Artikels

Titel: Die onuitspreeklike van die poësie

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons het almal al gestuit teen hierdie probleem. Ons voel op instuiwe wyse aan dat daar ’n idee is waaraan ons in poëtiese vorm wil uiting gee. Maar dan skiet ons pogings te kort. Iets van ons intuïsie ontsnap van onder ons woorde uit. Iets essensieel kan eenvoudig nie uitgespreek word nie.

Wat nou gedoen?

Dieselfde probleem steek ook sy kop uit in ons opvattinge oor God. In teologie is dit ’n baie ou probleem, wat in die Christelike godsdiens al in die eerste eeue na Jesus se dood groot probleme veroorsaak het.
Die vraag was: kan die mens God volledig ken? Daar is baie pogings aangewend om God te definieer, om hom volledig begrypbaar te maak. So het die rigiede geloofsbelydenisse van die kerk ontstaan. Alles pogings om God in die woord vas te vang. Dit het egter mettertyd geblyk ’n futiele poging te wees. Iets essensieel van God bly die woord nette van die teoloë ontwyk.

Die groot kerkvaders bekend as die Kappedosiërs, Basilius, Gregorius en hul vriend Gregorius van Nazianzus het in die vierde eeu van die Christelike era belangrikste deurbrake gemaak om die probleem van God se ware aard in die soeklig te plaas. Hulle wou Christene leer om nie aan God te dink in rasionele terme nie. As mens dit doen, kan jy slegs aan God dink as ’n ding tussen al die dinge waarvan die mens kennis neem in sy wêreld. En dit is verkeerd, want God is veel meer as wat die mens rasioneel kan verklaar.

Die Kappadosiërs het gesê God is ’n mythos, want dit spreek van waarheid wat nie toeganklik is vir die logos [die rasionele denke] nie. Dan gebruik die Kappadosiërs sekere Griekse terme om die saak verder te verduidelik.

Elke ding/idee het twee kenmerke: Die ousia van die ding of idee, die innerlike natuur daarvan, wat die essensie van die ding is. Dan is daar ook die hyppostases daarvan, die uiterlike eienskappe daarvan. Die ousia van iets is baie moeilik onder die woord te bring en al probeer ons ook hoe hard, ons pogings bly onvolkome. Die ousia kan op baie wyses deur middel van hypostasis voorgestel word, maar telkens met slegs gedeeltelike sukses.

In terme van poësie het ons in gedagte ’n mythos en ons probeer die ousia daarvan op verskeie wyses in woorde giet, ons weef die fynste moontlike web met ons hypostases: metafore, woorde, klanke en visuele voorstellings in die rangskikkings van woorde en frases op die vel papier – alles baie mooi en aangrypend. Maar dit bly net voorstellings, skadu beelde van die ding self, die eintlike, innerlike aard daarvan – die ousia van die mythos in ons gedagte.

Daarom is poësie ’n tweeslagtige bedryf, dit is ’n vreugdevolle kuns handeling vir ons en baie bevredigend – maar uiteindelik laat dit die bitter-soet smaak in ons mond van frustrasie: die ding self het net een habitat en dit is in ons gedagtes. Dis is soos ’n koek wat ons bak, maar die mense op straat kan slegs die aangename aroma daarvan ruik, die pragtige versierings daarvan op ons vensterbank sien.

Werklik eet daarvan, kan hulle nie.

Want dit is net mý koek, die mythos in mý gedagte wêreld.

En hierin lê die aangrypende van ons poëtiese arbeid. Dit vibreer in ons diepste wese, maar dit is ’n skaam ding in die skemerte van ons binneland, wat die daglig van ons rasionele vormgewing voortdurende ontwyk.

Soos alle wonders van ons bestaan, soos die liefde, erotiek, musiek, skilder kuns, beeldhou werk en letterkunde is dit juis so kosbaar omdat ons net die hande daarna kan uitsteek, maar ons kan dit nie werklik aanraak nie.

En dit is soos dit hoort!

Viva die kunste!



Kommentaar

Die onuitspreeklike van die poësie
Die mythos wat in die skepper se gedagte-wêreld beslag gekry het is enkelvoudig (Meestal!) kom dit my voor maar dit groei dan tot sovele van veelhede deur die inwerking van intellek en psige as wat daar lesers is wat interpreteer skyn dit my verder…!

Baie dankie vir hierdie bydrae wat denke prikkel en sommer gemoedere ook kalmeer!

Groete.
1 jaar 7 maande 3 weke 5 dae 18 ure 38 minute oud


Stof tot nadenke. Dankie dat jy hierdie gedeel het.
1 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 47 minute oud



Liewe Ma - van Bart I

deur Bart

Bart is 'n geliefde karakter met 'n groot aanhang, en publikasie van die briewe was 'n noodwendige reaksieop die aandrang van die lesers.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar