Artikels

Titel: Algemene publiek landboukundig ongeletterd

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die oorgrote meerderheid van Suid Afrikaanse gesinne (veral Afrikaans sprekende`s) kan binne 3 generasies hul wortels terug volg tot op die plaas. As hul oupa`s nie boere was nie beslis oupagrootjie. Tog is dit skokkend hoe die’ mense hul bande, kennis en aanvoeling met voedsel produksie en die land se boere binne een generasie verloor het. Ek self het eerste hands kennis gemaak met die algemene publiek se totale onkunde rondom plaasdiere, voedselproduksie en landbou, tydens die afgelope Bienne Donn nasionale kaasfees. Ek en Pieter Loubser van Malmesbury was verantwoordelik vir die uitstalling van diere vir die Fleckvieh / Simmentaler stalletjie te Bienn Donn. Ongeveer 8000 mense gemiddeld per dag het die kaasfees bygewoon wat oor vier dae gestrek het. Ek en Pieter moes behoorlik rondstaan om die publiek se vrae te beantwoord.

Behoefte tot kontak
Die heel eerste ding wat bygeval het is die behoefte van mense, veral kinders en vrouens om te kan vat aan `n lewende koei. Stralende kinder gesiggies het my hart week gemaak wanneer hulle oor die diere se lywe kon streel. Die wonderlikste besoekers aan ons stalletjie was o.a.`n Down sindroom kindtjie wat eers met groot vrees versigtig nader gekom het, maar daarna sy koppie styf teen die Simmentaler versie se nek gedruk het en nie weer wou loop nie. Ook die groepie van pragtige meisies, almal gehoord gestremd, wat `n geruime tyd saam met die diere spandeer het terwyl die een verskeie vrae gevra het aan my en daarna deur gebare taal aan die ander verduidelik het.
Daar is definitief `n behoefte van mense om aan plaasdiere te kan vat en te besigtig. Landbou toerisme kan hier `n groot rol speel om hierdie behoefte te vervul.

Onkunde
Wat ons die meeste opgeval het by die meerderheid besoekers is dat daar baie dinge is rondom landbou, voedselproduksie en plaasdiere wat hulle dood gewoon weg net nie weet nie. Die hele aangeleentheid het my eintlik diep geskok en op `n stadium het ek vrae terug begin vra om te sien wat verbruikers en die publiek nou eintlik weet van voedsel produksie. Ek haal `n paar voorbeelde aan wat ons beleef het:

Ons het ons hande vol gehad om kinders en mense van die koeie se grootse wapen, haar agter pote, weg te hou. Almal was eerder bang vir die bytslag en gaan staan reg agter die koei. Vir honderde mense moes ons verduidelik dat `n koei nie byt soos `n hond of perd nie, maar eerder sal skop as sy skrik.
By verskeie geleenthede het ons selfs van volwassenes die vraag gekry wanneer hulle langs die koei staan:“ Is this a boy or a girl?“ of selfs: “ Is dit `n mannetjie of wyfie?”. Waar het skool opvoeding verkeerd gegaan. Ek is nog opskool geleer van bul, koei en vers.
Mense was in ekstase wanneer hulle lees dat die koei bv 4 maande dragtig is. Wanneer ons vertel dat koeie net 2-3 maande per jaar nie dragtig is nie, is hulle nogal geskok. Om melk te produseer moet `n koei elke jaar kalf! Waar anders gaan die melk vandaan kom?

Dan was daar die dosyne kinders wat geskok gestaan en kyk het wanneer die koei gemelk is en die melk deur omstanders vars gedrink is. Die kinders het hul neuse opgetrek en gese dat hulle slegs winkel melk drink.
Daar was ook die jonge dame wat `n Afrika troue in London wil he. Sy soek beesvelle ,maar dit mag net koeie wees “who died of old age.” Ek verduidelik toe aan haar dat koeie van rondom 10-15 jaar se tande totaal geslyt is en dan nie meer behoorlik kan herkou nie. Sulke koeie word dan ....nou ja „uitgesit“. In mooi taal verduidelik, en beland dan op die verbruiker se tafel as wors of maalvleis. Dit sal `n sonde wees om hulle van ouderdom te laat vrek. `n Verdere bystander verklaar toe luidkeels dat sy geen vleis eet nie. „It is so cruel to kill animals! How could you eat them?“ My antwoord aan haar was eenvoudig: “ Indien alle mense geen vleis ge eet het nie, sou alle plaasdiere en wildspesies nie net op die Rooi Data lys van bedreigde spesies gewees het nie, maar reeds uitgesterf het. Die bewaring van spesies is juis te danke daaraan dat hulle vir menslike verbruik gebruik kan word.“

Wanneer die koeie gaan le en herkou het verskeie tannies aan my die vlg kwytgeraak:“ How could you tie them up? Look how tired the poor animals are, they even lying down!“ Nou ja dan is dit nou weer `n biologie les, van koeie se spysvertering, dat hulle verkies om te le en herkou. Ek wys dan hoe die bolletjie herkoutjie in die dier se keel opkom en dan hoe die koeie weer rustig kou en dan weer sluk.

Hoeveel keer het ons nie moeilikheid gekry oor die diere kwansuis nie water het nie. Op `n vreeslike kwaai vraag van die een spesifieke dame van „Waar is die koei se water?!“ het ek haar vreeslik verergd terug gevra“Waar is joune?“ Half uit die veld geslaan antwoord sy my toe meer kalm „In die kraan.“ Toe verduidelik ek haar dat `n koei tot 80 liter water per dag kan drink en dat koeie, veral melkkoeie spesifieke tye het wat hulle drink. Soggens, middae en saans. Die koei se water is ook in die kraan. Ek wys haar toe die groot waterbak agter die stalletjie waarheen ons die diere neem om te drink.

Die kersie op die koek was seker die slag toe `n dame Pieter Loubser se koei wat le en herkou so bekyk het en toe aangkondig het dat die koei besig is om kontraksies te kry en besig is om te kalf! Sy beskuldig Pieter daarvan dat hy die arme koei hoogs „swanger“ na die uitstalling gebring het. Pieter baie vererg vra toe wat haar beroep is. Sy is ‚n skoonheidsdeskundige was haar antwoord. Pieter antwoord haar toe: „ I’m an 8th generation farmer, my profession is herding cows! I kown my profession very well. So stick to your own profession! “

Persepsies van verbruikers kan ons as produsente soms diep skok. Op my vrae aan die besoekers aan die uitstalling oor wat hulle kan raai dit my as suiwelboer kos om een liter melk te produseer was die antwoord by vele:“ The cow gave the milk for free.“ of “Die koei vreet mos gras en dan gee sy melk, dis verniet!” Daarna plaas ek die skok weer terug by die besoeker deur te vertel dat een liter melk se produksie koste tussen R2 – R3 per liter beloop, afhangende van die stelsel, volvoer of weidings. Dat arbeid betaal moet word, behuising van plaasarbeiders , elektrisiteit om voer te meng, te melk en water te bespuit op die weidings. Reperasies, kragvoer, kunsmis en vee medisyne aankope. Die melkboer betaal boonop selfs die vervoer van melk na die melkverwerkers. Die verbasing verdiep verder wanneer ek aankondig dat die melkboer minder as R3,00 per liter ontvang terwyl rakpryse tot R8,00 kan beloop. Daar bly tans niks oor om die melkboer se eie salaris te betaal nie.

Die wat wel weet
Dit is darem nie almal wat min of niks weet nie. Daar is ook die hoogs ingeligte publiek wat hul simpatie en waardering teenoor die landbouers uitgespreek het. Die een tannie wat verby geloop het, het so terloops die vlg opmerking gemaak: „Wat `n skreiende skande wat julle vir jul melk betaal word!“ Tien hoera`s van die melk boere aan jou tannie wat weet.... Verder was daar ook die lang regop man met die Franse berei wat by my kom staan het en gevra het of ons optimisties is oor ons landbou toekoms in Suid Afrika aangesien landbou in die land aan die agterspeen suip en boonop die veiligheid situasie wat boere elke dag moet trotseer.

Hoe om die leemte te vul

Ons het hard gewerk, ons het gekom om ons beesras uittestal, maar moes uiteindelik vir vier dae dieselfde vrae oor en oor antwoord oor koeie en melkproduksie, maar oor landbou in die algemeen. Dit was die moeiete werd indien daar selfs enkele verbruikers daar buite is wat ietsie meer kon leer oor landbou, melkproduksie en die stryd van die boer om kos op die tafel van duisende mense te plaas. Volgende jaar is ek terug, meer voorbereid. Ek gaan sorg dat ek in pamflet vorm kernvrae beantwoord en dit uitdeel. Ek dink alle uitstallers van landbou produkte kan hande neem en die publiek meer inlig oor voedsel produksie. Die stryd van boere teen elemente, swak produkpryse, verhoogde insetkostes en selfs plaasaanvalle. Die verbruiker moet meer erns maak t.o.v. landbouers en hul omstandighede en landbou ondersteun. Gehalte van voedsel kan slegs gewaarborg word wanneer produsente na wense vir hul produk betaal word. Die kleinhandel sal in die bek geruk moet word oor die klein persentasie van voedselpryse wat na die produsent gaan. Kettingwinkel groepe het enorme mag en kapitaal agter hulle. Die enigste een met groter mag hier is die verbruiker, maar dan le daar `n enorme taak voor vir lanbou besighede, landbouers en landbou instansies om die verbruiker en algemene publiek in te lig oor voedsel produksie. Landbou besigehede moet begin kyk na `n eie groep om landbou produkte direk aan die verbruiker te lewer. Agri Mark bestaan reeds met harde ware reg oor die hele land. So `n organisasie kan ook begin met suiwel, vleis en ander verwerkte produkte. Van een ding kan ons wel seker wees. Bestaande ketting winkel groepe sal dit hand en tand beveg en selfs druk op hul verskaffers plaas om nie aan so `n Landbou groep produkte te lewer nie.

Foto`s van ons stalletjie te Bienne Donn nasionale kaasfees is hier te sien: http://www.fleckvieh.co.za/fleckvieh_010.htm



Kommentaar

Landbouweekblad
Hierdie artikel het ook in Landbouweekblad van 15 Mei 2009 se geelbladsye verskyn.
3 jaar 1 week 9 ure 50 minute oud


Artikel
Ek wil graag hier `n epos plaas van oom Thys Uys, van iemand vir wie ek groot respek en agting het. Hy laat my werklik klein voel:

Thys,
As Christen-Afrikaner het jy nog altyd groot agting afgedwing,
maar hierdie keer wil ons ook die volgende byvoeg:

Jy het soveel talente ontvang om met mense te verkeer en te
kommunikeer. Jy is 'n gebore reklame-man en 'n uitstaande
propagandis. Eintlik sou jy vir SA se boeregemeenskap
so baie kon beteken indien jy hulle as senior skakelman in
die groter geheel van diens kon wees.

Tannie Roëa sê hierdie artikel van jou behoort deur baie
ander tydskrifte oorgeneem te word. Dit is uitstekend!
Dink asseblief daaraan om dit in julle Simmentaler-
blaadjies wëreldwyd in verskillende tale te publiseer,
met geringe aanpassings in die onderskeie lande.
Mens dink eerstens aan 'n Engelse weergawe in 'n plaas-
like koerant of tydskrif.

Baie hartlik geluk!

Thys en Roëa .
3 jaar 1 week 15 ure 17 minute oud


Landbou onkundiges.
Beste Fleckvieh,

Baie dankie vir jou sorgsame en besorgde artikel.

Jy wys die kante van die probleem goed uit en maak goeie voorstelle.

Ek wil net jou en Woesers se aandag op ‘n paar ander kante vestig.

Die probleem is niks nuut nie. Ek het van 1968 tot 1971 navorsing op gronde gedoen. Toe was die probleem al daar. Dit het 40 jaar lank net geleidelik vererger. In meeste ander lande van dei wêreld woed die probleem ook. Dit wys dat ons ‘n paar kante van die probleem nie raak sien nie.

Die eerste kant is die kwessie van inligting. Die media doen min om die algemene publiek in te lig. Daar is ‘n paar gespesialiseerde tydskrifte, maar die res van die gedrukte media is so stil soos bedlampies. Dieselfde geld vir die radio uitsendings. RSG het byvoorbeeld net vroeg in die oggend en net voor middagete kort, gespesialiseerde programme. Op TV gaan dit nog slegter. Dit is omtrent net 50/50 op TV2 wat nou en aan die landbou raak.

Die tweede kant is die kwessie van kennis. Kennis is nie inligting nie. Kennis begin met ervaringe. Bitter min van die publiek het nog ‘n groente-tuin of hoender-hok. Dis hier te kort en daar te lank. Stadsbeplanners maak geen voorsiening vir sulke ervaringe nie. En min boere soos jy spring uit en probeer sulke ervaring vir stedelinge te gee. Netso versaak ons onderwys stelsel die opvoeding van kinders in landbou. Maar met ekonomie en tegnologie raak hulle paranoïes besorg.

Die derde kant is die kwessie van naam. Die naam “landbou” sê weinig. ‘n Naam soos “kosbou” of selfs “koskultuur” sou beter werk Die laaste 15 jaar het die regering te min aandag gegee aan kosvoorsiening deur sy department van landbou. Amptenare, van die mister af ondertoe, op die politieke wa het meer aandag gegee om die landbou die werkesel van ander politieke sake te maak. Dit neem tyd en geld weg van die hooftaak, naamlik om kos te voorsien.

Die vierde kwessie noem ek die bosluis-ketting. Almal wil geld maak. Die meeste wil net oorleef en min wil ongebreideld ryk word. Geld is soos bloed en bosluise wil bloed suig. Die grootste mite is dat die landbou ‘n primêre bedryf is waar rykdom begin. Bog. Kommersieele boerdery het ontsaglike insette nodig soos brandstof, saad of teeldiere, kunsmis of aanvullende kos, water, medisyne of gif, opleiding van werkers, ensovoorts. Soveel as moontlike bosluise het alreeds aan hierdie insette gesuig. Dan van die land tot op die tafel is daar stap vir stap nog bosluise waar hulle bytplek kan kry. Dink aan die owerhede se belastings, die winste van voedsel verwerkers, grootmaat verspreiders, klein handelaars. Die ergste is die vermorsing van kos, mense wat genoeg het om al die bosluise te onderhou en dan ook genoeg om selfs weg te gooi.

Wat ons dierbare nasie nodig het, is leiers met ‘n holistiese insig soos ons eertydse premier Jan Smuts. (Lees my artikel oor hom en holisme.) Ongelukkig het meeste kiesers geen holistiese insig sodat hulle die regte leiers kan kies nie. Waar begin die probleem dan? By ons onderwys stelsel. Wie moet dit aanpak. Jan publiek wat holisties dink.

Mooi loop

At de Lange
3 jaar 1 week 5 dae 12 ure 3 minute oud


Gawe leesstof, dankie.
3 jaar 2 weke 3 dae 10 ure 40 minute oud


Landbou onkunde
Ek is van mening dat meeste stedelinge nie die vaagste idee het wat buite om die stede aangaan om so 'n stad gevoed te hou nie. Dis lekker om mense wat belangstel te kan vertel, maar hierdie arrogante hoogholle is genoeg om my in 'n ander persoonlikheid in te vererg. Julle het 'n baie goeie werk gedoen, hoor. Julle kan goed voel oor julleself.
3 jaar 2 weke 4 dae 5 ure 33 minute oud


picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar