Projek: PROJEK – BOUVALLE EN WRAKKE (2015-10-13 tot 2015-10-26)
Weergawe: 1
Aantal woorde: 998
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 17 Oct 2015
Dit is moeilik om jouself te kan indink dat hierdie n besige stasie was wat dag en nag n miernes van bedrywighede was soos tot 24 passasierstreine per dag deur Kroonstad stasie beweeg het, dit was behalwe die hordes goederetreine wat deur die stasie na en van die rangeerterreine beweeg het.
Netjies en trots was hierdie stasie met alles wat n groot stasie kon bied, tot n pragtige stasiekafee waar die heerlikste koffie kon geniet word en pasteitjies kon geniet word. Waar hierdie kafee was is dit nou leeg en vuil, spinnekoprakke in die hoeke en die stof dik aangepak teen die mure en op die vloer. Kyk jy op sien jy die blou lug deur die ou dakbalke.
Waar die boekstalletjie was is nou niks, platgevee met die platform.
Die pakkettekantoor is n verlate plek. Hier was dag en nag bedrywigheid soos daar pakkette ontvang en afgelewer is en die papierwerk voltooi is voor die laaimeesters sorg dat dit op die regte treine na hulle bestemmings toe kom.
Verby is die dae van jaende trekkertjies met n string hoppende waentjies aangehak, volgelaai met pakkette wat van trein tot trein jaag. Dit het verdwyn want die eens trotse Suid-afrikaanse Spoorweë stel nie belang in pakkettevervoer nie.
Ook die kaartjies kantoor bestaan nie meer nie want die enkele passasier wat van die enkele trein wil gebruik maak koop sy kaartjie op die trein.
Verby is die dae wat die platforms gewemel het van mense wat met die trein wou reis en mense kom haal en afgesien het wat van die heerlike nostalgie van treinry gebruik gemaak het. Vir baie mense was dit hulle vervoermiddel van die dag. Sal ek ooit vergeet hoe passasiers om die kaartjies ondersoeker saamgedrom het om n plekkie op die trein te kry.
Die stasie inspekteur en roosteropsteller se kantore is verwoes en verlate. Die enkele passasierstrein wat nog deur Kroonstad stasie beweeg het nie meer hierdie personeel nodig nie. Die enkele trein wat nog loop word sommer deur die kaartjies ondersoeker oor n loop geselser weggesien. Kondukteurs bestaan nie meer nie.
Waar was die dae toe passasierstreine altyd deur die stasie inspekteur weggesien is met n groen vlag langs die trein wanneer die trein gereed is om te vertrek.
Die personeelkantoor, waar die personeel klerke die leisels styf gehou het en die baas van die plaas, die goedere en passasiers superentendent se kantoor was, is verlate en die woonplek van spinnekoppe en vergaderplek van stof teen die muur en op die vloer.
Die wagkamers is verwoes en verlate. As jy gelukkig is kan jy dalk n slapende sekuriteitswag daar aantref.
Die ou stoom lokomotief voor die stasie, wat veronderstel is om bewaar te word, is besteel van al sy koperwerke en staan daar, nou net n vuil verwaarloosde wrak.
Dit is egter nie net Kroonstad stasie nie, die hele land is oortrek met verlate en verwoeste stasie geboue wat verwoes en vernietig is, stille getuies van n eens magtige organisasie.
Kom reis verder saam met my en is ons eerste besoekpunt is Arlington stasie op die Kroonstad Bethlehem lyn.
Hier staan werklik net n geraamte van wat eens n besige stasie was met aansluitings na Marquard en Wolwehoek wat hierdie die deel van die Vrystaat bedien het.
Die dakplate het lankal deel van plakkerskampe geword, die lyne na Marquard en Wolwehoek het in onbruik verval. Die vensters is leë gate in die muur.
Die sinjaalraam in die seinhuis is verwyder en die netjiese blokkiesvloere in die kantore is weg, jy kyk vir die kaal stowwerige sement met spinnerakke wat die hoeke deurkruis. Die naambord is so verroes dat jy nie eers die stasienaam kan uitmaak nie.
Herken die ou stasiegebou my dalk na soveel jare want dit klink vir my kompleet of daar n sug en siddering deur die mure trek as ek saggies in my hart huil oor die verwoesting en verwaarlosing van Arlington stasie.
Agter die stasie staan die meeste spoorweghuise leeg. Hulle is verwoes en is daar geen vensters meer nie. Die dakplate het ook lankal deel van n plakkerskamp geword. Die enkele bewoonde huise is verwaarloos en die nuwe inwoners gee nie n flenter om hoe dit lyk nie.
Kom ons gaan Whites toe, op die Kroonstad Bloemfontein lyn. Dit is ook hier waar die taklyn na Welkom toe uitdraai uit die hooflyn uit.
Whites was tot die begin van hierdie jaar nog in bedryf maar nadat dit gesluit is is dit binne n maand afgebreek deur vandale dat net die mure nog staan.
Langs die Welkom lyn staan die maspale soos uitgestrekte arms in die lug, stille getuies van n era toe hierdie besige lyn deur elektriese lokomotiewe bedien was om al die verkeer te hanteer.
Ons laaste besoek is Serfontein stasie, teen die teerpad tussen Koppies en Kroonstad. Tipiese plattelandse stasie.
Dieslfde toneel begroet ons. Waar eers n netjiese stasiegebou was is nou net n murasie wat jou begroet. Dieselfde verwoesting tref ons hier aan. Hierdie stasie was ook op sy tyd die middelpunt van die gemeenskap wat die plaaslike gemeenskap se vervoer behoeftes bedien het.
Anderkant die spore staan drie huise, verwoes en net die murasies staan daar. Mens kan jou moeilik indink dat hier gesinne gewoon het en mens wonder as hierdie mure kon praat wat n skatkis van stories mens sou kry.
Hierdie is alles stille getuies van n goue era wat was en nooit weer sal wees nie want alles word eerder per pad vervoer deur swaar vragmotors wat ons paaie tot stof vertrap. Dit is ook die getuies van n unieke groep mense wat nie meer is nie. Mense wat trots op hulle werk was en nou in die vergetelheid verdwyn het.
Lees ander artikels deur neels claasen
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae