Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek het ‘n hele klompie albasters gehad toe ek ‘n kind was. Ek onthou nog hoe waardevol en mooi albasters vir my was. Mens het verskillende soorte gekry, en soms nogals jou vriende beny as hulle die nuutse en mooiste soorte het. Ek kan nie meer al die name onthou nie, maar ek onthou daar was ‘milkeys’ en ‘shineys’. Sommige het geblink soos ‘n metaal, ander het spikkels in gehad. Ek was nooit mal oor die doodgewone soort met die 3 strepies in die middel nie. Daarvoor was daar te veel ander mooier en interresante soorte. Ek het hulle versamel, hier en daar een by ‘n maat gekry. Die mooies was skaars en gewoonlik het ek net een van elke soort gehad, die gewones volop.

Ek is nou ‘n grootmens en moet erken ek versamel steeds albasters, maar van ‘n ander soort. Ek bêre nie meer die albasters in ‘n mooi lapsakkie of glasbottel nie , maar in my hart. Vandag se albasters is oë. Meer gesog as enige glas albaster. In my hart bêre ek hulle. Die oë is die vensters van ‘n mens se siel, ja en selfs meer. Die oë van ‘n mens is vir my die mooiste van alles, en as ek ‘n mens teekom met besonderse oë, neem ek ‘n gedagtefoto en bêre dit in my hart. Ek kan die name vir jou noem van mense met die mooiste oë. Sjoe ek voel skatryk van al die oë in my hart. Ek self het bruin oë, en moet eerlik wees, passievolle bruin oë, is my gunsteling. Daar is soveel skakerings van bruin en soveel dimensies in koffie-oë. Ek vertrou makliker bruin oë, seker omdat ek hul ‘n bietjie makliker kan lees en verstaan. Bruin is eintlik ‘n rowwe veralgemening van ‘n groep oë, wat asemrowend mooi is. Maar daar is ook bloues in my hart, mooi is blou beslis, en ek soek altyd die uniekes uit. Blou het ‘n edel kwaliteit aan hul, ‘n skitter soos ‘n doudruppel. Blou reflekteer die son so mooi, lyk soms soos ‘n helder somerswembad. Veral onskuld kan jy so mooi daarin sien, soms. En dan is daar groenes, party soos druiwe korrels, ander moerasagtige poele waarin skadu’s soos bekende skilders se flinke slim kwasstrepies speel. Daar is ook ‘n paar ander eienaardige kleur oë wat saam my unieke versameling volbring.

Soms ontmoet jy ‘n mens, of kry geleentheid om met iemand vir ‘n kort rukkie te gesels en agterna wens jy dit kon langer wees, sodat jy ‘n gedagte foto kon neem van daardie oë om dit nooit te vergeet nie. Soms sien jy vir ‘n kortstondige oomblik die verruklikste mooi oë, maar as jy jou eie oë knip is dit weg en kon jy dit nie memoriseer nie, dan sal jy dalk jou lewe lank loop en soek om weer daardie unieke oë te kry. Sommige oë is oorweldigend, sodat jy skoon verboureerd vergeet om ‘n foto te neem, agterna probeer jy die splinter stukkies in jou geheue herroep, maar dit bly ombeskryflik.

Daar is komplekse oë, met soveel dimensies in, dat jy skoon uit jou boksie geskud is deur net te sien wat God in ‘n oog kan doen. Die tannie wat vir ons ‘n kurses by die kerk aanbied, die moeder van die kerk, in haar oë, is die Heilige Gees gespel, die asemrowendste groen-blou,adelike, dimensievolle, passievolle, sagste, teerste oë, wat ek in ‘n leeftyd gesien het! En net nie in ’n enkele woord kan opsom nie. Eerste prys albasters! Ek wens ek kon haar ‘n medalje vir haar oë gee, vir die ongefeinstheid, die opregtheid, die spieël wat dit is.

Daar is ‘n paar karnallie ogies in my hart, stout-seuntjie oë, ondeunde oë…meestal in die lyf geset van ‘n jongman. Opreg en stout in een stel oë. Daar is ook skoenlapper-flapper onskuldige oë, van ‘n jong verliefde meisiekind. En die helder ogies, o die lieflike helder-ogies, vol en gesond, geen lyne van die lewe, geen verskuilde dieptes, net helder oop ogies, van babas en kindertjies. ‘n Gunsteling van my, waarvan daar sommer baie in my hart is.
Daar is wyse oë, vol grys, en grou, en dieptes, verhale. Nie meer vensters van die hart nie, maar kelders van die hart. Dis duur albasters, ‘n leeftyd werd.

Daar is ook kat-ogies in my hart, want as daar eenmaal iets is wat ‘n kat jou bied is dit hul oë, hul bied jou wye kyke daarin, ure se staar, maar vergeefs of jy hul ontrafel. Dit is van die mooiste oë wat jy kan kry, maar raaisel oë. Dit wil eenvoudig voorkom, maar is aanloklik soos dryfsand en jy dink jy gaan sink, net om wakker te skrik op stasie nommer een. Jy sien die dieptes, jy sien die begeerlike onbekendheid maar jy kan nie daarheen gaan nie. Groen,of dalk geel, met spikkels ougoud. Onbeskryfbaar die kat se oog, te veel om onder ‘n enkele titel geklasifiseer te word. Daarom kyk ek en vèrkyk my en daarna bêre ek die kosbare albasters in my hart vir anderdag se uithaal en bewonder.

Daar is ook reenoë, oë wat almal altyd verbystap, soms afmaak as niks, maar kom die grys reëndag, gaan die bloeisel oop en word die vaal-groen-grys, diep-grys;blou. ‘n Siel wat voor jou ontvou. Kleur-verander oë, wat jy op spesiale seën dae uithaal en toets. En waarlik getrou, sal die kleur opflikker soos ‘n vlammetjie hoop.

My ou gunsteling die sjokolade bruin, kindermooi oë, van my geliefde lewensmaat. Vol passie, vol teerheid, vol opregtheid, vol vrede. Oë waarin ek kan kyk en weet ek het rus gevind, tuisgekom. Al kan hul soms vonkel van terg. Liefwees oë, die van my man.

Ek is skatryk aan kosbare albasters, soos ek deur die lewe stap versamel ek hul en sal beslis vir jou wys, as jy wil sien, maar ek is suinig met my albasters. Ek kan dit nie vir jou gee nie. Wys my joune!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dit vreeslik mooi geskryf!! Ek is mal oor jou vergelykings.. jou uitbeeldings van iets wat party mense sien as iets doodgewoon, maar daar skuil soveel emosies agter die vensters van ons siele! Baie dankie, dis pragtig :) [xxx]
13 jaar 1 week 2 dae 10 ure oud


Albasters..
Kleipot dankie dat jy dit met ons deel. Jou vergelyking is baie goed.Ja alles wat ons uit
die lewe saamneem kan niemand van ons wegneem
nie. Pragtig geskryf dankie.
13 jaar 1 week 4 dae 11 ure oud


albasters en oë
Hi daar

Dankie vir jou mooi geskryfte stukkie. En dan is daar nog oop oë wat niks sien nie en toe oë wat alles sien. En oë wat afkyk en oë wat opkyk. In alle kleure geverf.

groete

note
13 jaar 1 week 4 dae 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar