Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

            Antartika wen loshande indien die koudste plek op aarde aangewys moet word. Temperature van -84°Celsius (-183.23°Fahrenheit) is al opgeteken by die Plateau Stasie en die gemiddelde jaarlikse temperatuur word bereken as -36°C
      (-96.8°F). Die rekord vir die koudste temperatuur in moderne tye is aangeteken by Vostok Stasie, ook in Antartika, waar die temperatuur op 21 Julie 1983 tot -89.4°C (-192.9°F) gedaal het. Antartika word merendeels bewoon deur pikkewyne en robbe, maar soms vertoef wetenskaplikes deur somermaande vir kort rukkies in hierdie onherbergsame gebied.
           
            Van al die bewoonde gebiede, is Siberië een van die koudste plekke in die wêreld. Alhoewel aardverwarming die afgelope dekade 'n effek op Siberiese winters het, is ‘n normale temperatuur vir Januarie ongeveer -51.1°C (-123.9°F). Oymyakon in Oos-Siberië spog met ongeveer 900 permanente inwoners en boonop nege maande winter. Dis so koud daar dat leë plastieksakke wat buite gelaat word binne minute vries en kraak soos glas.
           
            Nog koue plekke is Groenland, waar temperature onder -45.5°C (-113.9°F) gereeld aangeteken word, dan volg die Yukon in Kanada wat ‘n paar grade warmer is en International Falls, Minnesota, waar gemiddelde wintertemperature darem al -35.5°C (-95.9°F) bereik.
           
            Om te oorleef in die koudste plekke in die wêreld, het die mens nodig gehad om hul omgewing en lewenstyl aansienlik aan te pas. Omtrent alles vries, van elektronika tot brandstof en ink. Batterye verloor krag en pype bars maklik. Kinders mag nie langer as 20 minute op ‘n slag op ‘n tipiese wintersdag buite speel nie. Teen hierdie temperature, word gevrees dat hul longe kan vries en platval. Ten spyte van al hierdie probleme, het die mens begin aanpas en geleer om te oorleef. Talle van die koudste plekke lok deesdae toeriste wat graag sulke koue wil beleef en hul eie dapperheid teen die elemente wil toets, al hou hulle slegs vir ‘n dag of twee uit.
           
            Die koudste plek in Suid-Afrika … wel, ons het twee plekke wat om hierdie titel meeding en elkeen wil ewe graag hierdie benaming dra. Buffelsfontein, ’n plaas in die Molteno-distrik (Oos-Kaap) en Sutherland is die twee mededingers. Die koudste temperatuur nog ooit in Suid-Afrika aangeteken, is –18.6ºC (-65.48°F) op Buffelsfontein. Hierdie plaas lê op ’n hoogte van 1 783 m bo seespieël en ’n amptelike weerstasie is daar opgerig.
           
            Sutherland se hoogte bo seespieël is 1 485 m en die koudste temperatuur daar aangeteken was -16°C (-60.8°F). Hierdie dorp lê teen die Roggeveldberge in die Karoo en spog met ‘n sterrehemel wat mens laat drome droom.
           
            Dit lyk asof Buffelsfontein ‘n kortkop voor Sutherland is wat die titel as koudste plek in Suid-Afrika betref, maar as troosprys kan die inwoners van Sutherland darem sê dat die grootste optiese teleskoop (SALT) in die suidelike hemisfeer daar gehuisves word.
             
       
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Koudste plekke
Interessante artikel! My ma kom van Molteno af en sy vertel gereeld hoe het sy wintertye deur die sneeu gery op haar fiets as sy gaan werk, en dan is sy trots daarop dat sy sommer net so in haar driekwartmou rokkie op die fiets gery het en niks koud gekry het nie.
6 jaar 8 maande 1 week 1 dag oud


Nou toe nou
Altyd gedog die koudste plek is hier in die Wildernisbos, maar nouja, ek dink as dit by koud EN nat kom, dan is dit hier!

Dankie vir nog 'n baie interessante artikel. Daar word ook gesê dat as mens uitasem dit 'n kraakgeluid maak soos wat die wasem onmiddellik in yskristalle verander en dat mens moet oppas dat jou ore nie afbreek nie...

Hier tik ek nou met blou vingers, eina!
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 2 ure oud


Mag ek opmerk...??
Pretoria is self BLEDDIE koud ..
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Charles
Jy is 'n filosoof - dis duidelik. Ek wens ek kon jou kommentaar 10 punte gee!
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Corina
Ek is seker dat jy wonderlike sneeu-stories kan vertel uit Kanada ....
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Sien jy...
daar het jy nou sommer my storie geskryf...hie-hie! Dankie, ek het baie lekker gelees!
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


Koudste plek op aarde
Baie interessant en leersaam, het geniet om die artikel te lees. Volgens my is die koudste plek op aarde egter die hart wat geen liefde ken.
6 jaar 8 maande 1 week 2 dae 16 ure oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar