Titel: Begrafnis Brief aan Ma
Weergawe: 1
Aantal woorde: 981
Kere gelees: 2966
Datum gepubliseer: 17 Nov 2008
“Die winter van 14 Augustus 2008
Die winter was te lank.....
Hennie was daar, Johanette, Gerrie, Roelof, Henk en Liesl. Alles baie spesiaal. Stukkie pankreas, stukkie derm en galblaas is verwyder. Alles het so maklik en vinnig gelyk hoewel dit ‘n groot operasie was. Ek het by almal verby gery op die trollie, uit die teater uit. My naaste vir wie ek lief is, was daar – een vir een soos ek verby ry, het ek gewaai. Op hul gesigte liefde en verligting wat soos teater ligte skyn.
Na dae in die intensief is ek saal toe en daar het die besef gekom, iewers was daar fout,
groot fout...?”
So het die storie “Winter van 14 Augustus 2008” begin. Ma het dit geskryf min wetend dat dit die begin en die einde van haar storie sou wees wat sy self kon skryf.
Die eindbedryf sou die “skrywer” Liza-Marie namens haar moet skryf.
“Sakke Pakke”
My ma het deur al die pyn, verdowings, drips en pype gefluister
“Sakke Pakke sout en peper, gee my stoom dan loop ek beter –
ek wil, ek kan, ek wil, ek kan ....Sakke Pakke .....”
Dit is wie sy is.
Die klein stoomtreintjie wat die vrag dra.
Haar liefde vir haar man, kinders en kleinkinders die kole wat haar dra
“Sakke Pakke sout en peper, gee my stoom dan loop ek beter”
Here, waar sal ek my kole vandaan gaan haal?
deur Liza-Marie 13 Oktober 2008
Mamma jy is die dapperste mens wat ek ken.
Met geloof het jy ons getroos-
“alles sal regkom” – so het sy haar seer gedra
Met waardigheid het sy die mees onwaardigste situasies hanteer.
Sy is sterk en dapper
Haar vier uiteenlopende kinders saamgesnoer om haar bed -
haar inspirasie– haar krag - haar rede
Met onwrikbare geloof dat alles sal uitwerk
Sy die rugraat wat haar familie regop hou
Sy die gom wat die familie saamsnoer en bind
Die huis waarheen haar kinders en kleinkinders terugkeer
Keer, op keer
Pankreas kanker moes die knieg voor haar buig
Sy kon huppel huppel met buisvoeding drips en pype in die
Gange van Louis Leipoldt - die “eensame veelsydige” juig.
Maar toe begin die geveg.....
Sy veg teen bakteria, kiem en virus wat koors veroorsaak
Pseudomonas aeruginosa klink so “spectacular”
Maar dit wil haar vermoor en versmoor
totdat die longmasjien moes help met elke asemhalings teug
ritmies gesuig, gehuig maar elke teug is lewe, is hoop
Ons geloofsvoete was soms sleepvoet van oorweldigende wanhoop
Van nuwe komplikasies en lekkasies
Geloof opgeflikker op enige teken, enige betekenis van nog ‘n toets uitslag.
Deur “scans” wat wys op verbetering of nog ‘n nuwe fout.
Op en af in Louis Leipoldt se gange – sy gedig
“Gee my boegoe en kanniedood blare,
En die reenboog skuim van die klaende see
En ek slaap gerus onder sterreskare
Sekuur beskerm in my sielevree”
En elke portret en strepies op die mat
Wagkamers en reuk van steriele metaal
Het ons ingehaal.
Maar ons het haar in God se Hande geplaas – ‘n God met die hart van ‘n Pa.
Op haar “Herder” het sy haar vertroue geplaas.
Ps 23 Die Here is my herder – ‘n Psalm van Dawid
Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie
(U hou my veilig toegevou in U hande, soos ‘n voeltjie wat uit sy nes val)
Hy laat my neerle in groen weivelde
(die Wes-transvaal se mielielande en soetdoringbome
waar die sonbesies sing)
Hy verkwik my siel
(deur my gees - stom, te luister na jul smeking en bede)
Hy lei my in die spore van geregtigheid
(In spierwit geklee – al is dit net in ‘n teater jassie
deur Jesus se bloed wit gewas sonder skuldlas)
Om sy Naam ontwil
Al gaan ek ook in ‘n dal van dood skaduwee
(U vat my hand, en lei my deur die gang van Lig)
Sal ek geen onheil vrees nie
(ek is nie bang om saam met U te stap nie)
Want U is met my:
(U hou my styf by U vas)
U stok en U staf vertroos my
(dit is net U wat my kan vertroos om my geliefdes veilig by U agter te laat)
U berei ‘n tafel voor my aangesig
(met somer soet papaja, ingelegde perskes, plaas botter en brood,
die skaap choppie saam met mieliepap en kaiings)
Teenoor my teestanders
(vry van die siekte, bakterie, virusse en kanker)
U maak my hoof vet met olie
(by U is ek gelukkig)
My beker loop oor
Net goedheid en guns sal my volg al die dae
Van my lewe
(U gee my ‘n ereplek waar ek straal- tuis in my Vader se huis)
En ek sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae
(vir altyd en altyd in die Paradys)
Ons kan verskil oor Wil-maar wat op die ou einde saak maak is dat mamma veilig haar bestemming bereik het wat sy haar hele lank Wou – by haar Skepper- en daaroor is ons eens.
Nooit het ons geweet hoeveel lewens sy aan geraak het nie, altyd laggende sal almal jou onthou.
Met liefde
Jou dogter
Aan ons Oumie
“ Ouma ek hoop ouma word gou gesond ons bid vir ouma.Ouma dankie dat ouma al die jare so ‘n goeie ouma vir ons was. Ouma is die beste. Ouma wat ons nog gehad het met liefde Inge.”
“Liewe oupa van Tuane af. Moenie huil nie Oupa. Moenie worry oor Ouma nie, Ouma is hemel toe Oupa. Ek het spesiaal vir Oupa kom kuier, Gerrie, Tuane. Ek gaan op my kniegies en bid vir Ouma”
“Pappa waarom huil julle oor Ouma – sy lewe dan by Jesus? Heinrich”
Lees ander artikels deur Liza-Marie
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

Artikels
