Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek praat met julle pragtige dames.
Gaan sit en haal daardie diamant ring van jou vinger af.
Indien joune nie ʼn diamant is nie, maar enige ander juweel, haal dit ook maar af.
Bekyk dit mooi.
Kosbaar nê?
Ook duur nê?
Maak dit jou gelukkig?

Wel, sit dit terug aan jou vinger, gaan sit agteroor en luister wat ek jou nou gaan vertel.

ʼn Klip. Enige klip. Tel dit op en gooi dit iewers heen. Tref dit enige soliede voorwerp, gebeur baie dinge.
Dinge wat die blote oog of hand nie kan bepaal nie.
Daar is instrumente wat kan bepaal:
Hoeveel het daardie klip hom vererg omdat jy hom hardhandig hanteer het.
Want;
In enige klip is opgesluit:
Onnoembare gasse wat erger as vrot eier stink;
Magnetisme – bepaalbare sterkte magnetisme;
Elektrisiteit – bepaalbare sterktes;
Versamelde ander elemente en stowwe.

Sit die elektrodes van só ʼn spesiale masjientjie op ʼn slapende klip, en die meting mag dalk gering wees. Gooi dieselfde klip teen ʼn soliede voorwerp vas en meet weer; duidelik sal die meting toon dat die klip hom bloedig vererg het.
Want die meting sal merkbaar sterker wees.

Elke klip het ook ʼn vel om. Wel, ek dink alles in die lewe het ʼn vel om.
( Party mense se vel is net dikker as ander mense sin) Ons gee die vel van verskillende goed net ander name;
Bome het bas;
Visse skubbe en vel;
Als só voort.
Om die klip se vel af te haal en te sien wat ʼn wonder wêreld daar onder toegemaak is, is die tuimel proses die beste.
Al wat ons doen is om al soortgelyke klippe - ( Die goed hou ook maar van apartheid. Sodra jy hulle gemeng bymekaar gooi en bietjie roer, neuk die sterke gou die swakke op) in ʼn silindriese houer te plaas en die houer aan die rol te sit, en binne afsienbare tyd gebeur ʼn paar dinge.;
Ten eerste, skuur hulle teen mekaar en laat die velle waai. Dit kom af in stof vorm.
Tweedens word hulle vreeslik kwaad en hoes, proes en poep en laat vreeslike stink winde waai. Die gas uitskeiding bou so sterk op dat selfs ʼn sterk geseëlde deksel, skiet af met ʼn gevaarlike , Boem!

Nou gaan ons klip jagters verder en het spesiale sny en skuur lemme en gereedskap, en van spesiale soorte klippe, maak ons baie mooi juwele en krale en ringe en sommer baie mooi goete.

Terwyl iemand vir ons die koffie gaan ingooi, wil ek ook net gou jou bloeddruk opjaag.
Ek wil eintlik jou gemoed strip deur iets te sê:
Ek wil jou vertel; Daardie diamant in daardie ring aan jou vinger, is in geld waarde sommer twak – ʼn nikswerd, cheap stuff ding.
Ek gaan jou netnou ʼn baie beter deal maak.
Troos jou, daai diamant het egter ʼn ander, baie, veel groter waarde vir jou.

Drink nou koffie en luister verder.

OK. Daar is klippe en klippe. Vaal, grys, en eentonige kleur klippe, (alhoewel as gepoleerd is hulle op hulle manier ook verskriklik mooi) gebruik ons sommer om die blommetjies en oral in die tuin en om die agter deur oop te hou.
Die beter klippe word nou gerespekteer volgens sy groep;
Kristalle;
Half edel gesteentes;
Edelstene.

Daar is ontsettend verskille oor die waarde, magte en kragte van edelstene.
Ek het mos gesê dat die goed het allerhande magte en kragte van binne opgesluit.

Net vir eers, om krag by die uitwerking van my vertelling te plaas, gaan ek van alles as ‘klippe’ praat. (Eintlik kom dit net by die edelsteen groep te voorskyn)
Ekself en ons groep glo in die medisinale waarde van die klippe. Ek glo ook aan die psigiese waarde van die klippe se magte en kragte. Ek glo ook aan die emosionele waarde van die klippe se magte en kragte.

Ek vat alle magte en kragte saam as “energie”
Hierdie opgesluite energie binne die klip het opgebou as gevolg van miljoene jare se lê onder hoë druk, hitte en wrywing.

Haal daardie klip uit, haal sy vel af, poleer dit en as jy dit kan middel twee sny, dan is dit nog beter.
Dan.
Dan stel daardie klip sy opgesluite energie vry en jy, jou liggaam, neem dit op en dit raak tot jou brein golwe, jou spiere en liggaam funksies.

Waar val hierdie Wolfie nou uit?

Vat my aan;
Ek stel dit kategories.
(En. Luister mooi. Oor wat ek nou gaan sê, is mense se huise al af gebrand en is moord al gepleeg.)
My vraag is: hoe lank, teenoor die bestaan van die mens, dateer die mediese wetenskap soos ons dit vandag ken, terug?
Kom ek verklaar kategories, nie eers 300 jaar nie.
Tussen kruie, doepas en klippe is kopseer, maagsweer, af toon en jig en ook ipekonders gemedikeer!
Ek stel dit, indien die uitsny van die appendiks (?) lewe waarborg, weet ek nie wie het gesny aan oom Noag se pens nie.

Ek raak nou lelik. Kom, ek word weer mooi.
Indien die ‘Happy Clappy ‘ Predikers ʼn waardevolle funksie lewer om die mensdom stabiel te hou, dan het die liggaam Helers cum Bossie Dokters cum Toor Dokters cum Ek’, ook ʼn funksie en bestaan reg.

Edelstene en hulle half broers.
Die volgende word vas geglo. Ek lys dit sodat jy dit teen jou yskas kan plak.
Ek los die diamant vir laaste want ek het ʼn klein bekvol daaroor te sê;
Die steen moet getuimel en gepoleerd wees;
Dit mag selfs in ʼn aantreklike vorm gesny en in staander gemonteer wees;
Hoe groter hoe beter.

Die Agaat:
Dit bevorder algemene gesondheid en trek welvaart aan;
Met ander woorde. Sit ʼn lekker grote - (Daar is Vreeslik baie tipes, soorte, kleure en geure van agate, gewoonlik by diamant myn bedrywighede op te tel.) op die tafeltjie langs jou waar jy sit en TV kyk, op jou lessenaar, op jou bed kassie of enige plek sodat jy gedurig aan sy uitstraling onderwerp word.
Jy sal beter voel. Indien jy goed voel, is jy meer suksesvol in jou sake transaksies en is jy minder geneig om geld te mors en ook meer tevrede met minder.
Sien jy my punt?

Amber:
Dit help met oor pyn, asma, rumatiek, en dit trek ook sommer alle negatiewe energie uit jou uit.

Ametis:
Puisies(aknee) sal minder en minder voorkom. Dit help vir slaaploosheid, kalmeer jou in jou meditasie en troos jou in jou smart.
Ongelooflik? Glo my en try dit.

Akwamaryn:
Beter sig – daai dof geit in die oge, keel probleme, lewer en die maag en
Luister mooi – dit kalmeer jou! (Ritalin se oupa)

Smarag:
Nou kom ons by die kroon juwele.
Jou onthou, jou luister; Dit laat jou onthou vandat jy nog net ʼn twinkel in jou moeder se oë was!
En, indien jou stabiliseerders effe onklaar is, hierdie ou stabiliseer jou beslis.
(Ek weet self nie mooi of dit sal help as ek ʼn speed wabble gedurende die jive proses optel nie)

Lapis Lazuli:
(Dit is nou nie ʼn kortbeen Zulutjie wat pie nie)
Wel, hierdie Meneer is ʼn ander een.
Jou psigiese vermoëns, jou wysheid, jou hart
En
Beskerm jou selfs teen epilepsie.

Maansteen:
Luister wat die een doen –
Hy ewewig al jou liggaam vloeistowwe.
( Ek pie goed en het hom nog nie getry nie)

Rooskwarts:
(Volop in Vryburg se wêreld)
Hoekom is daar so baie ryk mense?
Luister:
Hy kalmeer. Hy bevorder jou innerlike vrede en self agting.
Hy beskerm jou teen elektriese golwe.
(dit is nou nie soos in Eskom se choke nie. Nee, dit is soos in die golwe wat jy nie kan sien nie maar die hele lugruim vol dans en trek en jou liggaam besoedel en die weer beïnvloed en jou libido tackle!)

Saffier:
Die een is my tjommie.
Hy bevorder jou verbeelding!
Hy gee jou ʼn gevoel van vrede!

Tieroog:
Daar in die Noord Kaap – die oupa van asbes.
Uiters goed vir asma en
Hy kanselleer sommer alle negatiewe magte.

Geel topaas:
Ook ʼn groot meneer; Hoogs aanbeveel deur enige kwak cum leke chef.
Bevorder jou smaak kliere;
Help sommer met daai lastige spatare;
Kalmeer jou na ʼn lammetjie fase.

Sirkoon;
Die een is die ouma en groot moeder van klippe
Bevorder sommer jou algemene gesondheid.

Diamant:
Hier staan ek nou eers bietjie stil. Jy moet self redeneer hoekom die Jafel deur die jare aan die liefde gekoppel word.
Die huwelik is eintlik ʼn angsvolle stap in jou lewe. Die goggatjie van twyfel, alhoewel miskien baie klein, is maar altyd en gedurig dwarsdeur die huwelik in die agterkop.
Liefie is jy steeds lief vir my?- Bevestiging
Willem, waar bly jy so lank? – wantrou
Vir wat kyk jy daai vrou só ? - ????
Anita, dit is die laaste dans met daai vent, ok? – Jaloers

So kan ek aangaan.
Die diamant kanselleer en verlig al daai angste;
Die diamant vat, sluk in, absorbeer, neem weg van jou, alle negatiwiteit;
Die diamant maak jou heerlik ontspanne en sterk

Ek gaan terug na die begin waar ek jou laat vloermoer gooi het.

Jy dink jy het ʼn kosbare ding daar aan jou vinger?
Ek het nuus vir jou. Daai diamant, juweel, edelsteen is niks teen wat daar regtig in die wêreld is nie.
Nou moet jy gaan sit. Plat op jou bas en vir jou die styfste dop gaan gooi wat jou liggaam kan verwerk.
Nou moet jy vir oom Wolfie luister;
Daai diamant is ʼn niks werd ding. Waardes word op gewig gemeet. Alles in die lewe werk op gewig.
(Behalwe jive. Gewig tel teen jive !)
Brood, materiaal ( die verkoper weet hoeveel weeg een meter van daai materiaal) aartappel , rys , alles.
Juwele en edelstene se gewig is in karaat.
Een karaat is een vyfde van ʼn gram
Oftewel; 1 karaat = 0.2 gram
Dit wil sê, jy moet ʼn bal punt pen se gewig deur 5 deel. Dan het jy een karaat.
Overgesegd synde; 1 karaat voel soos niks in jou hand nie.
As die diamant in daai ring van jou dus een karaat is, moet jy weet dit is een vyfde van die gewig van een bal punt pen (Bic Click!)
Ek gee jou nou die lys van duur edelstene met hulle name en pryse en vergelyk dit nou met daai spoggerige ring aan jou vinger!
My pryse is slegs by benadering. Dit is eintlik baie duurder.
10. Jeremejevite ( die hel weet wat dit is, maar kom uit Namibië)
$ 2000 / Karaat = R15000 vir amper niks
Nou gaan ek bly by Dollar pryse.
9. Swart opaal = $2350 /K
8. Rooi Beryl edelsteen = $ 3000 /K
7. Musgravite = $35 000 / K
6. Grandidierite = $50 000 /K
5. painite = $60 000 /K
Ek hou nie op nie.
4, Blou Garnet = $ 1.5 Miljoen / K
Ek hou nog nie op nie.
3. Serendibite = $ 1,8 miljoen /K
2, Rooi diamante = $ 2,5 Miljoen / K
Die amper top punt
1.      Jadeite = $ 3 Miljoen /K
(Hoe klink R225 Miljoen vir een vyfde van ‘n gram?)

Nou die verrassing. Die mooiste en suiwerste diamant wat nog ooit ontdek is, se naam is die;
De Beers se Millenniumster.
En dit weeg ‘n allemintige 203 karaat (40.5 gram, een groot hoender eier is omtrent 50 gram):
En die prys is onbepaalbaar.

Na al hierdie duiselig wekkende gegewens hierbo, sien ek die vraag op jou gesig:
“Wolfie wat wil jy dan nou eintlik vir my sê? Ek het nie vaagste benul eers wat hierdie syfers hierbo beteken nie.”

Ek wil net vir jou verseker; Daardie klippie in die ring aan jou vinger het baie groter waarde as die geld prys wat daarvoor betaal is.
Doen wat ek sê:
Studeer dit wat ek vertel het van die energie wat daardie klippie uitstraal, en as jy dan nou vanaand klaar ge-jive het en jou handjies is weer vry, vat hulle saam en omklem daardie klippie aan jou vinger, dink aan die energie wat dit na jou toe oorplaas, sluit jou ogies en gaan ʼn rustige nagrus in.

Ek dank die volgende vir hulp met die gegewens
Die Groot Vader van die Edelsteen: Prof. Jos Lurie.
Die Beeld vir sy ‘Helende stene’.
Saterdag 26 Mei 2001
‘n Wonderlike plek om te besoek;
African Gems and Minerals in Johannesburg en ook in al die groter stede in die land.
(011 9736303)
Die Geologiese Museum in MuseumAfrika in Newtown. Johannesburg.
Google : Prices of rare Emeralds.

Willie F van Tonder
2012/04/05



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Smokkel met onkunde?
Lekker gelees aan die maar sluk swaar aan die idee dat verskillende edelstene, klippe en half edelgesteentes enige invloed het op jou geestelike en liggaamlike toestand het. Met kontak en miskien die chemiese onderdele van die klippe ja, maar het ons hier te doen met stene wat magiese kragte het om sekere aspekte van jou lewe te bevorder, jou te genees ens?

Ek wil net 'n onderskeid maak tussen die fisiese klippe (jy kry jou yster van 'n klip om jou bloedarmoede mee te help) en die magiese kragte ("velde" wat jou karma beïnvloed ens) van die klippe.

Ek kan jou 100% op die rug slaan vir ingestie om die chemikaliese eienskappe te gebruik.

Waar ek die kloutjie by die oor mis, is die idee dat die kristalle ens. jou kan heel en dinge "aantrek" en dat jy by van die "uitstralings" sal baat.

Kom ek neem sommer 'n voorbeeld wat my mooiste klip is, tieroog. (Dit het sulke mooi patrone as jy dit natmaak)

As dit vir asma help, dan kan ons mos statisties bewys dat mense wat elke dag met dit werk (kom ons sê die mense wat op die myn werk wat dit uitgrawe) sal baie minder asma hê as mense wat in die volgende myn werk wat byvoorbeeld smaragde uitgrawe.

En nou die groot vraag wat ek aan mense wat dit glo wil vrae. (En ek praat nou van die gurus en happy clappys wat dit in 'n besigheid verander het)

Wie van julle verkoop die gesteentes aan mense om hulle medies te help?

Prooi julle nie op mense se onkunde en op siek mense nie?

Hierdie "velde", "uitstralings" en "eienskappe" is getoets en op die mees basiese vlak is dit in die suggestie en die placebo effek geplaas.

Professor Christopher French - http://www.gold.ac.uk/psychology/staff/french/

Studie - http://www.rickross.com/reference/general/general369.html

En sommer vir die lekker lag daarvan - http://www.youtube.com/watch?v=HMGIbOGu8q0

7 jaar 8 maande 6 dae 23 ure oud


Klippe
Omrede ek nie tegnies wou raak nie, het ek veralgemeen met my term "Klippe".
Tegniese is daar soos Amber en Tieroog en baie ander, Organiese 'stene', dws. van plante oorsprong en eintlik fosiele.

Ons werk en hanteer almal egter dieselfde met die sny en poleer proses en daar is ook weinig verskil in die fosiele se einskappe teenoor klippe.
7 jaar 8 maande 1 week 5 dae 22 ure oud


Klippe
..... en al weet sy nie dat haar 'diamant' eintlik net 'n CZ(Cubic Zirconia) of 'n silwer saffier is nie, maar sy glo wat jy haar vertel, dan sal dit werk. Jy weet mos, mind over matter. Nou wil ek net vra: 'Amber is nie 'n klip nie, of hoe?'
Ek sien nou weer al die mooies voor my, Tourmaline, Iolite, Jasper en die heel mooiste vir my, Tanzaniet. Ek is nou lus vir nuwe jewellery!!
7 jaar 8 maande 1 week 5 dae 22 ure oud


Klippe
Willie, hierdie was nou een van die interessantste artikels in 'n lang tyd gelees -- en só goed aangebied. Ek gaan sommer nou die klompie gepoleerde halfedeles wat ek op Springbok gekoop het in 'n glashouertjie hier op my lessenaar sit! Baie dankie!
7 jaar 8 maande 1 week 6 dae 2 ure oud


Oom Wolfie
As jy nou nie omgee nie, wil ek net kommentaar lewer oor die deel van "ʼn Klip. Enige klip....tot....deksel, skiet af met ʼn gevaarlike , Boem!“ Hierdie deel kan ons so perfek toepas op die mensdom, dat ek eers gedink het jy praat werklik van mense! Ja, so is ons elkeen maar sy/haar eie tipe 'klip' en lewer dan ook verskillende bydraes tot die samelewing.
Dat die natuur baie groter en baie meer ingewikkeld is as wat ons ooit sal verstaan, die Boesmans het hierdie konsep virmy nog duideliker gemaak, is beslis so. Daarom luister ek die ene ore wanneer iemand die moeite doen om die natuur in diepte te bestudeer. Vir my persoonlik bly dit altyd geanker in die Grootheid van die Skepper wat 'agter' dit als 'sit'. Dankie vir nog 'n juweel!
7 jaar 8 maande 1 week 6 dae 4 ure oud



IN DIE AANSLAG OP DIE KLEUR VAN ONS VELLE VAL ONS BLOED OP DIE GROND

deur http://www.woes.co.za/

FIKTIEWE VERHAAL WAT DIE ONGELYKHEDE VAN ONS VERLEDE EN HEDE BLOOTLê.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar