Artikels

Titel: GEMORS
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Die mensdom is besig om die aarde stelselmatig af te takel en te versmoor in die gemors wat deur deur moderne leefwyses veroorsaak word. Hierdie gemors is bekend as vullis, afval, uitskot, rommel en oorskiet. Dit is die resultate van die mens se vuil voetspoor van besoedeling wat dwars oor die aarde strek.

Die hartseer en tragiese werklikheid van dié situasie is dat elk en ’n ieder van ons aan hierdie bemorsing meedoen. Ongeag ons beroep, status of omstandigheid neem ons almal vryelik deel aan dié vieslike orgie om die aarde te bevuil, te verwoes en te vernietig. Ons skep ’n eindelose stroom van papiere, bottels, blikke, plastiese houers, vrugteskille, sigaretstompies, elektroniese apparate, afvalkos, gebruikte servette, snesies, babadoeke, uitgediende batterye en vele ander gebruikte artikels so ver as wat ons deur die lewe gaan. Dit het ’n samelewing van gebruik-en-smyt-weg geword!

Is dit ’n nuwe verskynsel, of was dit nog maar altyd so? Ek kan dit dalk die beste beantwoord deur na my eie kinderdae te verwys. My ouers het in ’n bestaansekonomie op ’n plaas geleef. Daarmee word bedoel dat jy die meeste bestaansmiddele  wat nodig is self produseer. Al ons voedselware soos koringmeel, mieliemeel, melk, botter, eiers, vleis, groente, vrugte, konfyte en so meer was uit die plaas afkomstig. Die enigste lewensmiddele wat aangekoop moes word, was suiker, sout, koffie en tee. Plastiese ware het nog nie bestaan nie en enigiets wat in ’n winkel gekoop is, was in karton, papier, hout of glas verpak. Eersgenoemde drie is ná gebruik as brandstof in die stoof aangewend en sodoende tot as  verbrand, waarna dit as ’n voedingstof in die grond ingewerk is. Die leë glasbottels is nuttig vir die berging van water, melk, konfyt, gemmerbier, lemoenstroop en so meer gebruik.
Vrugte en groente, wat onbruikbaar geword het, is vir die varke, beeste en hoenders gevoer of as kompos in die grond ingewerk. Surplus voedsel kon nie bewaar word nie weens die gebrek aan yskaste en vrieskaste. Dit is egter deur die plaaswerkers benut, terwyl afval kos vir die honde en katte gevoer is.

Menslike riool is deur ’n putlatrine, of dan die legendariese long drop, gehanteer. Die hoeveelheid latrines het afgehang van die aantal mense wat op die plaas gewoon en gewerk het. Bees-, vark- en hoendermis is periodiek byeengebring en as organiese bemesting vir die groentetuin en landerye aangewend. Beesmis is ook in die vorm van plakmis of steekmis as brandstof in die koolstoof gebruik. Droë mieliestronke en koringstrooi op die landerye het as veevoer gedien en die stronke van af gedorste mieliekoppe was uitstekend om mee vuur te maak.

Die algemene leefwyse in daardie tyd was dus daarop ingestel om vermorsing tot ’n minimum te beperk. Die bietjie afvalstowwe wat daar wel was, is of verbrand of in ’n vullisgat begrawe. Wat het dan die massiewe generering van vullis en rommel in die 21ste eeu meegebring het?
  
Eerstens het daar ’n geweldige bevolkingsontploffing plaasgevind. Oor die afgelope 75 jaar het Suid-Afrika se inwoners met ongeveer 47 miljoen toegeneem. Dit verteenwoordig ’n groeikoers van amper 500% oor die betrokke tydperk. Hierdie ontsaglike toename het ook nie eweredig oor die hele land plaasgevind nie. Grootskaalse verstedeliking het ’n reuse konsentrasie in die stede en groter dorpe meegebring. Die gevolg is dat hoe meer mense op ’n hoop saamdrom, hoe meer vullis en gemors in ’n baie beperkte gebied ontstaan.

Tweedens het plastiek in alle denkbare vorms gedurende dié periode die wêreld getref. Die oorgrote meerderheid van verpakking en houers is vandag van plastiek gemaak. Dis ’n materiaal wat basies onvernietigbaar is en nie soos papier, hout en karton natuurlik vergaan, verbrand of vir ander doeleindes gebruik kan word nie. Die gevolg is ernstige plastiekbesoedeling waar ’n mens ook al mag kom. Vanaf ons strate, paaie en parke tot in die mees afgeleë berge en valleie word plastiese rommel aangetref. Dis ook nie net in die vorm van verpakkingsmateriaal en vloeistofhouers nie, maar ook verbruiksartikels soos messe, vurke, koppies, pierings, penne, speelgoed, skoene, reënklere, en baie baie meer.

Derdens het elektriese toestelle en later ook digitale apparate, die ruggraat van die moderne wêreld geword. Hierdie toestelle en apparate het oor die algemeen net ’n beperkte lewensduur en moet voortdurend vervang word weens slytasie of moet vir meer gesofistikeerde modelle plek maak. Gevolglik word items soos ketels, strykysters, transistor radio’s, elektriese lampe, batterye, telefone, televisiestelle, rekenaars, verwarmers, haardroërs, mikrogolfoonde, yskaste, vrieskaste en so meer van ontslae geraak op die eerste die beste plek wat mense daarvoor kan vind. Hierdie goedere bevat onder meer gevaarlike metale, minerale en vloeistowwe wat die biosfeer ernstig beskadig en vernietig.

Vierdens het daar ontsaglik baie nywerheidsontwikkeling oor die betrokke tydperk plaasgevind. Ook mynbou het geweldig toegeneem en albei verwikkelinge het ’n groot toename in chemiese en toksiese afval meegebring. Hierdie uiters giftige afvalstowwe beland gereeld in die land se ondergrondse en bogrondse waterbronne, ongeag die streng wetgewing wat daaroor bestaan. Die voorgeskrewe maatreëls om sulke besoedeling te beheer en te bestuur is baie duur en gevolglik probeer maatskappye dit sover moontlik omseil en  ignoreer. Die owerhede het nie voldoende opgeleide inspekteurs met die nodige kundigheid om die myne en fabrieke se ingewikkelde prosesse na behore te monitor nie. Gevolglik kom baie van die maatskappye met spreekwoordelike moord weg!

Vyfdens het gesondheidsdienste, soos hospitale, klinieke en spreekkamers, saam met die groeiende bevolking drasties toegeneem. Die volume van mediese rommel, soos verbande, watte, spuitnaalde, kateters, chirurgiese handskoene, bloed- en urine-monsters, verouderde medikasie en ander mediese uitskot het dienooreenkomstig ook baie vermeerder. Hierdie tipe rommel is uit die aard van die saak uiters gevaarlik in dié sin dat dit die verspreiding van ernstige siektes kan veroorsaak. Die vernietiging daarvan verg dus baie groter sorg en aandag as  ander tipes van rommel. Die groot hospitale het almal spesiale oonde wat mediese afval verbrand. Dit is egter nie die geval met van die kleinere mediese instansies nie. Sommige waag wel van tyd tot tyd kanse deur sulke onverwerkte afval stilletjies op openbare vullishope te stort!

Maar wat presies is die totale omvang van die vullisprobleem in die land? Alle soorte afval is ongelukkig nie ewe maklik kwantifiseerbaar  nie. Menslike riool word byvoorbeeld in baie vorms aangetref, naamlik in spoelstelsels wat na riooldamme weggevoer word, in huishoudelike riooltenks  en in verskeie soorte put- en emmerlatrines. Sekere aannames is egter wel moontlik wat gewone huishoudelike vullis betref. As veronderstel sou word dat elke drie persone ’n volle sak met rommel elke week genereer, dan is daar ongeveer 19 miljoen sakke per week of 76 miljoen sakke per maand wat gehanteer moet word. Dit kom  weliswaar landswyd voor, maar verteenwoordig nogtans ’n vullishoop die grootte van Tafel- berg as dit alles bymekaar gebring sou word. Ons praat dus van twaalf sulke berge huisvullis, waarvan daar jaarliks ontslae geraak moet word!

Die hantering van dié  vullis behels die oplaai daarvan by elke individuele woning en die vervoer daarvan oor wydverspreide gebiede in alle soorte van weersomstandighede. Ná versameling van die sakke,  word dit by sentrale punte afgelaai en verder verwerk. Die verwerking geskied op verskillende maniere, naamlik  sortering vir hergebruik, verbranding en/of storting en bedekking met grondlae. In geheel gesien is dit ’n enorme bedryf wat geweldige groot infrastruktuur en ontsaglik baie kapitaal verg.

Die hantering en effektiewe bestuur van vullis en riool in die land is ’n uiters komplekse onderwerp en kan nie volledig in ’n beknopte artikel soos hierdie behandel word nie. Die besondere aktiwiteit word verder deur ’n klomp wette en regulasies gereguleer en is daarom veronderstel om ordelik te geskied en ten volle onder beheer te wees. Maar is dit? Kan die landsburgers heeltemal gerus wees dat ons dorpe en stede nie mettertyd in rommel en riool verswelg word nie? Is daar nie dalk ’n moontlikheid dat ernstige siekte epidemies, soos cholera, deur besoedelde drinkwater kan ontstaan nie?  Word ons leefruimte en natuurskoon nie reeds geskend deur onooglike en rokende vullishope en word ons lug nie reeds deur stinkende walms besoedel nie?

Ongelukkig is daar alle rede vir kommer oor die toekoms. Die onlangse verlede het reeds getoon dat rommel en vullis ’n politieke speelbal geword het. Tydens stakings van munisipale werkers word nagelaat om rommel te verwyder en gevolglik word die  opgehoopte rommel dan as wraakmiddel in die strate uitgestort.  Verder word daar ook tydens ander groot protesoptogte vullisdromme in die strate en hoofweë omgekeer sover as wat die optoggangers loop. Die ergste voorvalle was waar selfs menslike ontlasting in en voor openbare geboue en ’n lughawe se ingang gestrooi is! Dié probleem is ’n landswye verskynsel met honderde protesoptogte oor swak dienste wat in die bestek van slegs enkele maande plaasvind!

’n Verdere groot hoofpyn is die munisipaliteite van kleiner dorpe se onvermoë om bevredigende dienste te lewer. Meeste van dié dorpe is in ’n algehele finansiële gemors as gevolg van  kaderontplooiings  se korrupsie en gebrek aan bestuurskundigheid. Hulle is onder meer nie in staat om vir grootskaalse water- en kragvoorsiening te betaal nie. Baie dorpe  skuld reeds miljoene rand aan Eskom. Dié toestande veroorsaak groot  ontevredenheid onder inwoners wat dan protesoptogte deur die strate onderneem. Klokslag  word sulke dorpe  bemors met vullis, wat in die strate uitgegooi word. Vullis wat onbeheersd ophoop en die wêreld vol lê, skep logies ernstige  gesondheidsrisiko’s en is die broeiplek van kieme en ander onheilighede. As dit lank genoeg voortduur sal dit ’n dorp mettertyd in ’n totale rampgebied  omskep.
 
Die groot jammerte van die patetiese gesukkel deur plattelandse dorpe om die mas op te kom, is dat voldoende ruimte vir toekomstige uitbreiding van vullishope en rioolplase juis aldaar beskikbaar is. Sulke ruimtes is in stedelike gebiede baie skaars, moeilik bekombaar en uiters duur. Die probleem word nog verder vererger deurdat die ontwikkeling van nuwe woon- en nywerheidsgebiede steeds in stede toegelaat word. Die gevolg is dat stede se infrastruktuur net nie meer kan byhou met die oorlading van mense en die voorsiening van dienste soos vullis en riool nie.

Om ’n onhigiëniese en stinkende vullis- en rioolramp in die toekoms te voorkom, sal drastiese stappe dringend geneem moet word. Eerstens sal die onbeheersde groei van die  bevolking ingekort moet word. Een manier om dit te doen, is die staking van welsynstoelaes wat vroue  finansier om babetjies in die wêreld te bring! Tweedens sal onbekwame en onkundige kaders sonder versuim met professionele bestuurders en ingenieurs vervang moet word. Derdens moet anargie en verwoestende optredes tydens optogte in die kiem gesmoor word. Vierdens moet werkskepping en nywerheidsontwikkeling na die platteland gedesentraliseer word ten einde die geweldige toestroming na en uitbreiding van stede in te perk.

Die vraag is net of ons die politieke wil en regte leierskap het om sulke langtermyn planne te implementeer?  Ek twyfel baie sterk!

******************














MOENIE die titel en jou naam hier invoeg nie. Dit word outomaties bo aan bygevoeg.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Gemors
Dat gemors n wapen geword het, hoe tragies? Ek verlang nou na daai plaas waar jy groot geword het!

Wel deurdag en uitstekend gepen!
3 jaar 4 maande 2 dae oud


Onrusbarend
In Europa waar beskaafde bevolkings van die probleem bewus is, bestaan nog altyd ,wilde rommelplekke' ook en veral in woude (plantasies vir skoonlug en ontspanning). Dis nie ongewoond om by 'n staptoer deur die bos links en regs, 'n paar meter af van die paadjie, koelkaste, tv's, enjinbloks, motorbuitebande, motors(?), alles wat groot en onbeweeglik is, te sien lê. Om party dinge rank al die klimplante:
In díé lande waar duur stelsels ingevoer is om juis sulke vermorsing van natuur en menslike gesondheid te verminder!
Ongelooflik! En hoe lyk dinge in die lande van die Derde -- en die Nuwe -- Wêreld?
Ons is gebore om te sterwe, maar nie om selfmoord te pleeg nie!
Onrusbarend!
GvT
3 jaar 4 maande 2 dae 13 ure oud



Van ons ander lede

VOLLEDIG CHRISTEN, VOLLEDIG MéNS

deur Johann P. Boshoff

"We need to rediscover ourselves as full human beings and discover that it is precisely as full human beings that God wants us to come to him. His salvation, his love, his mercy are designed for full human beings, not for theological or religious creatures who have stifled their humanity or repressed their deepest emotions. We ought to be fully human and unashamed of our humanity ... as we approach the God who made us that way and is waiting for us to come to him in that way. Jesus himself approached God in that way and communicated with his whole heart in prayer to the Father. (Hebrews 4:15-16 and 5:7) The Spirit is imparting to our heart the faith and desire to approach God." ■ Ralph Martin in Hungry for God (1974)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar