Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Name is verander om die identiteit van die betrokkenes te beskerm.
Einde Februarie 2010 het alles begin. Freddie, toe 30 jaar oud, nou 32, se kop het hom gelos. Hy is effens verstandelik gestrem., daarom woon hy nog by sy pa Fred en ma Maryna. Hy bly saam met sy stiefbroer, wat nog op skool is,in ‘n woonstel wat spesiaal vir hulle aangebou is. Dit het begin toe Freddie in die nag langs sy stiefbroer se bed gaan sit en kyk het hoe hy slaap. Wanneer die stiefbroer wakker word van Freddie se gelag, staan Freddie op en loop. Vanselfsprekend het die stiefbroer teruggetrek huis toe.
Toe begin Freddie in die erf ronddwaal, praat net met homself, wil nie meer bad of eet nie.Hy sit vir ure bewegingloos op sy bed, of lê net daar, baie depressief, en staar na die plafon. Sy pa kry hom tot in die motor om hom na n sielkundige toe te vat, maar halfpad daarheen spring hy by ‘n stopstraat uit die motor, en hardloop huis toe. Fred gaan sien toe die sielkundige, verduidelik vir haar die situasie en sy skryf vir Freddie medikasie voor. Hy weier botweg om dit te drink. Raak sommer agressief. Dieselfde dag slaan hy sy stiefbroer se neus af oor ‘n DVD waarvoor hy nie lus was om te kyk nie.
Fred werk nagskof, en 2h00 die volgende oggend word Maryna wakker van ‘n geskree. Dit klink soos ‘n vrou, maar sy kom agter dat dit Freddie is wat so skree. Hy staan buite met gebalde vuiste en baklei met iemand in die woonstel. Hy vloek en skel, en skree “Haal op jou eie asem, moenie saam met my asemhaal nie!” Sy ma probeer met hom praat, maar hy weet nie eers van haar nie, hou net aan baklei met iemand anders. Intussen het die stiefbroer die polisie gebel. Hulle vat hom saam, hou hom daar vir die nag by die polisie stasie, en sy pa kry hom die oggend toe hy van die werk af kom. Sy ma kry hom tot by die sielkundige. Hy drink nou sy medikasie, kry werk by ‘n sekuriteitsfirma, en dinge gaan beter.
“n Week later, 2h00 die oggend, skrik Maryna wakker van iets wat klink soos ‘n masjiengeweer. Freddie staan weer buite die woonstel en baklei. Sy hande is vol bloed. Die polisie vat hom na die staatshospitaal toe. Hy word opgeneem in die psigiatriese afdeling. Freddie het die woonstel se mure vol gate met sy vuiste geslaan. Na drie dae is hy terug met nuwe pille en verbande om sy hande. Hy werk weer. ‘n Maand later skop hy een aand ‘n patiodeur uit, en dreig sy pa met ‘n snoekerstok. Hy is terug in die hospital. Hy bly ‘n week daar. Die sielkundige maak ‘n afspraak met Fred en Maryna, en sê Freddie makeer niks, hy moet net sy medikasie gebruik, en ontslaan hom.
Twee aande later, Fred was skaars by die werk, toe vloek en skel Freddie vir Maryna, en dreig haar met ‘n tuinfurkie. ‘n Halfuur later is hy terug in die hospital. Die volgende dag gaan sien Maryna die sielkundige en baklei totdat hy Freddie na die buurdorp stuur vir evaluering. Freddie bly vir drie weke daar, word ontslaan en is terug by die huis met ander pille en ‘n verslag wat sê hy makeer niks, hy rook dagga, maar Freddie rook of drink nie.So gaan dit aan, Freddie is in en uit die hospital totdat die sielkundige vir Maryna sê sy moet nie elke keer as sy moeg raak vir hom, hom by die hospitaal laat ‘dump’ nie.
Freddie het weer vir twee weke gewerk toe hy homself ontbloot aan ‘n vroulike kollega. Hy is net afgedank, nie vervolg nie, en hy moet wag vir sy salaris. Dit maak hom depressief. en hy eet, bad, praat of slaap nie, hy is kwaad. Fred is afgeboek vir drie weke weens ‘n oordromoorplanting. Hy probeer sy bes om met Freddie te kommunikeer, maar niks. Hy ignoreer sy pa totaal en al.
Dis drie dae nadat die steke agter Fred se oor uitgehaal is, en hy en Maryna het saam met familie wat kom kuier het vir die naweek, gebraai. Freddie was ook by, hy het gelag en gesels, maar net met die familie, en met die honde gespeel, en toe geloop. ‘n Half uur later het Fred hom gaan roep om te kom eet. Die woonstel was donker en doodstil, maar die deur was oop. Fred stap toe in om te kyk of Freddie daar is, maar Freddie wag hom in met ‘n swaar hout arend, en toe Fred omdraai, slaan Freddie hom teen die kant van sy kop, en reg op die oor wat geopereer is. Die onverwagte harde hou het Fred op sy hande en knieë laat beland, en Freddie het net aanhou slaan met die woede van ‘n mal mens. As Fred nie op ‘n manier weggekom het nie, het Freddie hom dood geslaan.
Nadat Maryna Fred by ‘n privaat hospitaal laat opneem het, tref sy Freddie dood kalm onder die lapa aan. Sy vat hom terug na die staatshospitaal toe. Dr. Nagskof Natagterdieore, wil nie vir Freddie opneem nie. Iets drasties moet eers gebeur. Nadat hy die privaat hospital gebel het om seker te maak Fred is wel aangerand en opgeneem, prop hy Freddie ‘n pakkie pille in die hand. Maryna los vir Freddie daar en gaan huis toe. Sy kan nie meer nie. Fred het veelvuldige beserings aan sy kakebeen, wangbeen en skedel opgedoen. ‘n Spesialis sal moet opereer om die skade te herstel. Fred word ongeskik vir werk verklaar vir drie maande.
Die volgende dag, na die middag besoektyd by die privaat hospital, gaan maak Maryna ‘n draai by die staatshospitaal. Freddie sit nog steeds, voete bymekaar, pakkie pille op die skoot, in die hospitaal se ontvangs area. Sy praat met Dr. Dagskof, en hy sê hy sal kyk wat hy kan doen. Eers die Maandag oggend 6h00 is Freddie toe uiteindelik opgeneem. Intussen is daar ‘n saak teen Freddie gemaak; aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die Dinsdag oggend het Maryna ‘n afspraak met die sielkundige. Hierdie keer is hy nie so vol stories nie en stuur Freddie nog dieselfde middag na die buurdorp se psigiatriese hospitaal vir behandeling. Na drie weke bel die hospital om te sê Maryna kan vir Freddie kom haal. Sy weier, en gaan sien die hoofsielkundige wat oor die staatshospitale is. Toe die hoofsielkundige die foto’s sien van hoe ernstig Fred aangerand is, bel sy dadelik die psigiater op die buurdorp onder wie se behandeling Freddie is, en sê hulle moet hom daar hou totdat daar ‘n ander oplossing is. Haar mening is dat Freddie weer sy pa gaan aanrand, sy het dit al talle kere sien gebeur.
Twee dae later maak die hoofsielkundige ‘n afspraak met Maryna om haar te kom sien, Freddie se psigiater sal ook teenwoordig wees. Dit blyk toe dat Freddie sonder enige dokumentasie na die buurdorp gestuur is want die psigiater weet nie van die aanranding saak nie, hulle dog hy is daar om sy nuwe voorraad pille te kom kry.Die psigiater sê sy kan Freddie net vir drie weke daar hou omdat dit net ‘n rehabilitasiesentrum is. Die hoofsielkundige sê die polisie moet ‘n vorm invul en aan die buurdorp se hospitaal, oorhandig om Freddie langer daar te hou. Maryna bel die sersant, hy sê hy het nie so ‘n vorm nie, Maryna moet dit by die hoofstaatsaanklaer kry. Maryna gaan sien die hoofstaatsaanklaer en hy sê hy mag nie die vorm vir Maryna gee nie, dit word verkry met ‘n hofsaak. Terug by die sersant, moet Maryna hoor dat Freddie nie gearresteer mag word nie omdat hy ‘n psigiatriese pasiënt is. Daar sit Maryna vasgevang in ons regstelsel se ‘loophole’ of is dit eerder ‘poophole’?
Freddie is ‘n gevaar vir homself en ander, maar hy kan nie langer in die psigiatriese hospitaal bly nie, hy moet ontslaan word. Al hoe hy na ‘n meer permanente inrigting gestuur kan word is dmv die hof, en om in die hof te verskyn moet hy gearresteer word, maar hy mag nie gearresteer word nie omdat hy ‘n psigiatriese pasiënt is. Nou wat nou?
NS: Maryna het die simptome wat Freddie toon gaan Google, en dit neig na skisofrenie.
As jy wat hier lees opgelei is om enige raad te gee, doen dit asseblief.
Kommentaar is natuurlik ook baie welkom.



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

Sielkundiges ens.
Ek kan nou nie veel van 'n diagnose maak nie, maar dis 'n vreeslike situasie waarin die mense sit. Miskien kort net die regte medikasie. Dit klink nie vir my so ingewikkeld om dit te diagnoseer nie, maar ja, hoe sal ons nou weet Ek hoop daar kom gou 'n ou barmagtige samiritaan verby wat nog tyd het vir 'n mens.
3 maande 6 dae 12 ure 58 minute oud


Errata
Ekskuus:
Dit is die INTERNATIONAL CODEX OF DISEASES met die (internasionale) afkorting ICD
1 jaar 9 maande 1 dag 13 ure oud


Miskien
Dit klink sinies wat ek nou sê, maar dis waar:
Ek was by Dr Snotneus en het gesê dat wyle Dr Oubaas my altyd die-en-daai medisyn vir my probleem gegee het, en my ervaring is dat dit goed gehelp het. Daar sê die jongetjie waaragtig, Ons het afgekom van die ervaringsmedisyn. Laat die sin nog tweekeer oor jou tong rol. Sê dit hardop. Begryp jy wat hy gesê het? Waar hulle OPgekom het, het hy nie gesê nie. Klaarblyklik op die nuwe produkte van die farma-industrie.

Ek weet net dat daar 'n International Index of Diseases (IDC) is, waarin alle siektes na bewering gelys is, aangevang by 1.0, 1.1.1, 1.1.2 ens tot 99.9.9 As jy nie in 'n kategorie pas nie, is jy nie siek nie. Of andersom: As jy nie op die pienk pilletjies reageer, en dan op die geles nie, kan ons niks vir jou doen nie: Dis al wat ons het. (Staatshospitaal)

As my aanbeveling uit die verte iets kan bring, gaan soek 'n dokter wat iets van natuurmedisyn verstaan en dit verskryf. (Ek het NIE sangoma gesê nie!) Baie van hulle weet ook nog iets van die homeopatie, wat bewerk dat die liggaam homself sterk en genees - nie aan die simptome torring nie, maar die hele pasi"nt as mens beskou en probeer gesond maak.

As dit teen jou beginsels is, dan raai ek aan, in elk geval 'n ouere geneesheer te soek, wat nog dinge kan onthou wat hulle gemaak het vóór die psigo-farmaseutiese en ander bomme ontwikkel is, en OP DIE MARK GEKOM HET.

Ek wens Freddy goeie gesondheid van liggaam en siel, wat miskien gekry kan word van 'n MENS met hartwarmte, wat hóm ook as MENS sien, en nie as afnemer vir 'n (duur) nuwe produk nie. Miskien gaan jou mediese vonds nie vir die dokter betaal nie, maar sy medisyne sal nie so duur soos die nuwerwetse produkte wees nie - en minstens ewe werksaam. Minstens.

Groetnis vanToom
1 jaar 11 maande 3 weke 10 ure oud


Opinie
Ek is een van daai ens. mense so moet jou nie te veel aan my opinie op die onderwerp steur nie. Hy klink vir my meer na "borderline" persoonlikheid as na 'n skisofreen. Dikwels depressief en omgekrap om geen duidelike rede nie en oorreageer op klein irritasies.

Die probleem wat ek self met die geestesgesondheids spesialiste ondervind is dat die mense dikwels 'n lysie simptome deurwerk met standaard vrae en verwagte antwoorde en dan daarvolgens diagnoseer. Die een wat die vrae vra doen dit ook dikwels op 'n leidende manier wat die pasiënt dwing om ja of nee antwoorde te gee op vrae waaroor die pasient nie noodwendig sekerheid het nie en wat die resultaat dan onbetroubaar maak, veral as die pasiënt iedergeval 'n gebrek aan vertroue in mense oor die algemeen het.

Omdat hierdie "siektes" nie selfbestaande kondisies in eie reg is nie maar eerder net 'n groep neigings verteenwoordig is dit baie moeilik om 'n spesifieke individu in 'n kategorie te plaas, veral waar die individu nie presies in een van die voorafbepaalde kategorieë inpas nie. Sterkte.
1 jaar 11 maande 3 weke 12 ure oud



Van ons Premium+ lede

Meeste premium+ werke gelees in die laaste 7 dae
(2014-04-18 11:00:00 - 2014-04-25 11:59:59 )

Meeste kommentaar op premium+ werke vir die laaste 7 dae

Van ons ander lede

Gee my hoop - selfs toe daar geen hoop meer was nie

deur stefan s

Die boek se inhoud gaan hoofsaaklik oor die tema “hoop”. Hoop kan op verskillende maniere of geskep, versterk of vernietig word. Daar word gekyk na faktore wat ʼn direkte of selfs indirekte invloed uitoefen op die hoop wat daar in menseharte bestaan. Die boek is anders as ander deurdat daar aan die einde van elke hoofstuk ʼn gedig van hoop en bemoediging, deur stefan s, geskryf is wat by die tema van daardie hoofstuk aansluit. stefan s is ʼn predikant wat reeds 30 jaar in die bediening staan en in drie gemeentes gedien het. Ek is tans besig met twee afsonderlike kursusse in nood- en traumaberading. Ek is self deur diep waters wat as motivering gedien het vir die skryf van die boek met die spesifieke onderwerp “hoop”.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar