Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het in ‘n tyd grootgeword toe die woord “kommunis”, elke stoere Afrikaner-oom sy Mauser of .303 sou laat afstof het. Die Sowjet Unie en Rooi Sjina was beskou as die grootste enkele bedreiging vir die mensdom sedert die skepping van die aarde, en van baie kansels af is duidelike paralelle getrek tussen die antichris en die kommunis, ondersteun deur vers en kapittel.. Met behulp van J. Edgar Hoover en die FBI, is “the American Way” as die enigste werkbare stelsel gepropageer om die Rooi Gevaar die hoof te bied. Suid Afrika het, behalwe vir die euwel van televisie, nie agtergebly met die inwerkinstelling van die Amerikaners se “goddelike” idees nie. Intern het die Nasionale Party, ten spyte van die begin van ‘n ekonomiese bloeitydperk, egter heelwat smeulende probleme gehad waarvan daardie tyd se oplossings ongelukkig later omgekeerde gevolge gehad het. Met die Sharpeville opstand op die oppervlak onderdruk en met Nelson Mandela veilig op Robbeneiland, kon daar gepoog word om op eg patriotiese wyse te bou aan die toekoms. Maar, die onderdrukking (en verbanning) van die ANC en sy meelopers, asook die wetlike toepassing van apartheid, het gemaak dat die destydse Suid Afrikaanse regering op die internasionale swartlys beland en die handige sondebok van die wêreld in die VVO geword het. Boikotte was aan die orde van die dag en sportspanne kon nêrens meer gaan toer nie. Skielik moes Westerse regerings baie versigtig trap om nie die vlambare liberale element in hulle eie geledere te veel om te krap nie (baie Westerse lande het immers met onbeantwoorde vrae oor gruweldade in hulle kolonies en die swaard van wandade uit die Tweede Wêreldoorlog oor hulle koppe gesit).

Dit was ook ‘n tyd van die grootste en mees geweldadige studenteopstande in die Weste en veral in Frankryk. Amerika se toenemende betrokkenheid in Vietnam het tot bloedige geweld in sy eie land gelei. Dit was ‘n tyd van toenemende rassebewussyn in Amerika en daarmee saam natuurlik Dr. Martin Luther King Jr. se “I have a dream”, toespraak.

Maar, die tweede helfde van die sestigerjare was ook die tyd van die blommekinders. “Make love not war” en honderde hippiekolonies het op die snaakste, en somtyds mees eksotiese, plekke dwarsoor die wêreld ontstaan. En was daar nie in oortreffende trap inhibisies afgegooi nie? Dit was ‘n tyd van toenemende vrye denke en ‘n bevraatekening van die tradisionele normes, waardes en geykte idees. Dit was die tyd van Bob Dylan, Janis Joplin, The Who, Creedence Clearwater Revival, Jimi Hendrix en natuurlik Woodstock, die grootste Rock-fees van alle tye. Die teenstrydighede in daardie tydsvak, so tussen hakies, is fantasties saamgevat in die rolprent “Easy Rider” met Peter Fonda en Dennis Hopper. Die liedjie weer wat daardie era, na my mening, die beste opsom, is Scott McKenzie se: ”Are you going to San Fransico”. Dit was ook die tyd toe tradisionele volkshelde hulle kleur begin verloor het en daar begin soek is na helde wat by die veranderde tyd sou pas.

Met die “ontydige” dood van Che Guevara gedurende Oktober 1967 in La Higuera, Bolivië, het die jongmense in Amerika en Europa die ikoon gekry waarna hulle op soek was. Dit was veral die foto, geneem deur die fotograaf Alberto Diaz Gutiérrez, wat skielik op al wat T-hemp en muurbehangsel sy verskyning gemaak het (en steeds vandag nog net so gebruik word).

Che Guevara, kommunis, revolusionêr en terroris. Wel, dis soos meeste van ons aan die ou met die baard en beret dink. Toe ek egter vanoggend ‘n jong man sien, wat met sy “copy” Nikes, broek wat lyk asof daar iets binne-in gedoen is, omgedraaide bofbalpet op die kop en Che Guevara op sy T-hemp, “bubblegum-“ kouende, slapgat en sleepvoet straat-af drentel, toe wonder ek maar net. Toe wonder ek of die klein stront, ten spyte van die “image” op sy “T-shirt”, ‘n week saam met Che Guevara sou kon oorleef.

Maar wie was hierdie “ikoon” nou eintlik?

Ernesto (Che) Guevara is in 1928 in Rosario, Argentinië gebore (die bynaam Che, wat Argentynse “slang” vir vriend is, het sy oorsprong gehad in die wyse waarop hy die woord oral in sy normale manier van praat ingemeng het). Van kleins was hy nooit baie gesond nie en het hy dwarsdeur sy lewe gesukkel met erge asma. Hy’t in ‘n middelklas en baie liberale huis grootgeword en sy pa veral, was ‘n sterk anti-kapitalis (waarskynlik omdat hy sy vrou se erfgeld op verskeie mislukte pogings om besighede tot stand te bring, uitgemors het). Die manier waarop die armes deur die welgesteldes uitgebuit was, was brandstof vir hulle pro-kommunistiese denkwyses. Die kerk (hoofsaaklik Rooms Katoliek in Suid Amerika) het ook nie veel bygedra om hulle sienwyse te verander nie omdat dit voorsktiftelik en veroordelend was teenoor die gewone, meesal brandarm, bevolking maar die gedrag van die rykes en korrupte regeringsamptenare ooglopend oorgesien het. Che was nie noodwendig, op grond van die heersende sentiment in sy familie, oortuig dat kommunisme die antwoord op sy vrae was nie. Deur die loop van sy lewe het hy dus alles wat hy in die hande kon kry gelees en bestudeer met betrekking tot filosofieë, idiologieë, gelowe en politieke denkrigtings. Hy was veral lief vir die werke van Sartre, Pablo Neruda en Karl Marx (Das Kapital het hy ‘n hele paar maal deurgelees). Omdat hy geglo het dat hy op daardie manier iets sou kon beteken vir sy medemens, het hy vir ‘n mediese dokter gaan studeer. Sy spesialiteitsrigting was melaatsheid (‘n siekte wat op daardie stadium steeds ‘n probleem in Suid Amerika was).

Sy swak gesondheid asook ‘n onrustige gees, wat hom voortdurend gedryf het, het veroorsaak dat sy studies in verskeie fases voltooi is. Dit was tydens een van hierdie wegbreekoomblikke wat hy en ‘n vriend met ‘n ou motorfiets die pad gevat het op ‘n toer deur Suid Amerika. Hy’t ‘n boek oor hulle ondervindings en wedervaringe geskryf en ‘n film, “The Motorcycle Diaries”, is ook later daarvan gemaak. Tydens hierdie tog het hy die eerstes van die mense ontmoet wat later in sy lewe ‘n groot invloed op sy denkwyse en optrede gehad het.

Na hy gekwalifiseer het, werk hy los en vas in verskeie Suid Amerikaanse lande en eindig uiteindelik op in Meksiko waar hy ‘n Kubaanse uitgewekene, Fidel Castro, ontmoet. Castro het op daardie stadium geen spesifieke ideologie aangehang nie, en sy strewe was hoofsaaklik om Kuba te bevry van die despotiese diktator, Batista. Toe iemand op ‘n stadium vir Castro vra of hy sy bevrydingstryd ‘n “Rooi Rewolusie” gaan noem, toe sê hy: “Nee, myne is ‘n groen rewolusie, want ek gaan die land teruggee vir sy mense”.

Fulgencio Batista, president van Kuba, was ‘n korrupte Amerikaanse handpop (puppet). Hy was leier van ‘n eilandstaat wat eintlik niks anders was as ‘n dobbel-, prostitusie- en dwelmhool nie. Dit was die speelplek van die rykes en gerieflike basis vir die Mafia se Suid Amerikaanse bedrywighede. Amerika het dit so verkies, want dit het die onwettighede en onwettige elemente van sy eie grondgebied af weggehou. En terwyl die rykes in Havana gespeel en gehoer en gerumoer het, was die gewone Kubaan ‘n versukkelde en verarmde, oorwerkte slaaf vir die skatryk fabrieksbase en grondbaronne.

Castro se oogmerke en strewes het ingepas by Che Guevara se eie ideale vir Suid Amerika en daarom gooi hy sy gewig voluit by Castro se planne in.

Op 2 Desember 1956 land Fidel Castro, sy drie adjudante Raúl Castro, Carlo Cienfuegos, Che Guevara en 78 Kubaanse uitgewekenes met die boot Granma, in Kuba. Batista is egter vooraf deur die CIA van die beoogde landing ingelig en die invallers loop hulle in ‘n koeëlreën vas.’n Klompie van hulle, insluitende die leiers, slaag tog daarin om die Sierra Maestra te bereik. Vanuit daardie onbegaanbare berggebied loods hulle toe hulle guerilla-aanvalle teen die regeringssoldate en polisieposte. In die berge begin hulle ook met radiouitsendings, die druk van propagandamateriaal, skole en klinieke en wen in die proses vinnig die simpatie en steun van die plaaslike bevolking en die gewone Kubaan in die dorpe en stede. Hoe harder en wreder Batista se teenoptrede, hoe meer van die plaaslike bevolking ondersteun vir Castro-hulle.

Soos die mense hulle al hoe meer by die rebelle begin skaar, so behaal hulle stadigaan sukses en begin die dorpies en stede een na die ander in hulle mag val

In 1959 besef Batista uiteindelik, tot verligting van sy generaals, dat hy die stryd gaan verloor, en vlug hy na Spanje met $300,000,000.00 se staats- en omkoopgeld in die bank. Castro en sy volgelinge ry Havana onder ‘n oorverdowende gejuig binne

In die daaropvolgende opbou van die geknoude Kubaanse ekonomie, bring Guevara sy kant deur en deur. Om hierdie proses aan te help word daar van elke inwoner van die land verwag om ‘n sekere aantal ure vrywillige arbeid in die een of ander sektor van die ekonomie te verrig. Guevara self werk selde minder as ‘n 20-ure dag maar nogtans verrig hy pligsgetrou sy voorgeskrewe aantal ure handearbeid per week op die hawe. Hy gun homself geen luukses nie, selfs nie toe hy Minister van die Industrie en Direkteur van die Bank van Kuba (1961 tot 1965) was nie. Toe een van sy top amptenare dus op ‘n dag by die kantoor opdaag met ‘n luukse voertuig wat by een van die rykes gekonfiskeer is, toe onthef hy die man op die plek uit sy pos en verplaas hom (omdat hy ‘n harde werker was), as gewone arbeider, na ‘n staatsplaas toe. Die kar word vir staatsgebruik herkonfiskeer.

Die Amerikaners toon gou hulle bereidwilligheid om met die nuwe regering te onderhandel solank die status quo onveranderd kan bly. Die rykes moet ryk bly en die armes arm en Castro-hulle moet op die Amerikaners se deuntjies bly dans. Dit was alles behalwe waarvoor hulle baklei het en toe Castro-hulle nie wou toegee nie, toe draai die Amerikaners die krane toe. Die enigste land wat bereid was om ‘n hand van vriendskap uit te steek was die Sowjet Unie. Guevara was nie ‘n voorstaander van die Sowjet-tipe kommunisme nie, maar Kuba het die ekonomiese hulp op daardie stadium dringend nodig gehad. (Guevara het wel in die geheim op ‘n paar ander geleenthede weer met die Amerikaners gepraat, maar hy kon net nie toegee aan hulle selfsugtige voorwaardes nie)

Die stilsit (oneindige administrasie en amptelike vergaderings) begin later vir Guevara vang en hy kry dit reg om vir Castro te oortuig dat hy betrokke moet raak by groepe in die buiteland wat bereid was om te veg vir hulle onafhanklikheid. Hy wil ten alle koste die rewolusionêre idee brandend hou. Sy eerste buitelandse ekspedisie was na die Kongo, maar dinge wou glad nie uitwerk soos hy beplan het nie en na ‘n vreeslike gesukkel en onophoudelike ontberinge (waartydens sy gesondheid ‘n erge knou kry) onttrek hy hom en sy mense uit daardie Afrika land uit.

Totaal ontnugterd keer hy van daar af terug. Volgens hom het die “vryheidsvegters” daar, die “vryheidstryd” bloot as stokperdjie beoefen en het hulle skynbaar gehoop dat iemand anders die bakleiwerk en die doodgaandeel namens hulle sou doen.

Na sy Afrika avontuur, raak hy betrokke by ‘n inval in Argentinië wat op ‘n fiasko uitloop toe ‘n goeie vriend van hom in die proses doodgeskiet word. Hierna, op aandrang van ‘n groep Boliviese aktiviste, raak hy en ‘n groep van sy mees getroue volgelinge betrokke by ‘n insurgensie-operasie in Bolivië. Hierdie operasie was sommer van die begin af gedoem omdat die Boliviese uitgewekenes voeling met die bevolking en hulle behoeftes verloor het. ‘n Agent van die Amerikaanse CIA is die hele tyd deel van die agtervolgingsoperasie terwyl die plaaslike bevolking (onder sterk druk van die regering) totaal onwillig was om betrokke te raak of selfs om hulp te verleen. Guevara se gesondheid gaan tydens hierdie operasie drasties agteruit en met elke geveg word hulle groep al hoe verder verswak sonder dat hulle self enige sukses behaal. ‘n Gebrek aan voedsel en skoon water breek die oorblywendes se moraal sodanig af dat, na die laaste skermutseling, hulle inhegtenisname amper ‘n blote formaliteit was. Die paar oorlewendes word vir ‘n tyd lank in ‘n skoolgebou gevange gehou waarna hulle tereggestel word. Che Guevara se laaste woorde was, volgens getuies, iets soos: “Skiet jou lafaard, jy maak maar net ‘n man dood.”

Om te verhoed dat hy as martelaar vereer kon word, is sy oorskot op ‘n geheime plek begrawe nadat hulle sy hand afgesny en in formalien bewaar het. Dit is gedoen sodat sy identiteit later met die vingerafdrukke bevestig kon word. Die beendere is eers baie later in Kuba herbegrawe.

Che Guevara is nou wel nie die tipe persoon wat mens as ‘n held sou wou vereer nie, juis omdat sy lewe rondom ‘n rewolusionêre ideaal geweef was. Wat ek egter van hom respekteer is die manier waarop hy by sy beginsels (reg of verkeerd) gestaan het en dit waarin hy geglo het, voluit uitgeleef het. Waar ons vandag in Suid Afrika, vryheidstryd, ideale en beloftes of te nie, geen verbetering het in terme van die basiese lewensstandaard van die bevolking nie terwyl die leiers (asook hulle vriende en familie) darenteen in absolute weelde leef, het Guevara self die voorbeeld gestel deur fisies te leef dit wat hy gepredik en nagestreef het.
As die leiers van die land dus bereid sou wees om van hulle “suede-” oorgetrekte gemakstoele op te staan, hulle Pierre Cardin baadjies uit te trek en moue op te rol, hulle Mercedese, Audi’s, BMW’s, Volvo’s en Hummer’s te verruil vir iets baie meer prakties en eenvoudig en, as hulle, ter wille van die opbou van die land, hulle astronomiese salarisse halveer, al die omkoopgeld “bribes” in die staatskoffers gooi en begin om die voorbeeld te stel deur self vir ‘n slag werk te maak (en op te hou praat en praat en vingerwys en lieg en praat en praat) aan die horde (oplosbare) probleme van die land, dan kan hulle dalk vir Che Guevara op hulle T-hemde begin dra en mekaar met opregtheid “comrade” noem. Tot dan leef hulle in ‘n verdomde leuen en is hulle niks beter as die grond- en nywerheidsbaronne wat gedurende die vyftigerjare vir Kuba verkrag het nie.

Maar, die storie eindig nie net daar nie, want ons kan dit omdraai …..

As ek en jy, wat vir Jesus Christus bely, werklik sal begin doen en leef soos Hy, dan mag ons dalk ook met ‘n vissie agter op ons motorkar begin rondry.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Baie interessant geskryf.
9 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 12 ure oud


Puik artikel, soos Waldor opmerk. Lees 'Guerrilla Warfare' deur die einste Ernesto Che Guevara.
10 jaar 1 week 6 dae 8 ure oud


Het ek hierdie vanoggend nou nie geniet nie!

Uitstekend saamgestel en baie goed verwoord.

Ek het "Motorcycle Diaries" vir my aangeskaf en het dit goed gevind.

Daar is baie mense by wie ons baie kan leer. Net jammer dat die populere geskiedenis meebring dat mens elders moet gaan soek om agter die werklike kap van die byle te kom.

Baie rebelle het uit liefde vir hul mense geveg, dit is vir my die eerste oorweging wanneer mens 'n oordeel vel.
Daarna kom hoe hulle dit gedoen het ter sprake.

Net tragies dat Che se gesig op slapgatte (soos jy tereg skryf) moet wees. Mens moet dit eintlik van sy bors af skeur.
10 jaar 2 weke 19 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar