Artikels

Titel: Die Etiek van Kommentaar op Woes

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die kwessie van etiek as dit by kommentaar op werk wat op die Woes webwerf gepubliseer word, kom, het gister weer pertinent sy blink kop uitgesteek. Ek sê ‘blink’ want met al die gevryf en geskrop van hare was die geskilpunt tussen die kommentatore gou glad gepoets.

Hierdie happie is nie ter aansluiting of aanvulling van enige bepaalde kommentaar of standpunt wat ek gelees het nie want dit het my glad nie aangegaan nie. Dit gaan eerder oor wanneer en welke kommentaar op literêre werk, in die lig van ‘n moderne gemeenskap waarin vryheid van spraak en opinie as fundamentele hoekstene van ‘n demokrasie erken word, as geoorloof beskou behoort te word.

Dit is ook nie my oogmerk om reёls vanuit ‘n self-geregverdigde en dogmatiese beginselbeskouiing neer te lê nie. Indien dit die verwagting is, lees liefs nie verder nie en skink eerder vir jou nog ‘n glas wyn want in vino veritas - daar is seker meer wysheid in ‘n vol glas as in ‘n leё.

As uitgangspunt is dit aksiomaties dat met al die voordele wat die reg om werk op Woes te plaas vir ons inhou, daar tog bepaalde risiko’s inbegrepe is. Wanneer ek ‘n stuk plaas, moet ek besef dat daar terselftertyd vir lesers ‘n konkurrente reg om kommentaar op my werk te lewer, ontstaan. Meeste van ons verwelkom dit want die geleentheid doen hom voor om ons kreatiwiteit te ontwikkel en van ander te leer.

As jy tyd aan jou werk spandeer het en dit na behore afgerond het, is die positiewe kommentaar wat dit ontlok, heel dikwels ‘n pluimpie en ‘n aanmoediging om nog goeie werk te plaas.

Indien ek egter ‘n oor-sensitiewe, kleinserige, onsekere of dalk kleinsielige mens is, gaan ek dalk seerkry wanneer lesers hul reg om kritiese kommentaar te lewer, uitoefen. Kritiese kommentaar is dikwels meer waardevol as goed-bedoelde vlei-kommentaar maar ongelukkig sien ons dit nie altyd so in nie. Ook word dit nie altyd so bedoel nie.

Op Woes, soos op elke ander terrein van intellektuele aktiwiteit, gaan jy mense van oor die hele spektrum van ons leesgemeenskap aantref. Van hierdie kreatiewes maak die mees ondersteunende vriende en leermeesters en hulle teenwoordigheid op Woes is ongetwyfeld heilsaam. Enkeles stuur gereeld boodskappe aan ander gebruikers om die aandag op ‘n nuwe of besondere werk van iemand anders te vestig. As dit nie hiervoor was nie, sou sommige van ons sekerlik met geleenthede lofwaardige werk nie gelees het nie.

Ek verstout my om te sê dat in teenstelling met die positiewe kommentaar wat hulle wil lewer, die meeste kommentatore hul (negatiewe) kritiek oor ‘n stuk eerder direk aan die outeur van ‘n stuk sal stuur as om dit vir openbare kennisname te publiseer.

Dit is glad nie ‘n onetiese benadering nie en is eerder ‘n prysenswaardige praktyk. Min kan tog bereik word deur ‘n werk wat nie te koop aangebied word nie, in die openbaar aan flarde te skeur. Dit is nie ‘n resensie oor ‘n boek waar publisiteit van die resensente se opinies noodwendig verwag word nie. Dit word uit die aard van die saak meer afknouerig en afbrekend beskou wanneer mens 'n kras opinie oor nie-kommersiёle kreatiewe werk soos ‘n oorlogsvlag aan die mas laat wapper. Welke ander doel kan dit dien as om jou eie ego te streel en die gekritiseerde of tot stryd te daag of tot stilte te verneder?

As ‘n kommentator egter die (hopelik) oorwoё mening toegedaan is dat dit meer heilsaam en leersaam sou wees indien ander gebruikers kennis neem van sy of haar besondere kritiek op ‘n stuk, moet mens dit noodgedwonge aanvaar al hou jy nie daarvan nie.

Indien jy ‘n ander siening oor die werk het, sou dit eties raadsaam wees om liefs nie in jou kommentaar negatiewe kritiek op die negatiewe kritikus te lewer nie want dan kruis jy noodwendig swaarde en ontlok persoonlike kritiek of aanvalle uit daardie oord.

Die vraag wat noodwendig ontstaan is wanneer behoort mens beslis nie negatiewe kommentaar op iemand se werk te lewer nie? Die antwoord is voor-die-hand-liggend – sodra jy ‘n direkte of indirekte belang by daardie betrokke werk het, soos ‘n openlik of verskuilde vyandige verhouding met die outeur, behoort jou etiese gevoelens jou te oortuig om eerder stil te bly.

Daar sal egter sonder twyfel ook (oftewel sekerlik 'n geringe persentasie) lae-lewens op Woes wees - sosiopate (of dalk selfs psigopate) met heel ernstige persoonlikheidsafwykings, manne- of vrouehaters, misbruikers van die sosiale voordeel wat die webwerf en die kontakte daarin voorsien en ander verwerplike afwykendes. Hulle wys hul kleure een of ander tyd met aggressiewe, kwelsugtige en teisterende (harassing) gedrag. Vir hulle is etiek en kritiek op hulle gedrag onbestaanbaar met hul kleinsielige selfsug, eie siening en eiewaan.

Dis belangrik dat mens hulle vir jouself identifiseer en so ver moontlik van hulle wegbly want persoonlikheidsafwykings word dikwels in teisterende en selfs misdadige gedrag gemanifesteer. Dit is aldus wys om diesulkes soos die pes te vermy. Hulle vetes met ander ken gewoonlik geen einde nie.

Indien sulke teistering wel plaasvind, behoort dit met spreekwoordelike vuur beveg te word. Dit behoort onverwyld onder die aandag van Mandie te http://ondersteuning.woes.co.za gebring te word. Willem het onlangs die versekering in sy nuusbrief gegee dat sulke gedrag onmiddellik aangespreek sal word. Hopelik sal dit nooit nodig wees vir gebruikers om hulle daartoe te wend nie.

Justitia



Kommentaar

Weergawe: 1 | 1 jaar 6 maande 3 ure 29 minute gelede gelewer


Ek stem heelhartig saam. Nie alle kommentare kan noodwendig positief wees nie! Ekself is ook geneig om eerder sogenaamde negatiewe kritiek direk na die skrywer te stuur. Die enigste rede sekerlik waarom ons werke plaas vir kommentaar, is darem hopelik om te hoor wat ander daarvan dink.

Weergawe: 1 | 1 jaar 6 maande 1 uur 51 minute gelede gelewer


Kritiek kan regtig met 'n mens se groeiproses help. Solank as wat dit konstruktief is. Dus aanmoedigend, opbouend en taktvol.
Dalk ekstra taktvol hier, aangesien ons kunsmensies soms daarna neig om hipersensitief te wees. :-)
Baie goed geskryf. Woorde wat ek net kan beaam.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 22 ure 30 minute gelede gelewer


Justitia, baie dankie vir hierdie artikel. Dit kom op 'n tyd toe dit baie nodig was dat wangedrag op Woes aangespreek word. Dit het eintlik, myns insiens, al te ver gegaan en sou 'n mens van die eienaar van die webwerf verwag het om op te tree. Hier is inkriminerende dinge gesê wat demokratiese vryheid van spraak se grense ver oorskei het. Persoonlike aanvalle en skyfskietsessies hoort nie hier nie, dit maak die res van ons senuagtig!

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 21 ure 14 minute gelede gelewer


Bravo vir hierdie artikel! Ek dink ook daar moet nou opgetreë word en woes skoon kry.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 14 ure 45 minute gelede gelewer


In die eerste plek is dit 'n fees om so 'n versorgde werkstuk in afgeronde en gepoleerde Afrikaans te lees - dankie daarvoor, Justitia! In die tweede plek het jy 'n turksvy van 'n saak nie tot pynappel gemaak nie, maar sonder aanstoot die werklikhede en die waarheid van stellings hier neergepen - tot ons almal se verryking en voordeel - hopelik op die lang duur. Baie dankie, Justitia.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 14 ure 40 minute gelede gelewer


Hierdie artikel Justitia was iets wat ek van lankal se tyd af NODIG gehad het om te lees ...... Baie, baie dankie daarvoor.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 3 ure 45 minute gelede gelewer


Ek het weer kom lees Justitia, en ek sal seker nog 'n hele paar keer dit weer kom doen, want ek wil leer uit jou wyse woorde. Nogmaals dankie.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 dag 11 minute gelede gelewer


Skryf is nie vir sissies nie. Negatiewe komtaar: Aquila muscas non capit.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 21 ure 59 minute gelede gelewer


The voice of reason... Uitstekend geskryf! Dankie.

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 17 ure 26 minute gelede gelewer


Indien ek egter ‘n oor-sensitiewe, kleinserige, onsekere of dalk kleinsielige mens is, gaan ek dalk seerkry wanneer lesers hul reg om kritiese kommentaar te lewer, uitoefen. Kritiese kommentaar is dikwels meer waardevol as goed-bedoelde vlei-kommentaar maar ongelukkig sien ons dit nie altyd so in nie. Ook word dit nie altyd so bedoel nie.


KLA GEPRAAT...as jy hier uitmekaar gaan val wat maak jy in die regte lewe?

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 15 ure 41 minute gelede gelewer

Onderwerp: Justitia


Ek is nuut hier en verdien seker nie my ruimte op die ruite en vensters van ander se sieninge hier nie.

Eintlik maak dit nie saak nie. Die kalkmerke op my eie vensters vertel my baie duidelik dat ek nie oor n ander se skrifsels bevoeg is om kommentaar te lewer nie.

Dis ek!

Wie nou is ander rerig? Wie gee om en waarom?

Weergawe: 1 | 1 jaar 5 maande 4 weke 1 uur 7 minute gelede gelewer

Onderwerp: Die Etiek van Kommentare


Soos met enigiets in die lewe, moet ons voortdurend opgelei word en dan moet dit mettertyd ingeoefen word.

Dit sal goed wees as ons soms geduldig kan wees met mekaar, waar ons dalk nie altyd die kuns van kommentaar bemeester het nie.

Dankie vir 'n puik artikel !

Weergawe: 1 | 1 jaar 2 maande 1 week 2 dae 23 ure 28 minute gelede gelewer

Onderwerp: Etiek van Kommentare


Dankie Justitia

Die artikel is nie net insiggewend, maar begrypend en ek stem 100% saam jou.

Kommentare lewer vir my, of ontvang, is ook 'n leerproses, wat ek nie geken het nie. En mens groei daardeur.

Weergawe: 1 | 10 maande 1 week 1 dag 3 minute gelede gelewer

Onderwerp: Skitterend!


Wat 'n absolute juweel! Ek het kom rondloer hier op jou blad om te sien wie die persoon is wat sulke positiewe en opbouende kommentaar gelewer het op een van my werkstukke en toe kom ek hierop af. Dit is nogal jammer dat ek nie hierdie vroeër raakgesien het nie, aangesien ek ook 'n stuk geskryf het (getiteld Die onafwendbare gevolge van publikasie) 'n rukkie gelede wat hierdie onderwerp aanraak. Joune is egter baie beter as myne geskryf en ook in baie beter Afrikaans.

Myne het egter gevolg op iemand wat kommentaar wat feitefoute uitgewys het in een van sy werkstukke as 'n skending van sy privaatheid beskou het. Dit het later uitgekom dat hy geen kommentaar duld op sy werkstukke nie. Hy skryf ook deesdae baie ongereeld hierso. Ek moet regtig probeer om die skakel van hierdie stuk op 'n manier by hom uit te kry, want hierdie is 'n moet-lees vir enigiemand wat dit oorweeg om iets te publiseer.

Dankie vir 'n weldeurdagte stuk.

Weergawe: 1 | 7 maande 2 weke 1 dag 19 ure 47 minute gelede gelewer

Onderwerp: ek het net weer kom lees


en wou net nog 'n keer sê dat dit regtig 'n puik artikel is.


Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



Mentorskap program

Mentorskapprogram

Leer meer oor skryf en word deur 'n mentor op jou pad gehelp.

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar