Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek staan verbaas en verryk oor die magdom talent op Woes waardeur ek daagliks stil-stil lees. Dis asof die begrip kreatiwiteit nuwe betekenis kry en vloei, vanaf die een werk na die ander, vanaf die een Woester na die ander. Ek verstom my aan die intense emosie waarmee ons digters hul gedagtes, vrese, pyn en idees aan die wêreld gooi, letterlik die ooptes inslinger en dit laat my glimlag, want ek kan sien en daagliks belééf dat die Afrikaanse taal sterk staan, miskien sterker as ooit vantevore. Ons is nie skaam vir ons taal nie, inteendeel – ons bou daaraan; steen vir steen vir steen.

Die skrywers? Met soveel talent om karakters weer te gee, stories te vertel en die leser mee te sleur in ‘n ander wêreld in, verwonder ek my dat daar nie meer gepubliseerde skrywers onder ons is nie. Woes skrywers bied intrige, misterie, humor en sommer net lekkerlees stories en verhale wat mens bybly.

Wat van die Woes liriek-skrywers? Daar is ewe veel briljante, skeppende talent en hulle, soos ons digters en skrywers, ding mee in ‘n uiters kompeterende mark daar buite, maar wie sal weet waartoe enige Woester in staat is as ons nie ons talent verder ontwikkel nie?

Kom ek wees eerlik. Ek sou my oogtande gee om deel te neem aan die kompetisie en moontlik as een van die kategorie-finaliste deel te word van die persoonlike (“one-on-one”) program wat deur kenners in die verskeie afdelings aangebied word, maar die beleid is dat lede van die Bestuur nie mag deelneem nie en regtens so. Ek verstaan dit en stem heelhartig daarmee saam, maar wat ek nie verstaan nie, is dat Woesters nie in ongerekende getalle deelneem nie. Twyfel jy aan jou talent of dink jy dis net vir ander mense?

Neem die kans! Wie sê jy kan nie deel wees van die Top Tien in elke afdeling nie? Onthou ... geen werke hoef perfek te wees nie. Jy is miskien nie tevrede met jou werke op hierdie stadium nie en is bang dat jy jou naam deur die modder gaan sleep. Toe nie! Die keurders is op soek na POTENSIAAL. Talle jakkalse mag miskien voetspore laat in jou werke, maar dis juis waarom hierdie kenners daar is. Hulle soek na potensiële nuwe skrywers, digters en liriek-skrywers om persoonlik onder hul vlerk te neem en verder te laat ontwikkel!

‘n Aanhaling in een van my sielkunde handboeke as jong student het my tussen die oë getref en ek dra dit steeds verbatim saam met my:

“WE DANCE AROUND AND SUPPOSE,
BUT THE SECRET
SITS IN THE MIDDLE AND KNOWS.” (Anonymous)

Die geheim sit in die middel en weet. Is dit nie maar waarrna ons almal soek nie?
Na daardie ekstra bietjie kennis en wéét wat jou gaan onderskei van al die ander, na daardie iets wat jou anders gaan maak en laat uitstaan. Hoekom? Omdat jy een van die klein getal bevoorregtes sal wees wat wéét, meer weet as die ander.

Ons almal soek deurentyd na die geheim wat ons drome en ideale, selfs ons menswees ontsluit. Meer kennis, meer kundigheid en die kans om jou woordkuns te ontwikkel, te laat groei en meer te word, veel meer en ryker, meer afgerond as wat tans die geval is.

Wat het jy nodig om jou drome te verwesenlik?

Daardie één kans, daai kans in ‘n miljoen om raakgesien te word, verder te ontwikkel en goud te slaan!

Skryf in en neem daai kans! Jy sal nie spyt wees of jouself na die tyd blameer omdat jy nie probeer het nie.

Woes-groete,
KB


     





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

terugvoer
Nog nie terugvoer op my (direkte) vraag ontvang nie, so ek vra weer: Word 'n inskrywer se hele oes gedigte as a bundel aan die beoordelaars deurgegee of ad hoc??
8 jaar 4 dae 8 ure oud


Die geheim...
Wow, jy moet 'n motiveringspreker wees !
8 jaar 1 week 4 dae 2 ure oud


Rudi
Die mentor en borge se stemme tel 75% en die publiek & Woes gebruikers 25%.Die borge wys hul eie paneel aan en ontvang alle inskrywings anoniem vanaf Woes. Eers nadat die verskeie panele hul Top Tien uitgekies het, word name aan werke gekoppel. Woes het geen insae tov wie op watter paneel dien nie, behalwe die spesifieke mentor van elke afdeling.
8 jaar 3 weke 6 dae 6 ure oud


die weervoorspelling
dis goed dat elke inskrywing by die borge uitkom.
wie behalwe die woesters/publiek,kies/keur dan die finale wenners uit die top 10?
die mentor?
of die borge?
of albei?
8 jaar 3 weke 6 dae 16 ure oud


Rudie se vrae
Hallo Rudi,
Baie dankie vir jou vrae.
Elke inskrywing word direk na die borg van elke kategorie gestuur. Geen siftingsproses vind plaas voordat die werke gestuur word nie.Die borge kies die Top Tien en werk dan met hulle. teen die einde word Woes-gebruikers gevra om te stem en sal 25% tel. Ek hoop jy skryf ook in. Goed gaan, Carol
8 jaar 3 weke 6 dae 17 ure oud


die weervoorspelling
o.nog n vraag:kom elke liewe inskrywing by die borge uit vir keuring?
Of is daar eers n siftingsproes(voorlopige keuring deur iemand anders)wat dan reeds n klomp werke afkeur?en dan gaan dit wat oorbly borge toe om gekeur te word?
indien dit so is,presies wie is die persone wat die aanvanklike keuring/besluit neem>?
8 jaar 4 weke 10 ure oud


die weervoorspelling
so die borge kies die top 10 van elke afdeling.
Dan word elkeen deur die onderskeie mentors(soos Koos K ) onder hande geneem.
Die mentor is dan ook die beoordelaar ?en sy/haar stem(besluit)tel 75% en die woesmense(publiek?)se stemme tel dan 25% om die wenners te bepaal?
klink dit min of meer reg?
Indien nie,hoe werk dit dan>?
8 jaar 4 weke 10 ure oud


Hoekom moet daar 'n Kompetisie wees?
Bismarck, die kompetisie bied lede 'n geleentheid om moontlik deur kenners op hul gebied onderrig te word. Ongelukkig kan hierdie onderrig slegs aan 'n beperkte getal lede gebied word. Vandaar die kompetisie. Indien jy inskryf, wys dit dat jy belangstel om verder onderrig te word en indien nie, word jy nie in ag geneem nie. Sou jy onder die Top Tien wees (inskrywings word deur borge van die spesifieke afdelings gekeur), dan staan jy ook in lyn vir die R8 000 tov publikasie. Hoop dit be-antwoord jou vraag. Mooi dag.
8 jaar 4 weke 14 ure oud


Lentulus
Ek stem saam met jou. Selwers ene wat leeftyd lank op verskeie terreine kompeteer.
Dink egter alhoe meer dat Woes eerder ‘n tuiste vir ontluikende, ontwikkelende skrywers moet wees. Niks fout om ook ‘n tuiste vir ou en erkende skrywers te wees nie!!
Mynsinsiens is die grootste toets/kompetisie om jou produk aan ‘n uitgewer(s) voor te lê vir publikasie.
Kan lank hieroor gorrel. Sal dit miskien anderdag doen.

8 jaar 4 weke 14 ure oud


Bismarck
Reken dis maar in die mens se gene: Soek beloning en erkenning vir jou 'prestasies'. Soek mededinging. Daarsonder sou sport/kompetisies nie bestaan het nie.
8 jaar 4 weke 19 ure oud


??
Sorrie ek moes gesê het dom vrAE.
Ek het nog 'n paar onnooslikes wat ek terug hou en wat hopelik sal verdwyn, nadat ek julle slim en logiese antwoorde op my eerste simpeles ontvang het.
8 jaar 4 weke 1 dag 5 ure oud


?
Hier's 'n baie dom vraag...
Waarom moet daar 'n kompetisie wees?
Is dit werklik nodig?
Skep dit nie meer probleme as wat dit antwoorde/oplossings verskaf nie?
8 jaar 4 weke 1 dag 5 ure oud


Barend se probleem
Barend ek het Mandie laat weet van jou probleem wat jy in jou kommentaar genoem het oor die nuusbrief. Sy sal in kontak met jou wees om dit uit te sorteer. Dankie dat jy Woes ondersteun.
8 jaar 4 weke 1 dag 17 ure oud


Ek het ook eers ander profiele gehad
voor ek opgehou skryf het op WOES. Om die waarheid te se ek was 'n finalis in die 2011 kompetisie in een van die kategoriee wat nou nie meer bestaan nie. Ek het nooit 'n geheim gemaak dat ek eers Nico10 was en toe dr. Nicola geword het nie. En ek dink die manier hoe die onlangse drama met die profiele hanteer was, was goed. Ek is beindruk.

Maar dis nou weer erg om te lees van hierdie dinge wat Rudi noem. Dis nie lekker nie. Ek is nou eintlik net hier om soms te kan kommentaar lewer op van die skrywers wat ek nog graag wil volg. As ek gepenialiseer gaan word omdat ek voorheen onder 'n skuilnaam geskryf het dan moet dit maar so wees. Dan sal ek maar in die vervolg net die werke lees wat ek wil en dan nou maar nooit meer kommentaar lewer nie (ek vermoed ek was destyds deel van wat sommige mense die 'oe en a brigade' genoem het - dit was mense wat die 'groot sonde' gedoen het om te se waarvan hulle hou).

Ek stel juis nie belang in die nuusbriewe wat nou weer aan ons gestuur word nie. Ek soek dit nie. Ek gaan nie die woord en wyn aand kan bywoon nie. Hoe kanseleer ek dit? As ek nie die ongewensde pos kan kanseleer nie dan gaan ek 'n ander plan moet maak.

In elk geval, sterkte aan AL die deelnemers. Ek hoop daar is minder krapperigheid aan 2012 se kompetisie. Ek hoop WOES kan nou begin om aan ware begaafde mense goeie blootstelling te gee.

Mooi loop.
8 jaar 1 maand 3 ure oud


PAX WOES
Willem en Rudi: dalk tyd om die vuil badwater uit te gooi, skoon water in te tap en mekaar se rue te skrop?
8 jaar 1 maand 10 ure oud


Ek is jammer Rudi
Soos ek genoem het, het ek nie tyd om aan spekulasie aandag te skenk nie. Ek kan verstaan hoekom jy dinge so sien, dit is nie lekker as dinge nie uitdraai soos jy altyd dit wil he nie of dinge WIL sien nie.

Ek is hier om Afrikaans uit te bou en mense te help ontwikkel. Ek is hier om dinge groter te probeer maak en mense voor aan dit te plaas en nie myself nie. Ek het nou al geleer, as jy iets doen en niemand kla nie, dan doen jy iets verkeerd.
8 jaar 1 maand 12 ure oud


Rudi se kommentaar
Ek moet heeltemal met jou saamstem dat daar wel 'n paar ongelukkig mense was na die vorige kompetisie. Ons borge, wie ingesluit het Lapa, Rapport, DEKAT en Taalgenoot het die beoordelingsproses behartig en wenners was gekies daarvolgens. Hulle oordeel in letterkundige ondervinding is tog gegronde weens die aard van hul spesialiteitsvelde. Wat ek wel kan beantwoord is dat die ongelukkighied oor die vorige kompetisie se prosesse wel aangespreek word binne die huidige kompetisie. Ons het dit gedoen omdat ons leer maar ook omdat dit nie regverdig is teenoor die wenners van 'n kompetisie om so uitgesonder te word nie. Dit is hoekom Woes by hulle wenners gestaan het en hoekom ons in skrywe na die kompetisie spesifiek daarna verwys het dat ons wel terugvoer nodig het sodat daar beter, groter en meer voordelige kompetisies in die toekoms aangebied kan word.

Daar word nou tien finaliste gekies en waarlik ontwikkel om seker te maak die beste van hulle talent die lig sien. In die finale beoordeling waar die mentors wat met die finaliste werk hoofbeoordelaars is word die Woes lesers se stem ook ingeroep en tel 25% van die totale beoordeling. Ek glo ons het met hierdie kompetisie al daardie dinge wat jy noem aangespreek en ek dink dit is duidelik in die feit dat baie van daardie groepie wat ongelukkig was reeds weer ingeskryf het.

Met betrekking tot ondersteuning van meervoudige profiele, kan ek niks antwoord nie want dit is blote spekulasie. Ons kan ongelukkig nie reageer op elke stukkie spekulasie nie, anders sou ons nie tyd gehad het om Woes te gebruik om Afrikaans uit te bou nie.

Hou asseblief aan om vir ons te skryf en raad te gee want die einddoel van Woes is tog om 'n platvorm te wees waar elkeen wat aansluit hom of haarself in Afrikaans kan uitleef en waar slegs goeie, opbouende en positiewe raad en kritiek die grondslag gaan le daarvoor.
8 jaar 1 maand 15 ure oud


Kompetisie
Ek was gelukkig nie deel van die verlede nie en my gedigte is in=)
8 jaar 1 maand 1 dag 9 ure oud


Jip, om te weet is die geheim. . .
Baie dankie vir hierdie positiewe artikel.

Ek stem heelhartig saam dat met soveel talent onder ons Woesters, dit werklik verbasend is dat daar nie meer gepubliseerde skrywers is nie.

En ja, hoe sal enige skrywer weet waartoe hy of sy in staat is as daar nie ontwikkeling van talent plaasvind nie? En is dit nie juis met die deelname aan kompetisies soos Woes se skryfkompetisie dat talente ontwikkel word nie? Met die feit in gedagte dat die keurders opsoek is na p-o-t-e-n-s-i-a-a-l om talent verder te ontwikkel. Wat geslyp gaan word deur die Mentorskap-program waarvan jy praat, wat deur kenners in die verskeie afdelings aangebied word.

Ons moet die hand aan die pen slaan, vergeet van wat agter is en ons uitstrek na wat voor is. Net nog twee weke. . .

Ek stem dubbel en dwars saam. Neem die kans waar en moenie dat enige iemand of iets in die pad van jou drome en doelstellings staan nie.



8 jaar 1 maand 1 dag 11 ure oud


meet instrumente
wie'se hand gaan hoe meet? die taal reëls? sus of so by daardie kollege of varsity gaan die skaal vas hou en pyling doen – watter kant van die kompas- en pool staan die mens?

met tyd dan open die hemel en die emosies gryp my en die skaduwees gaan lê opie papier en trek karakterlyne. hoe sal ons dit dan meet? Ek beitel myself, my lewe, die lewe en die liefde. Soos ek beitel bloei die aarde en ander tye blom dit in die paradys.... ...en siele skater of ween.

Met tye dan praat God engels... en dit staan dan buite die bestek van hierdie geweefde hoeke van dese kuber ruimte. is of-, is nie 'n viervoetige enjambement, of........? is welvoeglik al dan nie? Is wat ook al? Nou kom iemand en besluit die beitels was stomp, of verkeerde beitel is gebruik op die werkstuk, of die materiaal is nie toepaslik?

gegewe die agenda dan is daar woorde gekies dan gestalt te gee aan die skaduwees. Die tema en sinsnede dan ook so. Onse meet-meester, sal die meet-meester dan koud staan tot die rou geskeurde aarde, en die versier met brokaat verse van die konteks van digters wat dalkies vir die gehoor en reël boek geplant het? Of is dit waar die potensiaal dan inkom?
8 jaar 1 maand 1 dag 13 ure oud


GEHEIM
Gee net kans, jy ken mos die mensdom. As daar 2 weke oor is wag mens mos ten minste 1 week en 5 dae voor daar enige aksie plaasving. Wag tot die laaste minuut en jaag dan!
8 jaar 1 maand 1 dag 15 ure oud


die weervoorspelling
wel.dinge is nie so eenvoudig nie.
Die waarheid is die debakel van die laaste woeskompetisie en alles wat rondom dit gebeur het,hoe dit deur die woesbestuur hanteer is,feite verdraai is,goed weggesteek is,dubbele profiele wat met die kennis(en aanmoediging?)van Willem daarna geskep is,ens,sal meeste van die skrywers wat al n geruime tyd op woes is,tweekeer laat dink voor hulle inskryf.
vertoue is algeheel geskend en verloor.
verder is die oorgrote meerderheid van die werklike kwaliteit skrywers/digters sedert toe nie meer betrokke by woes nie,en deel hulle hulle talente op ander sites....
Dit sal n lang tyd neem voor n woesdig/skryfkompetisie ooit weer ernstig opgeneem word..maak nie saak wie daarby betrokke is nie en wie help met die 'training' nie.
Net miskien sal die kompetsie ,hoe dit hanteer word,hoe goed die kwaliteit van die wenwerk is,ens,ens,al deels help om die vertroue te hertel.
Dis die reality.
8 jaar 1 maand 1 dag 19 ure oud


Robert Frost
nie anoniem nie - Robert Frost
8 jaar 1 maand 2 dae 2 ure oud



DAG VAN DIE BLOEISEL

deur Johann P. Boshoff

"Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar