Artikels

Titel: Die Lange Hoop: Oorsprong en Oorsig

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“SONDAG 5 AUGUSTUS 1838”
In die Dagboek wat Erasmus Smit tydens die Groot Trek gehou het, verskyn die volgende inskrywing op Sondag 5 Augustus 1838:
“Die predikant het vir ‘n groot gehoor gepreek. Die kollekte was drie riksdaalders. Na die preek het die predikant vir Cornelis Johannes Erasmus met Jakoba Adriana Koetzer en Marthinus Jakobus Oosthuizen met Aletta Barendina Rudolph in die eg verbind.”
Rondom hierdie hoogtepunt in die lewe van Marthinus en Aletta, twee mense wat in 'n rustelose tydperk in ons geskiedenis vir mekaar bestem was, ontvou 'n drama van twee mense wat lig en liefde gevind het te midde van die donker en droewige gebeure rondom die Groot Trek: die drama van “Die Lange Hoop: 'n Versdrama oor die Groot Trek”.

AGTERGROND
Tydens ‘n kerkgeleentheid te Olifantshoek in die Oos-Kaap in 1834 ontmoet Marthinus Oosthuizen, die 17-jarige seun van Marthinus Oosthuizen (snr.) vir Aletta, die dogter van Bernhard Rudolph; en hulle ervaar iets van die innigheid van die ewige wonder wat liefde genoem word.
Na die eerste vroeë trekke van Trichardt, Van Rensburg en Potgieter, besluit Oosthuizen om saam met Gerrit Maritz die Kaap in September 1836 te verlaat.
Na verkenningstogte en beraadslaging vertrek Piet Retief in Februarie 1837 uit die Oos-Kaap; en Piet Uys in April 1837. Die trekke versamel by Blesberg (naby die huidige Thaba N’chu) en
onsekerheid heers oor die rigting daarvandaan.
Ongeveer in hierdie tyd het Bernhard Rudolph ‘n besoek aan die trekkers in die noorde gebring en hy besluit ook om sy plaas, De Lange Hoop, te verlaat, en hom te skaar by die trek van Karel Landman in Oktober 1837. Intussen het Marthinus, onwetend dat Aletta nou ook pad is, verloof geraak aan Debora Maritz, sy trekkerleier se dogter.
Teen hierdie agtergrond speel die versdrama, “Die Lange Hoop” af.
Selfs helde neem in kalm tye nie altyd die regte besluite nie; wat maak gewone mense onder beproewings wat so groot word dat ‘n sterfling dit nouliks langer kan verduur?

Sover as wat dit moontlik was, is getrag om die historiese gebeure korrek weer te gee. Gebruik is gemaak van die dagboeke van Trichardt en Erasmus Smit; en werke van verskeie geskiedskrywers is geraadpleeg. Soms moes egter, om die getal karakters te beperk, en vir vloeiendheid in die verloop van die verhaal, vrye teuels aan die verbeelding gegun word. So ver as moontlik is probeer om aan die eise van die klassieke digkuns ten opsigte van rym, ritme en versvorm te voldoen - waar dit nie geslaag het nie, word begrip van die leser gevra.

DIE PUBLISERING VAN “DIE LANGE HOOP” OP WOES
Indien “Die Lange Hoop” aan enkele uitgewers voorgelê is, kon enkele kenners daarna kyk. Met publikasie op Woes word dit tot beskikking gestel van digters en skrywers wat, gedrewe deur die vreugde en uitdagings van skeppende letterkunde, 'n beter begrip, 'n beter oordeel, en meer waardering daarvoor, en grondiger kritiek daarop, mag hê.
Die wyse van publisering op Woes het egter probleme geskep. Daar is vier bedrywe met 'n totaal van 10 korter en langer tonele: alles op een slag, of aflewerings? Met kort of langer tussenposes? As gedig of reeks verhale? Op skyf beslaan “Die Lange Hoop” 'n totaal van 395 KB, 1895 reêls en 14919 woorde.

Op die ou end het dit soos volg gestalte gevind:

Eerste aflewering: Eerste bedryf, eerste toneel:
Omstreeks 1836. In die sitkamer van Karel Landman se woning te Olifantshoek in die Oos-Kaap op die vooraand van Pieter Uys se verkenningstog na Natal. Die toneel begin waar Bernhard Rudolph en Karel Landman besin oor die omstandighede waarin hulle verkeer. Ons maak kennis met Marthinus Oosthuizen en Aletta Rudolph, en wanneer Rudolph en Landman die toneel verlaat, korswil die twee jongmense. Martha Landman hoor die gesprek en terg vir Marthinus. Daarna ontmoet ons Dirkie Uys as hy en Martha (Ouma) oor die toekoms en die lewe gesels. In teer oomblikke vertolk Ouma amper 'n rol soos die van die Koor in die klassieke Griekse drama wat 'n wenk van onheilspellende gebeure aan die gehoor gee. Wanneer Dirkie van die toneel afstap, gesels Agatha Landman, Johanna Rudolph en Martha goedig oor hulle eie probleme. Johanna hoor van die man in haar dogter se lewe.

Tweede aflewering: Eerste bedryf, tweede toneel:
'n Maand later in dieselfde sitkamer. Piet Uys, Landman, Rudolph en Oosthuizen (snr) gesels ernstig oor die trek. Marthinus Oosthuizen (jnr) en sy maat, Salomon Smit, verskyn op die toneel en Marthinus, aangepor deur Bacchus, opper sy bedenkinge oor die trek. Dit lewer beroeringe wat meebring dat Marthinus se pa 'n ernstige gesprek met hom voer. Daarna sien ons hoe kalwerliefde ontluik wanneer Marthinus en Lettie hulle drome deel. As Marthinus afstap, het Rudolph en sy dogter 'n uitval.

Derde aflewering: Eerste bedryf, derde toneel:
April 1837. In die woning van Piet Uys. Omstandighede buite hulle beheer dreig om 'n wig tussen Piet en Alida in te dryf. Louis Meurant sluit by hulle aan en Piet ontdek 'n innige band tussen mense wat na vryheid streef.

Vierde aflewering: Tweede bedryf, eerste toneel:
Steeds April 1837. In die binneland by Blesberg, naby Thaba N’chu. 'n Volksvergadering het so pas vir Retief tot leier verkies en Retief, Erasmus Smit en Gerrit Maritz beraadslag oor die pad vorentoe.
Marthinus en Salomon het gehoor wat die mans praat; iets wat Maritz gesê het, ontstel Salomon en Marthinus probeer troos. Hier kom 'n weergawe van “In elke wêreld” voor. Dan kom Debora Retief op die toneel. As die kat weg is, is …

Vyfde aflewering: Tweede bedryf, tweede toneel:
September 1837. In die veld, iewers in die omgewing van die Vaalrivier. Piet Uys en Andries Potgieter is op 'n strafekspedisie teen Silkaats. Ons kan sien waarom Potgieter nie die taktvolste mens in die geskiedenis was nie, en ons kry waardering vir 'n mens wat dalk nie baie dinge geken het nie, maar die regte dinge geweet het. Sarel Cilliers en Marthinus Oosthuizen daag te perd op en ons verneem van nuwe verwikkelinge.

Sesde aflewering: Derde bedryf, eerste toneel:
Einde van Februarie 1838 by die Rudolphgesin se staanplek in die veld. In Oktober 1837 het Bernhard Rudolph en sy gesin saam met Karel Landman se trek uit die Kaap vertrek en hulle is steeds op pad. Terwyl die mans op 'n verkenningstog uit is, is Aletta Rudolph en haar moeder besig met hul daaglikse pligte. Sarel Cilliers kom daar aan en skets een van die donkerste episodes in die lewe van 'n jong volk met die “Bloukransverse”.

Sewende aflewering: Derde bedryf, tweede toneel:
Julie 1838. By die laer aan die Tugela. Erasmus Smit, Maritz, Rudolph en Landman in gesprek. Die omstandighede versleg en die toekoms lyk al hoe donkerder. Die heldedig “Dirkie Uys” kom in hierdie toneel voor.

Agtste aflewering: Derde bedryf, derde toneel …
Dieselfde plek. 'n Rukkie later.
Marthinus en Aletta vind mekaar weer. “Selfs helde neem in kalm tye nie altyd die regte besluite nie; wat maak gewone mense onder beproewings wat so groot word dat ‘n sterfling dit nouliks langer kan verduur? ” In hierdie toneel kom die oorspronklike weergawe van “Ode aan 'n Engel” voor as 'n monoloog van Aletta waarin sy haar liefde vir Marthinus bely. Dit bly 'n daad van dapperheid om die self op 'n altaar te plaas.
… en ook die vierde toneel:
Steeds dieselfde plek, en nog 'n rukkie later. Marthinus en Debora neem afskeid. En dit is net so 'n groot gebaar van dapperheid om wanneer die waarheid wat jou in die gesig staar, diep wonde slaan, dit te kan aanvaar.

Negende aflewering: Vierde bedryf, eerste toneel:
Die aand van 15 Desember 1838 in die laer by Wasbank, die latere Bloedrivier. Marthinus en vier maats hou wag. Die manne is opgewonde. Marthinus is miskien meer as die ander bewus van die erns van die situasie; hy raak al hoe driftiger na mate die gesprek vorder. Hy verloor sy humeur as hulle hom terg. Dit kos Cilliers moeite om hom te kalmeer en hy die situasie met begrip aanvaar.

Tiende aflewering: Vierde bedryf, tweede toneel:
'n Paar dae later by die wa van Landman in die kamp. Agatha, Johanna en Aletta wag in spanning op tyding van Bloedrivier. Daar is 'n skril kontras tussen die afwagting van Aletta, en die berusting van Alida Uys. Landman, Rudolph, Cilliers en Marthinus keer terug van die slagveld en doen verslag. Meer burgers kom by. Al die leed en lyding was nie tevergeefs nie: Die Lange hoop duur voort … met 'n besondere betekenis vir Aletta en Marthinus ...



(Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag in enige vorm gereproduseer word sonder die voorafgaande skriftelike toestemming van die outeur nie. Vanweë die omvang van die werk, word Woes-lesers egter by voorbaat toestemming gegee om die aflewerings vir eie gebruik uit te druk en te bind.)



Kommentaar

Marthinus Oosthuisen
Voorwaar 'n man soos min. Ek dink rassekwessies laat ons heeltemal die punt mis oor wat hierdie helde vir MANWEES en GELOOF kan beteken. Dit het nie gegaan oor rasse-oorlog nie, maar oor die oorlewing en ontwikkeling van 'n besondere volk. Vandag soek ek daardie volk orals. Elke volk het sy plek en waarde, maar ons s'n word so verwaarloos dat dit doodbloei.
1 jaar 6 dae 4 ure 41 minute oud


Die Lange Hoop - oorsig
Ek is s doen opgewonde oor hierdie werk van jou ... Ons moet iets doen om die geskiedenis by die jeug (more se toekoms) uit te bring. L.T.
1 jaar 5 maande 1 week 1 dag 5 ure oud


Hats off to you!
GROOT respek vir die ernorme taak wat jy met hierdie reeks onderneem. Goed nagevors en besonders aangebied in die vorm van versdrama.

Persoonlik dink ek hierdie materiaal is ideaal vir 'n roman met Marthinus en Aletta as hoofkarakters. Die geskiedkundige gebeure skep die perfekte agtergrond vir 'n 'Love during war' tipe storie.

Sien uit na jou volgende opvolg stuk. Dankie dat jy ons voorvaders weer lewe gee. Dis nodig dat ons onthou...
1 jaar 8 maande 1 week 3 dae 8 ure oud



Voedsel vir die Siel

deur Snuffelgids

Hierdie digbundel is Voedsel vir die Siel. Dit bevat elke emosie se leemtes en na die lees voed dit jou tot in die dieptes van jou siel. Geen emosionele leemtes sal ooit weer kop uit steek nie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar