Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Sarah Rayburn het die novelinee geskep, wat ‘n nege versreël stansa is wat afgelei is uit die Spencer stansa, maar geskryf word in jambiese pentameter, of deca-lettergrepige (tien lettergrepige) versreëls. As die novelinee gebruik word as ‘n reeks, moet ‘n variasie van die vorige slot versreël gebruik word as die begin versreël van die volgende stansa. In die geval van ‘n geslote novelinee, moet ‘n variasie van die vorige stansa se slot versreël ook gebruik word as die begin versreël van die volgende stansa, moet die slotreël in die laaste stansa eindig met ‘n variasie van die eerste versreël van die eerste stansa. In ‘n reeks eindig die slotreël van die laaste stansa met ‘n sinoniem van die rymwoord van die eerste versreël van die eerste stansa.

Die rymskema van die novelinee stansa is ababcdcdd. Vir ‘n geslote novelinee is die rymskema A1babcdcdD1 / D1edefafaA1 vir ‘n novelinee reeks is die rymskema ababcdcdD1 / D1edefgfgG1 / G1hghijijj ... (Hoofletters dui hier ‘n variasie tipe van ‘n refrein versreël aan)

Sarah Rayburn se gedig “Betrayal of Trust” is ‘n uitstekende voorbeeld van die novelinee, haar gedig “Motherland ~~~ Closed Novelinee” is ‘n uitstekende voorbeeld van die geslote novelinee en haar gedig “Novelinee Sequence - Sweet nightingale, unparalleled beauty” is ‘n uitstekende voorbeeld van die novelinee reeks (novelinee sequence).

Hier is van my gedigte wat pogings tot die novelinee, die geslote novelinee en novelinee reeks is:


GI Jane (Novelinee)

Die oomblik toe ek jou sien, jou oë glim,
was daar skielik ‘n ruising in my bloed
en jy het vlak binne in my hart geklim
toe ewigheid ons albei fladder groet,
geglimlag sonder ‘n soort huiwering
ons was buite Luhathla hoofkwartier
toe ek uit ‘n Ratel pantserkar spring;
dik vir reglement, weermag formulier
jy was pragtig die middag net na vier.


GI Jane II (Novelinee)

Jy was oortuig dat God se werk kragtig
in alle natuurlike dinge is
en vir jou was sy liefde waaragtig,
‘n soort geheime proses met kennis.
Ek het jou eens onder sterre aanskou;
jou lippe was sag en jou lyf vuur warm
toe jy my daar ademloos styf vashou
en jare later bly ek ietwat arm
sonder jou, as liefde my nie erbarm.


Nietig is wit wolke wat verbygaan (Novelinee)

(na Toon van den Heever)

Nietig is wit wolke wat verbygaan,
soos sterk winde wat geen vastigheid het
wat hoog gebou asof in torings staan,
sonder dat wagters na ondergang let.
Altyd swiep die winde en wolke voort
en vir my en jou is ‘n tyd bepaal
om ‘n lewe te kan bou soos dit hoort,
om met mekaar die lewe te laat draal,
in die dieptes van liefde te verdwaal.

[Verwysing: Haelwit gestapelde wolke” deur Toon van den Heever.]


As die rooidag skielik begin aanbreek (Novelinee)

As die rooidag skielik begin aanbreek
lê jy langs my of jy verlore is.
As die son die middag aan die brand steek
weet ek al reeds hoe diep ek jou reeds mis.
As die skemer oor die horison sit
sien ek jou as jy skielik huis toe kom
word die aand vir oomblikke silwerwit
wil ek my dan aan ons geluk verstom,
sien ons saam die aandster as dit blou blom.


As ligdag kom (Novelinee)

As ligdag kom trek die wolke oop
sodat die nag al haar glinster goed vat
die son se strale deur die hemel loop
sterre agter die blou in stukke spat
en as die maan na skemering goud glim
veel groter word asof dit nader gaan,
met ‘n boog bo oor die horison klim,
trek die nag haar satyn swart mantel aan,
is daar sterre wat soos hael wit uitslaan.

Besetting (Novelinee)

Om ‘n deel van jou te wees, een te word
aan ‘n diep syagtige soort siddering
as emosie en woorde ineenstort
in die rein eenheid wat alles saambring
is meer as pretensielose hartstog,
as jou oë pyl skerp veel dieper indring
ons wegvoer op ‘n onbekende tog,
tot ‘n nuwe soort betekenis bring,
is dit van beide ‘n soort besetting.


Jou briewe bly gedurig steeds vermis (Novelinee)

Jou briewe bly gedurig steeds vermis
en vir jou is ek nog ‘n banneling,
selfs die paartjies wat elektronies is,
is nou met tye net herinnering.
Ek moet ‘n soort manier na jou toe vind
of oorgee aan die mag van die noodlot,
wat my met tye erg probeer verslind.
Jy dink dalk my liefde is half verspot
want my finansies is verby bankrot?


Poplap van my (Novelinee)

Miskien sien ek jou later straat af kom,
verby bastionne van baksteen en staal,
waar mense grendel, as ridders vermom
wens dat daar ‘n soort vrede neer moet daal.
Miskien glimlag jy soos altyd vir my,
stop dalk ‘n oomblik om ‘n gedig te hoor;
ek wens jy wil ‘n rukkie langer bly,
poplap jy het my voorheen al getoor,
aan jou het ek lankal my hart verloor.



Aspoestertjie (Novelinee)

Oor die wit laken lê jy uitgestrek
jou warm asem liefkoos saggies my wang;
met die geel perske reën het jy gekom,
as die donder blouwit gordyne hang.
Jou parfuum se diep geur oorweldig my,
trek by klere in soos wat dit soms doen,
ons word deel van mekaar, tyd glip verby
as drome en werklikheid saam versoen;
die oggend vind ek jou verlore skoen.


Vervulling (Novelinee)

(na S. J. Pretorius)

As twee mense nakend saam versmelt
word liefde ‘n absolute werklikheid,
as gedagtes, drome realisties aanmeld
as ‘n tipe konkrete sinlikheid,
as die ewigheid bloot tot tyd verbrokkel
tot die essensie van lewe nuut kom,
word plesier tot geluk afgerokkel,
is daar iets heel kosbaar wat skielik blom,
is selfs dood en tyd oombliklik verstom.

[Verwysing: “Vervulling” deur S. J. Pretorius.]


Dat ons liefde ook verlore moet gaan (Novelinee) (in antwoord op N. P. van Wyk Louw)

Dat ons liefde ook verlore moet gaan
op ‘n tyd tot ‘n einde sal moet kom,
‘n einde vir alle dinge bestaan
is iets wat my bedroef en verstom,
dat geeneen die koms van die nag kan keer,
as ek soms jou sonstraal blikke aanskou,
weet ek niks, niemand kan die dood afweer,
as ek jou soms tederlik bly vashou
so of liefde ewiglik kan aanhou.

[Verwysing: “Dat alle liefde” deur N. P. van Wyk Louw.]


Jy het my skielik by die fliek kom groet (Novelinee)

Jy het my skielik by die fliek kom groet
met jou hare roesbruin en nogal lank
jou blik dring in my in, klop in my bloed
as jou lyf uitrek en slank om my rank.
Dit voel of daar dinge tussen ons is,
as jy na my kyk en ek na jou staar
en ‘n tipe van verborge kennis
wat ons skielik trek tot dig teen mekaar
en skielik saam verdwaal na wie weet waar.


Toe een siel saam in ons gedagtes was (Novelinee)

(Na C. Louis Leipoldt)

Toe een siel saam in ons gedagtes was,
was ons saam by die helder blou blink see
het jy vrolik rond geswem en geplas,
my vurig gesoen, ‘n drukkie gegee,
het net dieselfde dinge ons besiel
was die hemel eens ‘n soort kobaltblou
het ons soms saam gebid, saam neergekniel,
saam op die krag van die Here vertrou,
toe het jy my bemin, my vasgehou.

[Verwysing: “Wys my die plek waar ons saam gestaan het” deur C. Louis Leipoldt.]


Daar is doudruppels in jou oë (Novelinee)

Daar is doudruppels in jou oë, die groen
wat verby my lag, al my maskers kyk,
wat eienaardige dinge aan my doen
as jou oë glad nie voor myne wil wyk,
val jou trane soos reën tussen blare,
as vreugde en pyn by jou oë uittap
ruik ek katjiepiering in jou hare,
laat jy my jou dinge van liefde snap
as jy jou gevoelens vir my verklap.


Sal ons, ons ou verhouding weer begin (Novelinee)

Sal ons, ons ou verhouding weer begin
of is liefde vir jou slegs ‘n soort spel,
waarin mens dinge vir mekaar versin,
dit wat soms tel of ‘n pad na die hel?
As jy my ontmoet met ‘n omhelsing,
vuriglik steeds ons liefde wil bedryf
maar niks wil weet van ‘n soort verhouding
kan jy my nou as ‘n minnaar afskryf,
iemand anders in jou wellus inlyf.


Jou stralende blik maak my woorde stil (Novelinee)

Jou stralende blik maak my woorde stil
as dit diep verby die oppervlak trek,
hier moet ek afwyk van my eie wil
jou neem na ‘n onbekende bestek,
na ‘n plek waar mens nog aan liefde glo,
getrou aan mekaar vir ewig vas sweer
selfs reik verby elke soort onvermoë
iets groter vind as die jare se seer
leer om te vertrou, om weer te probeer.


Die helder sterre sing ‘n minnelied (Novelinee)

Die helder sterre sing ‘n minnelied,
vertel die wêreld as jy na my kom
en gedurig is daar een wat verskiet,
in blouwit lig aan die swart hemel blom.
Gedurig noem die wind jou skone naam,
aan takke fluister dit ons geheime sag,
waai die getuienis van ons saamwees saam
en dis al lankal reeds pikdonker nag
as jou tande skitter, jy opgewek lag.



Toe ek myself, liggaam siel en gees gee (Novelinee)

Toe ek myself, liggaam siel en gees gee
het ek geweet dat daar dalk pyn mag wees,
was ek gevang, as ‘n kind half verleë
maar dit was toe sonder enige vrees.
In jou het ek myself volkome verloor,
wou ek toe ‘n siel genoot probeer vind
ek kon jou liefde in jou hartklop hoor,
was verlief en van die wêreld verblind,
het in liefde geglo netsoos ‘n kind.


Jy is mooi (Novelinee)

Dit maak glad nie meer saak dat ander mans
se blikke na jou dwaal, jou agtervolg,
hul soms na jou kyk asof in ‘n trans,
verkeersmanne jou motor soms wil volg.
Jy is mooi, het iets by skoonheid verby
en almal kan dit dadelik raak sien,
daar is geen ander mooier vrou vir my;
ons saamwees is veel meer as net miskien,
jou liefde is iets wat ek nie verdien.


As die vensters van jou siel met vaak sluit (Novelinee)

As die vensters van jou siel met vaak sluit,
jy draai, jy teenaan my wil lepellê
is ek dan uit al jou gedagtes uit
of wil my ook dig in jou drome hê?
As ek jou asem sag teen my wang voel
stap ons dan nog saam in jou paradys;
is jou slaap geslote, vir jou bedoel
of wil jy my die mooiste blomme wys
of is daar ‘n muur wat in die slaap rys?


Slaapkamer (Novelinee)

Van gister was die gordyne toegetrek,
en toe ek verdwaal in jou lyf en mond,
was jy begerig langs my uitgestrek,
was die geur van liefde soos reën op grond,
het die son deur gordyne probeer breek
was ons diep in mekaar verdwaal gewees,
het ek hande deur jou hare gesteek
het kontak ons van vorige pyn genees
en ons het mekaar bemin sonder vrees.


Winter (Novelinee) (in antwoord op D. J. Opperman)

Deur donker nagte lank is ek alleen
mis ek jou steeds in hierdie vaal seisoen
waar die stormwind sterk waai in die reën,
vergeet ek alles wat liefde kon doen,
hoor ek die storm soos ‘n groot ondier kla
as die weer net nat teen die vensters tril,
die bome kaal geen meer blare wil dra
en dan word alles om my skielik stil
oor jou lewe so heeltemal verspil.

[Verwysing: “Voorwinter” deur D. J. Opperman.]


Onaantasbaar (Novelinee)

Soms voer ek snags met jou ‘n tweegesprek,
waar jy onaantasbaar te vêr weg is
as ek beelde in gedagtes opwek
maar uit die lewe is jy seer vermis.
Dis slegs ‘n soort droom wêreld wat ek bou
waarin jy netsoos toe nog pragtig lyk,
ek jou styf vas kan hou, jou kan aanskou,
eintlik is jy altyd buite bereik
is dit herinnering waarin ek kyk.


Aan ‘n gestorwe beminde (Novelinee)

Baie vroeg toe ek vanoggend opstaan
het ek die oggend ster gesien wit skitter
het my gedagtes na jou toe gegaan
en toe was die skemer al heelwat witter
het ek jou geur, die warmte in die bed
vir oulaas probeer vang, maar jy is weg
en ek het my teen die dood probeer verset,
maar jou teenwoordigheid draal, niks kom reg
as ek jou geur kry, jy is aan my geheg.



Héloïse aan Peter Abelard (Novelinee)

Veels te klein is die nagedagtenis
met veels te min om nog steeds te bewaar
oor wat jy vir my was en dalk nog is
en met tyd vervaag ons net tot mekaar.
Hier is ek nou vasgevang tot my lot
as jy onverwags deur my gedagtes dwaal
buig ek my steeds neer tot mens en tot God
wag dat ‘n boodskapper my brief kom haal,
steeds bly ek in jou, ons liefde verdwaal.


Die swart luiperd (Novelinee)

(na N. P. van Wyk Louw)

Dis donker nag as daar ‘n roering kom
met oë wat goudgeel wreed glim
buite die oop glas vensters sien ek hom
sluipend asof hy net hier in kan klim.
Aardig het verandering ingetree
hom toe skielik van mens na dier gemaak,
hom ‘n soort genadeloosheid gegee
om te plunder, koelbloedig dood te maak,
gedurig leef hy in die gloed van wraak.

[Verwysing: “Die swart luiperd” deur N. P. van Wyk Louw.]


Wolraad Woltemade (Novelinee)

Sterk en fier het hy op sy perd gesit
‘n man in wie se oë blou donder brand
in die golwe in was sy haastige rit
om drenkelinge te bring na die strand
menigte het hy so heldhaftig gered,
heel vreesloos in gejaag in ‘n storm see
met elke keer net ‘n kort skietgebed,
die perd omgeruk met dawerende treë
en toe skielik swiep die golwe hom mee


Die ewige kind (Novelinee)

(na C.M. van den Heever)

Sy gryskop ma stoot die rystoel in die straat
met sy groot waterhoof wat heen en weer wip,
‘n onsamehangende gryns op sy gelaat
maar dan skielik staar hy net voor hom stip
as sy pap hand sommer vanself uitreik
‘n harwar en spoeg oor sy lippe kom
mense byna wegvlug, voor hom uit wyk
ander na hom staar en hulle verstom
en die ganske lewe gaan verby hom.

[Verwysing: “Die ewige kind” deur C.M. van den Heever.]



Toe die son sterf oor die oop blou see (Novelinee)

Toe die son sterf oor die oop blou see
vat jy saggies, baie intiem my hand
is daar ‘n ligte drukkie wat jy gee,
as water in en uitgly op die strand
is jy soos skone Eva van lank vervloë
voel dit of ons slegs oomblikke bestaan
is daar sonlig, iets helder in jou oë
as tyd bly draal, ons styf teen mekaar staan
roep wit meeue krassend veel verder aan.


Stralend is dit wat jy vir my glimlag (Novelinee)

Stralend is dit wat jy vir my glimlag
soos wat vrouens doen van die oer begin,
kobaltblou lyk dit na ‘n wyd oop dag,
stadig maar seker klim jy by my hart in.
Ons oë vang mekaar intens, mens op mens,
tussen ons word dinge skielik doodstil
onuitgesproke lê tussen ons ‘n wens
as ons saam geen verdere tyd verspil
word liefde by ons ‘n eenling tipe wil.

Baie diep in die donker maanlig nag (Novelinee)

Baie diep in die donker maanlig nag
hoor ek steeds die geluide van duiwe
waar hulle heelnag koer fluister en lag,
sien ek die geel maan gloei en aan skuiwe
waar dit hoog bokant die horison sit
is daar later donders wat knetterend klap
in verblinde flitse van helder blouwit
met duiwe wat verskrik oor die dak trap
as die storm wind deur takke nader stap.


As die son laat middae die rante kus (Novelinee)

As die son laat middae die rante kus
bars daar ‘n diep rooi in die weste los
as die natuur, die mens kom tot aand rus
hoor ek tarentale vêr weg skreeu in die bos
is daar ‘n soort stilte wat skielik neerdaal
as die mens boekevat hom tot God begeef
waar sommige hulle tot liefdes dade bepaal
die essensie van lewe en om te leef
ander steeds nog roem en rykdom nastreef.


Soggens as die son deur die venster loer (Novelinee)

Soggens as die son deur die venster loer,
is daar voëls wat sing in ‘n jubeling
wag hul dat ek hulle saadjies moet voer
is dit asof die blomme hoër op spring
vang die oop lug se suiwer kobaltblou,
die son se glorie wat op my vel val,
is dit of mens soos ‘n kind kan vertrou,
sien ek orals klein wonders sonder tal,
as die mooiste blomme in my tuin uitstal.


Die jaar herlewe in nuwe bloeisels ( geslote Novelinee)

Die jaar herlewe in nuwe bloeisels
met ‘n goue son in die kobalt lug,
in my lewe blom slegs U beginsels
helder blomme maak reeds gereed vir vrug.
Dae word warm met beloftes wat aan strek
na ‘n tyd van vrugbaarheid, volle wasdom,
as die natuur skielik geheimsinnig werk
liefde in my lewe tot uiting kom,
die skoonheid van blom op blom bly verstom.

As die prag van blom op blom bly verstom
is daar orals voëls wat in geluk sing
tol die jaar van winter na somer om,
as U gawes deur die duisternis dring
word die lewe meer liefdevol volmaak
sonder enige soort aardige beletsel
as U als lewend meer na U beeld maak,
nuwe lewe laat uitspruit na snoeisels;
die jaar kom weer tot lewe in bloeisels.



Veels te lank het ek in duister rond gedwaal (Novelinee reeks)

Veels te lank het ek in duister rond gedwaal
blind teen U wye helder kobalt lug
toe ‘n belofte uit die lente straal,
en skielik kom alle lewe terug.
O Here, laat ek in U heilig word,
van al die baie foute van my jeug,
U genesing nou kletterend neerstort,
bevry U my nou van alle ondeug,
maak U insettinge my grootse vreug.

Here maak U insettinge my vreug
voor die eerste blare van my lewe val
laat ek weer leef, my weereens kan verheug
selfs as die ergste donders om my knal,
help my om slegs U liefde raak te sien,
weer verkwikking, suiwer liefde te vind
leer my om gedurig U getrou te dien
te lewe met die vertroue van ‘n kind
voor die jare van ouderdom my verslind

Voor ouderdom my enigsins kan verslind
bring tot my bestaan U lewende reën
verander U die verwoestende stormwind
lei U my na ‘n metgesel, die een
wat my kan verstaan, wat geluk kan bring,
help U my om weer ‘n weg uit te kerf,
dat my gedigte vir U uit sal kring,
help U my voor ek van misnoeë sterf;
Here U sien waar my lewe rondswerf.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar