Titel: Busongeluk en jou hart raak yskoud
Weergawe:
Aantal woorde: 1427
Kere gelees: 1125
Datum gepubliseer: 08 Jan 2007
Toe Kat op 9 Januarie 2006 bel, kwart oor twee die oggend, het my lewe vir goed verander, busongeluk, Brak het onder die een vensterraam vasgesit, sy’s deur haar sussie en ‘n ander skaatser uitgegrawe en ‘n samaritaan van Oosterse oorsprong het my jongste kind uit die buswrak uitgedra, maar nie voordat ons ousus ‘n skaatsermaat hardhandig van haar sussie afgepluk het nie. Tierboskatwyfies die twee van my.
Dieselfde samaritaan het sy selfoon vir Kat geleen om na verlore handsakke te soek. Die man het verdwyn, maar sy goedheid teenoor my dogters sal ewig in my hart bly. Sy het haar handsak buite die wrak in die water sien dryf, haar selfoon genadiglik droog en werkend. Toe het sy gebel. Ek kon met haar en Brak praat en praat en praat, so selfsugtig was ek nog nooit, ek wou hulle net hoor, want ek kon hulle nie vashou en vasdruk en troos na die verskriklike ondervinding nie. Kat moes later ongeskik raak en groet sodat ander ook hulle mense kon bel.
An het die hele Suid-Vrystaat se polisie en ambulansdienste ophol gehad, een vrou het later uit Colesberg gebel om te sê daar is reeds 7 ambulanse oppad na Springfontein, hy hoef nou nie meer elke nooddiens in die omtrek te bel nie, maar steeds kon ons nie ontspan nie. Dit was koud daardie nag in Januarie, ek keer nou nog my gedagtes weg as ek dink aan die kinders se vrees in die donker Karoo, as ek wonder wat hulle gedink en gevoel het, toe hulle besef het, die Ouma en Oupa van skaats was nie meer daar om te troos en te versorg nie.
Ek kon die selfoon nie neersit nie, wou net die heel tyd praat om te hoor of hulle nog uithou, of hulle nog OK is, of die ambulanse al daar was, aangedring by Kat om te sorg dat my jongste eerste behandel word, dat sy haar sussie nie vir ‘n oomblik sal los nie. En soos dit met tierboskatwyfies gaan, het my oudste gesorg. As die twee deesdae mekaar bevlieg oor die een dit en die ander een dat gedoen het en dit staan die een nie aan wat daai een gedoen het nie, dan weet ek dis sommer maar bo-langse geskille, Januarie het bewys.
‘n Ma kan maar lekker stupid wees. An moes later hard praat om te sê dat die ambulansmense sal weet wie om eerste te behandel, hulle sal bepaal wie die ernstigste beseer was. Intussen is daar haastig klere in ‘n sak gegooi, planne gemaak. Ek moes bly lê, my bekken nog nie aangegroei, An sou ry, Ouma sou die fort by die huis hou.
Kat het haar neus gebreek en ‘n winkelhaak-sny op die ken gehad, wonderwerk, Brak se bekken op drie plekke af, femur, verplaaste fraktuur, regterknie se ligamente erg beseer, groottoon se sening af en ‘n nare hou teen die kop. Elf maande na die ongeluk, my kinders is gesond, halleluja. Genade onbeskryflik groot het ons as gesin in Januarie 2006 ondervind. Gertjie het een keer gesê dat die Here het my van Blu Su afgegooi, ek stem saam, dit kon so anders gewees het. Ons skaats Ouma en Oupa is in die ongeluk dood, so ook die baie ernstig beseerde busbestuurder, dis die mense wat voor in die bus gesit het, dis die plek waar my Katkind nog gesit het tot ongeveer ‘n halfuur voor die ongeluk, dit kon so anders gewees het. My kinders is in die eerste ambulans na Rosepark afgevoer. My hart wou breek vir die oorledenes se naasbestaandes, my dankbaarheid oor my kinders gespaar is, kan ek nie beskryf nie.
An het Bloemfontein toe gejaag en veilig arriveer, die Blacksters het met hulle Bloemfonteinse Ouma en Oupa gereël vir verblyf en voor die kinders ‘n halfuur in die Rosepark kliniek was, het daar reeds twee vriende opgedaag om handjie te gee en te ondersteun. Rinkhals se sus het haar man en seuns gelos om self reg te kom, sy was voor 06:00 by die hospitaal en Ulysses, Bloemfontein se Voorsitter, het ook by die hospitaal gedraai en An gebel om te laat weet dat die kinders goed versorg word.
Brak is onder verdowing gehou tot operasietyd, Kat het die media bebloed te woord gestaan, sy kon na steke in die ken en neus saam met Ouma huis toe. Die Blacksters se Ouma en Oupa het my gesin soos bloedfamilie tuis laat voel, hulle gepamperlang en gepiep en ons is vir ewig dankbaar.
Toe Kat vroegmiddag bel om te sê sy en Ouma doen inkopies en haar kop is baie seer en sy voel maar niks lekker nie en die mense gaap haar aan oor sy lyk of sy in ‘n kroeg-geveg betrokke was, het ek en sy heerlik getjank so oor die telefoon, sy in Bloemfontein se Mall oor sy goor gevoel het en ek in my kooi by die huis oor ek so dankbaar was sy leef, dit kon so anders gewees het.
Brak se operasie van vier ure het my behoorlik uitgemergel, haar been het ‘n pen gekry, haar stukkende voet is gelap en gestop, aan die bekken kon hulle nie veel doen nie.
Daardie oggend het die Here ‘n hele span gestuur om my hande te kom sterk maak, hulle het verseg om te loop, hulle het geklets en geklets en ek kon stadig maar seker begin asemhaal. Ten minste vier van my maters het aangebied om my met my af bekken Bloemfontein toe te neem, An en ‘n paar ander moes baie hard praat om die nadele van so ‘n rit uit te wys. Binne ‘n paar ure na die ongeluk het die maters en hulle se maters ‘n gebedsketting gemaak van Komatiepoort in die noorde tot in die Kaap in die suide. Hulle het om my bed kom staan, hande gevat en gebid.
My vreugde het tot aan die hemel gereik toe eers my oudste, en ‘n klompie dae later my Brakkind en An weer by die huis was en ons as gesin saam met Ouma dankie kon sê.
Die beendokter dink steeds ek en Brak is Van Helsdingins. Hy was stom van verbasing toe sy vertel dat sy op dag 7 na die ongeluk met af bekken en bo-been skool toe is en dat sy in dieselfde asem neul oor daar nog glasstukke in haar voet sit. Die skool-toe-gaan was darem net vir ‘n paar uur en vir die aandagwaarde, sy aard so bietjie na my.
Tydens Januarie se tuisbly en aansterk, het ek en Brak baie goeie tye beleef, ek en sy, al twee per krukke moes wonde verpleeg en dokters besoek, ons is rond gekarwei deur ‘n hele span gewillige helpers. Ons is steeds in baie se skuld.
Die wonde op haar voete het lank geneem om te genees, Tea Tree Oil en al die mutie van die dokter het die deurslag gegee. Ons het gegiggel oor die sukkel om op my knie te kom om die wonde te drês, sy kon nie die voet hoog lig nie en ek was stram en styf. Ons moes vreemde stortplanne maak, sy was doodbang om alleen in die stort te klim en self kon ek nie stewig my staan in die stort staan nie. Soms was dit sukkelplanne en soms het die planne uitstekend gewerk. Dit was ‘n kosbare tyd saam met my jongste kind. Rehabilitasie van haar stywe heupe en knieë en slap groottoon het maande geduur, sy het lank geweier om alleen te slaap, sy het met groot gesukkel haar eie grondkooi voor ons bed kom maak en met groter moeite tot op die grond neergedaal om op die vloer te slaap.
Dis amper ‘n jaar later en dis steeds moeilik om die ding te beskryf. Hoe beskryf ‘n mens jou vriende en familie en kollegas se omgee en ondersteuning, ek het nie die vermoë om die woorde so in te span dat julle my gevoel van diep dankbaarheid sal verstaan nie. Ek volstaan by: die Here het gesorg, soos Hy altyd sorg, dankie.
Januarie 2007
Môre is dit een jaar na die busongeluk. Ek dank die Here vir ‘n jaar vol genade. Ons het Desember 2006 by die plek gestop waar die ongeluk gebeur het. Dit was die eerste keer dat die kinders die toneel in die daglig gesien het. Ek het opnuut besef hoe gelukkig ons is dat nie meer mense in die ongeluk dood is nie. An het met trane in sy oë die Here dankie gesê dat ons kinders gespaar is. Ons was na die stopslag ‘n hele ent baie stil.
Lees ander artikels deur Linnie
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


deur Trixie
'n Tradisionele roman wat wye lewensveld in kompakte tonele aanbied. Liesbeth stoei onwetend met die emansipasie-draak en vind uiteindelik vrede by Hein.
... My vreugde het tot aan die hemel gereik!
Met opregte dank
007