Artikels

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die anti held

Selfs op my gryse ouderdom kan ek nog veel van my kinderdae onthou. Ek onthou hoe ek nie kon wag om Sondag oggend na die volgende episode van Tarzan strokies te kyk nie. Ek kan onthou die eerste Tarzan fliek met Johnny Weismuller en die koue rillings wat ek gekry het elke keer as hy sy oorlogskreet / jodel gee. Ek kan onthou hoe ek die Skim strokies in die Volksblad verslind het en hoe ek vir my ‘n ring probeer maak het met ‘n skedel, net soos syne. En hoe ek gedroom het om in ‘n grot te bly wat deur ‘n waterval beskerm word.

Ek kan onthou hoe ons cowboys and crooks gespeel het en hoe niemand die crook wou wees nie. Ek onthou hoe John Wayne, vooraan die kavalrie, op blink perd en onder groot gejuig van die kinders gedurende die Saterdag middag fliek in die ou Alpha teater in Welkom, nader gejaag het om die dame in nood te help. Hulle was helde.

Dieselfde geld vir die dae toe Mannetjie Roux en Dawie de Villiers vir die Bokke rugby gespeel het. Skoon maar harde spel – helde op en gentleman van die veld. En hoe ons, met bonsende harte, Vrydagaande Squad Cars op Springbok radio geluister het, wetende dat die goeie sal oorwin.

Êrens langs die pad het dinge egter verander, het iets verander. Êrens het dit opgehou om cool te wees om ‘n held te hê wat primer goed is. Wat bewonder word vir dit wat hy doen omdat die aksies goed is, werd om bewonder en nagestreef te word. Al het hy of sy foute gehad, was hulle ook mense. Êrens tussen die tagtiger jare en vandag het ‘n bose verskynsel die arena van ons vryetydsbesteding betree. Êrens is die anti-held gebore.

En dit het stil-stil gebeur, oor tyd, sodat niemand dit agtergekom gekom het nie. Alhoewel die anti-held aanvanklik die goeie nagestreef het, het hy al meer en meer soos die skelms geraak. Ter wille van die voorbeeld noem ek Clint Eastwood (Dirty Harry) en Charles Bronson (The Mechanic en Vigilante). En ons het gejuig as hulle die slegte ouens skiet, skop en donder.

Die anti-held se hoof eienskap is dat hy bewonder word vir die asosiale gedrag wat hy openbaar. Die uitermatige gevloek, die misbruik van drank, uitermatige geweld, skelmheid en onderduimsheid. Die eienskappe wat hy manifesteer in die poging om die bose te oorwin, plaas hom op dieselfde, en soms laer vlak as die van die skurk. Definitief nie rolmodel materiaal nie.

En gaandeweg het die skurk, die immorele, die held geword (of te wel die anti-held). En die feit word verskuil agter komedie, agter verdigsels dat dit die realiteite van ons lewens weerspieël, agter kinematologiese foefies wat kuns genoem word (enige iets is mos aanvaarbaar solank dit onder die vaandel van kûns met ‘n lang û gedoen word, ens. en word die anti-held met soveel sensitiwiteit behandel dat jy hom jammer kry as die lang arm van die gereg hom beetkry.

In flieks soos Pretty Women, Pulp Fiction en later Murder by Numbers, 21 Grams en Natural Born Killers word die anti-sosiale openlik gevier en voorop gestel en, selfs al sou die anti-held sneuwel, word dit op so manier uitgebeeld dat die simpatie by die anti-held lê en die goeie, word uitgejou en geminag. Die baddie, is nou die rolmodel. Om van twee gay cowboys nie eers te praat nie (‘you show me yours (hairdryer) and I’ll show you mine) – Gary Cooper en Audrey Murphy maak só bommelakiesie in hulle grafte dat tot die wurms verkoue kry!

TV programme doen ook gesellig mee, en verstaan my goed, ek is nie teen gay-wees per sé nie, maar deesdae kan mens blykbaar net borge vir flieke en TV programme kry as die hoofrolspelers gay, gestremd of anderskleurig is. En waar die oud-modiese held met breinkrag en fisiese krag die skurke oorwin het, word daar deesdae met trane in die oë, en met handsakkie in hand, floutes gekry wat die skurke se harte moet week maak. Dis nou as die skerp tong nie werk nie. Praat van ‘n anti (of is dit nou antie, if you will pardon the pun) – held. En ons laaik dit – dis amper so polities korrek en in die mode is as wat dit is om te sê dat ons nog altyd gedink het dat apartheid eintlik verkeerd was, maar wat kon ons daaromtrent doen – ons pa’s het vir die Natte gestem nes my oupas en oupagrootjies voor hom – dit was hulle skuld, nie ons s’n nie.

Toe ek jonger was het ons rekenaar speletjies gespeel waar die polisie (jy) die slegte ouens moes vang en bonus punte gekry het vir elke arrestasie. Geweld was meer ge-impliseer as wat dit eksplisiet was. Of jy was ‘n ridder wat drake moes verslaan om sy geliefde te red. En, êrens het Pacman begin om kinders te eet en het Space Invaders sperms na vallende vaginas begin skiet.. En, nog later, het speletjies soom Doom en Dungeon begin om meer en meer geweld-eksplisiet te word. Bloed het begin spat as jy mens of dier skiet, grafies by uitstek. En tog was jy, die speler, die goeie ou. Maar ook dit het begin verander. En nog later het dit opgehou om in te wees, of interessant, om die goeie ou te wees of die goeie te laat seëvier. Die skurk het die held geword onder ‘n banier van realisme. Kinders het begin speletjies speel waar die boewe punte gekry het vir voetgangers wat doodgeskiet of doodgery word, bonuspunte verkry deur polisie motors van die pad te stamp en af te skryf en dan die polisiebeamptes dood te ry of te skiet.

Op die gebied van sport gaan dit nie veel beter nie. Ek kan onthou hoe vuilspel in rugby die uitsondering was maar vandag is dit, selfs op laerskool vlak, algemeen. Ek weet nie waar dit begin het nie maar ek onthou hoe vuil Uli die Boelie gespeel het, dieselfde geld vir Bullethead Dalton. En dis nie net die hakers nie. Adri Geldenhuys was jare terug die held omdat hy die All Black kaptein se kakebeen binne die eerste twee minute van ‘n toets afgeslaan het. Die spelers wat wel kritiek gekry het, het dit afgemaak met stellings soos ‘rugby is nie vir sissies nie’ en ‘if you cant stand the heat....’. Vuil spelers, soos James Small en Schalk Burger is nou die rolmodelle (en foto modelle – verkoop enige iets van seep tot toiletpapier met hulle Filistynse lywe) en daar is geen plek meer vir die gentleman nie. Die een uitsondering op my renons in vuilspel was die keer toe die Vrystaat flank, ek kan nie vinnig sy naam onthou nie, dink sy van was Els, vir Naas Botha platgeslaan het. Ek spot sommer – alhoewel ek bly was dat iemand uiteindelik sy mond kon stil kry, is en bly vuilspel onaanvaarbaar en mag die oortreder nie bewonder word nie.

Selfs in politiek spring ons nie die tendens vry nie. Verby is die dae van ‘n Helen Suzman wat passievol (en sonder veel sukses) kampvegter was vir die lot van die minder bevoorregtes van ons (het altyd gedink dit behoort my in te sluit maar dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag), die amper nie-kwaadwillige gespot en beskuldig van parlementslede in die ou regime. En in is die militaris, die Jacob Zuma met sy dans en die machine gun wat soveel jeugdiges wat nog nie eers gebore was tydens die struggle nie opgewonde maak, dis die terroriste soos Ghadafi en Satan Hoesein wat die mees fanatiese, vokale en volatile ondersteuners het.

So kan ek aangaan maar my laptop se ink raak op en die letters is haas onleesbaar op die skerm. Maar voor dit heeltemal opdroog, waar kom die anti-held vandaan? Watter sosiale en ander faktore het saamgewerk om die antitese te skep? Dit, my geagte leser, is ‘n onderwerp vir die volgende artikel.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

waar kom die anti held vandaan
Ek vind die stukkie baie interresant, dis 'n goeie vraag op die ou end en loer so bietjie in sosiale verval en opbou. Kyk die wereld was nooit altyd goed nie, of het dit van 'n ideale eden stadig en geleidelik sleg geword nie. 'n Mens kan net wonder watse groot gebeurtenis, tragedie of geluk, die wereld of dan Suid Afrika gaan laat smag na 'n primere goeie held. Sal graag wil sien wat die volgende storie is.

Groete
12 jaar 8 maande 2 weke 1 dag 5 ure oud


Soe
En toe noem jy die ding by sy naam en nie iets waarmee mens spit nie, dis goed so, ons moet meer die verkeerde aanspreek sonder om bang te wees vir die kritiek wat beslis gaan volg. Groetnis Linnie
12 jaar 8 maande 2 weke 4 dae 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    DIE HIV MOORD

    deur neels claasen

    n Speurverhaal waarin moderne tegnologie n groot rol speel



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar