Titel: Alleen is nie perde koop nie
Weergawe: 1
Aantal woorde: 841
Kere gelees: 673
Datum gepubliseer: 21 Jan 2009
Ek is nou nogal ‘n tydskrif mens. Ek koop elke maand so iets van alles. Van die NAG (vir die nuutste rekenaarspeletjies) tot Oprah se tydskrif. Dit is nogal vrek interessant om een vir een deur hulle te blaai en so hier en daar ‘n artikel te lees. Nou aangesien ek ‘n alleen mens is, is dit soms irriterend om een na die ander artikel te vind wat gaan oor “hoe om jou verhouding te laat blom” of “ek dink hy kyk rond” of “hoe om ‘n man te vang en te hou”. Niks waarvan ek nou wil weet nie.
Met my vakansie Desember sit ek toe nou lekker agteroor op die strand. My hare lekker gekoek, my been hare te lank vir die strand en een van daai lekker gemaklike kostuums wat net “nie soekende” of “nie man gelukkig hou” vrouens dra. Ek blaai rustig deur een van my tydskrifte terwyl die kinders in die golwe baljaar. Terwyl ek smul aan my strand roomys kom ek op ‘n artikel af wat my laat regop sit. Dit gaan oor ‘n vrou wat alleen is vir die eerste keer na ‘n mislukte huwelik van 10 jaar. Dit is asof sy uit my lewe uit gepraat het. Sy het dit so geniet om vreemde kosse te maak, na haar musiek smaak te luister, jong sommer die algemene lekker van alleen wees. Dit het my weer daai hernude gevoel van vryheid en alleen geluk laat voel. Finally is daar iemand anders wat dink dat alleen geluk nie abnormaal is nie. Dat dit nie beteken dat jy commitment issues het nie of dat jy bang is vir seerkry nie. Dat dit net beteken dat jy content is, alleen. Ek was so happy met die artikel. Dit is natuurlik tot ek die na woord gelees het.
“6 Months later she met the man of her dream who shares her love of rock music and funny food.”
Was dit nou nodig? Ek smul nog aan die genot van die happy alleen artikel en dan word dit afgesluit met, “moenie worry nie sy het toe darem ‘n man gekry so sy is nou regtig gelukkig.” What the truck?
Lyk vir my, maak nie saak wat ‘n vrou bereik nie, ‘n happy ending is nie ‘n happy ending tensy sy ‘n man kry nie. And then they lived happily ever after. Niks fout met mans nie, ek is mal oor hulle. Dit is net hierdie Hollywood prentjie lewe wat my soms mal maak.
As ek en van my getroude vriendinne laat aand diep dinge gesels kry ek altyd waardevolle lewens insig. Baie mense daar buite smag tog in ‘n mate van tyd tot tyd na alleenheid. Hulle bewonder my lewensstyl. Ek geniet my eie geselskap. Ek neem my besluite alleen. Ek maak my kinders groot net soos ek alleen wil. Ek kan die hele aand Guitar Hero speel sonder dat iemand voel ek gee hulle nie genoeg aandag nie. Ek kan gaan waar ek wil wanneer ek wil. Maar ek besef ook dat hulle bewondering kom uit ‘n vars baklei sessie met manlief, oor die Gholf naweek of oor die feit dat hy alweer die broodmes gebruik het as ‘n bottermes. Tog sit ek terug en geniet hulle bewondering.
Dit is tot ek onthou van die oomblikke. My ma was ‘n jaar terug met kolon kanker gediagnoseer. Alles het so vinnig gebeur. In ‘n wink van ‘n oog word sy by die teater ingestoot. Ons was almal daar terwyl sy in teater was en na ‘n baie suksesvolle operasie het ek elke aand daar gaan draai maak. Maar my pa, my pa het langs haar bed ingetrek. Hy het dag en nag by haar gebly. Haar hand vasgehou. Elke keer as ek terug huis toe gery het, alleen, kon ek voel hoe my hart ruk. Wie gaan by my sit? Dag en nag. Wie gaan my hand vas hou?
Ek kyk dan anders na alleen. Ek is nog steeds ‘n onsaglike gelukkige alleen mens maar in daai oomblikke wonder ek. Ek wonder of al die vryheid in die wêreld ooit sal kan opweeg teen daai oomblik. Die oomblik waar ‘n ou man langs sy ou vroutjie sit, haar hand vashou en die Here dank dat sy nog in sy lewe is. Ek bewonder dit.
Ek lewe altyd in die nou en vir nou besef ek dat ek alleen is. Ek maak die beste van elke oomblik van nou. Maar ek sien uit na die dag wat die nou gevul sal wees met die deurnag-sit-langs-my-bed oomblikke.
Net soos trou is alleen nie perde koop nie maar dit is tog snaaks dat almal altyd mekaar se perde bewonder.
Werk met wat jy het. Geniet wat jy het. Iewers daar buite sit iemand en loer na jou lewe en dink:
“Mmmm I want one of those.”
Lees ander artikels deur Juenka
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


deur Gawelina
Massimo, die perdjie beleef groot avonture asook hartseer in sy grootwordproses.