Titel: CeJay Pienaar - Spina Bifida lyer- Die ware verhaal van 'n sesjarige held
Weergawe: 1
Aantal woorde: 1552
Kere gelees: 165
Datum gepubliseer: 03 Feb 2010
CeJay Pienaar, ’n ses jarige seuntjie van Mosselbaai is die dapperste kind wat ek nog ooit tee gekom het.
Op Saterdag 29 November 2009 het hierdie klein mannetjie aan die Cansa Relay for Life in Mosselbaai deelgeneem.
Die Cansa Relay for life is ’n fondsinsameling wat ten bate van kanker gehou word. Mens moes deur die nag om ’n baan van ongeveer 320 meter stap. Vir elke rondte wat voltooi word, kry jy dan ‘n kraletjie wat jy op ’n tou stringetjie moes inryg.
CeJay het besluit om die uitdaging aan te durf en het met sy twee krukkies ’n volle 44 rondtes om die baan gestap deur die nag.
Cejay se Ouma Delena is die vorige maand aan kanker oorlede en hy het dit ter wille van haar gedoen.
Liewe leser, u gaan waarskynlik nou vir my vra wat dit is wat hierdie storie so besonders maak. Hier volg CeJay se verhaal soos vertel deur sy moeder, A’Shell. Lees dit gerus en oordeel dan self of u met my saamstem dat hierdie seuntjie een van die dapperste mense in ons land is.......
Corné en A’Shell Pienaar was in die sewende hemel van geluk toe hulle verneem het dat hulle ouers gaan word.
A’Shell se swangerskap het die normale verloop van ’n swangerskap aangeneem met naarheid hoofpyne en alles wat met ’n normale swangerskap gepaard gaan.
Op Valentynsdag van Vrydag 14 Februarie 2003 het A-Shell vir haar laaste sonar gegaan.
Aan die lyftaal en optrede van die radioloog het sy agtergekom daar is groot fout.
Na drie sonars by verskillende dokters het Dr. X besluit om die daaropvolgende Maandag (17 Februarie 2003) ’n keisersnee te doen.
Dokter X het dit duidelik aan A’Shell genoem dat die baba verlam gaan wees en dat dit ’n waterkoppie sal hê. Dr. X het ook aan haar gesê dat sy nie so kind wil hê nie en dat dit beter sal wees as iets tydens die keisersnee verkeerd sou loop. Uit die aard van die saak was A’Shell histeries. Die lewetjie in haar het immers saam met haar gegroei en dit was hulle eersteling. Hierdie was die langste naweek in die Pienaars se lewe.
Klein CeJay is die oggend van 17 Februarie 2003 gebore. Hy is gediagnoseer met “Spina Bifida” en “Hydrocephalus”
Spina Bifida beteken dat die baba se ruggraat nie toe gegaan het tydens die vroeë stadium van die swangerskap nie, met ander woorde daar is ’n opening (gaatjie) in die ruggraat.
Daar is drie soorte Spina Bifida naamlik:
(a) Occulta wat die skadeloosste tipe is – klein afwykings kom voor in die werwels terwyl die senuwees en ruggraat normaal is.
(b) Meningocele waar ’n gewas bestaande uit membrane uitsteek aan die buitekant van die opening van die ruggraat. Hierdie sist kan gewoonlik verwyder word en die kind kan daarna normaal ontwikkel
(c) Myelomeningoele – Dit is die ernstigste voorkoms van Spina Bifida. ’n Sist bestaande uit membrane, senuwee wortels en die ruggraat self dring deur tot buitekant die ruggraat opening. Ernstige probleme ontstaan soos verlamming, onbeheerbare blaas en lewerfunksie ensovoorts. Die meeste gevalle van Spina Bifida gaan ook gepaard met ’n toestand wat “hydrocephalus “ genoem word.
(d) Hydocephalus is ’n toestand wat bekend staan as “water op die brein.”
Klein CeJay is met die derde en ernstigste toestand van Spina Bifida gediagnoseer.
Die middag van 17 Februarie 2003 is die baba na die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad gevlieg.
CeJay se pa Corné, A’Shell se pa en haar swaer is per motor agterna.
Die 18de Februarie 2003 is CeJay teater toe vir sy eerste operasie om sy ruggie toe te maak. Die operasie het sowat drie ure geduur.
Intussen was A’Shell alleen, sonder man en sonder kind in die hospitaal om te herstel.
Vrydag 21 Februarie het sy ook Kaap toe vertrek
Die daaropvolgende Maandag, presies ’n week na CeJay se geboorte is die tweede operasie gedoen en het hulle ’n shunt in sy brein geplaas.
In die geval van hydrocephalus is ’n “ Shunt” ’n buisie wat vloeistof van die brein dreineer en dit na ander dele van die liggaam vervoer.
Hierdie buis is gewoonlik aan die buitekant van die skedel maar onder die vel en ongeveer net agter die oor geplaas.
CeJay het ’n volle maand in die hospitaal deur gebring voordat sy ouers hom huis toe kon neem.
Drie maande later moes die shunt weer vervang word omrede dit nie gewerk het nie.
Daarna was CeJay gereeld terug hospitaal toe.
Toe Cejay 2 jaar oud geword het, het die dokters in die Kaap begin werk aan sy bene. Die linkerbeen was erg gedraai en hulle het dit 90 grade probeer terugdraai. Die dokter het omtrent 5 keer op CeJay geopereer.
CeJay was verlam in sy onderlyfie van sy boude af. Hy het vorentoe beweeg (geseil ) deur homself met sy armpies vorentoe te trek.
Daar is begin met Arbeidsterapie op Cejay en hulle het agtergekom dat hy geen gevoel in sy bobene voor tot onder sy knieë het nie.
Aan die agterkant van sy bene het hy geen gevoel nie.
Omdat Cejay as gevolg van die tipe Spina Bifida wat hy het, geen beheer oor sy stoelgang en urine funksie het nie, moet hy permanent doek dra.
Op vier jarige ouderdom het A’Shell CeJay na ’n professor toe geneem op George wat hier kom aftree het. Die professor het op CeJay geopereer en dit was ’n geweldige groot operasie. A’Shell moes bloed skenk . Die Professor het tydens die operasie op CeJay spiere geruil, been opgebou en vele ander goed gedoen . Cejay moes vir 13 weke in gips deurbring, iets waaraan hy toe al gewoond was.
’n Jaar later het CeJay met sy krukkies begin loop!
(Dit het gebeur nadat sy Pa Corné in Augustus 2008 ’n heupvervangingssoperasie ondergaan het en met krukke moes loop. CeJay het met sy Pa se krukke probeer loop wat uit die aard van die saak vir hom te groot was. Hy het toe vir sy ma gevra om vir hom kort krukke te kry wat A’Shell toe wel gedoen het. Hy het baie geval omrede hy min balans het, maar dadelik weer opgestaan en begin loop met die krukke. Dit was vir CeJay wonderlik om dieselfde hoogte as ander kinders te wees.
Die professor het daarna nog verskeie operasies op klein CeJay uitgevoer, onder andere een waartydens hy die linker beentjie probeer red het wat deur ’n ander medikus tydens ’n operasie verniel is. Tydens een van hierdie operasies is CeJay se linkerbeen ook verkort.
CeJay was ongeveer nege keer onder die operasie mes. Gedurende hierdie tyd het die shunt vir ’n tweede keer probleme gegee en moes weer vervang word.
CeJay het ook mangelontsteking gekry en sy mangels moes verwyder word.
In 2009 is daar begin werk aan CeJay se blaas en 2010 is hy vir die eerste keer skool toe in graad een .
CeJay moet nog steeds doek dra. Sy grootste droom is om soos sy kleiner boetie ook ’n onderbroekie te dra.
A’Shell hulle het besluit om vir CeJay ’n prostese in sy blaas te laat inplant sodat hy self sy urine kon beheer en terughou. Hulle het dit egter laat deaktiveer nadat CeJay hoofpyne begin ontwikkel het.
Augustus verlede jaar het die dokters weer die shunt oopgemaak en kon geen fout kry nie. Die hoofpyne het egter erger geword. In November verlede jaar het hulle ’n nuwe shunt ingesit. Tydens die operasie het CeJay se brein begin bloei, maar alles het goed. afgeloop.
CeJay is ’n klein wennertjie wat vas glo dat hy nog eendag self gaan loop en dat hy wel eendag nie meer doek sal hoef te dra nie. Die klein dapper mannetjie kan selfs al fiets ry met kant wielietjies en hy geniet dit om te kyk hoe ander kinders hardloop. CeJay is ’n kind wat graag lag en “hardloop” gereeld by sy ma verby en vertel haar dan hoe vinnig hy is.
Daar is natuurlik by die skool kinders wat met CeJay spot, maar dit sit nie die klein dapper mannetjie af nie.
CeJay se Ouma is aan kanker oorlede en toe die Cansa Realy for Life in Mosselbaai aangebied is, het die dapper mannetjie sonder huiwering besluit om ter ere van Ouma Delena deel te neem. (Soveel volwassenheid kry mens partykeer nie eers onder groot mense nie)
CeJay het 44 rondtes van 320 meter met sy krukkies gestap om die baan deur die nag......
Sondagmôre tydens die prysuitdeling het CeJay ook ’n prys gekry. In die hele amfiteater in Hartenbos was daar nie ‘n droë oog toe die dapper klein seuntjie sy prys met sy krukkies gaan haal het nie. Die mense het soos een man opgestaan en luid applous gegee aan ’n dapper klein held wat so klein as wat hy is en met al die pyn en lyding waardeer hyself al is ander se leed sy eie maak.
CeJay Pienaar, ons salueer jou. Jy is ons eie klein held van Mosselbaai.
(Enige Woes vriend wat met Corné en A’Shell in verbinding wil tree, kan net met Kallie Kuiken kontak)
Lees ander artikels deur Kallie Kuiken
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


deur Kobus van Eden
DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'