Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die Reg in Literatuur
Die Staat teen Anna Bruwer – Anchien Troskie (Elbie Lötter) 2012

Die Staat teen Anna Bruwer volg op dieselfde skrywer se blitsverkoperroman, Dis ek, Anna. Waar laasgenoemde grootliks handel oor ‘n misdaad, naamlik seksuele molestering en verkragting, wat teen ‘n kind gepleeg word, handel Die Staat teen Anna Bruwer oor die gebeure wat afspeel nadat die hoofkarakter, Anna, haar stiefpa, wat haar jare lank seksueel misbruik het, vermoor. Anna pleeg op haar beurt ‘n misdaad nadat dit onder haar aandag kom dat haar stiefpa ook haar jonger sussie, Carli, molesteer en verkrag.

Die regsvraag wat aan bod kom, is of Anna skuldig is aan “moord”, en indien wel, in watter mate die Staat haar vir haar gewraakte optrede gaan straf. Veral belangrik is om te let op die Suid-Afrikaanse gemeenskap se sienswyse en houding teenoor soortgelyke misdade en gevolglik ook hoe hulle voel oor die wyse waarop Anna haar stiefpa se walglike optrede stuit deur hom dood te maak.

In hierdie bespreking word gekyk na die skrywer se aanwending van die reg (handeling, misdaad, inhegtenisneming, gevangesetting, verhoor, skuldigbevinding, straf) in letterkunde (die geskrewe roman).

Om te bepaal of Die Staat teen Anna Bruwer beantwoord aan die “reg in letterkunde“-begrip, word die inhoud getoets aan kriteria wat in 1908 deur Prof. H. Wigmore, ‘n professor in die Regte, in sy publikasie, A List of Legal Novels, uiteengesit is. Wigmore het vier verskillende aannames uiteengesit het waarvolgens hy die aanwesigheid/representasie van die reg in letterkunde kategoriseer. Ons verwys na hierdie vier aannames as “Wigmore se Modelle“.

Die modelle word soos volg definieer:

Model A: Werke waarin die volledige regsproses uiteengesit word, somtyds eksklusief as ’die verhoor’, maar ook gereeld as die voorlopige ondersoek wat tot die verhoor lei.

Model B: Werke waarin, selfs in die afwesigheid van ‘n formele regsproses, ‘n prokureur dikwels as karakter in die verhaal figureer, maar nie noodwendig as protagonis nie.

Model C: Werke waarin ‘n spesifieke stel regsreëls, en dikwels ‘n enkele statuut of sisteem of prosedure, die onderliggende organiserende beginsel word.

Model D: Werke waarin, in ‘n andersyds nie-regsraamwerk, die verhouding tussen die reg, regverdigheid en die individu die sentrale tema vorm.

Die vraag is: Voldoen Die Staat teen Anna Bruwer aan die begrip, Reg in Literatuur?

Antwoord ten opsigte van Model A: Die roman omskryf ‘n volledige verhoor, nie gedetailleerd nie, maar wel op so ‘n wyse dat die belangrikste stappe wat tydens die regsproses plaasvind, aan die leser weergegee word: handeling en misdaad (die stiefpa se aanvanklike misdaad en Anna se daaropvolgende misdaad in reaksie daarop), inhegtenisneming (Anna wat haarself oorgee en van meet af aan die polisie erken dat sy haar stiefpa vermoor het), gevangesetting (verhoorafwagting en borg), verhoor (breë trekke van die verhoor word in die teks weergegee), skuldigbevinding (die Regter se uitspraak), en Anna se uiteindelike straf ingevolge wetgewing. Die roman voldoen aan Model A.

Antwoord ten opsigte van Model B: In hierdie roman is ‘n prokureur een van die hoofkarakters. Die prokureur, Joubert van Heerden is nie die protagonis in hierdie verhaal nie. Gedurende die verhoor plaas Anna onbehoorlike druk op hom toe, maar handhaaf hy die professionele en etiese afstand tussen prokureur-en-kliënt. Nadat die saak afgehandel is, gee hy egter toe aan Anna se toenadering en hy “val” ver en hard in die oë van die leser. Die roman voldoen aan Model B

Antwoord ten opsigte van Model C: Wetgewing bepaal dat moord ‘n misdaad is en gestraf moet word. Anna pleeg nie ‘n wraakmoord nie: Sy vermoor nie haar stiefpa bloot omdat hy haar leed aangedoen het nie, maar omdat nog ‘n kind een van sy slagoffers geword het. Anna ken hom en weet dat daar na haar en haar suster ook nog ander sal wees wat deur dieselfde lot getref gaan word. Maar, gesien uit 'n regsoogpunt, wat ookal haar motief was, sy het die wet oortree en moet dienooreenkomstig gestraf word. Motief sal gedurende strafversagting aangespreek word. Die roman voldoen aan Model C.

Antwoord ten opsigte van Model D: Die samelewing verafsku die misdaad, verkragting. Nog te meer as dit teen ‘n kind, en selfs ‘n baba, gepleeg word. Die Suid-Arikaanse gemeenskap steier lank reeds onder ‘n stelsel wat nie daarin slaag om misdadigers af te skrik nie of behoorlik te straf nie. Vrae wat ontstaan is: Word die reg toegepas soos dit veronderstel is om toegepas te word? Waarom word die wetsgehoorsame burgers nie deur die polisie teen misdadigers beskerm nie? Staan die polisie tussen die slagoffer en die misdadiger, of tussen die slagoffer en die hof? Word verkragters hoegenaamd behoorlik gestraf? Wanneer die gemeenskap tot die gevolgtrekking kom dat die stelsel hulle gefaal het, word reg in eie hande geneem. Hulle skep hulle eie reg buite die staat se regsraamwerk. Is dit aanvaarbaar en toelaatbaar? Die leser kom in hierdie roman voor morele en etiese vraagstukke te staan. Die roman voldoen aan Model D.

Ten einde as reg in literatuur geklassifiseer te word, moet ‘n werk aan minstens een van Wigmore se modelle beantwoord. Die Staat teen Anna Bruwer voldoen aan al vier modelle en kan beskou word as “reg in literatuur”.


(Susan Grobler)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar


Van ons ander lede

Kodeks

deur Nini Bennett

Nadat nini Bennett bekroon is as kortverhaalskrywer (RAU-Mardene Marais Prys) en as jeugverhaalskrywer (The International Room to Read Children's Book Competition), debuteer sy met 'n digbundel, Kodeks. Sy was een van die vyf debutante wat genooi is om die Versindaba-fees te Stellenbosch (2011) by te woon. Veral die literator Charles Malan het die bundel hoog aangeskryf.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar