Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

A. G. Visser (1878-1929) is vanjaar (2008) 130 jaar gelede gebore.

Op 1 Maart 1978 het Die Volksblad 'n Bylae tot die koerant uitgegee ter viering van hierdie volksdigter se 100ste geboortedagherdenking. Dit is merkwaardig om te lees wat die redaksie en andere gedurende 1978 kwytgeraak het en hoe hulle Visser se werk op daardie stadium gradeer het. Ek deel graag gedeeltes van die inhoud van hierdie Bylae wat ek by my vader, Dewald Jozua Smit, gekry het. Hy bewaar graag sulke inligting ‘sodat julle dit later vir julle take kan gebruik”. Daardie jare was die internet aan skoliere en studente ‘n skim op die verre horison en biblioteke die inligtingsbron. Nietemin is sulke “met sorg bewaarde” inligting vir ons almal kosbaar.

Dit is opmerklik dat ouderdom vroeër jare ‘n faktor was om mee rekening te hou. ‘n Man van 35 jaar was op ‘n stadium in die Suid-Afrikaanse volksgeskiedenis as danig oud beskou! Dink maar aan Susanna Elizabeth Smit wat so treurig kon raak oor haar “bejaarde eggenoot” eerwaarde Smit (nie die Smitte van ons familiestamboom nie). Deesdae word ‘n persoon van 80 jaar eers gereken as iemand wat begin oud raak.

In een van die huldeblyke geskryf deur Prof. H. Van der Merwe Scholtz, “Visser 'n digter honderd!”, word genoem dat verskeie digters destyds reeds meer as 100 jaar gelede gebore is (Langenhoven, M.E.R., Totius, Visser), maar dat slegs M.E.R sy honderste verjaarsdag saam met ons (die koerantlesers) sou belewe.

"Onder die mans was Visser die een met die kortste lewenspan, hy word maar 51 jaar. En ook literêr gesproke is hy die jongeling. Want al het Langenhoven maar 'n jaar of agt ouer geword as Visser, het daar 'n lang en produktiewe skrywerspad agter hom gelê.

Hoe "jonk" die digter Visser was, blyk uit die getuienis van die vriende wat hom aangemoedig het om te dig en om te publiseer. Eugène Marais: “In werklikheid is dit” (dis nou Visser se poësie) “die arbeid van veel minder as vier jaar wat aan die naam en die nagedagtenis van dr. Visser hierdie mate van onsterflikheid geskenk het. Die meeste van sy gedigte is in minder as een jaar geskrywe”.

Minder as een jaar! ‘n Mens sou by die honderste verjaarsdag van die “ één jaar” kon sê dat Visser sy eie Metusalem in die loef steek. Metusalem “die man wat hul – dit sal jy sien / vermenigvuldig het by tien”. Visser troef hom wanneer dit by vermenigvuldiging kom, as digter is hy “die man wat hul, wees nie verwonderd / vermenigvuldig met honderd”.

Prof. Van der Merwe Scholtz noem verder dat die voorteken van hierdie honderdjarige wonderjaar reeds vroeg waarneembaar was. In 1891, op dertienjarige leeftyd, is die jong Andries Visser “sommer so van die werf af” saam met sy twee ouer broers na die Hugenote-gedenkskool in Daljosafat gestuur. Insidente tydens sy skoolbesoek het gelei tot o.a. verskeie tweetalige rympies wat Visser “sommero gedurende die les” onder sy klasmaats rondgestuur het tot groot vermaak van hulle. Een van die jongeheer Visser se kostelike rympies:

Now, look now boys, is this the way
When I’m at home to kry vir my?
But now I will vir jul excuse
En sorg dan vir no more abuse.
Kan julle dan geen goed meer doen.
When out of my eye geen stilte betoon?
It really is an awful shame
That will not by water be washed from jul name.

Prof. Van der Merwe Scholtz skryf dan verder dat Visser later ‘n rymvertuoos geword het. Hy maak melding van die volgende in Visser se werk: “verbruikspoësie in die goeie maar ook in die volledige sin van hierdie begrip: die sangerigheid van sy poësie het eenvoudig om toonsettings gevra en dit dan ook in oorvloed gekry, die spitsvondige, klinkende kwinkslae was nie haatlik nie, maar het tog genoeg “angel” gehad om die leser lekkerbekkig te laat siteer.

Verskeie ander hudeblyke in die Bylae vang die oog, bv. “Wie is die man met ‘n vaaljas en ‘n bokbaard”?, “A.G. Visser en die Liedkuns”, “’n Digter honderd”, “Dartelende en bruisende lewensvreugde”, “Tydgenootlike waardering sê nie alles”,” Heidelberg sal onthou”, “En hy sing van die liefde” en “Die klank van Rose”.

Prof. Bertie Heiberg sê verderaan in bovermelde huldeblyk, “Die klank van rose”, dat: “Dit gaan in hierdie bydrae om die klankstratum – spesifiek die fonologiese dimensie in die poësie van A. G. Visser want, afgesien van die sintaktiese en semantiese dimensies, is dit die fonologiese dimensie wat die aandag trek omdat dit immers hier gaan om die organisasie van die taal se klanksisteem: die orkestrasie of instrumentasie.“ Prof. Heiberg hanteer ook teks onder subopskrifte soos Vindingrykheid, Eenvoud en Vitaliteit. Na my mening is hierdie spesifieke huldeblyk (in geheel) ‘n uitstekende artikel op sigself.

Twee verdere plasings moet egter genoem word! Die agterblad bevat kolomme genaamd: “Wat sê die jeug…” ‘n Mens mag dit eenvoudig nie misloop nie. Twee matriekleerlinge, ene Pieter C. van der Merwe en Ermien van Pletzen het veel te sê oor Visser as skrywer. Merk net die gehalte van die twee hudeblyke – ‘n mens wonder of vandag se matrikulante by hulle kan kersvashou?

“ERMIEN skryf: DIE gedigte van A. G. Visser is ‘n weerspieëling van die mens Visser: ‘n blymoedige, aangename mens met drie besondere voorliefdes in sy lewe: vir sy medemens, musiek en die natuur.

Hy het ongetwyfeld ‘n intense gevoel vir die skone en edele gehad. Tog was hy nie ‘n diep denker nie. Sy styl is gemaklik en die gedagtes waaruit sy gedigte voortspruit, is oor die algemeen alledaags en oppervlakkig.

Selfs in sy minneliedere bly hy ‘n speelse “troebadoer” wat sy geliefde besing in klinkklare, sangerige gedigte. Daar is nooit sprake van hewige botsings nie; hy delf nie diep in die menslike siel nie en hy bereik nooit ‘n stadium waar hy diepliggende vergesigte aan die leser onthul nie.

‘n Kuns wat Visser wel deeglik bemeester het, is die skryf van bekoorlike kindergedigte. Hierdie gediggies besit die ritme, musiek, humor en verbeeldingrykheid wat ‘n kind bekoor.

Maar Visser se grootste bydrae tot die Afrikaanse poësie is seker sy sinspreukige poësie. Met sy geestige puntdiggies het hy bewys dat Afrikaans vatbaar is vir hierdie genre. Hy verkondig lewenswaarhede met groot lewenslus en probeer die verkeerde in die samelewing regstel deur daarmee die draak te steek. So skerts hy gemoedelik met die predikant, regsgeleerde en medikus.

Ten spyte van al die kritiek op Visser se gedigte kan dit nie betwyfel word nie dat hy geweldige populariteit as volksdigter verwerf het. Miskien is dit omdat hy die hart van die gewone mens raak met sy gedigte. Sy onuitputbare lewenslus en lag maak die lees en die voordrag van sy verse nog steeds suiwer genot.

Visser se werk word vir my doeltreffend saamgevat in ‘n huldigingslied ná sy skielike dood:

En ons sal die Ware en Fyne
Met vreug uit jou versies hier kry;
En dit dra soos ‘n snoer van robyne,
Om lig deur die donker te sprei.”

“PIETER skryf: MET die Visser-fees vanjaar word daar opnuut gekyk na A. G. Visser se verse wat in die jare twintig geskryf is. Dat hy ‘n groot bydrae tot die Afrikaanse digkuns gelewer het, betwyfel ons jongmense van vandag nie, maar baie van sy verse spreek ons nie meer aan nie – waarskynlik omdat ons emosioneel anders ingestel is as die mense van vroeër, en omdat ons ‘n ander soort humorsin het.

Ons stel nie meer regtig belang in Visser se smartpoësie nie, want ‘n gedig soos “Die roos” spreek nie werklik van hewige ontroering en verlange nie. Dit gryp ons nie aan nie en klink vir ons soos leë woorde. Ons verwag van ‘n smartgedig om ons emosioneel aan te gryp en dit doen Visser se verse nie.

Sy verhalende verse kan egter op ‘n hoër trap geplaas word, want hy slaag daarin om ‘n bepaalde atmosfeer te skep soos in Die ruiter van Skimmelperdpan:

En dan eensklaps vanuit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orend – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-verwringende gebaar.

In hierdie beelding van ‘n skrikwekkende atmosfeer kan ‘n mens jou goed in die situasie inleef.

Wat egter wel tot ons spreek, is Visser se liefdesverse. Die beskrywing in Rosa Rosarum met rustige, lang gedrae sinne, bring ‘n ontroering en rustigheid – iets waarna ons soek in vandag se gejaagde lewe:

Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin.
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo uit die troot’lose treurwilg se kruin.

Baie van Visser se humoristiese gedigte vind by ons nie meer byval nie, soos Getuigskrif en In die Sondagskool wat vir ons eerder kinderagtig as humoristies is.

Maar nieteenstaande kritiek van die kant van die jeug af, besef ons tog dat baie van Visser se werk sal bly voortleef en deur ons onthou sal word.”

Dít dan die Bylae van 1978. Ek wonder of vandag se jongmense ook soos die jongman hierbo sê: “…waarskynlik omdat ons emosioneel anders ingestel is as die mense van vroeër, en omdat ons ‘n ander soort humorsin het.” Ek dink tog so! Dit is egter onnodig om ‘n debat aan die gang te sit oor die werk van Visser: of sy verse vandag nog byval vind al dan nie. Smaak verskil en sommige poësieliefhebbers mag dalk meer in Visser se gedigte lees as wat ander dit regkry.

Wat van belang is, is dat Visser in Afrikaans gedig het en sodoende die skoonheid van ons taal help uitdra het. My beroep is dus op al ons talentvolle jongmense: dig, want julle kan mos!

© Susan Grobler
    2008



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

AG Visser
Heil Susan!
Dit is nou amper vier jaar gelede wat jou artikel verskyn het, en wat 'n aangename verrassing! Ek waardeer dit - nie slegs vir die akademiese waarde daarvan nie, maar ook vir die stille begeestering wat daaruit spreek.
Baie dankie!
1 jaar 11 maande 3 dae 16 ure oud


Buig ek laag ....
Susan vir hierdie pragtige inligtingstuk kom buig ek laag en koninklik!!

Ek het die dubbeldoor gediggie van Visser so geniet en 'n klein gedeelte van hierdie artikel van jou by die forum gebruik waar ons woel en werskaf met digstrukture as verduideliking en voorbeeld:

http://www.woesblog.com/forum/index.php?topic=1794.msg22443#msg22443

Jy is 'n helder ster in die Woeste laning!!!
5 jaar 8 maande 2 weke 4 dae 22 ure oud


Ek wil baie sterk met jou saamstem. Vir my was AG Visser van kleins af 'n model digter. Hy het twee maal die Hertzog prys gewen en was so uiters populêr op sy tyd, dat sy gedigte in die koerant gepubliseer was.

Van sy liefdesgedigte soos die roos en rosa rosarum sal my ewig by bly. Van kleins af kan ek ook nie die ruiter van skimmelperdpan vergeet nie.

Vandag wil die letterkundiges hom nie ken nie en word daar gemeen dat hy goed was in en op sy tyd en slegs dan. Baie min mense besef dat hy geeksperimenteer het met moeilike franse digvorme soos die rondeel waarvan sy rondeu "misère" 'n voorbeeld is.

Kyk gerus na my gedigte "Eendag voor die reën (of so sterf my rym)" en "die vergete digteres" oor hoe belangrik ek AG Visser as digter beskou.

Myns insiens moet 'n digter eerder gemeet word aan hoeveel van sy of haar werk populer gelees word, as aan enige iets anders om as digter uit te staan.
5 jaar 9 maande 3 weke 1 dag 17 ure oud



Van ons Premium+ lede

Meeste premium+ werke gelees in die laaste 7 dae
(2014-10-25 05:00:00 - 2014-11-01 05:59:59 )

Meeste kommentaar op premium+ werke vir die laaste 7 dae

Nuutste premium+ artikels

Van ons ander lede

Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar