Artikels

Titel: Bid-or-buy bid-or-buy bid-or-by

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

As versamelaar van verskeie “onnodige, stukkende, veral gebruikte, iemand-wat-ek-nie-eers-ken-nie-se-ou-djunk” fases in my lewe, en fassinerend genoeg, geweldig genotvol, ontdekkend en nog ‘n boek vol byvoeglike naamwoorde (haal asem), was daar ‘n lang tyd van “vrede”, as ek dit so kan noem, in my hart. Want hierdie goed kom vannie hart.

So ‘n paar maande gelede kuier ek by dierbare ouers en my oog vang ‘n pragtig vergeelde “Big Ben Repeater Westclox” wekker bo in die kas waar pa sy skyfies bêre. Mooi opgepas, net die gesig al vergeel. In die kort dialoog wat volg oortuig ek vir pa dat voordat hy die poging aanwend om die ding “weer” aan die gang te kry, ek hom met liefde sal oorvat – siende dat ek nou sentimentele waarde het (die vervloekte ding ‘n aandeel in my hele kindwees-lewe se opstaan en gaan lê gehad het).

En soos wat die Benjamin sy plek gekry het op my spieëlkas, nodeloos om te sê, bekruip my versamelaars instinkte my onverhoeds en vang my in ‘n wip. Alles het goed gegaan tot die verdomde Bid Or Buy site my ontdek, want ek het hom nie ontdek nie.

Jou wraggies – ‘n afdeling met antiques, en as bonus ‘n onderafdeling clocks and watches, wat ek behaaglik deurstap met my high polfy’s en registreer daar en dan om aan hierdie belangrike gebeurtenis te belewe. (Myself nog net op ‘n beesveiling of twee gewees).

Ek begeer en herbegeer, bekyk en herbekyk, bereken en herbereken en maak my somme, want ek weet mos hoe om op te tel en af te trek. Die bevrydenste gevoel in ‘n lang tyd (dis beter as ‘n groot verjaarsdag) toe trek ek los, en na ure van oorweging en heroorweging besluit ek tog om op twee van die “stukkende” wekkers te bie. (Nogal Crazy Wednesday – met nog net ‘n paar uur voordat die bod toemaak).

Dit is ampertjies soos wag om die uitslae van ‘n swangerskapstoets te kry. Angswekkend, naelskoudend en senutergend. Toe laat weet hulle my – ek kannie eers die presiese woorde onthou nie – maar die uitwerking was dieselfde; Jammer Mevrou, dis negatief! En ek wil uitskreeu – negatief ek is nié, of negatief ek ís?

Teleurgesteld – want dit was nogal ‘n mooi oranje een, en so ‘n toevou enetjie, grysetjie nogal, moeder ma….

Maar toe is ek hooked, sinker, aas, lyn, hoek, katrol, stok, sonhoed,bier,siegret.

Donderdag was bietjie teleurstellend, maar toe Vrydag as Vrydag geklassifiseer word – whoops – nog ‘n special! Mad Friday vang Fiemies in ‘n wip dag!
Aangesien hulle dan so bleddie moeilik moet wees en ek so lank moet wag vir ‘n senutergende sieldodende uitslag – bie ek sommer of so 10 stuks stukkende ou wekkers, gelukkig almal tjiep-tjiep.

Man en ek kan nou nie anders as om dit so te stel nie, low and behold, ek wen die hele frieken lot!!! Kalmeer, alles in orde, alles in orde, oortuig ek myself, ek het nog plek vir ‘n paar, en die goed was tjiep. Maar toe ek begin betaal, is die posgeld meer as die stukkende wekkers, en ek spandeer n totaal van R955.65 op stukkende wekkers!

As ek net geweet het hoe om die foto te insert sou ek, want hulle het elkeen hul eie lêplek op my spieëltafel gekry, en ek het vir hulle lief geword.

Ek vra jou nou, is ek?, of is ek nie? , …… wel, jy kan besluit.




Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar