Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek bly die afgelope nege maande in Potchefstroom en kan nie my gunsteling radio-stasies hier opvang nie. Ek ry baie en is dus genoodsaak om na SAFM, RSG en Radio 2000 te luister – tot my groot frustrasie, want ek word nou blootgestel aan iets wat my na aan die hart behoort te lê: Afrikaanse musiek.

Ek is ’n groot aanhanger van intelligente lirieke en goeie, slim woordgebruik. Soos onder ander Koos Du Plessis – hy het die kuns vervolmaak om met die regte woorde ’n besondere emosie presies raak te vat en dit dan, saam die musiek, tot ’n eenheid te omvou. HY kon atmosfeer skep met beelde en beeldspraak – luister maar na sy Jantjie van die Berge – en vergelyk dit met Wys My Wat Jou Lyf Wil Hê Vanaand (of so iets) en Wikkel Daai Boude en laat weet dan wie kennelik meester van sy taal is?
Dit wat ek deesdae na moet luister onder die vaandel van populêre musiek is egter die grootste klomp snert wat ek nog gehoor het. Die ritmes en wysies is feitlik almal dieselfde – dit klink asof al die sangers dieselfde klankbaan gekoop het en hulle nege-jarige nefies, wat steeds sukkel om Graad Een deur te kom, gekry het om die lirieke te skryf. Die woorde maak eenvoudig nie sin nie – dit lyk kompleet of iemand ’n Thesaurus in die hande gekry het en woorde gesoek het wat, byvoorbeeld rym met ‘my’ rym - vry, hy, ly, jy, gly, ens - en dan sinnetjies aanmekaar ransel wat die woorde bevat – of dit nou sin maak of nie.

Die swak lirieke is egter nie my enigste probleem met die genré (ek haar die woord) nie. Dis die gebruik van Engels tussenin wat my dwars in die krop steek. Dis ’n ge’baby’ en ‘nice’ en ‘cool’ en ‘amazing’ van voor tot agter, soveel so dat ek soms wonder of die liriekskrywers nie eintlik meestal Engelssprekend is nie – dit sou darem die swak taalgebruik en sinneloosheid verklaar. Voeg dan daarby die Engelse aksent wat deesdae aan die orde van die dag is – dit klink of die manne en vroue skaam is dat hulle Afrikaans is, en dit probeer wegsteek met aangesitte aksente en uitsprake. Ter versagting moet ek darem byvoeg dat ek ook my spreektaal sou wou vermom as ek sulke snert moes braak onder die dekmantel van musiek. Ek sou selfs ook ’n skuilnaam gebruik het sodat my pa en ma hulle nie vir hulle kind moet skaam nie – iets soos Prins Valiant of dalk Prins Swart, dalk selfs Kurt Barren maar defnitief nie Worsie Hoenderborsie nie.

Dan het ek dit daarteen dat die sangers so hyg-asem sing – natuurlik om te probeer verhoed dat die mense die woorde hoor. Dit laat my wonder hoekom hulle dan nie maar net instrumentele musiek maak nie - niemand luister tog na die woorde nie.

En dat die gemors verkoop is ’n aanklag teen die samelewing – of ons gee nie meer om nie vir ons taal nie, of ons gee nie hoegenaamd meer om nie – vir enige ites . My gevoel is dat die sampioen-ontploffing van Afrikaanse sangers, waarvan die nuwe voorsitster van die FAK so met trots praat, eintlik niks goed vir Afrikaans inhou nie. Na my mening het te veel gemiddelde mense (wat kan noot hou), toegang tot multi-media sagteware wat hulle in staat stel om ondergemiddelde musiek en patetiese lirieke deur middel van spookasem-advertering aan ’n onbetrokke Afrikaanse te verkwansel as kultuur en kuns.

Intussen kners ek op my tande en probeer oopkop wees oor die musiek, maar, as die asbliksang dreig om my te verswelg (gewoonlik na die tweede of derde sinnetjie), dan reik ek maar na die Af-knoppie of luister na ’n Engelse stasie – dalk hoor ek daar ’n onderhoud met Julius Malema. Hy praat dalk ook net soveel nonsens, maar ten minste doen hy dit in suiwer Engels.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ek stem egter met 'n klein gedeelte saam. daar is volgens my in die meeste van die afrikaanse musiek tans te koop soveel talent en as dit nie vir die meeste van hierdie kunstenaars was nie was daar nie afrikaanse musiek te koop nie. ek is mal oor my taal, ek vrek daaroor, maar ek maak 'n punt daarvan om die kopersmark te ondersteun. ek HOU nie van almal nie maar daar IS talent in elkeen in afrikaans en op welke manier die betrokke kunstenaar dit oordra word weerspieel in die gehore en verkope. almal het nie dieselfde smaak of voorkeure nie en daarom is dit so belangrik om in elke "afdeling" 'n paar cd's in afrikaans te koop te he. indien daar nie is nie gaan die kopersmark of "smaakmark" in afrikaans net eenvoudig in daardie betrokke "afdeling" verdwyn. ek is ook nie 'n voorstander van gemors nie maar doen moeite om die betrokke kunstenaars te ondersoek en na hulle te luister. al is dit soms volgens my voorkeure soms so moeilik. elkeen van hulle veg 'n paadjie. elke afrikaanse woord wat gesing word is vir my 'n stap vorentoe. ons afrikaanse musiek kook en ek is bitter dankbaar daarvoor.
10 jaar 5 maande 3 weke 2 dae 7 ure oud


Sela en amen...
10 jaar 5 maande 3 weke 2 dae 19 ure oud


Losves, met sommige dinge wat jy skryf, stem ek saam, met ander nie (noodwendig nie). Jy skryf egter met soveel kleur, en 'n rykheid van woorde, dat dit maklik is om te verstaan hoekom jy 'n probleem het met middelmatige lirieke. Veilig ry.
10 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 9 ure oud


Mense kyk my skeef as ek dieselfde neigings as jy toon. Laat my voel asof ek 'n landsverraaier is. Maar o weë, daar is darem 'n groot verskil tussen Matthys Roets se werk en die ander wat net gly, ry, bly of sny. Is dit nie amazing nie Babes???
10 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 10 ure oud



Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar