Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DIE STORIE AGTER DIE STORIE – Deel 4
Die koninkryk van God kom in Galilea

In Markus 3:13 tot 15 lees ons die volgende: “Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe.”

‘n Mens sien dit nie altyd raak nie: Jesus het ‘n bediening gehad voordat Hy twaalf manne geroep het om, vir die res van Sy bediening op aarde, Sy dissipels te wees. Gaan lees die meer kronologiese verhaal van hierdie gebeure soos Lukas dit daar van Luk 3:24 af tot voor Luk 6:12 vertel, dan ontdek jy dit ook.

Waarom dit belangrik is, is omdat dit ‘n mens help verstaan waarom die dissipels bereid was om Hom te volg: hulle het gehoor van hierdie merkwaardige Leermeester, en van die merkwaardige dinge wat Hy gedoen en gesê het.

As Jesus dan hierdie twaalf manne roep om vir drie jaar saam met Hom te lewe, lei Hy hulle in in die ervaring wat Hy daar in Nasaret reeds gehad het voordat Hy hulle ontmoet het: daardie verhouding wat Hy met Sy Vader en Sy Gees gehad het.

Hoor hoe vertel Hy later daarvan as Hy daar in Joh 5:19 die volgende daaroor sê: “...Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” En dan ook weer in Joh 8:38 (in die NIV-vertaling): “I am telling you what I have seen in the Father’s presence ...”

Hierdie intieme liefdesverhouding wat Hy elke oomblik van die dag met Sy Vader en Gees gehad het, het Hy vir hulle geleer om met Hom, en dus ook so met die Vader en die Gees, te hê.

Waar hulle die Vader kon ontdek en leer ken as ‘n liefdevolle Vader. En waar Jesus alleen werklik hulle Here en Leermeester geword het. En hulle Vriend. Waar net Hy hulle Pastor-Herder was. En hulle Hom geleidelik ook kon leer ken het as die beloofde Gesalfde van God, en die kragtige Verlosser en Koning. Aan wie alle mag op aarde en in die hemel gegee is.

Daar in hulle saam-wees vir meer as drie jaar, het hulle ook iets geleer van wat dit beteken om die nuwe aardse familie van God te wees. En kon hulle leer om volgens die reëls van die koninkryk van die hemel te begin lewe. Teenoor God en teenoor mekaar. En proe hulle die eerste keer hoe dit eendag (na Pinksterdag) tussen God en Sy mense in die ekklesia gaan wees.

Hulle informele tye saam met Hom, waar net Hy die middelpunt van hulle geselsies en die objek van hulle aanbidding, verwondering, en liefde was, sou later die bloudruk word vir hulle saam-wees met God se mense in die kleiner en groter ekklesia. Of hulle nou net informeel saam gekuier het rondom die etenstafel in die huise van mense, en of hulle saam op pad, of daar in die groter byeenkomste, met die skare, was.

Wat my telkens verder opval - vanuit my Gereformeerde agtergrond - is hoe ongestruktureerd hulle saam-wees was. Sonder om chaos te wees.

En hoe effektief Hy hulle geleer het. Sonder om hulle Bybelskool of Kweekskool toe te neem. Hoe Hy voor hulle koninkrykslewe gemoduleer het, van dag-tot-dag, terwyl hulle gewoon dag-vir-dag-aktiwiteite saam gedoen het.

Daar het hulle Hom gehoor en gesien proklameer dat God se koninkryk gekom het in wat Hy gesê en gedoen het. Ja, dat ‘n nuwe skepping letterlik hier tussen en rondom hulle, midde al die stukkendheid van die ou een, begin blom het (2 Kor 5:17).

Jesus het voor hulle oë die wil van die Vader in die hemel, hier op ons gewone aarde, kom doen.

Hulle het dit alles geproe en ervaar, en stukkie vir stukkie aangeleer. Om self later weer in staat te kan wees om dit te doen en oor te dra aan ander nuwe jong gelowiges wat deur hulle, op hulle beurt, ge-dissipel moes word.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Van ons ander lede

Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar