Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Borgward is in alle waarskynlikheid ‘n naam waarmee net motorversamelaars of persone wat in die vyftigerjare gebore is, sal kan vereenselwig.

Die Borgward motormaatskappy was ‘n Duitse motorvervaardiger waarvan die laaste voertuig gedurende 1961 van die monteerbaan gerol het. Die tragiese en kontroversiële “bankrotskap” van die maatskappy gedurende 1961, het my so bietjie laat nalees oor die geskiedenis van een van die legendes van die na-oorlogse (1945 +) motorbedryf.

Duitse motorvervaardigers het gedurende die vyftigerjare hoofsaaklik uit vyf grotes bestaan naamlik Mercedes Benz, Opel, Volkswagen, Auto Union en Borgward. BMW, alhoewel ‘n gevestigde vervaardiger van motorfietse, het, as gevolg van opeenvolgende swak modelle, baie gesukkel om vastrapplek in die motormark te kry.

Die Borgward motormaatskappy het bestaan uit drie komponente naamlik Borgward, Lloyd/Goliath en Hansa. Die mees bekende en gewilde model uit die Borgwardstal was die Isabella (vernoem na Carl Borgward se vrou). Hierdie voertuigreeks het bestaan uit ‘n sedan, ‘n sportiewe sedan, afslaankap en koepee (die TS of “Touring Sport”) en ‘n stasiewa (die kombi). Die TS koepee word selfs vandag nog bestempel as een van die bes ontwerpte sport-koepees van daardie tyd en was naas Mercedes Benz se 190SL, een van Duitsland se mees gewilde motors.

Dr. (Ing) Carl Borgward, gebore in 1890 te Hamburg-Altona, was van jongs af geïnteresseerd in alles wat meganies is. Hy maak ou horlosies en naaimasjiene reg en bou selfs klein houtmodelletjies. Hy begin sy opleiding as Passer en Draaier om later in Meganiese Ingenieurswese te studeer. Op die jeugdige ouderdom van 22, aanvaar hy diens in Bremen as ingenieur in ‘n staalfabriek. Toe hy 29 is (1919), word hy gelyke vennoot in die Bremen Reifen Industrie, wat behalwe vir motorbande ook landbou implemente vervaardig. Tekorte wat voortgespruit uit die Eerste Wêreldoorlog, veral in terme van motoronderdele, maak dat Carl en 20 van die werknemers voltyds begin konsentreer op die vervaardiging van veral verkoelers en modderskerms. Een van sy grootste kliënte is die Hansa-Lloyd motormaatskappy. Gedurende 1921 word hy alleeneienaar van die Bremen Reifen Industrie en verander die naam na Bremer Kuhlerfabrik Borgward & Kie. Carl se droom om sy eie voertuie te vervaardig word realiteit toe hy en Friedrich Keinast ‘n watervekoelde tweeslag voertuig begin bou wat hulle die “Blitzkarren” noem. Dit is van die begin af ontwerp en gebou om vrag te vervoer en met ‘n 120cc DKW, tweeslagmasjien en bandaandrywing, is dit welliswaar nie veel vinniger as ‘n kruiwa nie. Dit bied egter ‘n meer bekostigbare afleweringsvoertuig vir die kleiner handelaars, baie goedkoper as die alternatiewe van Opel en DKW.

Met die toetrede van Wilhelm Tecklenborg as vennoot, slaag Borgward daarin om sy Blitzkarren aan die Duitse Posdiens verkoop te kry wat die nodige publisiteit aan die voertuig verskaf. Teen die einde van 1925 stel hulle die Goliath “Rapid” bekend wat uit die Blitzkarren ontwikkel is. Dis ‘n goedkoop (Reichs Mark 1,100) driewiel afleweringswa waarvoor die aanvraag baie gou die aanbod oorskry. Hierdie en ‘n pasassiers weergawe van die karretjie word in hulle duisende verkoop en die nuwe maatskappy, Goliath-Werke, Borgward & Kie met drie-honderd werknemers, begin voertuie vervaardig op ‘n perseel oorkant die ou Hansa-Lloyd Werke.

Gedurende 1929, met die wêreld in ‘n ekonomiese krisis, is daar geen aanvraag na duurder en luukse tipe voertuie nie, en Borgward en Tecklenborg neem die maatskappy Hansa-Lloyd oor teen slegs die koste van die maatskappy se uitstaande skuld.

Die nuwe maatskappy Hansa-Lloyd-Goliath Werke – Borgward & Tecklenborg, sien die lig. Hulle konsentreer uitsluitlik op ligte vragmotors en goedkoop passasiersvoertuie, maar teen 1934/35 stel Borgward sy eerste volwaardige pasassiersvoertuig, die vier-silinder Hansa 1100, bekend. Aan die einde van 1936 is daar al 16,700 van hierdie voertuie verkoop en die Borgward fabriek neem reuse staal drukperse in gebruik. Die ses-silinder Hansa 1700 en Hansa 2000 word bekendgestel. Die Hansa 2000 is ook die eerste uit die Borgwardstal wat die Borgwardnaam gebruik.

En, toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit. Soos alle ander Duitse motorvervaardigers, word die Borgwardmaatskappy opgekommandeer om oorlogstuig te vervaardig.

Na die oorlog word Carl Borgward vir ‘n rukkie as krysgevangene aangehou. Met sy vrylating vind hy dat die grootste deel van sy fabriek verwoes was deur geallieerde bomaanvalle. Teen 1946 kry hy en sy werkers dit reg om 68% van sy fabriek weer in werking te stel, alhoewel hulle hoofsaaklik op vragmotors en onderdelevervaardiging konsentreer.

Teen 1948 neem hy weer volle beheer van die fabriek oor, wat tot op daardie stadium voortreflik deur sy gewese verkoopbestuurder bedryf is. Met rou materiaal wat streng deur die geallieerde besettingsmag beheer word, kry Borgward dit reg om deur sy nuutgestigte drie maatskappye, Borgward, Lloyd en Goliath, driemaal meer materiaal te kan aankoop.

In 1949 stel Borgward die eerste na-oorlogse Duitse voertuig bekend, naamlik die Hansa 1500.

In 1954 sien die eerste Borgward Isabella die lig en in 1959 word die luukse Borgward P100 bekendgestel.

Die Borgward Hansa 1500 het in 1953 die dominerende Porsches op die Nürburgring se 1000km uithourit die stryd aangesê om aan die einde in die derde plek te eindig, bo die Porsche 550’s.

Die Lloyd Arabella (later die Borgward Arabella) het ‘n waterverkoelde vier-silinder bokser enjin met voorwielaandrywing, wat later in sy geheel deur Subaro oorgeneem word en waaruit sy indrukwekkende tydrenwennende enjins ontwikkel is.

Alhoewel Borgward tegniese nuwighede aan die Duitse motorpubliek bekendgestel het soos outomatiese transmisissie en lugsuspensie, het Borgward gesukkel om in die mark te kompeteer. Die slim na-oorlogse skuif van drie maatskappye om meer materiaal te kon bekom, het teen 1960 begin geld kos. Ontwikkeling van die Arabella het geweldig baie geld gekos, wat nie uit verkope verhaal kon word nie. Borgward was ook deurgaans baie partikulêr oor kwaliteit en afwerking, wat op die lange duur meer gekos het as wat bekostig kon word.

Die bank wat grootliks vir Borgward se finansiering verantwoordelik was, het BMW se korporatiewe regsgeleerde, Semler, op sy direksie gehad. Die bank eis onmiddelike vereffening van die uitstaande lenings. Dit veroorsaak dat die Bremense owerheid verplig is om die maatskappy bankrot te verklaar. In 1961 neem die staat beheer oor van al Borgward se maatskappye. Semler word aangestel as die amptelike likwideerder.

Borgward was egter nooit bankrot nie omdat al sy krediteure op die einde betaal kon word. Al wat nodig was, was oorbruggingskapitaal.

Interresant genoeg, was dat die sukkelende BMW maatskappy in 1962 sy eerste suksesvolle “Neu Klasse” 1500cc voertuig bekend gestel het. ‘n Voertuig wat op tegniese gebied verbasend baie ooreengestem het met die Borgwardmotors wat reeds in beplanning was.

In 1963 sterf Dr Carl Borgward as ‘n gebroke man op ouderdom 73. Die waarheid agter die geforseerde bankrotskap van die Borgwardmaatskappy sal seker nooit aan die lig kom nie
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Droomkarre!
Kyk, hier het jy my dag gemaak! jy het Sharon Stone bykans systuk vir ontblotende systuk voor my ontklee!!! En daardie foto van die Isabella!!!!

Ek het as seuntjie, die voorreg gehad om in die Isabella te ry.

Die Mercedese uit die 70's en 'n Borgward is my droom karre!!

Dankie vir hierdie skierlike inruk in 'n droomwereld in...

8 jaar 11 maande 1 week 3 dae 11 ure oud


BMborgward
Interressant. Ek het erens gelees dat die 2000SA BMW ook sy oorsprong in Borgward gehad het.
8 jaar 11 maande 1 week 4 dae 5 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Agter Geslote Deure

deur Johan Botha

Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar