Weergawe: 1
Aantal woorde: 1366
Kere gelees: 953
Datum gepubliseer: 10 Jun 2009
Die gedagte van 7dae as ‘n week het in Chaldea (‘n Mesopotamiese tydvak) ontstaan omtrent 6 000 jare gelede. Dit was in Adam se jong dae. Hulle het ontdek dat daar 7 ligbronne in die hemel was wat nie soos sterre vas was nie - son (skynbaar), maan en 5 sigbare (blote oog) planete.
Hulle was bewus daarvan dat ‘n (son) jaar 365 dae gehad het. Maar 29+29+.....+29=12x29=348 het hulle met ‘n tekort van 7 dae gelaat. Daarom het hulle sowat 5 000 jaar gelede 7 ekstra dae, een-een versprei oor twaalf maande, bygevoeg wat hulle vernaamste gode vereer het. Die Sjinese het ‘n paar eeue later ook ‘n soortgelyke kalender ontwikkel
Die Sjinese was sowat 4500 jaar gelede die eerste om ‘n dag op te deel in ure. Hulle het ‘n stok as horlosie gebruik en die posisie van die skaduwee in 12 dele te verdeel (soos wat daar 12 maande in ‘n jaar is). Dit gee gemiddeld 12 ure per dag en 12 ure per nag (al was daar nie ‘n skaduwee nie).
Die Egiptenare en Sumeërs (‘n latere Mesopotamiese tydvak) was die eerste om tyd met sand en water horlosies te meet. Sulke horlosies was veels te lomp om ure te meet. Toe deel hulle elke uur op in 60 minute. Wie eerste was, is weer nie seker nie. Waarom 60 en nie ‘n ander getal soos 24 nie? Hulle het ‘n 60-delige getal stelsel gebruik! Die Veda Indiërs het sowat 4500 jaar gelede ook ‘n 60-delige getal stelsel begin gebruik. In die geval het hulle baie gebruik gemaak van astronomiese data om by die getal 60 uit te kom.
Ons gebruik ‘n tiendelige stelsel (afkomstig van die Arabiere) en ons rekenaars gebruik op elektroniese vlak ‘n tweedelige stelsel. Maar op sagteware vlak het dit gevorder van 2, 2x2=4, 2x2x2=8, 2x2x2x2=16 tot 2x2x2x2x2=32. Ek vermoed 64 sal genoegsaam wees. Omtrent 50 jaar gelede het die wêreld se kragtigste hoofraam rekenaars van Control Data ‘n 60-delige stelsel gebruik. Dit is m.b.v. hierdie rekenaars (genoem Cybers) se vinnige berekeninge dat ‘n mens veilig op die maan kon land. Desondanks hulle krag, het hulle gaandeweg in onbruik verval. Control Data het vasgeklou aan die Babiloniërs se 60 i.p.v. om die digitale ritme 2,4, 8, 16, 32, 64 te gebruik.
Met die gebruik van meganiese (masjien) horlosies was die vet behoorlik in die vuur. Sowat 800 jaar gelede het die eerste horlosie verskyn wat ‘n gewig aan ‘n tou eerder as water of sand gebruik het. 200 jaar later het Galileo en kort daarna Huygens daarop verbeter. Die volgende 400 jaar is gekenmerk deur ‘n snelle verbetering van horlosies wat in die hedendaagse atoom horlosie gepiek het. Tyd kan nou in asemrowende klein stukkies opgebreek word.
Ek het miskien te veel geskryf oor hierdie historiese ontwikkeling van die meting van tyd. Maar ek doen dit omdat wanneer ‘n ateïs die bybel aan flarde wil ruk oor wat in Genesis 1 geskryf is sonder om die evolusie van tyd meting in ag te neem, hoe ernstig kan ‘n mens hulle opneem? Die kortste tydvak wat in Genesis 1 bestaan het, was die week. Ateïste is blootweg onkundig dat die mens se denke in tyd-ruimte gebed is. Die enigste twee bekende veelvoude van tyd in die tyd van Adam was die week en die jaar. Die ses skepping tydvakke kon net sowel deur 6 jaar met 1 ekstra rus (jubel) jaar voorgestel word. Die sewe jaar siklus is in elk geval deur Moses ingestel.
Liewe, goeie christene wat Genesis 1 letterlik wil verstaan, moet ook maar kennis neem dat die mens se denke in tyd-ruimte gebed is.
Wat ons verder moet begryp is dat die getalle stelsels 6 000 jaar gelede baie ingewikkeld en omslagtig was, omtrent net so erg as die Romeinse stelsel van I, II, III, IV, V, VI, VII, VIII, IX, X, XI, ...... Om ‘n getal soos 1 miljoen (1 000 000) of 1 biljoen (1 000 000 000) was onmoontlik. Om dus 6 000 jaar gelede te skryf dat die aarde sowat 5 000 000 000 jaar oud is, was net nie moontlik nie.
Net so moet mense die tydskale wat Moses, Salomo, Daniel en later die apostel Johannes gebruik het dit nie ligtelik gebruik nie. Elkeen se tydskaal is in ‘n eie tydse kultuur ingebed.
Filosofie (philos=liefde en sophos=waarheid) het sowat 2500 jaar gelede by die Grieke begin blom. Hulle het begin wonder oor die betekenis van tyd. Socrates het begin dink dat die Onbekende God wat alles geskape het, selfs die gode, tydloos moet wees. Binne geslagte het die filosowe geredeneer dat God Skepper self tydloos en ruimteloos moes wees omdat tyd en ruimte tot Sy skepping behoort het. 800 jaar later, na Konstantyn, het die katolieke kerkvaders hierdie Griekse siening net so sak en pak oorgeneem.
Die Joodse filosoof Maimonides (1 100's) is die eerste in die middeleeue wat anders oor tyd begin dink het. Tyd het in ‘n oomblik met ‘n woeste skepping begin. Miskien was hy die eerste wat die idee van die oerknal gehad het. In sy tyd het die Midrasisme die botoon gevoer - tyd is eie aan God. Maar as gevolg van Maimonides het die Hasidisme dramaties ontwikkel. Daarvolgens word twee soorte tyd onderskei:
(1) onverdeelbare tyd wat onomkeerbaar voort stu
(2) meetbare tyd wat deur herhalings geken kan word
Maar dit is nie nuut nie. Die Griek Heraclitus het meer as 1500 jaar vroeër tyd as soort (1)(“kairos”) beskou. ‘n Eeu of wat daarna het Aristotles veral tyd as soort (2) (“chronos”) beklemtoon. Selfs die Grieke was nie nuut nie. Die gebruik van die sinsnede “in die tyd” verwys na tyd as soort (1). Die vyf boeke van Moses maak heelwat van hierdie sinsnede gebruik. “n Ander sinsnede wat ook na tyd as soort (1) verwys, is “in die begin”.
Die kersie op die koek is natuurlik die Afrikaanse woordjie “toe” waarmee ‘n paragraaf of selfs ‘n ganse storie mee kan begin. In die geval is
“toe”=”in ‘n tyd in die verlede”
Ongelukkig het Afrikaanse taalkundiges hierdie gebruik met mag en mening probeer uitroei. Dit is een van die redes waarom Afrikaanses se begrip van tyd as soort (1) “kairos” taamlik vervlou het.
Kort na Maimonides het die geniale Italiaanse digter Dante (1265-1321) sy eie tydbegrip ingewerk in sy wonderlike dramas Inferno en Goddelike Komedie. Sy tydbegrip het ook albei soorte (1) en (2) hierbo behels. Copernicus was egter besiel met tyd as soort (2). Maar kort daarna het Galileo, diep onder die indruk van Dante se werke, Copernicus se revolusie verder gevoer. Dit was so erg dat die kerk hom uitgeskop en die akademie hom geïgnoreer het. Hoe kon die aarde roteer (om dae te gee) en om die son wentel (om jare te gee)?
Newton (1643-1727) het kalmte gebring, maar deur ‘n ander rewolusie. Dit was deur sy drie wiskundige definisies vir beweging en die gevolglike ontdekking van die swaartekrag wet. Newton het tyd as “chronos” (2) beskou. Sy tydgenoot Leibniz het egter sy eie siening gehad. Dit is nog steeds ‘n kwelvraag wie infinitesimaal wiskunde ontdek het: Newton of Leibniz. In elk geval, Leibniz het tyd ook as as “kairos” (1) beklemtoon. Vir hom kon tyd nie willekeurig verdeel word as “chronos” (2) tussen geboorte en dood nie. Lewe in tyd was eintlik ‘n geheel wat voortstu. Hy het so ‘n lewende geheel ‘n monad genoem. Lees gerus Leibnitz se “monadologie” as jy dit in die hande kan kry. Vandag sou die term holon wees. Dit is geskep deur A Koestler na die lees van J Smuts se boek Holism and Evolution.
Daarna het “chronos” (afgemete tyd) tot 1905 die oorhand gehad. Toe publiseer Einstein sy relatiwiteit teorie. Daarvolgens is tyd nie iets wat vir alle waarnemers dieselfde afmeet nie. Sou twee waarnemers met verskillende snelhede dieselfde voort stuwende verskynsel bestudeer, sou hulle tydmetings van die verskynsel verskil. Hulle sal dus die “kairos” van die verskynsel in ag moet neem met Einstein se formule wat “time dilation” (tyd rek) genoem word. “Chronos” is dus gebed in “kairos”.
Mooi loop
At de Lange
Pretoria
Mei 2009
Weergawe: 1
© Kopiereg voorbehou
Lees ander artikels deur Ontluiker
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

deur Christo Nel
Dr Christo Nel skryf hier oor die nuwe wyn-waarhede in die Bybel wat sy en ander se lewens verander het.
In hierdie stuk hierbo verklaar dit dan ook waarom 'n meer akkurate tydsbestek aan die skepping toegeken kon word. Die getal "0" is voor die tyd van Christus reeds uitgevind (as ek nou reg onthou) maar het eers later bekend geraak.