Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die Decuain (uitgespreek as dekwon) is ‘n tien versreël versvorm wat geskep was deur Shelley A. Cephas en dit kan vir enige onderwerp gebruik word.

Gebruiklik word daar van jambiese pentameter vir die metrum gebruik gemaak (wat tien lettergrepig per versreël is) end aar is drie keuses vir rymskemas naamlik:


ababbcbcaa of

ababbcbcbb of

ababbcbccc

Shelley A. Cephas se gedigte “Ode to Sméagol,” “Her Dark Road (2)” en “Dear Heart (3)” is baie goeie voorbeelde van hierdie versvorm.


Hier is my pogings tot die Decuain in Afrikaans volgens die verskillende rymskemas:


Valsbaai lyk in die maanlig heel ongerep (Decuain)

a Valsbaai lyk in die maanlig heel ongerep,
b tog is die swiepende water yskoud,
a in liefde is ons met mekaar behep
b en ons gevoelens voel soms eeue oud
b asof ons in ons eie self behoud,
c gedurig reïnkarneer, mekaar ken,
b in ‘n soort grootse en magiese eenvoud
c (iets wat ek nie behoorlik kan neerpen)
a dalk uit ‘n mitologiese resep
a waarin ware liefde dit self herskep.


Die stadsraad steur hulle min (Decuain)

a Die stadsraad steur hulle min as riool
b stinkend, rou in die blesbok spruit in loop,
a dalk speel die swart burgemeester viool
b soos Nero of het hy ‘n groot soort hoop
b dat niks enige verandering noop
c en ongesien vrek babers, karp, geelvis
b word kinders in die kru afval gedoop
c en word ‘n ekosisteem uitgewis
b die rivier deur besoedeling gestroop
b en is stadsraad poste later dalk oop.


‘n Gebed by die somer van my lewe (Decuain)

(na N.P. van Wyk Louw)

a Here ek vra dat U die dae seën,
b waar die somer van my lewe begin
a dat U die blouwit donder en U reën
b mildelik uitstort in my lewe in.
b Gee dat ek in volwassenheid oorwin,
c teen elke verset van my eie ek,
b en dat ek my liefling selfloos bemin
c wil U die sonde van my jeug bedek,
c die somer van my later jare rek
c en ons twee nouer aan mekaar bly trek.

[Verwysing: “Vroegherfs” deur N.P. van Wyk Louw.]


‘n Gebed by die somer van ons lewens (Decuain)

Here ek vra dat U die dae seën,
waar die laat somer van ons lewens begin
dat U beide die blouwit donder en U reën
mildelik uitstort in ons lewe in.
Gee dat ons in volwassenheid oorwin,
teen elke verset van ons eie ek,
en dat ons mekaar selfloos bemin
wil U die sonde van ons jeug bedek,
die somer van ons later jare rek
en ons twee nouer aan mekaar bly trek.

Graag wil ek saam met jou (Decuain)

Graag wil ek saam met jou wat ek bemin
na die suidkus, Margate, Uvongo gaan
maar voor ons met ons reis begin
is daar waters wat die strand stukkend slaan,
gaan dae voort met die son in sy baan
en niks bly nou meer nog steeds ongerep,
so is dit ook dan met my eiewaan
waar my liggaam alreeds begin verlep
maar liefde is onsterflik in jou in,
aan verloop van tyd steur dit ewe min.

Frangipani’s (Decuain)

Met helder arms wat grypend boontoe sprei
omhels die twee frangipani’s mekaar,
strek hulle vingers om die son te kry,
in hulle eeue oue soort gebaar,
en soms lyk hulle woes en erg onklaar
voor hulle blomme lig turkoois uitbars,
en die ligte wind hulle geur nie spaar
dan vertoon hulle altyd nuut en vars
sing geel vinke in hulle takke bly,
zoem bye om hulle blomme verby.


As die wit warm son bo oor my fel val (Decuain)

As die wit warm son bo oor my fel val
mag U skaduwee dan vir my bedek,
as die donders magtig oor my lewe knal
mag U dan my diep in U skuilplek trek,
neem U my hart en ook my eie ek,
beskerm my altyd teen die duister mag,
ek vra dat U selfloosheid in my wek
dat U my bly omsingel in die nag,
dat ek U Gees in my liefling betrag,
dat U tussen ons is met elke dag.


Met die laat middagson (Decuain)

Met die laat middagson bly ek onthou
hoe vreeslik wonderlik jy vir my is,
as die aand skielik kom wag ek op jou
as ek jou die hele dag lank reeds mis,
dan is jy in elke gedagtenis
en as die warm son bloedrooi begin daal
bring jy aan my nuwe betekenis
as jy buite stop om my te kom haal
dan sien ons hoe die wit aandblom ontvou
hoe die sterre sprankel helder witblou


Daagliks beskerm U (Decuain)

Daagliks beskerm U, is U ons verweer,
is U almagtige hand uitgestrek,
omsingel U liefde ons selfloos, Heer,
al word ons soms deur die sonde bedek,
bly U ons lewens lyne wyer trek
en reeds het U die duurste prys betaal,
is U met ons op elke duister plek
en wag ons op U om ons te kom haal
U kan alle pyn, die duisternis keer,
en die ganske natuur sing tot U eer


So innig en diep lief het ek vir jou (Decuain)

So innig en diep lief het ek vir jou
tot poorte van hemel, verdoemenis,
my lewe wil ek aan jou toevertrou,
met wat in die diepte van my hart is
ek wil jou ken met my geheimenis
en daagliks klein dinge met jou ervaar
saam wil ek wees in elk gebeurtenis
jou liefde in my eie hart bewaar
en jou in elke nuwe dag aanskou,
vir jou baie styf teen my bors vashou.


In die woorde van God (Decuain)

In die woorde van God wat vir ewig
opgeskrywe staan is daar beloftes
en daardie boek het ‘n soort helder lig,
dit is vol Goddelike geloftes
wat bly voldoen aan al my behoeftes
en dit word nie verteer deur mot en roes,
Hy dra vir my sonde al die kostes,
daar is niks wat Sy woorde kan verwoes,
Sy groot liefde bly selfloos en innig,
uit sy woorde is als sleg afwesig.


Die wit vrou van die Brandberg (Decuain)

Pikswart is byna al haar lyf geverf,
sy is oker met slegs haar bene wit,
haar gesig uitdrukking deur roet bederf,
wat soos ‘n soort oorlog mondering sit
dalk deur ‘n kameeldoring vuur verhit
met haar wapens ‘n Boesman pyl en boog
vir haar pyle gif uit ‘n slang gebit,
tog is sy vir my pragtig op die oog
en ek wonder hoe sy daar vêr weg sterf
of sy as kind rusteloos moes rondswerf?


Die sekonde wyser tik stadig aan (Decuain)

Die sekonde wyser tik stadig aan,
die laaste oomblikke van lewe af,
voor die bom deure skielik wyd oop gaan
en netsoos ‘n Goddelike soort straf
eindig Enola Gay die oorlog bot-af
word ‘n stad verdamp, verbrand, vernietig
en mense dood gevee sonder ‘n graf
die mensdom skrik en voel skielik nietig
vrees die dood wat val uit ‘n wentelbaan,
vrees dat die wêreld aan sy einde staan.


As die suidoos erg begin waai (Decuain)

As die suidoos erg begin waai en ruk,
dan galop wit perde onder in die baai
word eikebome, bakstene los gepluk
terwyl selfs groot skepe heen en weer swaai,
dennetakke op en af skoppelmaai,
duiwe onder dakke skuil vir die reën,
en die Kapenaars binnenshuis vleis braai,
dit voel asof die koue jou wil versteen,
of die ganske natuur skielik erg ween
en dan wil ek na elders anders heen.


Kom die Kaapse winter reën (Decuain)

Kom die Kaapse winter reën wat sag val
dan spring die paddastoele orals op
oral in die plantasies en die dal,
met die modder wat rond vloei soos bruin sop,
met mis wat dig toetrek oor die bergtop,
die reënboog bars uit oor ‘n dennekruin,
tarentale wei rond in ‘n groot trop
maar nêrens is daar ‘n donder wat knal
en dié wêreld sprankel soos ‘n heelal.


Netsoos Adam en Eva (Decuain)

Netsoos Adam en Eva in Eden
staan ons albei nou in verwondering,
waar jy die klein gegewens bly aanteken
van als wat ons vind, van elke soort ding,
daar is insekte wat hier en daar spring,
alles het hul ‘n storie en ‘n doel
selfs die krieke wat skreeu en voëls wat sing,
dis of ons soos Adam en Eva voel
waar jy nakend swem in die koue poel
en die rivier teenaan my voete spoel.


Mag ek U gedurig vind (Decuain)

Mag ek U gedurig vind waar ek gaan
mag U saam met my, al my paaie kruis,
mag ek altyd voor U aangesig staan
so lank as dat bloed deur my are bruis,
en mag my woning waar dit is, ‘n huis,
van gebed genoem word, ‘n heiligdom
en ‘n plek wat nooit teen U wil indruis
waarin net U eie Gees in kan kom,
maak my tot sleg U eie eiendom,
laat slegs U werke in my lewe blom.


Met ‘n son wat wit warm brand soos ‘n vuur (Decuain)

Met ‘n son wat wit warm brand soos ‘n vuur,
hitte wat die middag lank bly opvlam
die woestyn uitdor tot die middaguur
as wolke skielik in die blou opdam,
verskyn aan elke klein verborge stam
skielik veldblom op helder veldblom
en al is mens miskien reeds moet en tam
is daar glorie van dat die son opkom,
word jy deur menigte kleure verstom
kom kyk mense selfs in hul ouderdom.


Kajafas (Decuain)

Uit Kajafas het daar woorde gekom
dat een man vir sy hele volk moes sterf,
die Godheid het hy nie gesien in Hom,
in die stryd tussen God en die verderf
wou hy sy eie eer en roem verwerf,
hy het God self tot die dood gevonnis
sodat sy volk die gevolge moes erf
so asof heeltemal sonder kennis
selfs toe hy hom aan Sy dade verstom
en hooghartigheid was sy eiendom.


Kenosis (Decuain)

In Sy ontlediging van God tot mens,
waar Sy mantel helder wit was soos lig,
het Hy Homself laat martel en verwens
gekom as teen sonde ‘n ewewig
en Sy hele menswees was iets innig,
toe Hy sondeloos op Golgota hang,
met ons almal vir Sy dood aandadig,
en die Romeinse soldate was bang,
as blote mense was hul vasgevang
soos volgelinge van die duister slang.


Tot by die kruispunt (Decuain)

Is daar iewers waar als bymekaar kom,
waar alle paaie en plekke verbind,
waar volwassenes soos kinders saamdrom
waar die mens op ‘n tyd vir God kan vind
al dwaal ons gedurig asof heel blind
op ‘n plek wat dien as gevangenis
waar die aarde met tyd alles verslind,
steeds soek ons na uitkoms van duisternis
op weg na Rome, die Akropolis,
tot in Jerusalem waar ‘n kruis is.


Die aarde voel rotsagtig (Decuain)

(na P.W. Buys)

Die aarde voel rotsagtig, vreeslik hard,
as die pik en die koevoet ouklip slaan
en hier staan ‘n man van ‘n kind apart,
as houe donderend ondertoe gaan
ek oomblikke moet rus en terug staan,
en dan probeer deur die rooi bank te dring;
met tyd beweeg my gedagtes self aan
na God wat in my lewe redding bring,
as staal op harde ouklip klaend sing,
breek U ook so deur en bring genesing.

[Verwysing: “Ouklip” deur P.W. Buys.]


Here, waarom moet ek als agter laat? (Decuain)

Here, waarom moet ek als agter laat
my liefling vrou en ook my eie ek
hier op ‘n tyd en op ‘n plek verlaat,
en waarom moet ek so alleen vertrek,
selfs my oë met hande voor U bedek
en by U uitkom as ‘n enkel een;
ek voel teen U suiwer lig so bevlek,
en voor U staan ek heeltemal alleen;
U ken reeds die trekke op my gelaat
en het liefde gebring vir al my haat.


Die son is soos ‘n goudgeel koper klok (Decuain)

Die son is soos ‘n goudgeel koper klok
aan die anderkant van die blou gordyn
skadus klim reeds op teen die huis se nok,
as die son plek-plek warm begin in skyn,
as jou eerste glimlag stil-stil verdwyn
jy in slaap wegsak, ek jou al klaar mis,
en ek bemin jou in geluk en pyn
kyk vir oomblikke met baie groot deernis,
vind selfs in jou houding betekenis
asof jy deel van my siel en gees is.


Met banke mis wat die wêreld vervaag (Decuain)

Met banke mis wat die wêreld vervaag
om my met tye heeltemal uitwis,
het hierdie herfs so skielik opgedaag
en ek kon nie eens sien waar die pad is,
die huis was soos ‘n groot gevangenis
toe alles net nog digter bly toevou,
het die tuin vervaag met ‘n soort droefnis,
kon ek nie eens my eie hand aanskou,
met die bome soos ‘n soort hindernis
en als slegs deel van ‘n gedagtenis.


Met die vroeë skemer se innigheid (Decuain)

Met die vroeë skemer se innigheid
is die tafel reeds skoon vir boekevat
bak jy pannekoek met soet moskonfyt
sien ek deug sissend in die pan rond spat
glim die olyfolie helder blink en glad
hang die geur van suiker en rooi kaneel
waar jy die gaar pannekoeke uit klad
of ek my jong kinderdae verbeel,
terwyl jy tuimelend met ‘n pan speel,
jou oog myne vang en jy my hart steel.


Die lyster (Decuain)

Vaalbruin skrop die klein lyster in die tuin
en pik na ‘n erdwurm wat rond wriemel
voor hy skielik sy vreugde uitbasuin,
en as ‘n kar met die straat aframmel
fladderend opvaar na die blou hemel,
gaan sit in ‘n tak van die eikeboom
stil is as skool kinders geld insamel
asof hy oomblikke daar sit en droom
voor sy loflied weer uit sy keel uit stroom,
sy kwetter sny deur die middag loom.


Ekurhuleni metropolitaanse verkeersmanne (Decuain)

Soos spoke wat met wit ligte verskyn,
verskyn hulle net as die nag begin
en hul wil nie uit jou pad weg verdwyn,
skreeu, wuif en spring wild voor die motor in
en mens kry dan sommer ‘n soort weersin
vir die verkeersmanne wat jou aftrek
skielik jou eie privaatheid indring,
en wit flits ligte in jou gesig skyn,
daar saamdrom in ‘n bose samesyn.


As die lewe mens aan die einde faal (Decuain)

As die lewe mens aan die einde faal,
dan is jy nie net slegs maar baie siek,
dan verklaar die dokters jou terminaal
met ‘n groot woord soos iets uit ‘n fabriek,
dan is jy verby vêr heen en kritiek,
dan laat hulle al reeds die kinders kom,
is dit of die skadus op jou neerdaal
en lê jy verbysterd, ure bloot stom,
sien jy ander pasiënte in die saal,
hoe jou kinders laaste dinge kom haal.


Soos wat blare gedurig bly uitloop (Decuain)

Soos wat blare gedurig bly uitloop,
uit ‘n vas geprogrammeerde struktuur
is daar gedurig in my hart groot hoop
dat daar met elke nuwe oggend uur
gevoelens tussen ons blywend sal duur;
dat ons hartstog altyd sal repliseer
sal brand met ‘n eie gloeiende vuur,
wat ons liefde net dieper kalibreer
soos die lente wat niemand ooit kan keer,
wat die diepte daarvan aksentueer.


As God Sy groot heerlikheid openbaar (Decuain)

As God Sy groot heerlikheid openbaar
sien mens dit in Sy eie handewerk,
en by Hom is daar geen soort van gevaar
Sy grootse liefde is nie ingeperk
en godsdiens vind mens nie net by ‘n kerk
die natuur en blomme getuig van Hom,
deur Sy eie woorde word mens versterk,
as jy moeg, siek en swak na Hom toe kom,
bly Sy eie liefde getrou en waar,
mens moet net Sy redding vir jou aanvaar.


Orals het ek na die woorde gesoek (Decuain)

Orals het ek na die woorde gesoek
om my groot liefde aan jou uit te lê
en nêrens kon ek dit kry in ‘n boek,
self kon ek nie eens die regte woorde sê,
nie oordra hoe graag ek jou hier wil hê,
diepte gee aan gevoelens van deernis,
nie eens my siel aan jou voete blootlê,
nog was jy in my diep gedagtenis,
in dae en nagte wat ek jou mis;
is jy in my vreugde en droefenis.


Met oneindigheid in Sy blote hand (Decuain)

Met oneindigheid in Sy blote hand
en die duisternis waar daar slegs niks is,
het Hy formeer uit slegs korrels van sand;
ek en jy was in sy gedagtenis
en van als wat bestaan was daar kennis
toe die uurwerk skielik ‘n lewe kry,
Hy toe formeer in Sy geheimenis,
Sy blik na sy laaste handewerk gly
en Hy na die mens kyk met groot deernis
aan die begin van ons geskiedenis.


Soos slegs ‘n baie klein korrel van sand (Decuain)

Soos slegs ‘n baie klein korrel van sand,
lê my lewe, die lewens van mense,
die ganske planeet aarde in U hand
en vir U almag is daar geen grense,
U verstaan alles verby blote wense
en ken elke intieme gedagte
en selfs die geheime, heel intense,
in die duisternis van talle nagte
knoei die Satan as U grootste vyand
ken u als, is elkeen vir U iemand.


Trekvoëls (Decuain)

Skielik het hulle sommer uit die niet
van orals saamgekom en neer geflap,
kinders wou party toe met rekkers skiet,
toe hul woes onder mekaar vlerke klap,
met kwetter geluide heen en weer stap,
vir krummels en brood in parke rond staan,
op sypaadjies soos voetgangers rond trap,
totdat die kerkklokke drie uur afslaan,
hulle opvlieg in ‘n wye sirkelbaan,
en ‘n ingebore rigting inslaan.


Die rooivink (Decuain)

Gedurig dartel die rooivink hier rond
as die duif aanhoudend weemoedig sing
en dit land dartelend op die nat grond,
voor dit insekte vir sy kleintjies bring,
wat kwetter, in die nes op en af spring,
en snags as die maan silwer wit opkom
as klein geluide dwarsdeur alles dring,
dan hoor ek ‘n vreugdelied, hoor ek hom,
vertel van lewe, van elke klein ding,
as daardie klein voël sing met aandoening.


Kolganse (Decuain)

Koperbruin kolganse is in die vlei,
tussen gepluimde palmiet word geroep
en hulle laat plat spore in die klei
as hulle verbystap in ‘n klein groep
en ek hoor hulle vêr weg op die stoep
as die kuil met hulle stemme weerklink
net daar naby die ou gesinkte sloep
en sien die son wit op die water blink,
hoe hulle skielik opvlieg en versprei
en ‘n hond wat los rond hardloop vermei.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar