugby wedstryd. Sy doel was net om die bal te kry en aan te stuur. Ek kon nooit hoor dat hy sê dat hy ook lief is vir my nie.

Ons almal weet dat die grootste gros van skool kyse en liefdes nooit verder vorder as verliefdheid nie.

Die straight ou en meisie het die genoegdoening dat hulle die verhouding verlaat met die ondervinding van hoe om te soen en hoe om iemand vas te hou en hoe om iemand van wie hulle hou te behandel. Hulle leer hoe om die liefde te hanteer.

Die gay ou en meisie word hierdie voorreg ontgun. Hulle kry nooit die geleentheid om op ‘n onskuldige manier mekaar te soen, vas te hou en ook nie hoe om iemand op wie hulle verlief is, te behandel nie. Hulle ken net die seer van onverklaarde en onbeantwoorde liefde.

Daarom is dit so dat wanneer twee gay mense van dieselfde geslag toevallig bymekaar uit kom vind die seksdaad onmiddelik plaas.

Hoekom?

Want die kerk het gesê hulle mag nie handjies vashou nie, soentjies deel nie. Hulle mag dit nie doen nie, nie in die openbaar nie.

Sonder voorbeeldige gay volwassenes is dit dus vir hulle onmoontlik om te weet hoe om op te tree. Die straight kind weet, dat seks voor die huwelik verkeerd is. Die gay kind ook. Die verskil lê egter daarin dat die gay kind vertel word hy mag nie gay wees nie en dat God dit verdoem. Omdat hy ook hormone het wat op daardie stadium begin werk het hy net soos sy straight maats die begeerte om te sien wat deur die klere verberg word.

Maar omdat daar so min van ons is en ons nie mag verhoudings hê met mekaar nie en omdat God dit verwerp soos die kerk en Bybel kwansuis sê, ontaard die eerste ontmoeting van twee selfde geslag tieners in onbeskermende seks. Die houding is gewoonlik: ‘So what, ek gaan buitendien hel toe. Ek kan dit net sowel nou geniet.’

Ja dit word begeerte want die verlange om net aan iemand van dieselfde geslag te raak, raak te veel. Verlore onskuldige seksuele ontwaking lei tot verlange en word begeerte en begeerte word vergryping. Nie ‘n gesonde toestand van sake nie.

Die homofoob sien dit en sê: Kyk, dit is net begeerte en dus ‘n sonde.

Wie het die toestand veroorsaak? Die gay kind? Stellig nie.

Die kerk, die gemeensskap en die ouers.

Dit is hierdie groepe wat gemaak het dat die ontdekking van seksualiteit ontaard het in verlange, begeerte en omgesit het in vergryping.

Eers jare later, indien ooit, ontgroei die gay kind hierdie destruktiewe lewenswyse. Miskien is hy of sy gelukkig en ontmoet in sy/haar vroeë twintigs iemand met wie ‘n gesonde verhouding aan gegaan word.

Maar ongelukkig is min sterk genoeg om die verwerping van die gemeenskap en veral die kerk te weerstaan en verbrokkel sulke verhoudings baie vinnig.

Weereens kom die beskuldigings juis van die kerk, ten eerste, en die gemeenskap dat die verbrokkelde verhouding ‘n bewys is dat om gay te wees ‘n sonde is en dus nooit kan werk nie.

Dit is die kerk wat die outeurs is van gebroke gay verhoudings, deur aan hulle nie dieselfde voordele te verskaf wat hulle aan straight tieners toeken nie.

Dit is die kerk en gemeenskap wat my ontneem het van my onskuld.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Peter Gijgink enschede
Peter Gijgink enschede
verhaal
een mooi verhaal dat veel zegt over jou als mens. I like it very much
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae oud


Antwoord Kalaharikind
Die idees en gedagtes in hierdie stuk is MY ervarings en NIE die van ander nie. Dit is wat in my lewe gebeur het en nog steeds deur baie ander ervaar word wat in dieselfde bootjie as ek sit. Niks wat ek hierbo geskryf is fiktief nie.
7 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 11 ure oud


Haai Anton
Ek stem dalk nie 100% saam met alles wat jy se nie, maar ek hoor jou. Jy laat my dieper dink hier. Dankie
7 jaar 5 maande 2 weke 4 dae 4 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Botes Stamregister en Kwartierstaat

deur Willie Botes

Genealogiese kwartierstaat oor die Botes familie. Ander vanne sluit in Oosthuizen, Botha, Putter, Du Preez en Shafer



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar