Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Laas het ek jou ietsie van Jakob begin vertel. Kom ek gaan ’n bietjie aan met die verhaal.

Die Here het Jakob se naam verander na Israel. Hy het 12 seuns gehad. Een van hulle was Josef. Vir baie redes maak God vir Josef ruimte om in Egipte te beland om so Sy Ou Testamentiese volk se lewens te red.

Daar in Egipte kom ’n nuwe Farao in beheer wat Josef nie geken het nie. Mettertyd maak hy van die volk van God slawe van die Egiptenare en sou hulle dit bly vir 400 jaar.

Onthou, God het ’n plan. Daarom bring Hy die volk van Israel terug na die land, Kanaän, en spesifiek na Jerusalem toe. Wat immers bedoel was om die bouperseel te wees waar God vir Hom ’n tuiste op Planeet Aarde wou bou.

Ons lees hoe God vir Homself ’n man met die naam, Moses, kies om Sy volk uit Egipte te gaan red en hulle na Kanaän te lei. As gevolg van hulle sonde, ongehoorsaamheid en ongeloof, word Hy gedwing om hulle met ’n ompad deur die woestyn 40 jaar later daarheen te bring. (Gaan lees hierdie hele verhaal in Eksodus 12 tot 19 en in Numeri 11 tot 36).

God openbaar dan Sy hart aan Moses in hierdie tyd en wys vir hom hoe om daar in die woestyn vir Hom vir die tussentyd ’n tydelike woning te bou.

Dit gryp ’n mens aan as jy die detail sien wat God aan Moses gee vir die bou van die tabernakel van Moses. (Lees dit maar self daar in Eksodus 24 tot 40). Terwyl dit in werklikheid net ’n groot altaar en ’n groot tent was!

Ons het God al leer ken as ’n baie ekonomiese God. Wat nie ’n minuut of ’n stukkie detail mors nie. Daarom besef elkeen van ons dat al hierdie detail vir ons ’n besondere boodskap het. Ons het immers hier ’n ongelooflike portret van hoe God se woonplek op aarde moet lyk.

Kom ons kyk ’n bietjie daarna.

Ons sien dat die tabernakel uit twee bou-elemente bestaan, naamlik goud en hout. Goud herinner ons heeltyd aan God en die Goddelike, terwyl hout die menslike kant van alles verteenwoordig.

Die belangrikste deel van die tabernakel van Moses is die gedeelte wat die Allerheiligste genoem is. Dit was 15 voet by 15 voet, ou taal, wat dit natuurlik ook ’n perfekte vierkant maak. Verder het dit een ingang gehad, wat die “voorhangsel” genoem is, wat inderwaarheid uit ’n dik gordyn bestaan het.

Agter hierdie gordyn was daar die ark van die verbond. Dit was hier waar God in werklikheid in hierdie tabernakel van Moses gewoon of direk teenwoordig was. En net hier!

Hierdie ark van die verbond was ’n kleinerige hout kas van 2 en ’n halwe voet by 3 en ’n halwe voet, wat oorgetrek was met goud. Die deksel van die ark is die “troon van genade” genoem, waarvan ons lees daar in Eksodus 25, en ook in Heb.4:16.

God het as’t ware self hier kom sit om van hier af met Sy volk te praat.

Op die deksel van hierdie ark was daar beelde van twee engele wat daar gesit en na mekaar gekyk het, met hulle vlerke na agter en na buite. Hulle was die bewakers van die heilige teenwoordigheid van God.

Natuurlik herinner hulle ons ook aan die twee engele wat daar in die begin gaan stelling inneem het by die paradys se hekke, toe die mens daar uitgejaag is as gevolg van sy sonde en ongehoorsaamheid. Hulle herinner ons ook aan die twee engele wat aan weerskante van die graf van Jesus gaan sit het, met Sy opstanding uit die dood (kyk Joh.20:12).

Hierdie ark van die verbond was ’n prentjie van die heilige God wat tussen en by gewone mense kom woon het. Ons sien dit gesimboliseer in dié dat die hout oorgetrek moes word met goud.

’n Baie spesiale priester, die hoëpriester, is spesiaal aangestel om as tussenganger tussen God en mens op te tree. Net eenmaal per jaar het hy by hierdie spesiale gedeelte in die tabernakel ingegaan om daar God, in Sy volle glorie en genade, te ontmoet.

Hierdie ingaan van die hoëpriester tot waar God dan was, moes gepaard gegaan het met die offer van die bloed van ’n lam, wat geslag moes word as gevolg van die sondes van die mense.

Volgende keer vertel ek vir jou iets meer oor ’n ander tabernakel, naamlik die tabernakel van Dawid, en wat dit vir ons verder vertel oor God wat hier by ons tussen gewone mense kom woon het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dis nou lekker leesstof vir Vrydagoggend, dankie
9 jaar 11 maande 3 weke 3 dae 15 ure oud


Die tabernakel van Moses
Amen!
9 jaar 11 maande 3 weke 3 dae 16 ure oud



Sonstraalbeloftes

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Digbundel. Grootliks in Afrikaans, maar bevat ook vyf van my gedigte wat ek in Engels vertaal het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar