Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My Oupa se Hande

In my geestes oog sien ek hoe ek oupa se hand vashou. Hy is weer siek in die bed. Die kanker wil maar net nie los nie.

Oupa se hande was maar altyd skurf en grof. Nie eers "hands, knees, heals and elbows" wou die ding doen nie, daarvoor het hy te hard en te veel met sy hande gewerk. Wanneer ek so langs die bed op die bedkassie gesit het, het ek altyd sy linkerhand vasgehou en al die eelte en skrape en duike en krake na gevolg. Ek het altyd gewonder waar elkeen van die eelte en skrape vandaan kom. Ek weet ek het baie keer gevra, veral oor die een eelt wat soos 'n knoppie op sy hand gestaan het. Ongelukkig kan ek nie eers daardie storie onthou nie.

Wat ek wel onthou is hoe oupa se hande altyd na een of ander ervaring gelei het. Eenkeer, ek was nog klein, heelwaarskynlik net in graad een of twee, het ons by oupa se werk gaan kuier. Oupa het by Chapelet (die Chappies fabriek) gewerk. Op daardie stadium het die fabriek ook lekkers soos Sugus en sjokolade gemaak. In daardie einste fabriek het my groot liefde vir sjokolade begin, want my oupa het sy vinger in die gesmelte, aangemaakte sjokolade gedruk en my toegelaat om sy vinger af te lek. Heerlik! Geen mens sal verstaan hoe sjokolade so vars kan wees en proe nie.

'n Ander keer het oupa tuis gekom van die einste fabriek en vertel hoe hy en sy kollegas besig is met die ontwikkeling van 'n nuwe geur Sugus. Eers het ek nie verstaan wat die belangrikheid daarvan was nie, maar later het ek besef dat my oupa se hande en een derde van die Sugus resep in sy kop verantwoordelik was vir die lekkerste vrugte-toffies in die wêreld. Sien, daar was een resep vir Sugus. Drie mense het elk een gedeelte van die resep geken. Niemand het die volle resep geken nie. Dit was 'n geheim.

Oupa se hande het ons ook geleer van liefde en teer wees (en soms van kwaad wees, veral as ons stout was). Oupa het met sy rowwe hande altyd ouma se hand vasgehou. Ouma was 'n dame. Sag en liefdevol. So 't ons geleer om met eerbied en liefde die geliefde in jou lewe te eer en aan te raak.

Oupa se eelt-hande het 'n groot rol gespeel in my lewe omdat ek deur net langs hom te kan sit, sy hand vas te hou en die eelte en groewe te volg kon leer van die lewe, van die mooi en die lelik en van nuwe ervarings wat vat en voel kan bring.

© Naomi Smit



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hande
Ou hande kan baie stories vertel, mooi herinneringe aan jou oupa.
3 jaar 11 maande 3 weke 4 dae 19 ure oud


Ano
Hande
Sjoe, dankie. Dit is lekker om deur jou oe na jou oupa te kon kyk :-)))
3 jaar 11 maande 3 weke 4 dae 20 ure oud


koerant
Pragtige weergawe van die stories en lesse uit 'n oupa se hande.
3 jaar 11 maande 3 weke 4 dae 20 ure oud


Die koerant 3
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die HANDE projek.
3 jaar 11 maande 3 weke 5 dae 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Alles-in-een-toerustingspakket

deur Christo Nel

Wat Joyce Meyer gedoen het in Engels, doen Christo Nel nou in Afrikaans! Hier voor jou het jy iets unieks in Afrikaans. Leer om in Jesus se Naam mense te bedien, met behulp van die Alles-in-een- Potpouri-toerustingspakket uit die Nuwe Wyn-kelder!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar