Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Depressie is vernietigend, afbrekend, vernederend en verander jou van 'n deelnemer aan die lewe na 'n blote toeskouer en 'n passiewe omstaander.
_______________________________

Depressie is 'n realiteit, dis nie maar net 'n manier om aandag te trek of 'n geval van selfbejammering nie. Depressie kan ook kinders van die Here tref, dis nie uitgesonderd net vir sekere tipe mense in die samelewing nie. Depressielyers het 'n ondersteuningstelsel net so nodig soos die liggaam water nodig het - geestelik, emosioneel en fisies.

Ek het persoonlik kennis gemaak met die vermorselende maalkolk van depressie en angsaanvalle. Saans het ek gaan slaap met die wens om dood te gaan, soggens het ek opgestaan met teleurstelling omdat ek nog lewe. 'n Chemiese wanbalans het gelei tot 'n totale gebrek aan goeie en positiewe gevoelens en belewenisse, selfs tot 'n punt waar selfmoord na die enigste uitweg gelyk het. Ek was moeg vir die lewe, moeg vir my verantwoordelikhede, moeg om my oë oop te maak en myself deur eke dag te sleep. Alles het nodeloos gelyk, ek het soos 'n las gevoel en ek was oortuig my twee dogters sou beter-af sonder my wees. Angsaanvalle wou my tot raserny dryf want ek het nooit geweet wanneer en hoekom die volgende aanval my sou tref nie.

Soms bevind ek myself steeds midde-in die maalkolk, ander kere staan ek hoog op 'n rots en kyk net af na die maalkolk. Ek sukkel steeds met depressie MAAR ek het begin skryf en in elke klein dingetjie op my pad en in my lewe 'n geleentheid begin raaksien om te getuig en ander te bemoedig. Die Liewenheer het my ook die wonderlike vermoë gegee om humor raak te sien, 'n doel in alles te soek en sover moontlik positief te probeer bly en reageer.

My behoud is my geloof en my skryfwerk. Ek kan werklik getuig hoe die Liewenheer my elke oggend opnuut krag gee en my soms donker gedagtes met Sy Lig verhelder. Hy open elke dag opnuut my oë sodat ek die klein dingetjies in my lewe kan raaksien, daaraan vashou en daarvan getuig. Deur te skryf, te lees en my gesels-en-bid-kanaal met die Liewenheer oop te hou het ek geleer om elke dag in geloof te staan en elke aand op my knieë te gaan en dankie te sê vir die dag se genade wat my deurgedra het. Wanneer ek die angs voel aankom bid ek onmiddellik dat die Liewenheer elke weefsel, elke aar en elke gedagte van my sal aanraak en sal toevou in Sy Bloed. Wanneer ek voel hoe die donker depressie my nadertrek, spits ek my vasberade daarop toe om my seëninge raak te sien, humor te soek en iewers 'n stukkie son of lig te probeer kry. Deurentyd gesels ek met die Liewenheer in my gedagtes en wanneer ek nie weet wat om te sê of hoe om uiting aan my verwarde emosies en denke te gee nie, dan sê ek net vir myself "Jesus". Ek kry self ook nog tye wanneer al hierdie dinge nie vir my werk nie, wanneer ek net in 'n hoekie wil gaan sit waar niemand my kan sien nie - dis dan ook presies wat ek doen - ek word stil en gun myself by die huis 'n tydjie om sommer net te onttrek van alles en almal.

Geen mens wil uit vrye wil en keuse 'n depressielyer wees nie, maar elkeen van ons het wel die keuse en wil om te probeer ontsnap uit die greep daarvan ...

Vasbyt en Opkyk! En onthou "My God can do anything!"

Elize

6 Julie 2007



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ai, en is dit nie 'n realiteit nie. Ek het 'n Engel Vriendin en geestelike ma gehad, wat ek vir kleingeld weggegooi het. Sy het my opgevoed. Dankie Irma... Eggo dit nog elke dag in my gees. Op haar aanbeveling stop sy die boek in my hande: "The dark night of the Soul". En daar vind ek toe uit depressie raak my vriend.
9 jaar 11 maande 2 weke 6 dae 7 ure oud


Baie dankie vir 'n bemoedigende artikel!
10 jaar 6 maande 2 weke 4 dae 4 ure oud


Ons liewe Vader het Sy eie manier om mense by te staan. So het Hy 'n kosbare Woes vriendin gebruik om my hier uit te bring, hier waar jy skryf oor die swart hond wat by mens se voete kom lêplek maak en jou lewe versuur. Jou woorde kom soos manna uit die hemel, daar is nog iemand wat bekruip is deur hierdie ongenadige dief en vyand, ek is nie alleen nie.

Dankie vir die deel hiervan, mag God jou seën omdat jy genesing sien as deel van Sy werk en plan vir ons.
11 jaar 5 maande 2 weke 21 ure oud


Dankie vir die deel hiervan. ek beleef elke dag die kant van die familie wat hiermee saamleef, en slurp hierdie artikels op want dit gee my krag.
a.
11 jaar 5 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


depressie
ek het vir 40 lang jare hierdie euwel ding baklei dank my vader elke dag ek is vry en verlos, puik gedoen..m
11 jaar 5 maande 2 weke 4 dae 23 ure oud


Depressie is 'n realiteit
Beste Eiize

Ek bewonder jou moed om vir Woesers van hierdie terugval in jou lewe te vertel. Meeste mense doen dit nooit nie of doen dit net vir 'n paar uitgesoekte mense. Ek sal jou navolg.

Ja, 'n chemiese wanbalans kan 'n oorsaak wees. Dit bewys dat vlees en gees een geheel is sos Jan Smuts geglo het. Daarom kan 'n denke wanbelans ook 'n oorsaak wees wat 'n chemiese wanbalans tot gevolg het. Daarna begin die hond sy eie stert jaag.

Ek wil nie hierdie kommentaar te lank maak nie. Daarom sal ou Grootpens maar 'n artikel skryf wat van sy eie ervaringe vertel. Hy beplan die titel as "Depressie is ook my realiteit".

Baie dankie vir wat jy gedoen het.

Mooi loop

At de Lange
11 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 16 ure oud



Buffelshoek se nuwe stasiemeester

deur neels claasen

n Spoorwegroman oor die lewe op die buitestasies in die sestiger en sewentiger jare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar