Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die Betekenis van Valentynsdag

Die radio-wekker bring sy wysie in die donker en die liedjie is 'n juiglied om aan ons Skepper dankie te sê vir Sy Groot Liefde. My hart vul met dankbaarheid. Dis Valentynsdag ... Dag van Liefde ... Liefie-dag! Dis ‘n dag om almal te onthou en weer jou liefde aan hulle oor te dra. Kinders, familie, vriende, kollegas. " Dankie Here vir hierdie voorreg om 'n dag te hê waarin ek herinner word dat ek 'n tydjie moet skep om net weereens vir almal in my lewe te sê hoe ek hulle waardeer want al die ander dae vlieg so vinnig maar op 'n rooi-hartjie-en-kupido-liefde-en-omgee-dag máák mens tyd want dis asof almal vroliker is, asof die atmosfeer sommer net ligter, meer verdraagsaam en met toegeneentheid gevul is. Dankie Heer ..."

My selfoon lui en ek antwoord met 'n slaperige stem. Dis my pa. "Môre my dogter. Ek wil net sê ek verlang na jou en is lief vir jou. Ek staan hier aan die verste punt van die plaas en wag vir sonnetjie om sy kop uit te steek sodat ek vir jou 'n foto van die sonsopkoms kan neem en na jou selfoon kan aanstuur op hierdie spesiale dag." O Heer, hoe groot is U genade!!! Dis my eerste Valentynsdag wat ek nie my ouers kan bederf nie want hulle is nou te vêr ...”

Die roosterbroodjie met appelkooskonfyt en die groot beker stomende koffie lyk verlore tussen al die rooi "I love you" ballonne wat my hele bed vol lê in die skemerdonker. Ek maak die stort se glasdeure oop en 'n gesig van rooi ballonne groet my. Die druppels blink nog op my skouers toe ek die klerekas oopmaak ... vrolike rooi ballonne loer vir my tussen al die klere deur. “O Liewe Heer, U het my kinders so perfek geskape vir die tipe moeder wat ek is, hulle is so 'n groot geskenk uit U Hand!!”



Ek stap met die goud-en-geel-sonneblom-mandjie die straat af vir my saamrygeleentheid. Dis 'n mandjie vol vrolikheid en liefde om iemand na aan my hart se eina-ouch-dag op te beur en te wys ek gee om. Ek sit die cd aan wat ek spesiaal vanoggend saamgeneem het en die woorde van Freda Francis se gospel liedjie 'Dankie Heer' laat ons vergeet van die vroegoggend se verkeer rondom ons. My boodskap is opreg toe ek sê "Kom ons hou vandag vas hieraan ... dis dalk nie die ideale Liefie-dag vir jou of selfs vir my nie, maar JY is 'n groot DANKIE in MY lewe en ons het SOVEEL ander dinge om voor dankie te sê". “Liewe Heer, dankie dat U die eina-ouches in die lewe beter maak ... dankie dat u ons op mekáár se paaie plaas om die seerplekkies met omgee-pleisters beter te maak.”

Die hartjies, blommetjies, lippe, sterre en kupido's in die kantoor laat die bloed opgewonde deur my are bruis en my twee dierbare vriendin-kollegas se spontane glimlaggies begroet my soos heldergeel sonstrale. “O Heer, ek is SO bevoorreg om tussen hierdie wonderlike mense te werk!! My hele werksopset is ‘n geskenkie so reg uit U Hand!!”

Koppies koffie met spesiale vriende, sms'e, e-posse, geskenkies, kaartjies ... “O Heer, na hierdie weke van soveel intense spanning en vrees toe my lewe in gevaar was, wys U weereens vir my deur al hierdie mense dat U my nooit alleen sal laat nie, dat ek vir U kosbaar is. Dankie Liewenheer vir my geskenke in die vorm van vriende!!”

Ek kyk op van my rekenaar af. 'n Groot bondel ballonne en 'n mandjie met sjokolade en druiwesap loer tussen die sonstrale deur vanuit die glasdeure se rigting. Dis my dogters wat met die bus ingekom het kantoor toe om mamma te verras! Ons sit by die Absa Kantien-tafeltjie, eet roosterbroodjies, drink koffie en gesels ma-en-dogter-praatjies. “O Heer .. my hart loop oor .. ek het nie meer woorde om my dankbaarheid te betuig nie want dis my hele wese vol!! “

Laatmiddag lui die telefoon. "Dink jy as ek by iemand opdaag met 'n groot bak roomys en ek neem haar en haar dogters na die Uniegebou om op die grasperk roomys te eet en sterre te kyk, dat sy dit as 'n lekker Valentynsaand sal ervaar?" Ek lag en antwoord dat enige Valentyn wat sy sout werd is, eie inisiatief aan die dag sal lê en die vuurproef sal deurgaan om te kyk of dit sal werk of nie! “Dankie Heer dat ek nie alleen is op 'n Valentynsaand wanneer die hele wêreld iemand het om lief te hê nie .. dankie dat ek dit met een van my vriende kan deel wat my liefde vir buite-wees en my waardering vir klein dingetjies soos 'n roomys-eet verstaan."

Huistoe-gaan-tyd. Haar hart is seer en sy sou eerder verkies om by die kantoor te oornag as sy kon. My hart wil breek vir haar, ek wens ek kon dit beter maak. Ek neem een van die rooi beertjie-rosies op my lessenaar en die boksie sjokolade wat die dogters vir my gebring het. Die woorde in die nota is opreg. ‘n Omgee-drukkie en die versekering dat sy kosbaar is vir my en dat ek haar waardeer. Die traan-blink-oë en verbaasde glimlag laat my hart bokspring van dankbaarheid. “Dankie Heer dat ek kan déél, dankie dat ek 'n verskil kan maak, dankie dat ek mense het vir wie ek lief kan wees.”

Die e-pos is 'n uitnodiging vir ‘n saamrygeleentheid ná werk met my héél beste maat. Ek hoef nie tussen die stampende-malende-skreeuende-gesiglose-mense op die sypaadjie vir die ruk-en-ry-bus te wag nie! Ek kan my Liefie-dag-gebeure deel met die één persoon wat my hele menswees ken en verstaan en ek glimlag al klaar by die gedagte aan sy lekker lag as hy na al my vertellings luister. “O Heer, dankie vir die voorreg om so ‘n besonderse maat te mag hê. Dankie dat ek kan omgee en gee en dat hierdie band van vriendskap altyd mooi en ongeskonde sal bly.”

Die telefoon se gelui skril deur die stilte. My kollegas is lankal reeds huistoe en ek is ook amper oppad. Met ‘n sug beantwoord ek die oproep en neem 'n boodskap by die kliënt. Net voordat ek groet klink die omie se woorde in my oor "Dametjie, ek weet nie wie jy is nie maar jou stem spreek tot my. Ek wil vir jou sê ek voel dit op my hart dat jy vanaand 1 Johannes 4 moet gaan lees ... lees dit en maak dit jou eie liewe kind want daar is definitief ‘n boodskap vir jou in." Here ... U werk in misterieuse wyses .. ek weet nie wat in hierdie gedeelte staan nie Liewe Vader, maar ek weet dis 'n boodskap van U af en ek gaan dit my eie maak sodra ek dit lees vanaand."

Soveel seëninge, soveel vreugde, soveel liefde ... my 'Liefie-dag' was 'n geskenk uit God se Hand. Ek het Sy Liefde in soveel verskillende vorms vandag ervaar en beleef.

Valentynsdag is nie net vir verliefdes, verlores, verloofdes en getroudes nie. Dis nie 'n dag wat jy iemand moet toegooi met geskenke en jouself in die skuld moet druk nie. Dis 'n dag wat jy moet gebruik as 'n herinnering om vir almal rondom jou te sê jy gee om, jy is lief vir hulle, jy waardeer hulle. Ons lewe is gejaagd ... soms het ons 'n dag soos Valentynsdag nodig om daaraan herinner te word dat LIEFDE niks kos nie. Dis 'n gebaar, woord, sms, drukkie, ‘n waarderende kyk ... dis 'n geskenk-dag uit ons Liewenheer se Hand om Sy Liefde teenoor ander uit te dra! Liefie-dag is super-spesiaal maar ons fokus en siening hieromtrent moet reg ingestel wees .. liefde word nie net uitgeleef op hiérdie dag nie, dit moet ‘n dááglikse lewenswyse wees waarin jy 1 Korintiërs 13 uitleef soos elke dag se opstaan-bad-en-aantrek!

God Bless

Elize Botes




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Valentynsdag?
Hi Elize!
Ek is eintlik sprakeloos, bv! Weet jy ....? Never mind ...

Lekker skryf!
13 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Maalkolk

deur Rachelle du Bois

Adele Coetzee will nie vir Francois Bekker as nuwe plaasbestuurder op Goedgeloofd hê nie. Sy kan self hul familieplaas bestuur. Francois is ‘n indringer en hoort nie op die plaas nie. Sy vertrou hom nie, maar Francois besluit dat hierdie tierwyfie getem moet word. Deon Kelder woon op die buurplaas Goedehoop en hy is verlief op die misterieuse nuwe onderwyseres by die plaaslike laerskool, Madri Viljoen. Waarvoor het die hoogsbegaafde Madri gevlug en wat kom maak sy hier op Heidelberg? Hy wil haar hê, maar dis toe nie so maklik nie, want haar pynlike verlede kom staan soos ‘n skim tussen hulle. En wie is Alex ….?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar