Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Maandag was tot 321n.C. die eerste dag van die week. Keiser Konstantyn het Sondag toe egter as die eerste dag van die week verklaar. Die Romeinse week het aanvanklik uit agt dae – die eerste agt letters A tot H van die Latynse alfabet - bestaan, maar word ná Konstantyn se bekering tot die Christendom in ʼn sewedagweek omskep met Sondag as die eerste dag van die week wat deur Maandag gevolg word.
Die Babiloniërs het elkeen van die dae vernoem na een van die vyf planete wat aan hulle bekend was én na die Son en die Maan, ʼn gebruik wat later deur die Romeine oorgeneem is. Maandag was die eerste dag van die week en is gevolg deur Dinsdag of Mars se dag, Woensdag of Merkurius se dag, Donderdag of Jupiter se dag, Vrydag of Venus se dag, Saterdag of Saturnus se dag en Sondag of Son se dag as die laaste en die rus-/ontspanningsdag.
Konstantyn het waarskynlik tydens die konsilie van Nicaea die sewedagweek ingestel sodat dit kon inpas by die sewedagweek van Die Bybel. Die Bybel benoem egter net een dag van die week, naamlik Saterdag wat Sabbat geheet het. Konstantyn was heel moontlik vertroud met die geskrif Germania van Tacitus, waarin Tacitus die Germaanse gode met planete verbind het, maar waarom die weeksdae in die Germaanssprekende lande na Germaanse gode wat sterre versinnebeeld het, vernoem is, bly nog een van die onbeantwoorde vrae.
Publius Cornelius Tacitus, of Gaius Cornelius Tacitus (56 tot 120n.C.) was ʼn Romeinse orator en staatsamptenaar en waarskynlik die vernaamste geskiedkundige en een van die bekendste prosaskrywers wat in Latyn geskryf het. Onder sy werke is Germania, wat die Germaanse volke beskryf, die Historiae betreffende die Romeinse Ryk van 69 tot 96n.C., en die latere Annale, wat handel oor die Ryk in die tydperk 14 tot 68n.C..
Die Germaanse/Afrikaanse dae van die week is deel van ʼn astrologiese tradisie van die benoeming van die dae na die Son, die Maan, en die vyf sigbare planete van die antieke tye. Die benaming Saterdag, wat benoem is na Saturnus, onderskryf hierdie stelling. Wat verskillend is in die Germaanse stelsel is dat die name van Germaanse gode gekies is, en hulle word nie beskou as die versinnebeelding van die relevante planete nie, maar eerder as die eweknieë van die Romeinse gode wat die planete versinnebeeld. So byvoorbeeld is Vrydag vernoem na die Germaanse godin van liefde, Freya, wat as die eweknie van die Romeinse godin van liefde, Venus, beskou word.
Volgens die Oudnoorse en Germaanse mites geld die volgende:
Maandag
Maandag is vernoem na Mani, die mooie seun van die reus Mundilfari. Vergelyk Oudhoogduits Mānetag, Oudnoors Mánandagr en Oudengels Mōnandæg, ‘Dag van die Maan’. Is dit dalk gebaseer op ʼn vertaling van die Latynse naam Dies Lunae? (Vergelyk, die Romaanse vertalings van die naam, Frans Lundi, Spaans Lunes, Romeens Luni, Italiaans Lunedì.)
Dinsdag
Die Germaanse volksvergadering, bekend as die ding(h)/thing is so genoem ter ere van die Oudnoorse Tyr, god van oorlog en beskermheer van die reg (die dagnaam is in Vroeë Afrikaans ook dikwels Dingsdag geskryf). In Oudgermaans was ding ook die benaming vir die openbare behandeling van ʼn saak, volksvergadering en gedingsdag of geregsdag, en by uitbreiding die benaming vir ʼn regsproses en geding.
Tyr was by die Germane bekend as Tîwaz, in Hoogduits as Ziu (vergelyk Grieks Zeus) en in Oudengels Tiw. Vergelyk die dagnaam in Oudhoogduits Zeistag (Ziu se dag), Engels Tuesday (Oudengels Tiwesdæg – Tiw se dag), Oudnoors Týsdagr – Tyr se dag en Oudfries Teunsdag. Aansluitend by die benamings vir hierdie god heet die Baltiese hemelgod Dievs, en in Oudpruisies Dievas. In Sanskrit heet hy Djaus ‘hemelgod’ en word met die Bul vergelyk. Al hierdie name stam uit Indo-Europees deiw- ‘skyn’ en in talle afleidings word verwys na ‘lug, hemel, god’. Tîwaz se voorletter, die runeteken vir T, is in die vroeë Angel-Saksiese tydperk op soldate se wapens geplaas sodat hulle daardeur beskerm kon word. Sy kenmerk is ʼn spies wat die reg as ʼn wapen uitbeeld.
In die Oudnoorse verhaal van hoe Tyr sy hand verloor het, word vermeld dat hy een van die twaalf oppergodhede van Asgard was. Die ‘oppergodhede’, ‘vorste’ in die Henog-verhaal, of ‘helderste ster’ in een van die twaalf sterrebeelde, is net verskillende benamings vir presies dieselfde saak. Die tweede sterrebeeld volgens die diereriem-kalender is Taurus, wat met Zeus in die Griekse mitologie verbind word. Soos reeds aangetoon, is Zeus op sy beurt die eweknie van die Oudnoorse Tyr (die Griekse benaming is moontlik uit die Germaanse vorm afgelei).
Die helderste ster van Taurus is Alpha Tauri of Aldebaran. In Arabies beteken Aldebaran ‘navolger’. Aan hierdie helder rooi, reuse ster het Dinsdag sy naam te danke. Selfs die verlore hand van Tyr kan aan dié sterrebeeld gekoppel word.
Dit word egter steeds aanvaar dat die naam van die dag gebaseer is op die Latynse Dies Martis, ‘Dag van Mars’ (die Romeinse oorlogsgod). Vergelyk Frans Mardi, Spaans Martes, Romeens Marţi en Italiaans Martedì.
Woensdag
Woensdag is vernoem na Wodan (vergelyk Oudhoogduits Wodanstag – Wodan se dag, Engels Wednesday, Oudengels Wodnesdæg – Woden se dag). Wodan is die Germaanse naam vir Odin, die belangrikste Oudnoorse god, heer en meester van die godegeslag, die Ase. Wodan beteken letterlik ‘rasend’ wat dui op raserny en ekstase, en herinner aan die optrede van ʼn kryger tydens die geveg. As god van die dood en van oorlog, het Wodan regeer in die hiernamaals van gestorwe helde en krygers, bekend as Valhalla.
Odin het talle ander byname gehad, onder meer ‘vader van die gode’, ‘vader van die gesneuweldes’, ‘god van dié wat gehang is’, ‘heer van die mense’, ‘vader van die oorwinnings’ en ‘die alwyse’. Hy is ook die god van wysheid en die digkuns. Daarby was hy ʼn meester in die magiese en die runes – hierdie seun van Burr en Bestla uit die geslag van Buri die Boer.
Odin, na wie die derde weeksdag vernoem is, word egter nie verbind met die derde sterreteken van die diereriemkalender nie, maar wel met die vyfde sterreteken, die Leeu of Leo. Dié sterrebeeld stem ooreen met die midwinter-sonsopkomsposisie, of die son se omdraaipunt. Die runehiëroglief vir die sterrebeeld is die pyl of Odin se speer volgens die mites.
Die helderste ster in die sterrebeeld van die Leeu is Regulus of Alpha Leonis – een van die heel helderste sterre in die hemelruim. Die naam Regulus is afkomstig van Latyn en beteken ‘koning’, wat die besondere belang van die ster beklemtoon. Dit is die ster wat Odin, met net een oog wat skitter soos die son, verpersoonlik.
Dit word algemeen aanvaar dat die dag se naam gebaseer is op die Latynse Dies Mercurii, ‘Dag van Merkurius’. Vergelyk Frans Mercredi, Spaans Miércoles, Romeens Miercuri en Italiaans Mercoledì. Hier is die koppeling tussen Merkurius en Odin egter meer opgemors as die ander sinkretistiese koppelings. [Was die rede dalk dat Tacitus Wodan aan die planeet Merkurius gekoppel het?] Die normale verduideliking is dat beide Odin en Merkurius as leiers van siele beskou word in hul onderskeie mitologie. Netsoos Odin in die Oudnoorse mites, word Merkurius ook geassosieer met poëtiese en musikale inspirasie. In Duits word na die dag as Mittwoch (middel van die week) verwys, so ook in Fins as keskiviikko (keski = mid, viikko = week).
Donderdag
Donderdag is vernoem na die Oudnoorse god van weerlig en donder, Thor. Vergelyk Oudnoors Þorsdagr Thor se dag, Engels Thursday Thor se dag, Oudengels Þunresdæg Thunor se dag en Oudhoogduits Donerestag Donar se dag. Volgens Tacitus stem hy ooreen met die Romeinse god en word gevolglik met laasgenoemde gelykgestel. Hy was ook die god van vrugbaarheid, asook die beskermgod van die huwelik en die gestorwenes. Thor was ook een van die twaalf oppergodhede. In die legendes oor Thor is verkeie van die godheid se avonture beskryf.
Thor verteenwoordig die helderste ster in die sterrebeeld die Skerpioen. Antares of Alpha Scorpii is ʼn rooi, halfreëlmatige ster met veranderlike helderheid. Die naam Antares is van Griekse oorsprong en beteken ‘mededinger van Ares’, dit wil sê mededinger van die planeet Mars.
Of is die dag gebaseer op die Dies Iovis, ‘Dag van Jupiter’. Vergelyk: Frans Jeudi, Spaans Jueves, Romeens Joi en Italiaans Giovedì? In die Romeinse panteon is Jupiter die oppergod wat sy mag verkry en behou het met behulp van sy bliksemslag (Fulmen).
Vrydag
Vrydag is vernoem na Frigg, ‘vrug’, en het dan ook in Oudengels Frïgedaeg geheet. Frigg was die vrou van Wodan/Odin en die moedergodin, die godin van die heelal. Sy is ook by die Suid-Germane as Freya bekend.
As moeder van Balder het sy van alles op aarde geweet, behalwe dat ʼn maretak almal en alles se beloftes aan haar dat geen kwaad haar seun sou tref nie, ongedaan sou maak.
Uit die mites blyk dit dat Frigg haar eie paleis in Asgard onderhou het. Die mitiese paleise of wonings van die twaalf hoofgodhede is bloot die mitiese name vir die onderskeie sterrebeelde.
Frigg verpersoonlik die helderste ster in die sterrebeeld die Maagd, naamlik Spica of Alpha Virginis. Dié blouerige ster is een van die vyftien helderste sterre in die hemelruim.
Vrydag kan ook verbind word met Freya uit die Oudnoorse mites. Freya, een van die gyselaar Wane, het nie ʼn sterrebeeld versinnebeeld nie, maar wel die planeet Venus.
Dit blyk dus dat hierdie dagnaam eintlik na twee verskillende mitiese vrouefigure verwys: Frigg wat ook Freya genoem is, en Freya wat in eie reg bestaan het.
Is die dag se naam gebaseer op die Dies Veneris, ‘Dag van Venus’. Vergelyk: Frans Vendredi, Spaans Viernes, Romeens Vineri en Italiaans Venerdì? Venus was die Romeinse godin van skoonheid, liefde en seks. Of is dit vernoem na Frigg ‘Vrug’, Odin se vrou, moeder van die gode en die Godin van die aarde.
Saterdag
Daar word algemeen aanvaar dat Saterdag, die sesde dag van die week, na die sesde planeet vanaf ons son, naamlik Saturnus, vernoem is. Die Latynse naam Saturnus se wortels kan teruggevoer word na die Etruskiese en Germaanse tale. In Duits heet Saterdag Sonnabend, dit wil sê ‘Son se vooraand’, of Samstag die ‘saad of mens se dag’. Die Engelse satur, soos in Saturday, kom uit die Oudfriese woord sater ‘die selfvoldane’.
Saterdag moet waarskynlik gekoppel word aan een van die helder, digte sterretrosse wat net soos die helder sterre deur die maan verduister word. Aangesien drie van hierdie sterretrosse, naamlik Pleiades, Hyades en die Krap Nebula saam met die helder ster Aldebaran (waaraan Dinsdag sy naam te danke het) in die sterrebeeld Taurus aangetref word, kan ons hulle drie buite rekening laat, waarna slegs Praesepe oorbly om aan Saterdag te koppel. Die sterretros Praesepe, ook genoem die Byekorf, maak deel uit van die sterrebeeld Cancer, waarna daar mities verwys word as Sokkvabekk ‘dalende saal, skatkis saal of dalende beek’, ʼn landskap van watervalle waar Saga (sien Die lied van Grimnir) en haar vader Odin, daagliks met goue kelke water uit die stroom van somerherinnering gedrink het. Saga, ‘saga’ van segja ‘vertel’, was die godin van die geskiedenis en tweede hoogste naas Frigg. Praesepe word moontlik mitologies versinnebeeld deur die vierde saal, Sokkvabekk, waar Saga woon.
Hoe is dit moontlik dat Saterdag dan mettertyd aan Saturnus gekoppel is? ʼn Mens kan ook vra of Saterdag nie dalk destyds, soos deur baie eeue heen, die mense se weeklikse baddag was nie en dat Sater, die onsedelike bosgod, daarby betrek was omdat mans en vroue almal deurmekaar by die wasplekke was. Of het gemene mans die vroue afgeloer, soos Dawid gedoen het? Let wel, die Oudnore het Saterdag Laugardagr wasdag, genoem, en by die Yslanders het dit Laugardagur wasdag, geheet.
Omdat bogenoemde vergesog klink, kom ons motiveer dit met die volgende aanhaling uit die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel, naamlik 2 Samuel 11:2–4
2. Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ʼn vrou sien bad. Sy was ʼn mooi vrou.
3. Dawid het oor haar navraag laat doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”
4. Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.
Ná al die bespiegelinge is die benoeming Saterdag waarskynlik eintlik afkomstig van die Oudnoorse reus Suttung. Suttung beteken in Afrikaans saad-angel – angels is die lang stywe, skerp haartjies wat uit die omhulsels van koring, hawer, gars en gras groei. Sut beteken saad – sāt is saad, en sū saai in Oudhoogduits, en tung beteken tong of angel soos in die Engelse woorde tongue en tang. Volgens Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary kom die Engelse tongue van die Oudengelse tunge, en tang van die Oudnoorse tangi. Suttung is dus die een wat toemaak of bedek en verwys na die weste waar die son ondergaan.
Die twee dwerge Fjalar (Verkenner) en Galar (Sanger) was verantwoordelik vir die dood van Suttung se ouers. Hulle het ʼn meulsteen op Gilling (Gele) [Suttung se vader] se vrou se kop te laat val om haar te dood. Fjalar het haar beloof om haar na haar man se verdrinkingstoneel (sonsondergang) te neem, maar Fjalar het agteraf met Galar gekonkel om haar te dood.
Suttung se moeder op wie se kop die meulsteen geval het, verwys waarskynlik na die sterretros Praesepe of die Byekorf, wat deur die maan [meulsteen] verduister word soos vroeër genoem. Heel gepas skenk Fjalar en Galar dan die MEE wat hulle besit aan Suttung as troos vir sy ouers se dood. Dit bring ons op laas waarskynlik by die ware oorsprong van Saterdag se naam – wat te danke is aan die grootste euwel van alle tye, DRANK, die vertrooster van Suttung en die Feesdrank van Suttung se seuns.
Die Romeine vereer Suttung as Saturnus, die god van saai en saad. Die ope vrae bly egter of die bier wat van graan gebrou word, verantwoordelik was daarvoor dat Suttung die groot ou verleier Sātān in Hebreeus en Grieks geword het? Was dit altemit die Jode en Grieke se wrok teenoor hul Onderdrukkers se godheid wat van hom die duiwel gemaak het? En hoe de duiwel het MEE in Grieks METHY, wyn, geword?
Die sterretros Hyades, die Reënbringers, verwys waarskynlik ook mities na Odin se ring, Draupnir, wat vrugbaarheid en voortplanting verteenwoordig het. Dit is dus duidelik dat die twaalf hoofgodhede in die Oudnoorse mites deur helder sterre uitgebeeld is, en dat hul paleise deur die diereriembeelde verteenwoordig is.
Saterdag is die enigste dag van die week wat sy Romeinse wortels in byna al die Germaanse tale behou het. Dit is vernoem na die Romeinse god Saturnus wat verbind word met die Titaan Cronus, die vader van Zeus en baie ander bewoners van Olimpus. In Latyns heet dit Dies Saturni, ‘Dag van Saturnus’. Vergelyk. Frans Samedi, Spaans en Portugees Sábado, Romeens Sâmbătă, en Italiaans Sabato afkomstig van Sabbata Dies, Dag van die Sabbat.
Sondag
Sondag is vernoem na Sol, die Oudnoorse godin wat die Son verpersoonlik het – vergelyk Cornies Dy Sul, en Wallies Dydd Sul. Sy was die suster van die god Mani (die Maan), en haar wa word deur twee perde deur die lug getrek. Met Ragnarok word sy deur die wolf Fenrir ingesluk. In die Griekse mitologie het die songod ewe skielik ʼn manlike karakter gekry en heet os.
Die naam Sondag heet in Oudengels Sunnandæg, ‘Dag van die Son’. Dit is ʼn vertaling van die Latynse sinsdeel Dies Solis. Engels, soos meeste van die Germaanse tale, bewaar die oorspronklike heidense son assosiasie van die dag. Baie ander Europese tale, insluitend alle Romaanse tale, het die naam verander na ‘God se dag’ (gebaseer op kerklike Latyn Dies Dominica). Vergelyk Spaans en Portugees Domingo, Frans Dimanche, Romeens Duminică en Italiaans Domenica.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

OULIK
Hoe bly is ek om my half-kennis op te knap!
GvT
5 jaar 7 maande 2 weke 4 dae 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Kodeks

deur Nini Bennett

Nadat nini Bennett bekroon is as kortverhaalskrywer (RAU-Mardene Marais Prys) en as jeugverhaalskrywer (The International Room to Read Children's Book Competition), debuteer sy met 'n digbundel, Kodeks. Sy was een van die vyf debutante wat genooi is om die Versindaba-fees te Stellenbosch (2011) by te woon. Veral die literator Charles Malan het die bundel hoog aangeskryf.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar