Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis ‘n skrikaanjaende gesig: die een wat jy sien elke keer as jou kind ‘n Grand Mal epileptiese aanval kry. Dit smoor jou siel, verpletter jou wese en alle hoop dat jou enigste dogter, net 15 jaar oud, eendag beterskap sal beleef, eendag miskien “normaal” sal kan lewe – sonder 24/7 seizure-watch.

Yolanda het gister middag, 5 Junie 2009, haar eerste aanval vir die dag gehad. Sy het ‘n glas water gedrink terwyl sy saam met haar ouboet, Armand (16) na ‘n musiek video op die rekenaar gekyk het. Hy sê hy wou haar nog iets vertel oor die musiek video op die skerm maar toe hy na haar kyk, was haar liggaam reeds besig om in ‘n totale spasma in te gaan, haar kop en oë dakwaarts gekeer. Toe kom die aanval. Ek herken al daardie gil van Armand: dit kom uit ‘n plek in sy liggaam waar hy besef wat besig is om te gebeur, hy is magteloos, in skok, en hy gil net “Maaaaaaa!” – dan weet ek.

Die water wat Yolanda besig was om te drink was duidelik in die proses om nog gesluk te word – dit was seker maar halfpad af, ek weet nie. Al wat ek weet is dat, tussen die konsvulsies en water, het sy opgehou asemhaal. Daar was hartklop en pols, maar geen asemhaling. Net ‘n liggaam midde in die ruk en pluk van ‘n Grand Mal, skuim by ‘n mond, ‘n gesig amper swart van die blou – geen suurstof, my kind is besig om te verdink in ‘n onskuldige slukkie water.

Histeries bel ek my man: “Yolanda haal nie asem nie!”, maar hy kan nie ‘n woord hoor van wat ek probeer sê nie – Armand vat die foon en praat met sy Pa. Tussen my en Wynand (my jongste, 13 jaar oud) probeer ons Yolanda se lugweg oop kry, maar dis bitter moeilik om enigiets te doen met ‘n liggaam vasgevang in ‘n aanval – enigeen wat iemand in die huis het wat Grand Mal aanvalle kry sal weet waarvan ek praat – en steeds verkleur my kind se gesiggie na ‘n donkerder skakering van blou/swart – die are bult oral, gesig swel op;Wynand probeer mond-tot-mond asemhaling toepas; Armand tik-tik; klap-klap haar tussen die blaaie: “Kom Yolanda, haal asem, haal asem!”

Nà wat soos ure voel het, begin sy roggel. Soos ons geleer is, draai ons haar op haar linker sy sodat die water kan uitkom. Steeds roggelend kan ek hoor sy begin weer asem haal, alhoewel moeilik. Yolanda is lam aan haar linkerkant, soos met ‘n vorige aanval, dus maak ons haar net gemaklik en sit by haar totdat alles verby is. Weer, soos altyd, het sy ‘n helse hoofpyn en ek gee vir haar 2 Panado’s. Ons vat haar kamer toe, lê haar neer op haar bed en maak beurte om by haar te sit en met haar te gesels totdat sy rustig is en uiteindelik aan die slaap raak.

Net nà 17:00 word Yolanda wakker, staan op, gesels en is weer haar normale self. Ek is besig om aandete te maak en hier by 18:00 skep ons op om te eet. Skaars begin eet, of my selfoon lui in die kamer en ek staan op om dit te gaan haal. Ek was weg vir 12 sekondes, kon nie meer as dit gewees het nie. Ek stap terug TV kamer toe – kon nie die foon in tyd antwoord nie – en hier is Andrè, my man, by Yolanda; die seuns koek saam en ek kan nie sien wat aangaan nie. Ek word vertel dat Yolanda besig was om te eet toe Pa sien iets is weer fout. Haar twede Grand Mal vir die dag.

‘n Liggaam weer styf getrek en verwronge, ‘n voet wat kap-kap teen die tafeltjie totdat dit weggeskuif word – ‘n gesig weer blou, blouer, amper swart, want sy het kos in haar mond en keel, sy kan nie asem haal nie. Andrè is by haar, ek draai om en loop uit, terug kamer toe, ek kan nie meer kyk nie, ek sak neer op my bed en begin huil, want ek begin onthou. En verstaan.

Ek was 10 jaar oud toe my kleinboet, Gerrit (7 jaar oud), deur die loop van ‘n Saterdag aand in sy slaap ‘n Grand Mal aanval gekry het. Toe ons by hom kom die volgende Sondag oggend (ons het gewonder hoekom slaap hy so laat, hy was dan altyd eerste op en woelig vir die hele dag!) was dit net histerie, chaos, paniek en vir ‘n 10-jarige soos ek, erg traumaties. Al wat ek duidelik kan onthou was hoe vinnig my Ma en Pa hul seuntjie in die kar gelaai en deurgejaag het JG Strydom hospitaal toe – hulle wou nie nog wag vir die ambulans nie. Dit was te laat. Alles was te laat. Gerrit was breindood verklaar – hy sou nooit weer wakker word nie. In sy brose liggaampie het sy hart daardie volgende Vrydag ‘n laaste keer geklop. Gerrit was dood. Dit was September 1980.

My Pa was gebreek, my Ma verpletter. Hulle het wel in 1983 weer ‘n kind gehad (Bennie) – vandag dink ek dit was ‘n desperate poging van my Ma se kant om 1980 te probeer bêre in haar gisters en vorentoe te kyk, en ek vermoed dat sy geglo het dat ‘n nuwe baba in die huis haar die moed sou gee om dit te kon doen. Maar post natale depressie, tesame met die steeds baie seer herinneringe van ‘n kind afgestaan aan die dood, het die beter van haar gekry. Na Bennie se geboorte in November 1983 het my Ma net verder en verder weg beweeg van realiteit, van haar kinders, haar man en haar lewe. Ek glo nou dat sy waarskynlik eendag na Bennie moes gekyk het en besef het dat hierdie seun NOOIT die plek sou kon inneem van die een wat sy verloor het nie. Dit was ‘n kwessie van ‘n jaar of wat en sy het ons almal verwerp en enige aptyt vir die lewe verloor.

My Pa het haar bygestaan, elke dag, hy het haar nooit die rug gekeer wanneer sy hulp nodig gehad het nie. Hy was aan haar sy deur dik en dun, deur my sussie se troue, Bennie se grootword, die dag toe ek die huis verlaat het – al die oppe en affe – hy was daar by haar. Elke keer wanneer sy (weer) by ‘n sanatorium opgeneem is vir (nog) breinskokke – behandeling vir haar major depressie, elke keer as die kwak haar huis toe gestuur het met (nog) meer pille – hy was daar, my Pa was altyd daar. Maar ongelukkig, ten spyte van sy toewyding en alomteenwoordigheid, het sy steeds in November 1991 selfmoord gepleeg.

Ek gaan nie nou uitwei oor die jare nà haar selfmoord en al die emosies en selfverwyte waardeur ek en my sussie en beslis my Pa ook gegaan het nie. Want ek verstaan nog beter vandag, met al die vergifnis en groei en verstaan van die laaste klompie jare, verstaan ek vandag dalk werklik vir die eerste keer die hel waardeur sy règtig gegaan het tussen September 1980 en November 1991. Want ek kyk na Yolanda, en ek weet hoe ek gister gevoel het.

Sedert haar eerste Grand Mal in die bad verlede jaar – sy het by dood’s deur gedraai, was dit nie vir Armand wat die dowwe stamp-stamp geluid teen die bad se rand gehoor het en onraad vermoed het nie, het Yolanda daardie aand verdrink in 'n oorvol bad water. Sedert daardie Woensdag aand van 1 Oktober 2008 kyk ons elke aand hoeveel badwater sy intap, ons maak beurte en klop elke 10-15 sekondes “Yolanda, is jy OK?”, sy mag nie meer swem sonder toesig nie, sy mag nie meer uitgaan met vriende tensy ‘n volwassene teenwoordig is nie, sy mag nie eens meer alleen by die Spar inhardloop vir ‘n brood en melk nie – klein goedjies, maar dit is die voorsorg wat ons tref om seker te maak sy is nooit alleen nie sou ‘n Grand Mal kop uitsteek.

Maar hoe beskerm jy jou kind teen die onhuil wanneer sy tussen ons almal sit en ‘n aanval kry met water in haar mond, of kos wat sy besig is om te kou en sluk? Watter voorsorg tref jy in die geval van so iets? Ek (ons) doen alles wat ons kan om haar dae so veilig as moontlik te hou, selfs die skool se ondersteuning is merkwaardig. Maar wat maak jy as sy besig is om te eet of drink? Gaan die maats by die skool weet wat om in sò ‘n geval te doen?

Ek onthou vanoggend daardie blou-swart gesiggie, en ek huil want ek voel so ongelooflik hartseer vir haar, en magteloos. Ek onthou Gerrit se blou gesiggie van baie jare terug en ek wonder of ek ooit eendag daardie trauma ook self gaan moet deurwerk.

Ma, ek verstaan hoekom Ma nie kon aangaan nie, ek verstaan hoekom Ma nooit kon vergeet nie, en ek verstaan hoekom Ma nooit Ma-self kon vergewe het vir Gerrit se dood nie – Ma het seker net so hulpeloos en onbevoeg gevoel soos ek vandag en gister gevoel het. Ma, ek verstaan ook die selfverwyte wat Ma vir jare moes bygebly het: “Kon ek nie iets meer of beter gedoen het nie? Hoekom het ek nie vroeër eerder as later gaan kyk hoekom Gerrit nog nie opgestaan het nie? As ek hom vroeër gekry het, sou hy dalk nog gelewe het?”

Sê my, Ma, het Ma ook nà Gerrit se hoeveelste aanval begin dood voel hier binne, opgehou om te vra “Hoekom, wat doen ek dan verkeerd?” Het Ma ook so leeg gevoel met tye – geen hartseer meer nie, geen bang meer nie, net vasgevang in die tronk van epilepsie wat almal gevange hou? My seuns weet nie wat normale, vreugdevolle tienerjare is nie – hulle pas vir sussie op. Yolanda sal beslis self nooit weet nie – dis nie veilig om haar te laat gaan nie. Ek en haar Pa maak seker sy drink haar medikasie, ons is altyd beskikbaar op kort kennisgewing tussen 7:30 en 14:00 sou die skool dalk bel, en nou moet ons seker maak sy eet of drink nie iets sonder toesig nie. Hoe, waar en wanneer gaan dit ophou? Wat meer moet ons nog doen? Hoeveel keer gaan ons nog net-net betyds by haar kom, en wanneer gaan ons te laat wees, soos met Gerrit?

Vandag deel ons iets, Ma: ‘n wese, 'n hart, 'n alles, gevoelloos vir smart.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

haai jy

dit bly altyd daardie vraag wanneer gaan ons te laat wees ek vole jou seer nee ek beleef dit .Jy het dit so goed verwoerd hier kom drukkie sterkte dolla
10 jaar 1 maand 5 dae 13 ure oud


ek
het nie woorde nie, drukkie..m
10 jaar 5 maande 1 week 3 dae 15 ure oud


Die magtelose seer waarvan jy hier skryf, maak dat my oë lek en my hart pyn. Goed geskryf. STERKTE.
10 jaar 5 maande 2 weke 19 ure oud


Hartverskeurend geskryf. My hart bloei vir julle.
10 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 18 ure oud


Jou vertelling het diep geraak. Kuber drukkie vir julle.
10 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 22 ure oud


Liewe hemel, hierdie rou eerlike uit die hart blootstelling los my met magtelose empatie. Ek kan net se ek dink aan julle en weet die krag om aan te hou sal altyd daar wees.
Groete
A
10 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 3 ure oud


ek verstaan so bietjie van jou goeie vertelling, 'n vriendin van my se seun kry aanvalle, en ek onthou elke detail van die een eenkeer in my kombuis, hoe hy geval het en daardie swart gesiggie.
en jou mammie se verdriet beleef ek deur 'n ander vriendin wie se seun ook in sy slaap oorlede is, hoe sy dit nie kan aanvaar nie.
wat kan ek nog vir jou doen nadat ek elke aand vir jou kan bid, haar opdra aan Sy genade, dat Hy haar elke dag in Sy hande sal vashou.
a.

10 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 10 ure oud


Sjoe! Wat 'n hartroerende verhaal. Ek het nie woorde nie. Soveel seer!
10 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 11 ure oud



Van ons ander lede

Sonstraalbeloftes

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Digbundel. Grootliks in Afrikaans, maar bevat ook vyf van my gedigte wat ek in Engels vertaal het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar