Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

0. Inleiding

Een van die groot brandpunte van die oomblik. Veral na die uitinge van Regter Gerhardus Hattingh by die uitspraak op die mans wat skuldig bevind is aan die moord op die vierjarige Makgobo Matlala. Hierdie saak het ‘n hoë profiel gehad omdat die jong slagoffer ook die kleindogter van hoofregter Ngoepe was.

Die walglike aard van die moord bring natuurlik die vraag van die doodstraf weer na vore.

Die natuurlike drang na wraak in die lig van so ‘n afgryse bring al hoe harder uitroepe vir die herstel van die doodstraf. Statistiek woord oor en weer aangehaal en af geweer oor die effektiwiteit van die doodstraf as afweer teen gruweldade.

Hierdie artikel wil nie die sielkundige of maatskaplike vrae direk aanspreek nie. Wat ek wel wil poog om te doen is twee vrae tegelyk uit die Skrif probeer antwoord. Is die doodstraf Skriftelik gefundeer, en is dit ooit geregverdig. Hierdie dubbel vraag is baie belangrik, want dit dwing ons om uit te vind of daar ‘n ewolusie in die Skrif bestaan met betrekking tot die vraag.

1. Lewe vir Lewe

Die beginsel van die lex talonis, of wet van die klou, word dikwels aangehaal in die opsig. Die tekste, Eksodus 21:23, Deuteronomium 19:21is duidelik dat lewe vir lewe verhaal moet word. Numeri 35:31 versterk dit nog meer deurdat enige mindere straf verbied word, “‘n Moordenaar wat skuldig bevind is, moet tereggestel word. Hy kan nie ‘n loskoopboete betaal nie” (alle Skrif aanhalings is uit Die Boodskap, tensy anders aangedui word).

Die laaste teks aangehaal, uit Numeri, gee in dieselfde vers heelwat riglyne en kontekstuele leidrade. Die halsstraf is nie summier nie, daar word ‘n skuldigbevinding vereis. Indien daar wel verantwoordelikheid is vir ‘n menslike sterfte, is daar altyd skuld vir moord aan betrokke. Herken die skrif uitsonderinge, indien so, waarom?

Hieruit kan ons onmiddelik tot die insig kom dat die lex talonis in sy aard beperkend is en nie toegewend nie.

2. Beperking

Laat ons eers besin oor die formulering van die lex talonis in Eksodus 21:23.

Dit val in dié deel van die boek Eksodus wat bekend staan as Die Verbondsboek. Dit is die oudste stel wette in die Skrif en verteenwoordig ‘n vroë stadium van Israel se wette. Hulle posisie in die Skrif wil daarop dui dat die wette tussen hoofstuk 21 en 23 pertinent daargestel is vir die woestynwandeling. By die intrede tot die beloofde land sou die wette in Deuteronomium van krag wees. Ons moet dus eerstens besef dat daar wel ‘n vervaldatum was vir die eerste uitgawe van die Verbondsboek.

Ook besef ons, by nadere lese, dat die lex talonis hier in die konteks van skadevergoeding tenoor ‘n onskuldige slagoffer geformuleer word. Die wet volg op die beskrywing van ‘n verskil tussen twee mans wat tot geweld oorgaan en ‘n onskuldige vrou kan betrek, met noodlottige gevolge. Indien sy sou sterf of beseer word geld die lex talonis. Behalwe vir die neem van lewe sou geldelike vergoeding vir die toedien van wonde geld, soos gesien kan word in die prinsipiële beskrywing in verse 26 en 27 met betrekking van die wonde wat slawe sou ontvang. Daar sou skade hulle vrylating waarborg.

Hier het ons dit dan dat die wette ten doel het om geweld te beperk en vergoeding teenoor die onskuldiges te verseker. Dit is dus nie ‘n oorkoepelende toestemming nie, en het net te doen met die konteks van geweld wat ‘n vroulike bystander betref, of om geweld teen slawe te beperk.

Is daar dan enige ander aanduiding van gevalle wat die halsstraf dra?

2.1 Doodstraf Gevalle

Vroeër in die Verbondsboek vind ons vier gevalle wat die halsstraf afdwing, hulle is bevat in Eksodus 21:12-17 en 22:18. Die een geval, die dood van ‘n mens, het drie onderafdelings. Eerstens geweld met noodlottige gevolge, tweedens mensslagting in die hitte van emosie en derdens moord met voorbedagte rade.

Mensslagting het nie die halsstraf tot gevolg nie omdat plekke van skuiling opgerig word in die wet vir sulke gevalle. Noodlottige geweld met die bedoeling om dood te maak het die straf tot gevolg en moord met voorbedagte rade word onder geen omstandighede verskoon nie. Ons sal dan weer terug moet keer tot die vraag van hoe die proses van suldberkening daarvan uit sou sien, aangesien dit hier as vanselfsprekend sou moet wees.

Die tweede geval is die ontvoering van ‘n mens met dit ten doel om die mens tot slawerny te onderwerp Eks 21:16. Letterlik sou die teks op die ontvoering van ‘n man dui. Die teks is nie net gerig op die ontvoering van ‘n mede Israeliet nie, dit dui net op “man”. Die medewerking met die ontvoering van mense vir slawerny het, in alle gevalle, die halsstraf ten volge in hierdie teks. Een van daardie tekste wat vir eeue lank ongehoord gebly het in die weste en Christen ryke.

Die derde geval omarm die geval van ontvoering. Eksodus 21:15 en 17 gee weer dat die mishandeling van ouers, of met geweld of met woorde, met die doodstraf strafbaar was. Hierdie opdrag word verder uitgebrei in Deuteronomium 21:18-21, waar die opstandige seun ook tereggestel sou word.

Binne die gebied van Judaïsme word takanah, of aanpassing van die wet in hierdie laaste gevalle toegepas. Dit is ‘n beginsel van interpretasie wat die maatskaplike agtergrond van die tyd van die formulering van die wet in ag neem en dit meet teenoor huidige omstandighede. Ook word in ag geneem of die Here in Skrif redes vir die wette openbaar het, indien ‘n rede onderskei kan word. Volgens daardie beginsels is daar bevind dat, veral die Deuteronomium teks nie meer eerbiedig moet word nie, aangesien dit in ons huidige omstandighede tot ‘n onsinnigheid verval het.

Verdere gevalle in die Verbondsboek het te doen met ‘n spesifieke afgryse waarby diere betrokke is (Eksodus 22:18).

Die oudste vlak van die wet, wat die woestynwandeling beheer, het dus baie beperkte gevalle waarin die doodstraf geld. Selfs die direkte dood van ‘n mens aan die hande van ‘n ander het skakerings van skuld en verantwoordelikheid, en die lex talonis kan, met uitsondering van moord, oorgaan tot ander vorme van vergoeding.

2.2 Doodstraf Gevalle in ander dele van die Wet

Soos al gestel is, vorm die Verbondsboek die vroegste laag van Israel se wet. Ons moet dus ook na ander afdelings kyk. Weereens moet ons ingedagte hou die nadere konteks van waar die wette bevind word. In Eksodus en Numeri is daar uitbreidings van die wet met betrekking tot die woestynwandeling. Dit is slegs in Deuteronomium waar die wet betrekking het tot die bedeling wat in die beloofde land geld. Dit is daardie wette wat meer toepaslik sou wees in ‘n bestel waar daar wel ‘n politieke staat met grondgebied bestaan.

Levitikus is ‘n uitsonderlike geval tot hierdie patroon, die wette daarin bevat het deels te doen met die woestynwandeling en ten deels met die diens van God in die konteks van die Tabernakel en die Tempel, wat beide die woestynbestel en die politieke bestel van die land oorkoepel.

In Eksodus 31:14 en 15 word die ontering van die Sabbat gestraf met die doodstraf.

In Levitikus 20:2 word die afgodsdiens van Molek bestraf. Hierdie diens het, volgens die teks, met die offer van kinders te doen, wat die rede tot die wet verskaf.

Levitikus 20:9 herhaal die wette van Eksodus 21:15 en 17. Die volgende vers, 10, spreek die straf uit oor beide betrokkenes in die sonde van owerspel. Levitikus 20:15 herhaal Eksodus 22:18, met die wysiging dat die betrokke dier ook geslag moet word. Misbruik van die Naam van God word in Levitikus 24:16 het die dood tot gevolg. ‘n Slag wat die dood van enige mens tot gevolg het word in Levitikus 24:17 met die dood gestraf. Alle mense onder die banvloek word in Levitikus 27:29 tot die dood veroordeel, sonder die moontlikheid van loskoop. Ook in Levitikus 20:11, 12, 13 en 16 het ons met die gevolge van sekere gevalle van onkuisheid te doen. Levitikus 20:27 spreek ook die straf uit oor enigiemand wat magie beoefen en met die geeste van ontslapenes poog te kommunikeer.

Levitikus 21:9 spreek die doodstraf, deur vuur, uit teenoor ‘n dogter van ‘n priester wat onkuis is.

Die Sabbatbreuk word in Numeri by wyse van ‘n geval met die dood gestraf (Numeri 15:35). Dit is veral ‘n kenmerk van Numeri dat die wetgewing aan die hand van spesifieke gevalle plaasvind. Numeri 35:15-33 het te doen met spesifieke gevalle van menslike dood wat die wette van Eksodus 21 uitbrei met verwysing na spesifieke gevalle. Hier word die bestaan van toevlugsoorde ook beskryf, en ook die proses van ondersoek en skuldigbevinding. Die lex talonis word nie sonder proses afgedwing nie.

Buite die wet word die doodstraf ook uitgeroep vir ‘n eenmalige geval in Rigters 21:5. Esegiël 18:13 brei die doodstraf uit om die verhalers van rente in te sluit.

2.3 Die Formulering van die Straf

Die gevalle wat ons hierbo ondersoek het, het die beslisde vorm van Hebreeus as formulier. Letterlik vertaal sou dit lees “dood sal hy gedood word”. Daar is ander formuliere wat ‘n mindere trefkrag het.

Steniging word in twee gevalle afgedwing, die geval van die oproerige seun in Deuteronomium 21 en dan ook in Deuteronomium 13:7vlg vir die mens wat ‘n broeder Israeliet uitlok tot afgodery.

Verdere voorstelle tot die doodstraf kom voor in die geval van valse profete in Deuteronomium 18:20, verkragting (net vir die man) in 22:25, ontvoering met slawerny ten doele in 24:7.

‘n Spesifieke geval van die doodstraf kom in Deuteronomium 17 voor, dit vir afvalligheid, wat die straf van Eksodus 22:20 eintlik versag. In Deuteronomium word afvalligheid met die dood van die afvallige gestraf, in Eksodus word die afvallige en al sy goedere onder die ban gebring, dit wil beteken dat alles ten volle vernietig word. Hier sien ons dat die omvang van die vroeëre wet deur ‘n latere versag word. Eksodus word aan Moses gegee by die berg en Deuteronomium vind ons op die lippe van Moses voor die intrede tot die land.

‘n Voorval van ‘n straf kom ook in Eksodus 22:18, waar ‘n vrou (op ander plekke word sodanige mans ook betrek) wat toorkuns bedryf, “nie mag bly leef nie”. Die Rabbi’s sou dit verklaar (in die afwesigheid van ‘n duidelike formulier wat op die doodstraf sou dui) dat sy nie mag bly leef van hierdie tipe inkomste nie. Met ander woorde dat haar toorkuns nie finansiële steun van ander sou geniet nie – ‘n towenaar benodig ‘n mark vir haar produkte – weerhou die mark en die probleem los op. Hierdie vroeëre en sagter lese van die verbod op magie sou oor die latere en harder opdrag in Levitikus 20:27 verkies word. Ongelukkige het ‘n te bloeddorstige lese van hierdie teks met Levitikus 20:27, deur Christene, tot die dood van menigte vrouens in Europa en Amerika gelei.

Terwyl ‘n latere wet die vroeëre versag en ‘n vroeër wet sagter is as ‘n later, geniet die sagter vorm van die wet voorkeur, as gevolg daarvan dat die menslike lewe onder alle omstandighede ‘n waarde het. Dit sien ons aan die hand van die manier waarop booswigte behandel word.

2.4 Booswigte en wat hulle Toekom

Eksodus 22:1-2 beskryf inbraak. Indien dit in die nag plaasvind, wanneer mense te huise sou wees, moet aanvaar word dat die booswig wel geweld of dood ten doele sou hê indien hy gekonfronteer word. Sy dood dra dus geen gevolge vir die huishouding nie. Indien hy in die dag gedood word is die huishouding verantwoordelik, aangesien dit aanvaar moet word dat die daad, in die dag gepleeg, nie met voorberade van geweld teen die slagoffers was nie.

Ook in Eksodus 22:37 word vergoeding vir die steel van ‘n os as vyf stuks gestel en vir ‘n skaap as vier. Joodse kommentaar dui daarop dat die os ook ‘n trekdier is, sodat die verlies van die os ook tot ander verliese in arbeid lei, daarom dat die vergoeding dit in ag moet neem. Om ‘n os te steel moet hy net weggelei word, om ‘n skaap te steel moet die dier opgetel en gedra word. Indien die dier sou paniek is daar ook onwelruikende gevolge vir die draer en word sy waardigheid verminder, omdat die dief al klaar die verlies van waardigheid ondervind het, word hy tot ‘n mindere mate gestraf as die os dief.

Hierdie twee groepe wette in die Verbondsboek het tot gevolg dat Joodse skrifkenners dit uitlig dat die wet van God ook prinsipieel beskerming bied aan die boosdoener en poog om sy waardigheid, as geskape in die ewebeeld van God, ook te eerbiedig.

3. Die Uitvoer van die Doodstraf

Hier moet ons dan besin hoe die straf tot uitvoering sou kom. Daar word ons ook gelei in die boek Deuteronomium. In Deuteronomium 17:6-7 het ons die wet wat die uitvoering van sodanige doodstraf beheer. Ek haal dit in sy geheel aan:

Maar jy mag nooit iemand doodmaak net omdat een persoon sê dat hy dit gedoen het nie. Daar moet altyd ten minste twee of drie mense wees wat gesien het dat die persoon iets afskuweliks gedoen het. Die mense wat kom vertel het dat die persoon so iets gedoen het, moet altyd die eerste klippe gooi om die persoon dood te maak. Dan moet die ander mense in die dorp ook die persoon met klippe gooi.

Die uitvoer van die doodstraf word dus ook streng beperk in die Ou Testament. Die hoof getuies van die daad (van die daad, nie indirekte bewyse nie) moet die straf in aanvang bring en ander aangedanes moet dit tot uitvoering bring.

Weereens sien ons dat ‘n eng beperking van die moontlikheid van die straf hier die leidende doel is.

4. Opsomming

Wat ons dan in die Ou Testament vind is dat die wet dit ten doel het om sulke beperkings op die moontlikheid van die doodstraf te plaas dat dit, redelikerwys, nie uitvoerbaar is nie.

By eerste oogopslag bestaan dit in die Skrif, by nadere lese sien ons dat dit eintlik onmoontlik is, waarom?

Om ons te betrek in ‘n proses van groei. Ons bloeddorstige self voel aangetrokke tot wrok. Om wraak te neem teen iemand wat ons oneindig pyn veroorsaak het is maar net doodnatuurlik, ons sal nie luister na enige beroepe tot redelikheid nie, daarom kom die wette om ons in die gevoel van wraak vas te gryp en te lei na die plek wat die Here eintlik wil. Die Rabbi’s maak ‘n soortgelyke stelling oor die boek Levitikus, waarin soveel dierebloed gegiet word. Dit is die eerste teks waaraan kinders blootgestel word in hulle studie in die Joodse geloof, omdat die opdrag vir soveel offers aan ‘n mensdom in hulle kinderlike stadium openbaar word. Die Here gryp aan in hulle verwagtinge van hoe ‘n god moet optree en lei hulle, stelselmatig, deur die stappe van openbaring tot ‘n groter menslike integriteit wat nie meer tot bloedoffer hoef te wend nie.

Daarom dat ek voorstel dat die tekste oor die halsstraf ewolusionêr gelees moet word. Dat ons dit moet poog om te sien waarheen hulle, in die geheel, lei en nie net wat elke instansie van die Bybelse wet sê nie. Hulle lei ons, genadiglik tot die afskaffing van die doodsvonnis, daarom beaam ek dat die afskaffing van die doodsvonnis eg Bybels en verantwoordelik is en dat Christene, in gehoorsaamheid tot die Skrif die huidige afskaffing van die doodsvonnis moet onderhou.

Hier het ek net oor die Ou Testamentiese gebruik gepraat. In die Nuwe Testament is daar drie persone wat wel tereggestel word, Johannes die Doper, Jesus en Stefanus. Almal is wederregtelik gedood, buite die bepalings van die wet van die Ou Testament. Hulle gevalle dien as verdere waarskuwing teen die doodstraf as maatskaplike werklikheid. Dat die verkeerde mense vir die verkeerde motiewe deur die verteenwoordigers van gemeenskap en staat gedood kan word, behoort ons tot nadenke te bring.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Miskien was daar minder moordenaars, toe die doodstraf van krag was of dalk was die meeste sulke dade nie deur die regering geopenbaar nie. Die wêreld is in chaos met kriminele en moordenaars en veral ons land, maar miskien is die doodstraf nie die finale antwoord nie. Dalk moet ons by basiese dinge begin om die samelewing te verander en weer respek vir ander en vir hulle goed laat terugkeer.
10 jaar 1 maand 3 weke 1 dag 20 ure oud


dis so maklik
om te skreeu maak dood, maar dink die mens wat so skreeu ooit aan die een wat die vonnis so opgele moet voltrek? Aan diegene wat daar staan wat die kappie moet oortrek, die krete en smekinge moet aanhoor van die een wat in doodsvrees is? Nee, hulle doen nie. Van een wat die pad gestap het, een wat die dood ken, dit gedien het..m
10 jaar 1 maand 3 weke 2 dae 13 ure oud


Dankie vir die insiggewende artikel. Ek wens hierdie was 'n maklike saak en dat almal regoor die wereld oor hierdie onderwerp tot beslissing kon kom. Mag ons altyd ons instinkte volg op die een! Ek glo sonder twyfel in God en 'n groter wereld en ek weet dat ons verskillende dinge verskillend kan interpreteer ongeag ons godsdienstig is of nie. Ek dink net altyd aan die voorbeeld wat Jesus gestel het toe Hy gekruisig is. Hy het God gevra om Sy vyande te vergewe omdat hulle weet wat hulle doen nie. Ek dink ons moet ons skuldenaars vergewe omdat dit is wat ons bid en dit is wat ons Redder doen al klink dit ookal hoe moeilik. Ons (regering) is hier om straf op te le. As ek nie mag oordeel nie, dink ek nie ek mag veroordeel nie! Dankie vir jou stuk. Dit draai nou in my kop!
13 jaar 3 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


die doodstraf
Hi

(jammer, iets het verkeerd gegaan in my eerste poging!) Dankie vir 'n stukkie teologiese besinning en nie 'n preek nie. (Miskien kan dit nog gaan. Sien my stukkie onder happies: Christelike bydraes.) In elk geval: Alhoewel ek nie 'n voorstander van 'n evolusionêre lees van die Bybel is nie wil ek saamstem dat 'n mens nie die Bybelse gronde vir straf net so op ons samelewing kan toepas nie. Vir my gaan dit, wanneer die Bybel ter sprake kom, oor kulturele - antropologiese verskille ten opsigte van etiese vraagstukke in die samelewing waarmee jy tog handel. Dit gebeur net nie in die vorm van 'n evolusionêre beweging vir my nie maar eerder die wyse waarmee die mens in en uit 'n spesifieke konteks met die gode (en vir ons, God) omgaan. Vandag se omgaan maak voorsiening vir 'n anderste strafstelsel. Soos jy tereg wys die kontekste verskil en daarom sal die toepassing van Bybelse tekste ook verskil. Ek dink wat ons eerder nodig het is 'n beter regstelsel, beter maatskaplike en ekonomiese omstandighede en baie werk aan 'n beter toegeruste morele samelewing.

Hoop om nog van jou goed te lees.

poging - tot - teologiese besinning groete

note
13 jaar 3 maande 2 weke 5 dae 9 ure oud


die doodstraf
Hi

Dankie vir 'n stukkie teologiese besinning en nie 'n preek nie. Alhowel ek nie 'n voorstander is van 'n evolusionêre les van die B
13 jaar 3 maande 2 weke 5 dae 9 ure oud


die doodstraf
Hi

Dankie vir 'n stukkie teologiese besinning en nie 'n preek nie. Alhowel ek nie 'n voorstander is van 'n evolusionêre les van die B
13 jaar 3 maande 2 weke 5 dae 9 ure oud


die doodstraf
Hi

Dankie vir 'n stukkie teologiese besinning en nie 'n preek nie. Alhowel ek nie 'n voorstander is van 'n evolusionêre les van die B
13 jaar 3 maande 2 weke 5 dae 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Gedoria

deur Martha Maria Jones

Gedoria is my debuut digbundel. U kan dit koop by www.afrikaansenuusagentskap.co.za of u kan my kontak by 0760176453. Ek is tot alles in staat deur Christus.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar