Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die betekenis van die woord sage is eintlik om te sê en kom van die Duitse woord “sagen” en gaan dus oor ‘n verhaal wat vertel word, soos in die meeste epiese tipe genres. ‘n Sage handel oor ‘n bepaalde persoon of plek in die geskiedenis en die meeste sages is oorgedra toe verhale nog mondelings oorgelewer is. Fantasieë van mense het die verhale gekleur en vervorm, sodat die historiese aard net nog as ‘n klein gedeelte teenwoordig is. In die middeleeue was Alexander die grote en Karl die grote tipiese sage figure waaraan wonders toegeskryf is.

Bekende sages is soos die sages van “Alexander die grote,” “die trojaanse oorlog,” “Don Juan,” “Koning Arthur en die ronde tafel” en natuurlik die “Vlieënde Hollander.” Heel dikwels skryf meer as een kunstenaar oor dieselfde sage met verskillende verwerkings en so is dit met die sage van “Faust” soos deur die digter Marlow, die digter Goethe en opera komponiste Gounod en Berlioz.

Sommige sages is minder versprei oor die wêreld en kom slegs onder ‘n bepaalde volk, of mense in ‘n bepaalde streek voor. Wat dan verbind is met ‘n bepaalde plek. So is S.J. Pretorius se gedig “Die heks van Heksrivier,” te make met ‘n bepaalde berg in die Hexriviervallei. I.D. du Plessis se gedig “Die Vlieënde Hollander,” se tema is ontleen aan ‘n sage wat wêreldwyd versprei is. Die sage figuur, is hier ‘n simbool van ewige onrus.

Ek sluit hier van my gedigte in wat sages is. My gedig “Die heks van Hexrivier,” sluit ek nie hierby in nie aangesien dit eersdaags in ‘n gedigte bundel verskyn, waarvan die uitgewer regte gaan hê. U kan dit egter nog op die Woes web blad lees. Ek het ook twee gedigte geskryf oor die Vlieënde Hollander genaamd “Die vlieënde Hollander” en “Van der Decken.” Die ander twee sages wat ek hier insluit is “Op pad verby Uniondale” en “Ort Jan Van Hunks.”


Die Vlieënde Hollander

So vêr as die oog sien
strek die blou water
en daar’s mis wat wit
voor die storm
uit die water op rys.

Die skemerlig word grou
en die see van grys na donker swart
terwyl die nag
swarter as ink, as enigste metgesel
om die ou antieke skip vou.

Dis Van der Decken wat as stuurman
agter die groot wiel staan
en ewig stuur hy die skip
op die vaart waarop sy gaan.

Altyd swetsend
donder sy harde stem
soos weerlig wat rondom hom klap
dat seemanne reg vasvat en vastrap
word seile krakend, kreunend en trillend
met toue gehuis
sodat die skip bokspring
oor die brander gedruis.

Soos ‘n skim
verskyn die Vlieënde Hollander
met wit seile spookagtig
oor die horison
waar dit voor ‘n stormwind met spoed vaar.

Die skip word al groter
soos wat die storm wind
haar vinnig nader bring
en mens kan haar hoor kraak
teen die mag van die wind.

Daar’s donderslae wat skielik verblind
en see voëls vlug krassend
voor haar uit,
as Van der Decken se geraamte
magteloos vloekend sy manne dril
om die seile reg te stel
wat teen die wind tril.

“Hoe lank nog Heer,”
weergalm teen die see en lug,
sonder dat daar ooit
‘n antwoord kom
en skielik is die skip weg
en het dit in die niet verdwyn.



Van der Decken

Soms net voor ‘n storm losbars
staan jy by die ou hout stuur van jou skip,
vêr weg van die Kaapse kus

waar jy ewiglik vaar,
vervloek om die golwe ewiglik te ry,
selfs onder ‘n windlose grys storm weer

dryf jy jou antiek skip oor die see
met sy gekraak, met die seile wat bewe
met die houtwerk wat eeue reeds reparasie kort

reg uit die vormende mis
verskyn jy met ‘n vuis geklem bo jou kop,
nog vloekend op die skepper God

as ‘n teken aan alle mense,
selfs deur konings aanskou,
deur vloot skepe tydens oorloë,
seil jy vir ewig aan.

[Verwysings: The flying Dutchman and Die Vlieënde Hollander deur Gert Strydom en Vanderdecken deur Douglas Livingstone.]




Op pad verby Uniondale

Toe ek een stormagtige
paasnaweek met roete twee en sestig ry
is daar ‘n pragtige nooi
wat ek langs die pad
net twintig kilometer van Uniondale kry,
by die Barandas afdraai pad
die wind swiep deur haar donker hare
en ek hoor dit huil oor die kammanassieberg
en haar duim is uit.

Ek hou toe langs haar stil
en langs die pad is daar rooi aalwyne wat bloei,
en sy’t ‘n vloot blou baadjie,
‘n donker groen langbroek aan
en ek wonder toe of sy koud kry
en in die binne lig van die BMW
lyk sy half wit bleek
en glimlag pragtig vir my
toe ons daar wegry
en ek vra waarheen sy op pad is
en sy antwoord net saam.

Ek wou nog vra
wat so ‘n mooi nooi
alleen langs die pad maak
toe ek die appel bloeisels
van haar parfuum ruik
en sy skielik skril
langs my lag
en haar motor deur
oop en toe klap en sy weg is
en ek dadelik die motor
tot stilstand bring
want ek dag die vrou
het uitgespring.

Buite die kar was die pad leeg
terwyl ek kopskuddend op en af loop
sonder om ‘n teken van haar te kry
en net toe kom ‘n polisie vangwa daar aan
wat agter my kar stilhou

en die konstabels is vas oortuig
dat ek ‘n rit aan ‘n spook gegee het
en hulle noem haar Marie Charlotte Roux
en sê dat sy veral oor paasnaweke
langs daardie pad dwaal
en my vertelling
is toe reeds vir hulle
‘n ou bekende verhaal.

[Verwysing: Ongeluk op R62 waar Marie Charlotte Roux gesterf het op die agter sitplek van ‘n Volkswagen kewer toe haar verloofde GM Pretorius beheer verloor het op 12 April 1968 in stormagtige weer. ’n Jaar later het hy getrou en daar word vertel dat sy van toe af spook, maar opgehou het om te verskyn nadat hy in 1984 in ’n motorongeluk gesterf het, maar wie weet dalk verskyn sy weer.]




Ort Jan Van Hunks


Baie jare terug het ‘n gewese seerower
Ort Van Hunks in Kaapstad gebly
en hy het genoeg skatte vergader
om verder ‘n eerlike lewe te lei.

Net bo die kompanjie tuine
het hy grond gekoop
en het gedink
dat sy getroue sterk slawe
die werk vir hom sou doen
terwyl hy sy wingerde
en lande sou sien groei
en aandag aan sy swakhede
sou kon gee.

Die eensaamheid het Van Hunks gery
en toe het hy vir hom
‘n vrou gekry,
maar in die Kaap was die keuse
toe maar skraal
en hy het ‘n groot vet vrou getrou
wat so breed was
dat sy nie maklike deur deurkosyne
kon verby nie,
maar hy’t gedink dat sy hom
in koue winter aande
lekker warm sou kon hou.

Die neukery met die vrou
was dat sy boonop
‘n streng huisvrou was,
haar slawe meisies gedryf het
om alles mooi blink te vryf,
hom van sy eie vuurherd
weg verdryf het
met ‘n elmboog
wat ‘n bars hou slaan
omdat sy bang was dat sy pyp
se as op die mooi
geelhout vloere sou val.

By die bome hoog
teen die saal
waar Duiwels piek
by Tafelberg aansluit
het Van Hunks ‘n groot rots gekry
wat plat soos ‘n rusbank is
en daar sou niemand hom pla
want vir die Burgers
sou net ‘n mal man
teen die pieke van Tafelberg uitklim.

Met vate rum en ‘n hoop tabak
wat hy in die geheim
daar opgedra het,
het Van Hunks daar sit en droom
met die voorraad reg voor hom
en sy pyp in sy mond
terwyl hy die skaduwee
van die groot berg
blou oor die sand vlaktes
sien kruip gedurende die laat middag.

Die stilte en rus, met die silweragtige bome,
die klein wit huisies wat onder uitgestrek lê,
die kasteel wat stewig staan,
het tot sy siel gespreek
en soos ‘n balsem in hom gelê
en sy blik het tot by die hawe
met groot suil skepe
en die diep blou see gegaan.

Toe hy op ‘n helder somerdag
eendag behaaglik aan sy pyp trek
en een sluk rum na die ander vat
sê ‘n irriteerende skerp stem:
“more meneer en wat ‘n pragtige
dag is dit hier,”

Van Hunks skrik hom toe boeglam
en sien ‘n klein vet mannetjie
uit gepof in ‘n swart manelpak
met ‘n swart hoed op sy kop
en ‘n duur wandelstok in sy hand.

Toe bars Van Hunks uit:
“Wie de donder is jy
en wat kom maak jy hier by my?”

Toe glimlag die mannetjie en sê:
“Party mense noem my sommer Niek,
maar ander vele ander name
en soms kop ek op vir lug
en om te rook aan my pyp”

en hy haal sy hoed van sy kop af
terwyl hy vooroor buig
en Van Hunks sy twee
klein rooi horings sien
en hy in die rigting
van Duiwels piek beduie.

“Ek weet dat jy Van Hunks is
en het jou ou metgesel
kaptein Roedolf Van Boons
met sy hele bemanning by my,”
wat Van Hunks diep getref het
want hulle almal was reeds dood.

“Jy moet my vrou ontmoet,
sy is ‘n helse ding,”
sê Van Hunks toe
terwyl hy die mannetjie
onderlangs dophou.

“Ek het reeds van haar gehoor,”
se die klein mannetjie
en haal ‘n goeie yster pyp uit
terwyl Van Hunks na die tabak beduie.

Toe haal Van Hunks ‘n paar dobbelstene
uit sy sak waarvan die gewig so is
dat hy altyd daarmee wen en vra:
“Wil jy dalk saam speel?”

“Dit kan net lekker wees,” sê die mannetjie,
“laat ons jou geld sien.” Waarop hy
‘n sak vol goud op die rots neersit.

Uit sy sakke haal Van Hunks toe
‘n mengelmoes van dukatons, goue gulders,
goue soewereine en goue ringe.

“Ek het die spel nie verwag nie
en nie te veel aan my nie,
maar ons sal sien wie wen.
Ons sal werklik sien,” sê Van Hunks
terwyl hy oor sy dobbelstene streel.

“Nou maar goed, ek kan jou
altyd krediet op jou siel gee,”
antwoord die duiwel glimlaggend.

Net toe die spel begin,
kyk die Satan op en sê:
“Hier is Petrus ook”
en Van Hunks kyk toe verbaas
om hulle rond.

Die nuwe aankomeling sê toe:
“Ek het jou kom waarsku,”
en Van Hunks raak toe vies
en sê: “Los dit maar.
Ek kry genoeg daarvan
by die huis.”

“Laat staan maar Petrus.
Wil jy nie ook saam speel?”
Vra die klein mannetjie.
“Ek sal werklik nie omgee
om saam te speel,” antwoord Petrus
terwyl sy blik opwaarts sny.

Toe kry Van Hunks sy stene reg
in sy hand en skommel dit
en haal nog tabak
en ‘n ekstra pyp uit
voor hy sy dobbelstene gooi.

Hulle rook en speel en speel
en rook, maak pype skoon
en rook weer aan
terwyl hulle voort speel
en Van Hunks onderlangs glimlag.

Met tyd raak die lug toe al dikker
en nog dikker terwyl hulle die berg
van bo af heeltemal toe stook,
sodat die dassies, koggelmanders,
en slange in hulle gate in weg vlug.

Toe begin dit donker word
van al die gerook
sodat Petrus nie meer
die getalle op die dobbelstene
kan sien nie
en hy begin toe stadig maar seker
met sy vlerke klap
om die rook weg te waai

en hoe meer hulle speel,
hoe meer rook hulle
en hoe harder klap hy sy vlerke
totdat daar naderend ‘n sterk bries waai.

Onder die berg gaan die Burgers
toe almal huis toe
om in die warm beddens
met hulle vrouens te klim
want dis die sterkste Suidooster ooit

en in die baai
verander die kleur van die water
van blou na groen en later grys
en die golwe begin sterker word
sodat die skepe nog ankers uitgooi
en die kapteins so vinnig hulle kan
terug van die kroeë af
na hulle skepe toe roei.

Bo op die saal teen die berg
gaan die spel aan
en hoe harder hulle speel
hoe meer word daar gerook
terwyl die wolk
al groter word en aanhou groei.

Later staan Van Hunks moeg op
en rek homself lank uit terwyl hy sê:
“Menere ek het nou al julle geld,
en ‘n halo en ‘n stert as borg,”
terwyl beide Niek en Petrus
bek-af na hom terugkyk
en vir hom instemmend knik.

“Die ou vrou wag
en ek moet gaan
anders gaan sy
my weer stukkend slaan,”
sê Van Hunks voordat hy
met die kronkel pad
teen die berg af stap.

“Dit lyk asof hy
ons verneuk het
maar die spel was baie lekker,”
sê Petrus toe vir Niek
wat van dieselfde opinie is.

“Haai daar! Van Hunks,” roep die duiwel toe.
“Ons wil weer op ‘n ander keer speel,
want ons is mos nou vriende?”

“Hallo,” antwoord Van Hunks toe terug
vas oortuig dat hulle uit wil vind
hoe hy hulle gewen het

maar stem in om weer te speel,
as dit in dit somer en mooi weer is
want hy het rumatiek.

Op die volgende geleentheid
het elkeen gespog
dat hy meer as die ander
kan rook
en die wenner sou
‘n skip vol goud kry

en na dae lank se gerook
het die gewese seerower
die klein vet mannetjie
en vir Petrus verslaan.

Donder het toe
uit Duiwelskloof uit geslaan
net waar Van Hunks gestaan het
en hy het verdwyn
en daar was net ‘n verskroeide plek
waar hy voorheen was

en as daar op ‘n somerdag
wolke oor Tafelberg vou
gaan daardie spel
van rook en dobbel aan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Sielswoorde

deur Driekie Grobler

Voedsel vir siel - 20 Christelik-geinspireerde gedigte voorgedra deur Jana Swart.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar