Titel: 2. Held vs goorgat
Weergawe: 1
Aantal woorde: 605
Kere gelees: 593
Datum gepubliseer: 10 Jul 2008
Geloofshelde - en dan noem Paulus in sy brief aan die Hebreërs so paar manne uit die Ou Testament. Abel en Noag, Abraham en Isak, Jakob en Josef, Moses en Henog.
Ek sal darem graag soos Henog wou wees, van wie God gesê het, dis sy vriend. Og, en die ‘hipercool’ ding was, Henog het nie doodgegaan soos ons die proses ken nie, nee, God het hom kom haal, so stil-stil, want eendag was Henog nie meer op aarde nie, maar wel by sy vriend, God. Eintlik sou ek graag wou hê God moet van my kan sê, daardie vrou, Linnie, sy’s my vriendin. Hoe wonderlik is dit nie. Ek hoor my liewe man praat deesdae van ‘awesome’ en my mater Rinca, van bevange. Ek dink as God van meer van ons kan sê, dis sy vrinne of vrindinne daardie, sou die ou wêreld ʼn ‘awesome’, of dan eerder, ʼn bevange plek gewees het om in te woon, te werk en te loop (wandel, aangesien ons met die Bybel besig is).
Die Hebreërs het van die ouens geweet, mos hulle voorsate waaroor Paulus so gemaklik gesels. Die een se offer is aanvaar, want hy was gewoon, die eerlike, nice ou, wat sy lewe so geleef het dat dit God tevrede gestel het. Genesis (Tania se kinders reken mens moet S / V met ʼn ouderdomsbeperking voor Genesis aanbring) vertel ons nie so baie van hoe Abel sy lewe geleef het nie, dus kon dit nie vreeslik opwindend of saai gewees het nie, so ‘middle of the road’ tipe ou.
Noag was gehoorsaam, die spot en uitlag van sy bure en familie ten spyt. En tog was hy ook ʼn dronkaard, maar geloofsheld sal hy bly. Ou Ab se gehoorsaamheid skok mens uit jou sokkies uit, al voel ons soms om ons tieners ook op ʼn hoop takke vas te maak, net vir die skrikwaarde darem, maar sy gehoorsaamheid en geloof laat jou stil van verwondering. Sou ek kon, vra ek baie.
Jakob, die man van die pot sop, inhalig en agterbaks, maar toe dit by uithaal en wys kom het hy sewe plus sewe jaar vir die vrou van sy drome gewerk. Klomp seuns ook gehad, waaronder die dromer, Josef. Die ou was weer hooghartig, maar in die groter plan, het hy sy familie van ‘n gewisse hongerdood gered, jare later. En praat van vergewensgesind, ek vra baie maal, sou ek so kon vergewe.
En so kry ons vir Moses, die hakkelaar en bangbroek tussen die lotte. Hy was effe opvlieënd ook. Onthou die storie van die kliptafels waarop die wet geskryf was. Die het hy gegooi dat die klipskerwe spat toe hy die Israeliete sien goue kallers bou. ‘n Ander keer het hy uit pure moedeloosheid die rots geslaan om water vir die einste dwalende, klaende Jode te kry.
ʼn Gewone nice ou, ʼn dronkie, ʼn agterbakse leuenaar, ʼn hooghartige dromer en ʼn opvlieënde hakkelaar – geloofshelde. Dawid, die moordenaar en rokjagter, Petrus die verloënaar, Paulus die ou met die doring in sy vlees – geloofshelde.
Ek was nou weer naar, net die goorgeite aangehaal, die manne hierbo genoem was ook reuse in die geloof. Die Woord van God beskryf hierdie helde se geloof. Nou reken ek, dan kan ek ook mos streef om bietjie soos die ouens te wees, my streke en tekortkominge ten spyt.
Loop lees bietjie Hebreërs 11 waarvan ek slegs die eerste vers aanhaal, geloofshelde in oorvloed.
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Lees ander artikels deur Linnie
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

Artikels

deur Spannie
Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.