Titel: Die Etiek van Kommentaar op Woes
Weergawe: 1
Aantal woorde: 896
Kere gelees: 168
Datum gepubliseer: 12 Aug 2010
Die kwessie van etiek as dit by kommentaar op werk wat op die Woes webwerf gepubliseer word, kom, het gister weer pertinent sy blink kop uitgesteek. Ek sê ‘blink’ want met al die gevryf en geskrop van hare was die geskilpunt tussen die kommentatore gou glad gepoets.
Hierdie happie is nie ter aansluiting of aanvulling van enige bepaalde kommentaar of standpunt wat ek gelees het nie want dit het my glad nie aangegaan nie. Dit gaan eerder oor wanneer en welke kommentaar op literêre werk, in die lig van ‘n moderne gemeenskap waarin vryheid van spraak en opinie as fundamentele hoekstene van ‘n demokrasie erken word, as geoorloof beskou behoort te word.
Dit is ook nie my oogmerk om reёls vanuit ‘n self-geregverdigde en dogmatiese beginselbeskouiing neer te lê nie. Indien dit die verwagting is, lees liefs nie verder nie en skink eerder vir jou nog ‘n glas wyn want in vino veritas - daar is seker meer wysheid in ‘n vol glas as in ‘n leё.
As uitgangspunt is dit aksiomaties dat met al die voordele wat die reg om werk op Woes te plaas vir ons inhou, daar tog bepaalde risiko’s inbegrepe is. Wanneer ek ‘n stuk plaas, moet ek besef dat daar terselftertyd vir lesers ‘n konkurrente reg om kommentaar op my werk te lewer, ontstaan. Meeste van ons verwelkom dit want die geleentheid doen hom voor om ons kreatiwiteit te ontwikkel en van ander te leer.
As jy tyd aan jou werk spandeer het en dit na behore afgerond het, is die positiewe kommentaar wat dit ontlok, heel dikwels ‘n pluimpie en ‘n aanmoediging om nog goeie werk te plaas.
Indien ek egter ‘n oor-sensitiewe, kleinserige, onsekere of dalk kleinsielige mens is, gaan ek dalk seerkry wanneer lesers hul reg om kritiese kommentaar te lewer, uitoefen. Kritiese kommentaar is dikwels meer waardevol as goed-bedoelde vlei-kommentaar maar ongelukkig sien ons dit nie altyd so in nie. Ook word dit nie altyd so bedoel nie.
Op Woes, soos op elke ander terrein van intellektuele aktiwiteit, gaan jy mense van oor die hele spektrum van ons leesgemeenskap aantref. Van hierdie kreatiewes maak die mees ondersteunende vriende en leermeesters en hulle teenwoordigheid op Woes is ongetwyfeld heilsaam. Enkeles stuur gereeld boodskappe aan ander gebruikers om die aandag op ‘n nuwe of besondere werk van iemand anders te vestig. As dit nie hiervoor was nie, sou sommige van ons sekerlik met geleenthede lofwaardige werk nie gelees het nie.
Ek verstout my om te sê dat in teenstelling met die positiewe kommentaar wat hulle wil lewer, die meeste kommentatore hul (negatiewe) kritiek oor ‘n stuk eerder direk aan die outeur van ‘n stuk sal stuur as om dit vir openbare kennisname te publiseer.
Dit is glad nie ‘n onetiese benadering nie en is eerder ‘n prysenswaardige praktyk. Min kan tog bereik word deur ‘n werk wat nie te koop aangebied word nie, in die openbaar aan flarde te skeur. Dit is nie ‘n resensie oor ‘n boek waar publisiteit van die resensente se opinies noodwendig verwag word nie. Dit word uit die aard van die saak meer afknouerig en afbrekend beskou wanneer mens 'n kras opinie oor nie-kommersiёle kreatiewe werk soos ‘n oorlogsvlag aan die mas laat wapper. Welke ander doel kan dit dien as om jou eie ego te streel en die gekritiseerde of tot stryd te daag of tot stilte te verneder?
As ‘n kommentator egter die (hopelik) oorwoё mening toegedaan is dat dit meer heilsaam en leersaam sou wees indien ander gebruikers kennis neem van sy of haar besondere kritiek op ‘n stuk, moet mens dit noodgedwonge aanvaar al hou jy nie daarvan nie.
Indien jy ‘n ander siening oor die werk het, sou dit eties raadsaam wees om liefs nie in jou kommentaar negatiewe kritiek op die negatiewe kritikus te lewer nie want dan kruis jy noodwendig swaarde en ontlok persoonlike kritiek of aanvalle uit daardie oord.
Die vraag wat noodwendig ontstaan is wanneer behoort mens beslis nie negatiewe kommentaar op iemand se werk te lewer nie? Die antwoord is voor-die-hand-liggend – sodra jy ‘n direkte of indirekte belang by daardie betrokke werk het, soos ‘n openlik of verskuilde vyandige verhouding met die outeur, behoort jou etiese gevoelens jou te oortuig om eerder stil te bly.
Daar sal egter sonder twyfel ook (oftewel sekerlik 'n geringe persentasie) lae-lewens op Woes wees - sosiopate (of dalk selfs psigopate) met heel ernstige persoonlikheidsafwykings, manne- of vrouehaters, misbruikers van die sosiale voordeel wat die webwerf en die kontakte daarin voorsien en ander verwerplike afwykendes. Hulle wys hul kleure een of ander tyd met aggressiewe, kwelsugtige en teisterende (harassing) gedrag. Vir hulle is etiek en kritiek op hulle gedrag onbestaanbaar met hul kleinsielige selfsug, eie siening en eiewaan.
Dis belangrik dat mens hulle vir jouself identifiseer en so ver moontlik van hulle wegbly want persoonlikheidsafwykings word dikwels in teisterende en selfs misdadige gedrag gemanifesteer. Dit is aldus wys om diesulkes soos die pes te vermy. Hulle vetes met ander ken gewoonlik geen einde nie.
Indien sulke teistering wel plaasvind, behoort dit met spreekwoordelike vuur beveg te word. Dit behoort onverwyld onder die aandag van Mandie te http://ondersteuning.woes.co.za gebring te word. Willem het onlangs die versekering in sy nuusbrief gegee dat sulke gedrag onmiddellik aangespreek sal word. Hopelik sal dit nooit nodig wees vir gebruikers om hulle daartoe te wend nie.
Justitia
Lees ander artikels deur Justitia
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Meeste gelees in die laaste 24uur


deur Maangodin
Annelise, die skrywer van Maanvrug, is terug. Ná haar eksoties-metafisiese reis deur die hiernamaals in Weerloos speel slavin weer in die bekende wêreld van hedendaagse Suid-Afrika af. slavin bevraagteken die definisie van normale seks en die aanvaarde sienings oor seksualiteit. Dit streel en verlei, daag uit en wonder. slavin is weereens net vir volwassenes. Eroties Afrikaans.