Artikels

Titel: Armoede en plaasmoorde

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit gaan hier oor die oorlewing van tansbenadeeldes en die toekoms van ’n beskawing; oor die moontlikheid om werk aan tansbenadeeldes op plase te verskaf 1.
Om die idee, of die projek, of die poging ’n naam te gee, het ek van “vesting” gepraat in die eerste monograaf, “Die Laaste Halm: Herinneringe aan die Toekoms” wat ek in 2000 geskryf het. “Vesting” het toevallig, onbedoeld en per abuis my skuilnaam by Woes geword.

Vesting berus op die relativering van die waarde van arbeid en geld, en die aanwending van beskikbare strukture en middele, om die lot en lewensgehalte van tansbenadeelde huisgenote van die geloof te verseker. Vesting wil deurgaans selfversorgend en finansieel onafhanklik wees; en wil 'n veilige omgewing en 'n waardige leefstyl en toekoms skep vir elkeen wat daarby betrokke is, van die wieg tot die graf. Vesting eerbiedig en handhaaf Bybelse waardes, norme, eise, voorskrifte en gebooie. Verder wil Vesting probeer om die stroom van emigrasie te stuit. Prakties gesproke wil Vesting tansbenadeelde arm Blankes op plase vestig; en in die proses die weldoeners, dit is boere, wat hulle help, ook help. Die klem kan net so wel op die ander kant geplaas word: om boere te help en te beveilig, en in die proses die tansbenadeeldes wat hulle help, ook te help. Bloot die teenwoordigheid van meer mense op 'n plaas mag al die moeite werd wees.
Die idee is nie een groot plaas wat alle aktiwiteite probeer akkommodeer nie, maar 'n aantal kleiner eenhede waarop gespesialiseer word en saam 'n eenheid vorm.
Die regte mense sal op die regte plase by die regte boere moet kom. Dit sal nie ’n maklike taak wees om mense volgens kwalifikasies, kundigheid, ervaring, aanleg en belangstellings te keur nie. Dit gaan verder: persoonlikheidseienskappe soos geduld, humeur, temperament, takt, mense-verhoudinge e.d.m. sal in ag geneem moet word. En net so ook aspirasies, ambisies, kultuurwaardes en sosiale agtergrond.

Die belangrikste van alles in die idee van Vesting – en dit is iets wat hom anders maak as enige ander soortgelyke poging – is die definisie en betekenis van geld. Vroeër was munte en note net ’n ruilmiddel om goedere en dienste van die hand te sit of te bekom. Maar die klem het met verloop van tyd verskuif: die middel het die doel geword. Geld het 'n simbool van sukses geword. Ons sal ons moet versoen met die gedagte dat die waarde wat aan geld in die huidige finansiële bestel geheg word, gerelativeer sal moet word. Mens kan lank en breedvoerig hieroor uitbrei - en dit sal nodig wees dat ons dit later doen - maar voorlopig, om te illustreer:
As jy in jou eie voedselbehoeftes kan voorsien;
as jy 'n dak oor jou kop het,
as jy klere het om aan te trek;
as jy 'n voertuig het;
as jy nie nodig het om skoolfonds te betaal nie;
as jy nie tot "medies" moet bydra nie;
as jy verniet vakansie kan gaan hou;
as jy jou eie brandstof uit mis kan maak;
as jy oor 'n doeltreffende sekuriteitstelsel beskik;
as jy water, wind en son kan inspan vir elektrisiteit en energie;
en as jy weet jy kan eendag jou kop neerlê sonder om bekommerd te wees oor jou afhanklikes; ….
…. Waarvoor het jy dan GELD nodig? Daar bly nie veel oor wat jy sal moet koop en betaal nie. Geld mag nodig wees om toerusting, materiaal, gereedskap ens. wat (nog) nie self gemaak kan word nie, te bekom.

Daar is net een manier waarop Vesting kan slaag en dit is om die gebreke van Rand en sent te oorkom deur die gebruik van ’n denkbeeldige geldeenheid wat die waarde van diens, arbeid, produksie, vermoeëns, talente, produkte en goedere in ander terme definieer as waaraan ons gewoond is.
Om Vesting van die grond af te kry, sal daar ’n paar plase moet wees waar voedsel geproduseer word wat al die vestings van varsprodukte, graan, vleis en melk voorsien. Een vesting, waar die meeste geboue moet kom, huisves bouers en messelaars wat ook op die ander vestings gaan bou. Wat klere betref: op 'n ander vesting word katoen tot garing en weefstof verwerk; wol word met spinwiele tot breiwol verwerk; velle word gelooi, gebrei en verwerk tot kleding van gehalte. Nog 'n vesting huisves werktuigkundiges wat voertuie diens, in stand hou en nuwes opbou uit rondlê-enjins en onderstelle. Gesinne met skoolgaande kinders word op vestings gehuisves waar onderwyspersoneel ook geplaas word. Op een vesting verkneukel liefhebbers en kundiges hulle in die kweek van kruie; op 'n ander word 'n kliniek opgerig om, onder andere, bevallings te behartig, en wat later 'n teater en intensiewe sorg eenheid sal omvat. Daar sal vestings wees in die bosveld, in die berge en by die kus sodat diegene wat dit verdien, daar kan gaan rus. Op vestings waar met vee geboer word, of toepaslike gewasse verbou word, word brandstof vervaardig. Afgesien van elektroniese toerusting vir beveiliging van strukture, ry niemand ooit alleen van 'n vesting af nie, en op elke vesting is daar altyd iemand wat wakker is. Op een vesting is ’n diereliefhebber wat die beste waghonde teel en oplei.
En wanneer iemand te sterwe kom, bly sy geliefdes aan op 'n vesting en word volledig versorg.

Daar is verskeie regstegniese aspekte wat nog aandag geniet, onder andere:
• Dit wil voorkom asof elke vesting 'n regspersoon moet uitmaak: of 'n artikel 21 maatskappy, 'n private maatskappy, 'n trust, of 'n beslote korporasie.
• Registrasie van werknemers: MOET 'n boer iemand in diens neem as hy iets gedoen wil hê? Moet hy weier as sy neef, of 'n goeie vriend, wat kom kuier het, vir hom sê "ek wil jou verniet help"? Hoe lank mag die neef bly? En as die werk te veel word, kan broers en susters in die geloof nie hand bysit nie? Is daar 'n voorgeskrewe verhouding vir getalle wit en swart werkers op 'n plaas?
• Verwerking van produkte: Is hersonering van landbougrond nodig? Is ’n boer verplig om sy produkte onverwerk te bemark? Mag sy vrou en kinders nie perskes droog of tamatiekonfyt kook nie? En is hy verplig om sy mielies in grootmaat aan ’n instansie te verkoop wat dit maal en in sakke en pakkies sit en dan aan winkels verkoop, wat dit dan aan liefdadigheidsorganisasies verkoop om aan werklose armes uit te deel? Wat is daarmee verkeerd as ’n werklose arme ’n boer gaan help om mielies te plant, te skoffel, te oes, en dan hulle eie meel maal, en sommer genoeg vir al die vestings? Hulle moet darem iets maak om in ruil aan te bied vir vensterrame.
• Landbou-verwante aktiwiteite: Ek aanvaar 'n boer mag 'n sweismasjien hê om ploeë en hekke te herstel, en dalk vensters en kosyne vir sy hoenderhokke te sweis. Moet hy dit self doen? Mag sy seun hom help? Moet hy sy seun betaal? Mag sy buurman, of ek, of sy seuns se vriende tydens vakansies, hom gaan help? Mag ons dan met die oorskietyster nog 'n paar rame vir 'n ander vesting maak? Ons moet darem iets kan maak om in ruil aan te bied vir mielie-meel.
• Planne vir nuwe huise op plase moet deur die plaaslike owerhede goedgekeur word en daar is talle wette en ordonansies wat in ag geneem moet word en waaraan voldoen moet word.

Dit is nou seker duidelik dat met die “relativering van ’n ekonomiese bestel” iets soos ruilhandel bedoel word. Nie net goedere nie, maar arbeid en diens word ook geruil. Waar Vesting nie ten doel het om in hedendaagse terme finansieel te presteer nie, sal daar ook nie genoeg geld wees om prokureurs en advokate teen heersende tariewe vir advies te betaal nie. Wat Vesting wil doen, is om ’n prokureursklerk wat nie werk kan kry nie, onder sy vlerke te neem en hom in ruil vir sy diens volledig te versorg.

Afgesien van regstegniese aspekte, is daar nog 'n paar beginselsake wat beklemtoon moet word:
• Interne organisasie, bestuur en beheer. Teenoor 'n demokratiese bedeling waar die mens die middelpunt is, en die klem val op die regte wat mense het en wat beskryf en verskans is in wette wat mense gemaak het, is Vesting gegrond op 'n teokratiese bedeling waar God die middelpunt is, en die klem val op die voorreg wat die mens het om die opdragte, verantwoordelikhede en verpligtinge wat God hom beveel het, uit te voer.
• Opvoeding, onderwys, onderrig, opleiding. Dit word in gedagte gehou dat gesinne met kinders ander behoeftes het as jeugdiges of bejaardes. Onderwys is 'n plig, opvoeding 'n voorreg. Suiglinge hoort op hulle moeder se skoot, en kleuters onder haar oë. Gesinne met babas en klein kinders bly op 'n plek waar moeder haar volle aandag aan hulle opvoeding kan gee.
• Hoe mooi en haalbaar die ideaal mag lyk, die groot struikelblok sal die mens self wees. Dink daaraan dat mense wat in hulle beroepsloopbaan toesig gehou het of kantoorwerk gedoen het, dit moeilik of onmooontlik sal vind om vloere of skottelgoed te was. Ons sal 'n nuwe perspektief op hande-arbeid moet kry.
• Terwyl mense besig is, staan hulle gedagtes nooit stil nie: hulle dink en praat oor sosiale en sedelike oriëntasies, wêreld- en lewensbeskouings, godsdienstige belewenisse ... 'n Resep vir fiasko sal wees om mense met uiteenlopende persoonlikhede en waarde- oriëntasie – selfs voorkeure vir musiek waarna geluister word - lukraak bymekaar te plaas.
• 'n Mens se aktiwiteite is gerig op voorsiening in sy behoeftes. Die probleem is dat “behoeftes” drasties verskil na gelang van omstandighede, en van mens tot mens.

Behalwe vir die relativering van die waarde van geld, dink ek nie daar is iets wat werklik uniek is in Vesting nie. Trouens, ek het rede om aan te neem dat die idee van selfwerksaamheid en onderlinge steun reeds op verskeie plekke deur verskeie mense toegepas word. Ons moet van mekaar weet en gedagtes en dade begin uitruil. Daar is geen sin daarin dat ek probeer om die wiel van voor af uit te vind nie. (Om die waarheid te sê, Vesting is die inwerkstelling van die idee wat ’n rukkie gelede op Woes deur oom Kaspaas uitgespel is. Ek dink die verskil is dat hy voorstel dat werklose armes saamspan om grond te koop ... met geld wat hulle waar sal kry?) (Nog iets tussen hakies. Op oom Kaspaas se artikel dat elke boer ’n trekker moet hê, het iemand geantwoord dat hy ’n David Brown geërf het maar nog nie seker is hoe hy hom kan gaan haal en waar hy hom moet bêre nie. In Cullinan omgewing was ’n boer wat moontlik sy plaas vir Vesting sal aanbied. Hoe ver is dit van jou af? As die aanbod nog staan, bring hom, en ploeg naweke ... En dan nooi ons almal uit om enige en elke verwaarloosde trekker op te soek en aan te bied en ons restoureer hulle en begin met 'n trekkermuseum ... met 'n restaurant ... en lok oorsese toeriste ... met busse wat in ons werkswinkels gebou is ... )

Maar eerlikwaar: ons sien nie kans vir nog ’n volkskongres of so iets nie. Ek het geen behoefte om duisende mense te probeer oortuig dat ons nou uiteindelik die antwoord op al ons probleme het nie. Vesting is 'n innerlike oortuiging: dit stel eise aan geloof, nie aan organisasievermoë nie. Wat ek wel in die vooruitsig stel, is ’n byeenkoms van boere wat bereid is om die saak ’n kans te gee, mense wat bereid is om moue op te rol, en belangstellendes en belanghebbendes wat nie meer heeltemal genoeë kan neem met die huidige gang van sake nie, en tog ’n bydrae kan of wil maak; soos dames wat die jong dogters kan leer spin en weef, of koskook; en ingenieurs wat die seuns kan leer om krinkspille te draai, of glaveselbakke vir voertuie te ontwerp; of opvoedkundiges wat skoolleerplanne kan help opstel. Ensovoorts. Dit is waar die titel “Die Laaste Halm” vandaan kom: elkeen van ons soek na ’n halm om vas te gryp om ons van ondergang te red. Dit is ’n denkfout van ’n verloorder. Die eenvoudige waarheid moet tot ons deurdring: elkeen van ons is ’n laaste halm vir iemand anders ... Ons moet ons eie toekoms skep. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie,

Ek hoop nie daar sal ooit 'n oproep tot, of versoek vir finansiële bydraes of bystand gemaak word om die poging van stapel te stuur nie, of erger: aan die gang te hou nie. As Vesting nie sy eie kostes kan dra nie, moet hy liewer nie wees nie. Vesting wil niks verniet hê nie. Hy kan ruil. As Vesting eendag vir leë botteltjies vra, en iemand versamel dit en stel dit beskikbaar, meen ek die donateur moet ten minste ’n koolkop of 'n stukkie biltong of 'n bottel skoon water kry. As Vesting 'n masjien nodig het om sy eie kartondose te maak om sy produkte te verpak, word daar nie vir bydraes gevra wat in ’n rekening inbetaal kan word nie. Die donateur(s), meen ek, het die reg om te gaan kyk waar die toerusting opgerig gaan word, saam te werk om kwotasies te kry ... en om eerste in die ry te staan om as operateur(s) op te tree.

Kom, laat ons opstaan en begin werk. Die tyd stap aan. Eendag sal ons toekoms die herinneringe van ons nakomelinge wees ...

Steyn Steenekamp

1 Die erns van armoede onder Blankes is onder andere ook deur Douwlina du Plessis aangespreek [“Armoede onder Blankes neem toe”] op Woes 2009-03-11



Kommentaar

*.*
Hoe mooi en haalbaar die ideaal mag lyk, die groot struikelblok sal die mens self wees.

Vesting is 'n innerlike oortuiging: dit stel eise aan geloof, nie aan organisasievermoë nie.

Watse ware woorde.

Die grootste vyand vir die mens, is die mens self. Ons is soos die Israeliete wat nie genoeg geloof het om by die beloofde land uit te kom nie. Ons ploeter maar voort in ons ellende.

Dit sal ons kanaan wees om so vesting te he, miskien sal ons nog eendag daar uit kom, maar miskien moet ons nog eers 'n paar dinge leer hier in die woestyn.
1 jaar 1 dag 14 ure 51 minute oud


Beste Vesting,

Jou artikel is deeglik. Maar dit het soveel inligting dat dit onregverdig is om op selfs net 'n klompie kommentaar te lewer. Jou voorstelle het oor duisende jare heen gemeenskappe sterk en gelukkig gemaak.

Maar bitter min mense bestudeer die geskiedenis van groot stede oor die wereld heen tot sover as 4 millenia gelede. Daar is ongeveer 250 sulke stede wat ek bestudeer het. Sonder uitsondering het elkeen 'n plek van ellende en misdaad geword. Vir elke geval is daar redes. Ek het 'n lysie van die redes probeer aanhou. (My passie om onomkeerbare selforganisasie te verstaan, het my tot al hierdie mal dinge gedryf.)

Ek is oortuig dat dit in die toekoms weer sal gebeur. Meeste van die redes sal weer 'n rol speel. Maar daar is ander nuwe redes wat ook 'n groot rol sal speel. Ek noem 'n klompie:
(1) Die verknogtheid aan tegonolgie wat al hoe duurder word.
(2) Afsterf ("dieoff"). Die bronne van nie hernubare vryenergie raak ak hoe vinniger uitgeput.
(3) Die epidemiese ontploffing van dodelike siektes wat voorheen bykans onbekend was
(4) Die verwaarlosing en selfs blatante minagting van morele waardes.
(5) Die verwaarlosing en selfs blatante minagting van openbare dienste.
(6) Die verdringing van persoonlike kennis deur gesigslose informasie.
(7) Die verwerping van godsdiens wat aan mense 'n sosiale geborgenheid verleen het.

Die mensdom sal 'n paar kopskuiwe moet ondergaan om die komende katastrofes te oorleef. Een daarvan is dat organisasie behoort te ontluik tot leer-organisasies. Ongelukkig vra dit te veel van mense met gevestigde belange en wat blind is vir die toekoms.

Mooi loop
1 jaar 11 maande 1 week 5 dae 14 ure 38 minute oud


Die idee klink baie goed en kan uitstekend werk. Die vesting op plase deur ander mense om toesig oor die boerdery en boere te hou kan werk as diè gedissipleneerd is. Dit is met welslae toegepas deur die SAW in die destydse SWA waar soldate op plase ge huisves is.

Die kibbutz idee glo ek nie sal werk nie want ons blankes is 'damm' lui en sal net rond lê en niks doen nie, sien dit by die armoede huise/oorde waar dit vuil en ontnet vertoon en almal net rond sit en drink en rook-en nie wil werk nie! Selfs ons sekuriteits komplekse word deur misdadigers opgepas en sien jy min blankes wat moet sorg vir die veiligheid.

Maar ja ek hoop dit sal later verander as die blanke se oë oopgegaan het!
2 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 10 ure 48 minute oud


vesting
Hierdie gedagte van jou is absoluut myne, dit is as of ek die woorde en idee so self kan stel, ek het so iets na Solidariteit gestuur, maar as Kibbutz idee, hierdie werk verdien 10 uit 10, as iemand net daarop ag wil slaan
drabmol
2 jaar 1 maand 2 weke 2 dae 13 ure 56 minute oud


Puik idees inderdaad, selfbeskikking begin in die grondlegging van 'n saamehangende kollektiewe. Sonder mekaar kan ons nie oorleef nie, as blankes kan ons die hand van mede "tans benadeeldes" vat en 'n beter meer volkome toekoms skep. Hierdie idees wat jy bespreek woekker al 'n paar jaar lank in my kop en ek het vele ondersoek gedoen op lae- koste boer en oorlewings tegnologie. Ek sien 'n lewensvatbaarheid in die strategie, die toepaslikheid daarvan, met die regte tegnologie laat boerdery op enige grondgebied, hetsy woestyn of oerwoud toe. Hou so voort, ek sien uit na die verwikkelinge en debat om die stuk van u.
Beste groete
VS
2 jaar 1 maand 2 weke 3 dae 9 ure 25 minute oud


Vesting
Ek het dit gelees, maar het tyd nodig om dit te verteer. Ek stem 100% met jou gedagte. Die details, die vervlakste details bly net die "whatever" in die drinkwater. Daar's nog baie dinkwerk nodig, maar ek glo ons gedagtes werk in dieselfde rigting. Ek sal weer terugkom as ek hierdie stuk weer 'n paar maal deurgegaan het.

Groete
2 jaar 1 maand 2 weke 3 dae 15 ure 29 minute oud



TRILOGIE

deur Warra-Warra

Bundel Naam: not ‘n f#& ISBN #: 978-0-620-46799-5 Inhoud: Gedigte (selfmoord; aanranding & mishandeling; egbreek & egskeiding; prosa) Bundel Naam: liefde se g$# ISBN#: 978-0-620-46800-8 Inhoud: Gedigte (liefde; romanse; vriendskap; SielsGen♫t versugtinge) Bundel Naam: alle'ander K#& ISBN#: 978-0-620-46801-5 Inhoud: Gedigte (tussen die lyne; tussen'in woorde; woord'affair; digters'waan; duet gedigte)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar