Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Enigeen wat sê dat ons land ‘n vervelige plek is, weet nie waarvan hy praat nie, en ek het die bewys daarvoor. Ek was ‘n tyd gelede in ‘n motorongeluk betrokke. Nie my skuld nie, want ‘n verdomde student in sy ma se kar het by ‘n hek uitgejaag, natuurlik met ‘n meisie langs hom, en reg voor my beland. Seker verdeelde aandag of te min hande, of so iets. Sy ma bel my toe en probeer my intimideer met ‘n verontskuldiging namens haar leliewit oogappel. Nou ja, ek het haar mooi dog ferm vertel waar die lang gras is en wat sy daar kan gaan doen. In elk geval, my kar is herstel, intussen verkoop, en ek het al vergeet dat ek eendag dalk as ek gelukkig is my versekeringsbybetaling sal terugkry, en dit toe maar aanvaar as een van daardie dinge wat gebeur. So ‘n maand later kry ek toe ‘n prokureursbrief waar hulle nou wil hê ek moet die arme student se ma se skade betaal omdat ek nou kwansuis moes voorsien het dat die bloedjie by die hek uit, en bo-oor ‘n besige straat sou jaag, en dit in spitstyd op ‘n Maandag. Die versekeringsmaatskappy hanteer toe die saak, en ek maak daarmee soos mens maak met sulke SARS “Deur U Verskuldig” briewe, liasseer dit so diep as moontlik in my onderbewuste. Maar helaas, een Vrydagmiddag na werk kry ek ‘n nota aan die hek, van ene, kom ons noem haar maar Bettie, die balju, om haar te bel. Skrik myself simpel, want ek kry mos nie sulke goed nie. Ek het nou wel ‘n bloedverwant wat blykbaar al met soortgelyke dokumente gekonfronteer is, maar dit gebeur nie met my nie, nooit nie. Maak toe maar so op my eie onkoste om te hoor wie ek nou wat skuld, en hoor toe nou dis juis dieselfde ou ongelukkie. Soos mens nou maar is, verontskuldig ek myself onmiddellik, maar Bettie die balju verduidelik toe dat dit maar net procedure is en dat ek nie bekommerd hoef te wees nie, en dit net moet aanstuur vir die insurance. Sy bevestig haar gerusstelling met die voorbeeld van haar eie ongeluk met ‘n vreeslik arrogante outjie wat van agter in haar kar vasgejaag het. Sy sê so terloops dat die arrogansie seker aangeleer is by van die outjie se pêlle wat glo ‘n onbekende hawelose tot die dood toe aangerand het vir pret en so aan, en nou in die hof is. Ek beaam net alles met “o, ja” en “mmmm”, (nie dat ek ‘n kans gekry het om te verskil nie) en uiteindelik sluit sy af en belowe om die dagvaarding die Maandag af te lewer. En ek liasseer die voorval ook daar by die SARS briewe.

Die Maandagmiddag briek ek voor die hek en hier stop so ‘n stewige, korterige vroutjie haar kar agter myne. Ek sien onmiddellik dat ek nie moet moeilikheid soek nie, want ek gaan dit verseker kry. Sy parkeer sommer so in die rylaan, spring uit die kar, druk die gewraakte papier in my hand, en begin praat. En praat sy nie. Vra nie eers wie ek is nie; ek moes seker skuldig gelyk het. Praat met my asof ons mekaar al lankal ken. Kompleet so asof ons voorsate se honde saam derms by die slagplek gesleep het. Jammer dat sy so laat is, sê sy, (so asof ek haar wou sien) maar haar jongste se girlfriend is nou in soort van kraam, en sy is al van sewe uur die oggend by die kliniek om die girlfriend, wat soos haar eie kind is, jy weet, by te staan en so aan, en dié het glo nog nie ontsluit nie, maar het vreeslike pyn, jy weet, en sy is nog pure kind, net negentien, en die sonar wys kraampyne maar nie kontraksies nie, of so iets, (en ek wonder toe oor die sonar wat pyn kan wys) maar die ginekoloog wat sy gekry het, doseer glo iewers en is al grys van die ouderdom en wysheid, jy weet, so hy het baie ondervinding met die soort van ding, jy weet. In elk geval sy het hom in die hande gekry deur met haar eie ginekoloog te praat wat haar eie drie bloedjies die wêreld ingehelp het. Haar ginekoloog is glo al op pensioen. (Ek dink toe, as sy my pasiënt was het ek in Kuba gaan aftree). Sy moes glo eers met dié se vrou praat, jy weet, maar omdat sy nie dié se vrou like nie, het sy aangedring om met hom te praat want sy vertrou hom, jy weet. Anyway, sê sy, maar die kind is nou in die kliniek en die fetus is blykbaar koorsig en moet nou eers antibiotika deur sy Ma inkry, jy weet, en die girlfriend is baie bang vir naalde en pyn, en die girlfriend se are maak sulke besondere kinkels en die nurse sê hulle gaan ‘n klep raak steek en dan is daar groot moeilikheid, jy weet, en vandag se kinders is sommer pieperig, en sy dink dat as die fetus wat net sewe-en-dertig weke oud is nou gebore moet word sal hulle moet sny, jy weet, en dis dalk beter so want die girlfriend sal in elk geval nie die pyn kan vat nie, jy weet. En as die fetus se koors nie gebreek word nie, sal die kind dalk snaaks uitkom, jy weet. (Hoe lyk ‘n snaakse baba? Vra ek myself so in die stilligheid en probeer uit respek of liewer loutere vrees om vir Bettie nie te lag nie).

Maar, sê sy, alles lyk nou okay en sy het die girlfriend se Ma gebel en gesê sy moenie worry nie, alles is okay, en sy het self ‘n klomp kleingoed gehad en weet hoe dinge werk, jy weet, maar jy moet deesdae mos ‘n ginekoloog kry vir ‘n bevalling, jy weet, want ‘n gewone dokter mag mos nie meer help nie, en dit kos duisende rande, en so hulle is gedwing om die regte procedure te volg, jy weet, anders gaan die medies nie betaal nie, en jy weet hoe skelm hulle is en ‘n mens moet so baie betaal, jy weet.

Ek dog eers sy is nou klaar gepraat, maar sy verwissel van rat deur op die ander been te leun en gaan aan sonder dat ek mooi verstaan hoe sy nou by die volgende punt uitgekom het. Ek trek maar aan my sigaret en “mmmm” saam en maak of ek “weet”.

En sê sy, daar is so baie ongelukke in die straat waar sy woon, want, jy weet, dit was eers ‘n enkel straat en toe word dit dubbel en toe nog breër, en die mense ry onverskillig, om nie van eers van die taxi's te praat nie, jy weet. (En sy brei uit oor allerhande padveiligheidsaspekte en ander relevante sake soos die “spietkops” se afwesigheid, wat heeltemal te deurmekaar was om te onthou).

Ek steek toe my tweede sigaret op en gaan sluit die kar af.

Nou ja, sê sy, waar was ek, en keer terug na haar ongeluk met die arrogante outjie wat pêlle is van die klomp wat nou in die hof is, dié se kar het hare glo van agter getref. Sy wou net regs draai, sê sy, en het ge-indicate maar die outjie was te haastig, jy weet. Maar dis niks, (en haar oë rek en sy wys met die vinger) een aand op pad na die dam het sy ‘n XR6 van agter getref omdat die bestuurder toe gebriek het sonder briekligte, en sy het twee flat spots op haar tyres gekry soos sy moes briek. (Sy noem toe ‘n naam van ‘n soort band wat seker in die buitewyke van Mogadishu vervaardig word, nog nooit daarvan gehoor nie.) Nee, sê sy, sy sal nooit weer van daai tyres koop nie, al het die handelaar gratis vervangings aangebied na die ongeluk. Ja, en jy weet, sê sy toe, die AA-man wou help by die ander ongeluk met die arrogante outjie, maar toe sê sy nee en na hy toe al weg is, toe sien sy eers haar linker agter-tyre is flat en toe moet sy dit self omruil, maar om terug te kom na die ander ongeluk, sê sy, toe tref sy die XR6 agter onder die bumper soos sy moes briek met haar vreemde tyres en al op haar Fiat, maar, sê sy, gelukkig was daar nie ander skade aan die XR6 nie, behalwe die duik in die petrol tank. En toe sê die vrou van die XR6 dat haar briekligte gewerk het, kan jy glo, sê sy, (in ‘n ietwat hoër oktaaf) en die poliesman sê toe vir die vrou haar lense is nie eers gebreek nie en hoe kan sy sommer sê haar briekligte het gewerk, en sy moet die briek trap, en weet jy toe werk die briekligte wragtig nie.

Die vrou skep asem en kyk op haar horlosie en ek dog sy is nou klaar, maar is ook terselfdertyd teleurgesteld, want ek wil meer van die spesiale koors-kraamgeval hoor, maar net vir ‘n asemteug lank, want sy trek weer los.

Nee, sê sy, om terug te kom na die girlfriend van haar jongste seun wat nie kan pyn vat nie (nie die seun wat nie die pyn kan vat nie, maar die girlfriend), (die seun was bang vir die tandarts), die meisiekind is amper so bang vir geboortepyne soos haar jongste vir die tandarts was, jy weet. Hy het sommer sy broek bedinges as sy hom wou tandarts toe vat, maar nadat sy van die Skotse tandarts gehoor het, o ja, sy van was McMillan of so iets, jy weet, was die probleme verby, want jy sien, hy het nie die kinders seergemaak nie, en het ‘n TeeVee bokant die stoel laat vasmaak om die kinders te kalmeer, jy weet. (Wonder ek toe, wat nou as jy ‘n vrees het vir goed wat val?) O ja, sê sy, haar nek en rug het seergekry, jy weet, (in watter ongeluk weet ek nou nog nie), maar sy het nie van die Padongelukfonds geëis nie, want dit vat te lank en sy is te besig vir toustaan, en die prokureurs is almal skelm, jy weet, en jy kry anyway omtrent niks uit nie, jy weet. Maar sê sy, jy weet, daardie tandarts van haar kinders wat die kinders nooit seergemaak het nie, maar toe ge-emigreer het, jy weet, herinner haar aan Oom Gert wat saam met haar werk. Hy het glo ‘n lewenslange vrees vir tandartse opgedoen, want ‘n tandarts het hom glo al voor die Oorlog seergemaak toe hy ‘n melktand moes trek, jy weet, en nou is Oom Gert se tande so knit-one-slip-one, net omdat hy te bang is om tandarts toe gaan, jy weet. Maar, sê sy, jy weet, haar seun of skoonseun (ek kan nie meer onthou watter een nie) is ‘n mediese dokter en sê sy moet vir Oom Gert sê, hy moet na tandheelkunde by die universiteit toe gaan vir verniet tande, en die studente oefen glo op mens onder “professorale” toesig en is glo van die beste in die wêreld, en nog verniet ook, jy weet. Al haar krone en goete is juis nou die dag self daar gedoen, jy weet. (Ek vra toe maar liewer nie wat die “goete” is wat die studente aan haar gedoen het nie.)

Ek steek toe my derde sigaret op.

Jy weet, sê sy, die skade is toe derduisende rande (ek lei toe maar af dis aan die Fiat want ek weet nou nog nie waarmee sy in die tweede ongeluk betrokke was nie) en die insurance skryf toe die Fiat af, en toe moet sy met haar BMW ry, maar jy weet, sê sy, sy praat toe mooi met die mannetjie van die insurance en hy laat toe die Fiat regmaak met secondhand parte. Maar, sê sy, dit vat toe so lank want alles moet gesoek en gefit word en so aan, jy weet, en toe moet sy ‘n kar gaan staan en huur om haar werk te kan doen, want die law wag nie, jy weet, en sy moet toe self daarvoor betaal, omdat die insurance haar verneuk het en gesê het sy het die rental option op haar insurance, maar toe het sy dit nie, en jy weet, sê sy, hoe swaar daai BMW op petrol is, en sy moet toe omtrent haar hele salaris spandeer op petrol, jy weet, maar sê sy, om terug te kom na die pieperige kinders en die pyn en so aan, jy weet, haar kinders was mos by daardie wonderlike tandarts wat 40 jaar in die stad gepraktiseer het, jy weet, maar hy is mos terug Skotland toe na die 1994 Revolusie, jy weet, en hy het mos hier geswot en alles, jy weet, en hy is eintlik ‘n rassis, jy weet, en sou nie met die Mandela spul kon klaarkom nie, jy weet, en dié tandarts het nooit die kinders seergemaak nie, maar hulle tandvleise altyd gekielie of iets voor hulle ingespuit is, jy weet. (Klink toe vir my maar bra verdag, so met die tandvleis gekielie en alles.) En, voeg sy by, sy sal nou moet ry want kyk net watter tyd is dit al, en die kind kraam dalk al, jy weet. (Maar sonder om spoed te verloor gaan sy weer aan.) Jy weet, sê sy, sy wou eintlik die arrogante klein snotkop wat haar gestamp het gebliksem het, maar haar jongste seun het haar gekeer, en toe vee sy maar die outjie se bloed met ‘n tissue op, maar sy weet nie hoe hy sy hand gesny het nie, en sy dink hy was op drugs of iets, jy weet, want hy het so getrippel en so aan, jy weet, en toe bel die outjie se Ma haar en vreet haar uit omdat sy so iesegrimmig met die outjie was, jy weet, maar sy was g’n, want die outjie was verseker op drugs, seker dagga of so iets, jy weet (praat sy soos een wat weet waarvan sy praat. En ek raak bekommerd, want weet die vrou dalk wat ek agter die granaatbome kweek?), en hy het glo gesê hy is haastig en wou wegjaag, maar sy bumper het toe aan die sypaadjie vasgehak nadat hy omtrent tot sover as doer onder in die straat gery het, en toe kon hy nie wegjaag nie, en jy weet, sê sy, dis goed so, want sy het nie toe al gekyk wat sy kar se nommer is nie, en jy weet, sê sy (en verander weer van rigting in die monoloog en ek “mmm” net en trek aan my sigaret), noudat ons hier staan, jy weet, die ou bliksem wat hier oorkant woon is regtig mislik, want hy moan as sy die verkeerde klokkie druk as sy die summonses kom aflewer (sien die mense lyk welgesteld met agt voet mure en het ‘n klokkie vir hulleself en een by ‘n ander hek vir die bediendes) en hoe moet sy nou weet by watter hek om in te gaan, en wie is hy anyway, ken hy haar miskien? En jy sal nie glo nie, sê sy, die mense wat hier gebly het waar jy nou bly was regte gemors, vuil en morsig ook, en ook baie groot skelms, jy weet.

Ek verander toe maar my “mmmm” na 'n “nooit” om darem meer geloofwaardig te klink.

Jy weet, sê sy, die vrou het haar eendag met die besem weggejaag, jy moes gesien het hoe het die erf gelyk, maar sy het nie terugbaklei met die vrou nie, want dit sou nie die moeite werd gewees het nie, maar as die vrou nog eenmaal na haar gemik het met daai besem, het sy haar gespuit met haar protection spray wat sy altyd onder haar linker boarm dra, (sy staan weer op die ander been) maar, sê sy, dit laat haar dink aan die nuwe geslag jongetjies (sy het die “K” word in verkleiningsvorm gebruik) wat so hans is na 1994, jy weet. Die geleerdes onder hulle (kwalifiseer sy met ‘n ernstige uitdrukking wat van baie ondervinding getuig), hulle is okay en die ongeleerdes eintlik nog meer, maar die spul tussenin wat dink hulle weet alles, gee net moeilikheid, en dan maak hulle hulleself skuldig aan gesinsgeweld en sulke dinge, en dis ernstig man, jy weet, sê sy, en hulle vrouens en girlfriends (sy het die “M"-woord in meervoud gebruik) lê klagtes en dan moet sy die prosesstukke staan en aflewer, en jy weet, sê sy, dan is hulle windgat en kom nie afsprake na nie, en wie dink hulle is hulle dat sy tot wie weet watter tyd van die nag agter hulle moet staan en aanry, en jy weet, dis nog niks, sê sy, dié van hulle waar sy moet gaan repossess is die ergste, maar anyway die mense wat hier gebly het, skuld nou alweer amper R50 000 agterstallige huur op ‘n huis wat hulle in ‘n ander buurt huur, jy weet, en hulle het wragtig al hulle gemors saamgery, jy moet sien hoe lyk dit daar, jy weet (en ek wonder oor die stelling, want ek WEET mos hoe dit gelyk het nadat die ”beskuldigdes” vort is), en nou is hulle die hel in vir haar omdat sy hulle kwansuis agtervolg, maar dis nie haar skuld nie, jy weet, sê sy, net hulle eie, sy doen net haar werk.

Ek trap my derde sigaret dood en staan nader aan die hek en wonder of ek vir Bettie moet binne nooi vir koffie, maar besluit daarteen nog voor ek klaar gewonder het. Netnou ontstaan hier iets soortgelyks aan gesinsgeweld en met hierdie antie soek jy nie moeilikheid nie, netnou pluk sy ‘n 1938 Chevrolet se “crankshaft” onder haar ander arm uit.

Nee, sê sy, sy moet nou rêrig ry, die kind (die girlfriend van haar jongste seun wat negentien is), kraam dalk al en sy is net sewe en dertig weke swanger en het dalk nog nie eers ontsluit nie, jy weet.

Koebaai, sê sy.

(En ek dink. Dankie Vader sy het my nie van haar egskeiding vertel nie, of dalk waaraan haar man of mans dood is nie, want ek sien toe sy dra nie ‘n trouring nie, maar ten minste WEET ek nou.)

Daniel



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

balju
heerlik ek het net so gelag terapie vir die siel ai ai
10 jaar 2 maande 2 weke 1 dag 1 uur oud


Ek weet nie wanneer laas ek so lekker en aanhoudend gelag het nie!!! Jy moet hierdie stuk laat druk sodat 'n mens dit vir elke depressielyer kan gee ..!!
10 jaar 4 maande 2 weke 5 dae 23 ure oud


Daniel, ek het na 'n ruk met 'n tissue in die hand voor my rekenaar gesit agv al die gelag. 'n Ongelooflike funny artikel met baie waarhede. Hoop om nog sulke stories te lees.
13 jaar 8 maande 1 week 6 dae 23 ure oud



Van ons ander lede

DIE DODELIKE SPEL

deur neels claasen

Speurverhaal waarin luit. Kas Dreyer die moord op n smokkelaar ontrafel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar