Artikels

Titel: Die dilemma van menswees in Suid-Afrika

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Oor die afgelope 359 bestaansjare van Suid-Afrika is die gemiddelde Suid-Afrikaner deur golwe van geweld en onderdrukking geslyp en gebrei. Verraderlike winde van verandering het ons en ons voorgeslagte heen en weer geslinger. Sommige is verward en verweerd agtergelaat en het hulle geloof in ’n God wat omgee verloor. Ander het uit die as van herhaaldelike vernietiging opgestaan en moedig en gelowig vorentoe gebeur en sodoende stukkies van hulle menswees teruggevind.

As gelowiges glo ons dat God alles op die aarde geskape het. Ons glo ook dat alles met ’n doel geskape is. In Suid-Afrika het Hy byna oorboord gegaan deur ’n ongelooflike verskeidenheid van klimaatstreke, plante, diere en mensegroepe binne in ’n landoppervlakte van 1 219, 912 km² in volmaakte balans te skep.

Naas die verskeidenheid van mensegroepe het God elke individu uniek geskape. Danksy talle psigometriese toetse kan ons vandag presies vasstel hoe ons aanmekaar gesit is. Sommige is gestruktureerd en taakgerig of mensgerig. Ander is ongestruktureerd en mensgerig of taakgerig. Ons praat van regterbrein- en linkerbreinmense ... sensitiewe kunssinniges teenoor koelberekende wiskundiges en wetenskaplikes. Sommige het ’n passie om met kinders te werk ... ander met bejaardes of stukkende mense. Ander wil weer met syfers, diere of plante werk. Ander het ’n passie vir masjinerie. Daar is die sprekers en daar is die skrywers ... diegene met leierseienskappe en die ander wat volgelinge en dienaars is.

Verder verneem ons dat daar vyf maniere is waarop mense die begrip liefde verstaan. Daar is diegene wat aanraking as liefde beskou terwyl ‘n ander die gee van geskenke as ’n teken van liefde ervaar. Ander het weer ’n behoefte aan effektiewe kommunikasie terwyl die vyfde groep kies om mekaar met liefdesdade te dien.

As gevolg van die feit dat eggenotes uit huise met verskillende ouerskap- en leefstyle kom en as individue van mekaar verskil, sal elke huisgesin se samestelling van dié van ander huisgesinne verskil. Binne hierdie bestaanskern van menswees kan ons dus nie anders as om konflikte, misverstande en gebrekkige kommunikasie te verwag nie. Onvoorwaardelike liefde is dié komponent wat gesinne aan mekaar laat kleef. Waar liefde ontbreek, vind verbrokkeling plaas.

Kultureel gesproke vind ons onder die blanke bevolking ... naas die Afrikaners en Engelse ... ook Hollandse-, Duitse-, Franse-, Griekse-, Portugese- en ander kultuurgroepe wat oor die afgelope drie eeue as immigrante hier kom vestig het. Heelwat ondertrouery het tussen hierdie groepe plaasgevind.

Die Swartmense van Suid-Afrika bestaan uit vier groepe, naamlik die Nguni (Swati, Zulu, Ndebele, Mfengu, Mpondo, Mpondomise, Thembu, Xhosa); Sotho-Tswana (Lozi, Balobedu, Bapedi,Batswana); Vhavenda en Shangana Tsonga.
Binne die kleurlinggroep is daar die Griekwas, Korannas, Namas, Khoi-khoi, maleiers en Sanmense ... Sommige is rassuiwer terwyl baie ander se bloed vermeng is met dié van ander Suid-Afrikaanse mensegroepe. Dan is daar ook nog die Asiërs: die Indiërs, Pakistane en Chinese.

Elke mensegroep het dus naas sy persoonlike leefstyl ook sy eie taal en kultuurgewoontes waarin hy sy menswees uitdruk. In die binnekring van die onderskeie swart-, wit- en bruin gemeenskappe is daar dus groot kultuurverskille wat tot onderlinge verskille en geskille aanleiding gee.

Wat ons menswees verder bemoeilik is die groot getal gebroke en saamgestelde gesinne wat vandag regoor die spektrum van ons Suid-Afrikaanse gemeenskap voorkom. Duisende kinders word sonder ’n vaderfiguur groot. Baie weet nie eens wie hulle pa of ma is nie. Elke keer as ’n geskeide persoon hom- of haarself tot ’n nuwe verhouding verbind, word hy of sy deel van ’n ander vorm van leefstyl wat tot verdere verwarring by die volgende geslag bydra. Voeg daarby die toenemende voorkoms van gesinsgeweld, werkloosheid en gevolglike armoede, en ons kan met reg bely dat ons ons in ‘n disfunksionele samelewing bevind.

Bo-op al die vermelde bestanddele wat op ons menswees inwerk voeg ons nou die rasseproblematiek. Mense met radikaal verskillende taal- en kultuurgewoontes bevind hulleself op ’n daaglikse basis as kollegas, werkgewers of werknemers, of bloot as verbygangers op dieselfde perseel. Elkeen het as individu by wyse van persoonlike ervaring of oorlewering van sy gesin of mensegroep sy eie verwysingsraamwerk ten opsigte van die ander groep. As gevolg van ’n gebrek aan kennis en begrip vir die ander groep se kultuurgeskiedenis en ervaringswêreld ontstaan spontaan bevooroordeling en veroordeling van die ander mensegroepe. Wedersydse, liefdelose optredes lei uiteindelik tot openlike geweld en bloedvergieting.

In teenstelling hiermee is daar ’n kleiner groep wat moeite doen om mekaar oor rasgrense heen op persoonlike vlak beter te leer ken deur die spreekwoordelike tweede myl saam te loop. Hulle sal by mekaar kuier, of op gemeenskaplike belange soos godsdiens, musiek- of sportbeoefening konsentreer, en sodoende ’n beter begrip en respek vir mekaar se leefwyse ontwikkel. Die optrede van hierdie groep mense word dikwels deur hulle eie groep misverstaan en veroordeel. Tog vind mens dat daar beter samewerking bestaan waar mense bereid is om hierdie rigting in te slaan.

God se Woord leer ons dat Hy aan die mens die verantwoordelikheid gegee het om oor Sy skepping te heers. Die mens moes dus God se Bestuurder op aarde wees. Van ’n bestuurder word verwag om met respek met sy eienaar se besittings om te gaan en die onderneming volgens sy voorskrifte te bestuur. Ten einde aan sy verwagtings te voldoen, moet die bestuurder tyd in die eienaar se teenwoordigheid spandeer ... vrae vra en wag op antwoorde, totdat hy volkome begrip het wat van hom verwag word. Samewerking tussen eienaar en bestuurder is dus van kardinale belang om die onderneming te laat slaag. Dissiplinêre stappe word geneem as die bestuurder en sy kollegas nie hulle fokus op die uitgestippelde doelwitte bepaal nie.

As God se bestuurders het God aan ons sy Woord as riglyn gegee. Eers het hy deur individue tot sy volk gepraat. Hy het sy volk gedissiplineer as hulle hul fokus weg van Hom na die wêreldse verleidelikhede verplaas het. Later het Hy vir Christus as nederige dienaar en Verlosser gestuur as ’n laaste liefdespoging om sy volk se fokus op Hom te rig. Na die hemelvaart is die Heilige Gees in die harte van sy kinders uitgestort om hulle verder te lei en te onderrig. Vandag is die Woord op Skrif sowel as deur die Heilige Gees elke oomblik tot ons beskikking om ons te begelei om ons lewe volgens God se skeppingsdoel te rig.

Die vrug van die Gees stel ons in staat om met vrede in ons harte ons medemens en vyand lief te hê ... om selfbeheersing aan die dag te lê ... om geduldig met mekaar te wees ... om nederig op te tree ... om getrou te bly ... om goedhartig teenoor ons naaste op te tree en onder alle omstandighede blymoedig te bly (Gal. 5:22). Steeds dissiplineer ’n liefdevolle God vir ons deur droogtes, peste, siektes, bankrotskap of die dood van ’n geliefde oor ons te bring asook deur toe te laat dat ’n vreemde nasie oor ons heers (Deut. 28). Dit alles doen Hy uit liefde omdat Hy net die beste ... die ewige lewe ... vir ons almal begeer. Dié erfenis kom egter nie goedkoop nie ... dit vra algehele gehoorsaamheid aan Hom.

Oor al die eeue heen bly God se beloftes vas staan. Oral waar mensegroepe en nasies hulle sondes bely ... wegkeer van hulle verkeerde weë en na God terugdraai, verander Hy hulle lot. Hy herstel die natuur en gee vir almal vrede en voorspoed (2 Kron. 7:2-14). Die volgende ware gebeurtenisse het die afgelope 20 jaar plaasgevind.

In Guatamala, waar afgodediens hoogty gevier het, was die landbougrond arm en die gemeenskap van een spesifieke dorpie kon net een vrag groente per maand aan die mark lewer. Nadat hulle hul sondes bely het en hulle na God gekeer het, het die land vrugbaar geword en het die boere hulle grond met meer wysheid bewerk. Sedertdien lewer hulle weekliks groente van “Bybelse proporsies” aan die mark van Guatamala.

In Fuji het daar tot die jaar 2005 mensvreters en vuurlopers bestaan. Op die een eiland is die sendeling ... sir Thomas Baker ... jare gelede vermoor. Zenofobie het tussen die inheemse mensegroepe en die Indiërs bestaan wat daaglikse geweld en brandstigting tot gevolg gehad het. Dagga is op groot skaal verbou en uitgevoer. Die land was in ’n wurggreep van algehele agteruitgang gewikkel. Die vrugtebome het opgehou dra. Die visse het uit die see verdwyn. Die riviere het giftig geword. Na opregte berou en ’n radikale ommekeer na ’n geheiligde lewe met God het die natuur wonderbaarlik herstel en skole visse soos nooit voorheen gesien is nie, het die eilande se waters binnegedring. Kolossale vrugte het aan die bome gegroei en die waterstroompies het binne twee weke vars en vrolik oor die eilande gekabbel. Vandag is die Fudjiaanse rugbyspan bekend vir hulle gebedsbyeenkomste en Christelike voorlewing tydens internasionale wedstryde.

In die Bybelse geskiedenis wat oor meer as vierduisend jaar geskryf is, is God se volk telkens aan hulle geskiedenis herinner. Beide hulle sondes en hulle goeie dade is uitgelig om hulle aan God se sëen en dissiplinering te herinner. Telkens nadat hulle hul van verkeerde dade bekeer het, het God hulle vergewe en het hulle weer voorspoedig gemaak.

Ons het ook as familie, mensegroep en nasie die verantwoordelikheid om mekaar aan die goed en sleg van die verlede te herinner ... om op te hou om die skuld vir alles wat verkeerd gaan op ander te pak en eerder introspeksie van ons eie lewe en ons groep se aandadigheid aan wandade te doen en om ons saak met onsself, ons naaste en God reg te maak.

Ons enigste blywende hoop op oorlewing is om as nasie by die Ware Wingerdstok ingeëent te word. Dit sal verseker dat ons as nuwe mense as ’n eenheid nuwe herinneringe vir die toekoms van Suid-Afrika sal kan skep. Dit vra van ons om ons familie-, mensegroep- en nasie se geskiedenis te ken en te verstaan; om te bely wat verkeerd is en om saam aan ’n nuwe toekoms in Christus te werk.

BRONNE

Bugbee, Cousins & Hybels (2002), Netwerk: Deelnemersgids, 4 Images Design & Printing, Pretoria.
Chapman, Gary (2006), Vyf tale van die liefde, Cum.
Die Bybel, 1983-Vertaling, Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Otis, George, Let the Sea Resound (DVD)
Otis, George, Transformation (Video).
Silvoso, Ed, Transformation in the Marketplace (DVD)
En.wikipedia.org/wiki/ Bantu speaking people of South Africa.
Af/wikipedia.org/wiki/ Suid-Afrika
 



Kommentaar

Menswees
Goeie artikel L.T. Dit is nie God wat die mens vergeet het nie, is die mens wat God vergeet het.
1 jaar 4 maande 6 dae 2 ure 37 minute oud


Die dilemma van mens wees in Suid-Afrika.
Wensdenkery. Selfs die Amerikaners kom dit na eue agter.
1 jaar 4 maande 6 dae 8 ure 5 minute oud


Menswording
Baie dankie vir jou kommentaar, Ontluiker, Ek stem 100% saam met die dilemma van die ongelowiges. Ek het in my skrywe op gelowiges gefokus en besef terdeë dat die "kerkmense" se voorlewing nie altyd Goddelik is nie. Daar is natturlik ook die dilemma dat ons nie altyd bewus is van die ongelowige se behoeftes en ervaringswêreld nie. Gevolglik tree ons soms onbewustelik verkeerd teenoor hulle op. Neem maar net die manier waarop die Moslem sy Koran hanteer teenoor ons fisiese hantering van die Bybel. L.T.
1 jaar 4 maande 1 week 12 ure 8 minute oud


Menswording?
Beste L.T.,

Baie dankie vir jou artikel. Ek het baie daarvan gehou. Dit is omdat dit so baie van my eie insigte aanraak.

Maar wat van die baie mense wat nie glo daar is 'n God nie, of miskien erger, dat God dood is of nie meer aandag aan die wereld gee nie. Hulle ervaringe is dieselfde as van gelowiges. Maar hulle verwerking daarvan is heel anders.

Hoe kan hulle verwerking verander? Die Hebreer brief gee 'n pragtige opsomming van die hele Ou Testament. Geloof is kennis en vertroue.

Die onderste laag van alle kennis is ervaring. Dit is hoekom God in Jesus mens geword het. Hulle ervaringe saam met Hom en hoe hy dit verwerk het, het tot ware kennis van God gelei. Daarom, as ons vandag mense wil begelei na meer ware kennis van God, moet ons in elke geleentheid vra wat Jesus sou gedoen het.

Wat betref vertroue, het ek baie meegevoel met hulle. Die bybel het 'n verstommende boodskap. Moenie op iets anders as God vertrou nie. Hulle het deur ervaring ontdek dat hulle nie op Christene kan vertrou nie.

Maar hulle het nie kennis dat hulle God kan vertrou nie. Die gepraat en geskryf van 'n biljoen christene kan niks daaraan doen nie omdat dit nie tot ervaring lei nie. Die rede is eenvoudig soos Jakobus bevind het: dit is woorde en nie dade nie.

Watter dade sal tot die kennis lei? Bestudeer weer Jesus. Dade wat voortvloei uit onvoorwaardelike liefde. Wat is kenmerkend van die liefde? Dit is heilig. Heilig en helig (heel, geheel, een) kom van dieselfde oerstam. Die geheel is nie net christen gelowiges nie, maar alle ander soorte, ingesluit mense wat nie glo God bestaan of Sy skepping bestuur nie. Daar is nie eers een geval in die NT wat die teendeel vertel van Jesus nie.

Nou waarom was Jesus so uitgesproke oor die fariseers en geldskieters? Omdat hulle vir hulself gode gemaak het in die plek van God. Een vir eersug en een vir hebsug.

Helaas, alles wat ek geskryf het is geen dade nie, behalwe vir die skryf self. Daarom verwag ek nie dat mense sal begryp wat ek skryf nie.

Mooi loop
At de Lange
1 jaar 4 maande 1 week 14 ure 47 minute oud



slavin

deur Maangodin

Annelise, die skrywer van Maanvrug, is terug. Ná haar eksoties-metafisiese reis deur die hiernamaals in Weerloos speel slavin weer in die bekende wêreld van hedendaagse Suid-Afrika af. slavin bevraagteken die definisie van normale seks en die aanvaarde sienings oor seksualiteit. Dit streel en verlei, daag uit en wonder. slavin is weereens net vir volwassenes. Eroties Afrikaans.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar