Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DIE STORIE AGTER DIE STORIE – Deel 2
Die storie begin reeds êrens in die ewigheid

In Joh 17:1 tot 8 sê Jesus vir Sy Vader: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.”

Die storie van die Nuwe Testament, en dus ook die storie oor God se mens, die ekklesia, begin voordat daar sprake was van tyd soos ons dit ken. Toe daar nog niks was van wat ons vandag om ons sien nie. Behalwe God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Toe reeds het God besluit om op ‘n spesifieke tyd en plek, op die nuwe woonplek van Sy toekomstige mense-familie op aarde, Sy detail-verlossingsplan te aktiveer.

Die Bybel praat van hierdie plan as ‘n misterie (Ef 3:9-11). En die hart van hierdie plan was dat God vir Homself ‘n mens-familie gaan skep. Wat Hom intiem gaan liefhê. Soos wat die Vader en die Seun en die Gees mekaar nou liefhet. En wat dan Sy kanaal gaan word om Sy lewe en Sy plan aan almal rondom hulle te bedien.

Selfs aan die onsigbare magte in die lug. Soos Ef 3:9 tot 11 so treffend met die volgende woorde bely: “Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk (in die Grieks staan daar “die ekklesia”, CN) bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.”

Maar dit gaan ‘n prys kos, want God moet getrou aan Sy eie wese as God bly. Hy het immers geweet hoe die res van die drama gaan ontvou. Hoe die nuwe mense, wat Hy gaan skape op planeet Aarde as Sy nuut-aangestelde konings, hulle outoriteit gaan weggee aan Satan en sy magte. En hoe sonde opeens in hierdie nuutgeskape wêreld met sy vernietigingswerk gaan begin en die aarde die hoofkwartier van Satan en Sy magte sou word.

Daarom besluit God dat die misterieuse, “onmoontlikheid” moes gebeur: God die Seun moet mens word. Om tussen mense te gaan woon. Om daar tussen hulle, op klein-planeet Aarde, die goeie nuus van God se verlossingsplan aan hulle te vertel.
Die goeie nuus, naamlik, dat God se koninkryk weer op aarde kom. Maar ook dat die koms van hierdie nuwe bestel Sy lewe as die Onskuldige Lam gaan kos.

Paulus verwoord dit so: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.”

Of soos Petrus dit daar in 1 Petrus 1:19 en 20 bely: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.”

In God se ewige raadsbesluit, daar in “Sy hemel-sitkamer”, was die totale drama se hooflyne reeds vasgelê. Oor hoe God ‘n nuwe mens-familie vir Homself gaan “aanneem”, wat regtig Sy seuns en dogters gaan word “in Christus”.

Die Bybel vertel vir ons verder hoe God, as deel van hierdie ewige raadsbesluit, besluit het om oor die eeue heen allerlei prentjies en simbole in Sy besig-wees met hierdie aardse mense in te weef. Om hulle so, op verskillende plekke en maniere, doelbewus te herinner aan belangrike momente en gegewens van hierdie plan van Hom.

Hy het besluit om met een volk uit al die volke ‘n spesiale liefdesverhouding aan te knoop as vertoonvenster van Sy verlossingsplan vir al die volke op aarde. Hulle sou Sy mikrofoon wees. En Sy riglyne vir hulle lewe sou almal herinner aan Sy natuur en karakter as die enigste ware God. So sou Hy dan ook die fondasie lê van die nuwe bestel wat sou aanbreek met Jesus se koms na hierdie wêreld. (Hand 7:38; Rom 2:28-29; 1 Kor 10:1 ev; Kol 2:16 ev)

Wanneer die koninkryk van die hemel weer op planeet Aarde vaste adresse sal kry. In die ekklesia van God oral onder alle volke op aarde.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die Storie agter die Storie

deur Christo Nel

'n Bybelse dagboek waarmee jy in 'n halfjaar se tyd dwarsdeur die hele Nuwe Testament, sy verhaal en "nuwe wyn-waarhede" kan werk.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar