Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


'n Definisie is ’n verklaring of uiteensettting van wat iets is of behoort te wees. As jy iets kan definieer, kan jy dit verstaan en kan jy as’t ware ’n greep op die werklikheid kry.

Wat my kriteria vir die evaluering van ’n gedig is, gaan afhang van wat ek onder “gedig” verstaan, met ander woorde, van die definisie van ’n gedig.

As jy ’n leek is en graag wil weet wat ’n gedig is, raadpleeg jy handboeke en jy luister hoe mense wat as deskundiges beskou word, 'n gedig definieer: wat dit is, wat dit moet wees, en wat dit behoort te wees. By implikasie bepaal deskundiges dan ook die vereistes en kriteria vir ’n gedig.

As ek dink aan al die definisies van ’n gedig wat ek raakgeloop het, kan ek dit in drie gevolgtrekkings opsom: (a) ’n Gedig het vorm en inhoud; (b) Daar bestaan nie kriteria om die inhoud van ’n gedig te evalueer nie; en (c) Daar is ’n geskarrel om tot uitsluitsel oor die vorm van ’n gedig te kom.

'n GEDIG HET VORM EN INHOUD

Dit lyk vir my dat die enigste aspek van 'n gedig waaroor daar werklik eenstemmigheid is, is dat ’n gedig 'n “inhoud” het, en dat dit 'n “vorm” het. As ons daarmee eens is, is ons in goeie geselskap, byvoorbeeld: “The most thoroughgoing of all distinctions in literature, as in the other Fine Arts, is that between (1) Substance, the essential content and meaning of the work, and (2) Form, the manner in which it is expressed (including narrative structure, external style, in poetry verse-form, and many related matters). (kyk na verwysing [1] hieronder)

Die eer kom Frans van Zyl toe dat hy in ’n artikel op Woes [2] 'n merkwaardige bydrae gelewer het om die “essential content”, aan die een kant, en die “external style” van ’n gedig, aan die ander kant, in perspektief te plaas deur ’n parallel met sekere uiteensettings in die teologiese werke van die vroeë kerkvaders raak te sien:

“Elke ding/idee het twee kenmerke: Die ousia van die ding of idee, die innerlike natuur daarvan, wat die essensie van die ding is. Dan is daar ook die hypostasis daarvan, die uiterlike eienskappe daarvan. Die ousia van iets is baie moeilik onder die woord te bring en al probeer ons ook hoe hard, ons pogings bly onvolkome. Die ousia kan op baie wyses deur middel van hypostasis voorgestel word, maar telkens met slegs gedeeltelike sukses. In terme van poësie het ons in gedagte ’n mythos en ons probeer die ousia daarvan op verskeie wyses in woorde giet, ons weef die fynste moontlike web met ons hypostases: metafore, woorde, klanke en visuele voorstellings in die rangskikkings van woorde en frases op die vel papier – alles baie mooi en aangrypend. Maar dit bly net voorstellings, skadu beelde van die ding self, die eintlike, innerlike aard daarvan – die ousia van die mythos in ons gedagte. Daarom is poësie ’n tweeslagtige bedryf, dit is ’n vreugdevolle kunshandeling vir ons en baie bevredigend – maar uiteindelik laat dit die bitter-soet smaak in ons mond van frustrasie: die ding self het net een habitat en dit is in ons gedagtes. Dis is soos ’n koek wat ons bak, maar die mense op straat kan slegs die aangename aroma daarvan ruik, die pragtige versierings daarvan op ons vensterbank sien.”

DAAR BESTAAN NIE KRITERIA OM DIE INHOUD VAN ’N GEDIG TE EVALUEER NIE

In die tweede plek lyk dit asof die inhoud - die ousia, die essensie van ’n gedig - so wyd soos die Heer se genade is. Dit stem ooreen met wat William Wordsworth gesê het: "Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings; it takes its origin from emotion recollected in tranquillity"; en met die beskrywing wat PrentjieMaker [3] in sy kommentaar op my rubriek oor definisies en verduidelikings van ’n gedig gegee het, naamlik: “To be a poet is to bare one's soul to the world, and give mere mortals a glimpse of the fascination that is poetry... ”. Hierdie abstrakte ondertone vind ek in al die beskrywings van die inhoud van ’n gedig.

Al die definisies en beskrywings gee slegs ’n aanduiding van wat die eienskappe van die inhoud van ’n gedig is; dit gee nie kriteria of norme waarvolgens evaluering of beoordeling kan geskied nie. Oor presies WAT die inhoud moet of mag wees, en hoe dit moet of mag lyk, kon ek tot dusver geen afleiding maak wat my tevrede stel nie. Ek vind geen norm of kriteria nie: dis ’n kwessie van “anything goes”. Daarom is elke oordeel oor ’n gedig so subjektief soos die gedig self.

Dan vra ek ’n kritiese vraag: as daar nie kriteria is nie, wat is dan die verskil tussen die oordeel van ’n “leek” en doodgewone leser, aan die een kant, en ’n “deskundige” en beoordelaar, aan die ander kant? Daar is geen verskil nie. Daarom is die beoordeling in ’n digkompetisie 'n “contradictio in terminis”: ’n teenstrydigheid van begrippe - ’n kompetisie het reëls (of behoort te hê) en ’n gedig het nie reëls nie en die twee begrippe hoort nie in dieselfde woord nie. Dit mag een van die redes wees waarom daar ’n onsekerheid en ongelukkigheid heers oor digkompetisies. ’n Gedig word vir ’n kompetisie ingeskryf met die verwagting en die vae hoop dat daar iewers iemand is wat die wysheid in pag en al die antwoorde het om dit beoordeel ...

Maar tog bly die feit dat bydraers verlang dat daar kommentaar oor hulle werke gelewer word, en dat lesers graag kommentaar wil lewer. EN daar WORD kommentaar gelewer ... maar kommentaar val nie uit die lug nie: dit berus op ’n oordeel wat die leser moet vel. En ons het nie kriteria nie. Hoe nou? Dit lyk asof ons in ’n doodloopstraat beland het. Ek hou nie daarvan nie. Onsekerheid, besluitloosheid en twyfel laat my onrustig voel. “ ... Die geesloosheid van twyfel is nie mooi nie, dit breek jou gees, verkrummel vertroue soos droë herfsblare ...” [4].

Daarom moet ons verder soek. As mens dan nie bevredigende definisies en toereikende kriteria van “bo” af (van die deskundiges) kan kry nie, hoekom begin ons nie “onder” (by die gedigte, digters en kommentare) soek nie? Dis net so geldig en veroorloof om “onder” (die besondere) as “bo” (die algemene) te begin soek, want per slot van rekening is definisies gegrond op waarneming en afleidings. (Om by ’n definisie uit te kom, kan jy van twee kante af redeneer: van bo af, of van onder af. Stel jou ’n piramide voor: bo op die punt is ’n enkele, algemene beginsel of uitgangspunt, en onder is ’n onbepaalde, en soms ontelbare unieke, besondere gevalle of waarnemings. Die proses om van onder af boontoe te redeneer of te soek, is ’n algemene verskynsel wat in so te sê elke aspek van die samelewing en in elke bedryf en in elke vertakking van die wetenskapsbeoefening aangetref word. Aap Sonner Hart het die gebruik van wetenskaplike metodes manjefiek geformuleer in ’n kommentaar op ’n bydrae op Woes:

“ ... die wetenskaplike metode is ... die ondersoek na kennis, deur observasie, empiriese en meetbare metodes te gebruik en 'n spesifieke prinsiep van redenasie te gebruik. Die metodes verskil van een veld na 'n ander, maar almal deel dieselfde beginsel. Die rekenaar wat u op tik, die brille wat u dra, hoe u klere gemaak is, [my insetsel: mag ek byvoeg “die kriteria vir beoordeling van die gedigte wat u skryf en lees”?], alles het ontstaan deur die (wetenskaplike) metode. Inderdaad, die wêreld soos ons dit vandag ken, rus viervoetig op die beginsel: [Ek plaas die stappe wat ek geneem het, in vierkantige hakies]:

1) Definieer die vraag. [My vraag: “Wat is die kriteria waarvolgens gedigte beoordeel word?”]
2) Soek informasie en monsters (observeer). [Oor ’n tydperk van jare deskundige en leke opinies gelees...]
3) Vorm hipotese [... en ek tot die slotsom (hipotese) gekom: “Daar is nie bevredigende kriteria waarvolgens ’n gedig beoordeel kan word nie” – dit staan bekend as ’n nul-hipotese en tot tyd en wyl daar data is wat die hipotese verwerp, bly die hipotese staan.]
4) Doen eksperimente en kollekteer data. [Eksperimente soos in ’n laboratorium kan nie gedoen word nie. By verstek is inligting van “bo af” (van veralgemeende definisies van gedigte deur deskundiges) gekollekteer en nagegaan. Die resultate wat ek gekry het, kon nie die hipotese dat “daar nie bevredigende kriteria is waarvolgens ’n gedig beoordeel kan word nie” verwerp nie. Toe het ek “van onder af” begin soek: data is gekollekteer deur talle gedigte te lees.]
5) Analiseer die data. [d.w.s. toets die hipotese, en ek kon dit steeds nie verwerp nie.]
6) Interpreteer die data en vorm 'n standpunt wat as beginpunt van 'n nuwe hipotese kan geld. [Ek het die resultate herkou en tot ’n gevolgtrekking gekom wat hieronder as ’n nuwe hipotese geformuleer word.]
7) Publiseer die resultate. [Dit is wat nou en hier gedoen word.]
8) Hertoets (verifikasie deur ander wetenskaplikes) ”. [5] [Dit is wat u nou moet doen.]

Ons het nou tot by stap 4 van die tweede fase gekom, naamlik om inligting in te win van die gedigte en die digters self, om te kyk of dáár nie ’n aanduiding kan wees van wat die kriteria vir die evaluering van ’n gedig is nie.

Dit was nie maklik nie want hoe abstrakter ‘n saak is, hoe moeiliker word dit om algemeen-geldige tendense (hipoteses) te identifiseer. Die probleem is veral dat ’n metode wat normaalweg in die eksakte wetenskappe met objektiewe, kwantifiseerbare data gebruik word, gevolg is om onkwantifiseerbare subjektiewe data soos gedigte te ontleed.

Nietemin, ek het probeer; en na die lees van talle gedigte, kommentare en profiele op Woes, het ek die volgende gemeenskaplike patrone, eienskappe of kenmerke in die gedigte geïdentifiseer:

1. Elke gedig is eerlik. Daar is geen rede om te dink dat enige digter enige iets anders wou sê as wat hy in sy gedig sê nie. Ek kan nie daaroor redeneer of dit bevraagteken of dit beoordeel nie. Die eerlikheid van ’n gedig kan dus nie gemeet word nie (“hierdie gedig is eerliker as daardie een”) en kan dus nie ’n kriterium wees nie. (Dit neem egter nie weg dat die betekenis van die gedig, die bedoeling van die skrywer, soms versluier is nie. Die skrywer weet wat hy wil sê, maar die leser moet raai of interpreteer. Dis byna soos 'n speurverhaal met weinig of geen leidrade nie. Of soos ’n blokkiesraaisel. Maar of ek of ander lesers daarvan hou of nie, is subjektief – en subjektiwiteit is die ondergang van beoordeling.
By ’n tweede gedagte – hoe ver strek eerlikheid en wat behels dit? Is ’n digter óf verplig óf veroorloof om óf te bieg óf te spog oor alles wat in sy lewe gebeur of gebeur het? En om ’n klip in die hoenderhok te gooi: skryf ’n digter waaragtig net om uitdrukking aan die essensie van sy gedagtes te gee, of is daar ’n duiweltjie op sy skouer wat sê “Man, maak die pap bietjie dikker aan dan het jy ’n beter kans om jou werk gepubliseer te kry en groot geld in 'n kompetisie los te slaan!”? Kom, wees eerlik ... (Nou en dan kan mens seker maar ’n bietjie lelik ook wees ... )
Dan is daar nog iets wat my verontrus. Wat het Lord Macaulay bedoel toe hy gesê het: "As civilization advances, poetry almost necessarily declines" ?

2. Elke gedig is waar. Ek kon nie agterkom dat enige digter ooit oor enige iets wou of sou jok nie, in elk geval nie vir my nie. Ek kan in elk geval nie die waarheid kontroleer nie, en moet dus aanvaar dat wat in ’n gedig staan, die waarheid is. Die waarheid in of van ’n gedig kan nie gemeet word nie en kan dus nie ’n kriterium wees nie. As ’n digter vir homself jok, sal hy dit in elk geval nie weet nie, en niemand, behalwe miskien ’n sielkundige, sal dit vir hom kan uitwys nie.

3. Elke gedig is uniek. Hoewel daar baie tema’s is, en die tema’s wyd-uiteenlopend is, is elke gedig ’n unieke skepping. Soms is daar gemeenskaplike trekke in verskillende gedigte, maar nooit so duidelik dat enige iemand sommer sal kan sê dat een digter deur ’n ander digter beïnvloed is nie. Selfs al lyk ’n gedig vir my maar taamlik afgesaag, kan dit uiters uniek vir iemand anders wees, en wat ek uniek vind mag deur iemand anders as benede kritiek beskou word. Die uniekheid van ’n gedig kan dus ook nie gemeet word nie en kan nie ’n kriterium wees nie.

4. Elke gedig is kosbaar. Mens kry ’n gevoel as jy ’n gedig lees (en die gevoel word bevestig wanneer mens die digter se profiel lees) dat ’n gedig kosbaar is vir die skrywer. Ek respekteer sy motivering en gevoel en ek kan en wil nie daaroor redeneer nie. Die hoë waarde wat ’n skrywer aan sy eie werk heg, hoef egter nie noodwendig deur die leser of ’n beoordelaar gedeel te word nie, en kan dus ook nie ’n kriterium wees nie.

5. Elke gedig is ’n stukkie persoonlikheid van die skrywer. In die eerste plek wys die feit dat die skrywer 'n gedig ingestuur het, dat hy oor selfvertroue beskik. Dit blyk ook uit die profiele dat skrywers soms skroom of huiwering, selfs vrees, te bowe moes kom voordat hy sy eerste gedig ingestuur het. Daarna kan mens uit 'n gedig meer wys word oor die digter se persoonlikheid en lewensbeskouing. Presies wat die digter is, en wat hy dink hy is, is deel van sy persoonlikheid en is onveranderbaar; niemand hoef eers te probeer nie. Die persoonlikheid van ’n digter kan dalk met psigo-metriese instrumente of ideologiese vooroordele gemeet word, maar nie in of deur die kunste nie. Die persoonlikheid van die skrywer, hoe jy dit ook al opsom, kan dus ook nie ’n kriterium vir die evaluering van 'n gedig wees nie.

6. Elke gedig is 'n spieël van ’n stukkie van die siel van die skrywer (sy gevoelens, ervarings, menings, persepsies en gewaarwordings). Dit is so vanselfsprekend dat ek nie weet waarom ek dit hier noem nie. Miskien omdat, na my mening, sommige digters beter toegerus is of in ’n groter mate oor die vermoë beskik om hulleself uit te druk as ander. (Sien: daar trap ek self in die slagyster! Want ek het tot dusver geen identifiseerbare objektiewe norm of kriterium op grond waarvan ek so iets kan sê nie – dit is my 'n subjektiewe mening.) Die gevoelens van ’n skrywer is subjektief, daar is geen manier onder die son waarop ’n leser of beoordelaar kan bepaal dat die gevoelens van een digter “beter” of “swakker” is as die van ’n ander nie. Gevoelens in ’n gedig kan ook nie gemeet word nie en kan dus nie ’n kriterium wees nie.

7. Elke gedig is die beste waartoe die skrywer in staat is. Daar is gedigte wat in wroeging gebore is, daar is gedigte wat in sewende hemelse geluk gebore is. ’n Gedig is ’n hawe en mede-digters is 'n innige tuiste. Maar ’n gedig is ook meer as dit. ’n Gedig is 'n letterkundige psigo-sosiale terapie waar uiting aan hartseer, vrese, verlange, ontnugtering, drome, waardering en ... woede gegee kan word, waar mens kan mens-wees, waar mense nie slegs hulleself kan ontdek nie, maar deur meelewing ’n stewige hand en ’n warm hart kan bied aan ander wat dit nodig het. Die drang en behoefte om uiting aan emosies te gee, is so groot dat die inhoud die hoofsaak van die meeste gedigte geword het, en die vorm bysaak, en soms selfs irrelevant, in hedendaagse digkuns geword het. Ten spyte van pleidooie om meer te leer en meer te wete te kom van die kuns of wetenskap van digkuns, is daar herhaalde ontboesemings en versekerings van digters dat hulle wil skryf wat hulle voel. Ek het nie daarteen beswaar nie. Trouens, dit is moontlik dat die uiting van hierdie “spontaneous overflow of powerful feelings”, en die behoefte en geleentheid “to bare one's soul to the world” ’n bydrae kan lewer tot ’n persoonlike en samelewingskatharsis, in so ’n mate dat dit selfs gedagtes aan selfmoord kan onderdruk. Die uiting van emosies in ’n gedig kan egter ook nie gemeet word nie en kan dus ook nie ’n kriterium wees nie. Maar wees gewaarsku: dit is nie alle mense wat belang stel of belang het by egosentriese en soms patologiese ontboesemings nie. ’n Digter wat homself kronies in ’n teater-kollig wil hou – maak nie saak of dit die kollig van ’n skouburgteater of die kollig van ’n operasieteater is nie – moet weet: "Most people ignore most poetry because most poetry ignores most people" [Adrian Mitchell: Poems]

Nou moet ons onthou dat soeke na oplossings (dit is “navorsing”) in die eksakte natuurwetenskappe objektief geskied en dat die subjektiewe waardes van die ondersoeker nie ’n rol speel nie. Navorsing in die geesteswetenskappe kan nooit heeltemal waardevry wees nie. Hoe hard ’n navorser ook al probeer om objektief te wees, daar sal altyd iets van sy persoonlike waardes en agtergrond in sy navorsing deurslaan. Dit geld vir my ook. Enige iemand kan byvoorbeeld die sewe eienskappe wat ek genoem het, tot vier reduseer, of uitbrei tot elf. En enige iemand kan enige tyd ’n ander benadering volg en met vrymoedigheid sê: “Ek stem nie saam met jou nie, mens kán die essensies van ’n gedig meet en ek sal jou wys hoe!” Trouens, ek hoop so, want dit is belangrik dat ons kriteria vir die evaluering van ’n gedig moet hê.

Ons is nou verby stap 5): “Analiseer die data.” Ek het dit gedoen en het nie ’n antwoord op die probleem gevind nie. Nou is ons by stap 6): “Interpreteer die data en vorm 'n standpunt wat as beginpunt van 'n nuwe hipotese kan geld.” Ek het my waarnemings en gevolgtrekkings oor die gedigte bedink en herdink en herkou, en tot ’n gevolgtrekking gekom wat my verras het, en wat ek as ’n nuwe hipotese wil stel.

DIE SLEUTEL TOT KRITERIA VIR EVALUERING VAN DIGKUNS IS NIE IN DIE GEDIG NIE, MAAR BY DIE DIGTER EN DIE BEOORDELAAR

Dit is nie die gedigte nie, maar die digter en die beoordelaar wat gekategoriseer behoort te word. (Miskien is dit al lankal iewers gesê en almal weet dit ... dan vra ek opreg om verskoning.)

U weet byvoorbeeld dat daar mense is wat van nature geneig is om pessimisties (“die beker is half leeg”) of optimismisties (“die beker is half vol”) te wees. Overgeset zynde: As ek ’n gebore optimis is, sal ’n gedig met ’n pessimistiese strekking my ongemaklik laat voel, ek sal nie so lekker “vat” daaraan kan kry nie, ek sal voorkeur gee aan 'n gedig met ’n optimistiese inslag; en omgekeerd: as ek van nature tot pessimisme neig, sal ’n gedig wat optimisme uitstraal, my dalk grensloos irriteer.

Net soos wat daar optimisme en pessimisme is, het sielkundiges en filosowe talle tipes of kategorieë van lewensbeskouings of ideologië geïdentifiseer waarin mense wat dit handhaaf of onderskryf, geklassifiseer kan word, byvoorbeeld:

Rasionalisme: die rede, die verstand, is die spil waarom alles draai.
Romantisisme: nie slegs die romanse tussen mense nie, maar alles word maanskyn-en-roserig ervaar.
Nihilisme: niks is die moeite werd nie.
Hedonisme: plesier, genot, is die hoogste waarde wat mens kan nastreef.
Idealisme: as jy nie lewe vir ’n ideaal nie, is die lewe nie die moeite werd nie.
Realisme: net die werklikheid, die realiteite wat jy kan sien, maak werklik saak.
Surrealisme: die werklikheid is nie wat jy sien nie, daar is iets anders “agter” of “in” die dinge wat jy sien, en jy moet daarna soek.
Holisme: alles, alles om jou en in jou funksioneer as een groot geheel.
Universalisme: “Magtag, man, al die mense en al die volke oor die hele wêreld is een groot familie!”
Nasionalisme: elke volk of nasie het ’n eie identiteit ... en ’n eie taal.
Konserwatisme: behoudend wees: soek in die verlede alles wat goed is en bou daarop die toekoms.
Patriotisme: my volk en my vaderland en my geskiedenis is vir my deurslaggewend.
Individualisme: elke haan op sy eie mishoop, maar jy gun darem die ander hane hulle eie mishope.
Egoïsme: slegs dit wat ek dink en dit wat ek wil hê, tel; te hel met die res.
Pragmatisme: dit wat werk, wat resultate oplewer, is die belangrikste ... gewoonlik geld.

Daar is nog baie, baie ander –ismes soos altruïsme, teïsme, ateïsme, anti-teïsme. gnostisisme, humanisme, liberalisme, nepotisme, fundamentalisme, modernisme, post-modernisme, sosialisme, kapitalisme, kommunisme, kommunalisme, kollektiwisme, kannibalisme, materialisme, naturalisme, sensualisme, simbolisme, ens.

Elkeen van hierdie -ismes kan neerslag vind in die bril waarmee ’n digter, en ’n beoordelaar, na die werklikhede – ook gedigte - om hom kyk.

’n Mens is egter nie so eenvoudig dat hy slegs een “-is” is nie: in meerdere of mindere mate kan verskeie van die “-ismes” gelyktydig in een mens se lewensbeskouing figureer. Die ironie is dat ’n mens homself soms nie korrek identifiseer nie; hy dink hy is iets maar eintlik is hy iets anders. Die tragedie is dat ’n buitestaander ’n mens soms ook nie korrek indentififseer nie; hy skryf aan iemand iets toe wat hy nie is nie.

Die punt wat ek wil tuisbring, is dat indien die leser of beoordelaar van ’n gedig die basiese eienskappe van ’n pragmatis het, hy waarskynlik nie ’n waardering vir die gedig van ’n idealis sal hê nie; en omgekeerd. Indien die leser of beoordelaar ’n realis is, sal hy nie beïndruk wees deur die gedig van ’n romantikus nie; en omgekeerd. Indien die leser of beoordelaar ’n individualis is, mag hy dalk die gedig van ’n patriot vervelig vind; en omgekeerd. Let wel dat “-ismes” objektiewe entiteite is en nie gebruik behoort te word om een in selfgenoegsaamheid te verkneukel en ander te etiketteer nie.

Dit beteken dat indien iemand u gedig nie na waarde ag nie, of fout vind daarmee, of dit ignoreer, u gedig nie noodwendig “swak”, en u noodwendig “verkeerd” is nie, u en u gedig is net “anders.”

Die resultate is nou gepubliseer. Wat oorbly, is stap 8) “Hertoets (verifikasie deur ander wetenskaplikes) ”. Ek sal dit graag bietjie wyer wil stel: dat nie slegs “ander wetenskaplikes” maar ook ander navorsers, ander soekers na waarheid, en selfs digters en skrywers self (waarom nie?), die hipotese kan toets en dit verifieer of verwerp.

Tot sover iets oor kriteria en evaluering van die inhoud van ’n gedig. By ’n volgende geleentheid iets oor die kriteria en evaluering van die vorm van ’n gedig.

Notas:
[1] Fletcher: “A History of English Literature”.
[2] Frans van Zyl: “Die onuitspreeklike van die poësie”, gepubliseer op “Woes” 2010-08-25. (Maak ’n punt daarvan om hierdie artikel sowel as sy ander bydraes oor digkuns te lees.)
[3] PrentjieMaker het die aanhaling gebruik in sy kommentaar op “Digkuns – Definisies en verduidelikings” Dit was so treffend dat ek gedink het dat hy ’n groot letterkundige aanhaal. Dit is egter sy eie skepping. Wys jou die latente talent op Woes. ‘Skuus PM!
[4] Dialoog van Marthinus Oosthuizen in “Die Lange Hoop”, eerste bedryf, tweede toneel.
[5] Die aanhaling van Aap Sonner Hart is uit sy kommentaar op ’n artikel in Woes, weergegee in wederkerige e-pos kommunikasie (2010-06-26) n.a.l.v. die artikelreeks “Water help vir skilfers”.

Steyn Steenekamp

Kopiereg voorbehou.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Digkuns
Vandag het ek nou heerlik op jou werf rondgekuier... Dis 'n voorreg om hier te kon lees ... en te leer. Dankie!
4 jaar 6 maande 2 weke 4 dae 20 ure oud


Sjoe
Nou voel ek sommer dom.. het regtig nog so baie om te leer.
8 jaar 2 maande 2 weke 3 dae 14 ure oud


digkuns
Hallo Vesting.
Dankie vir hierdie deeglike inligting.
8 jaar 9 maande 10 ure oud


Skryfkuns
Baie dankie, het dit gecopy om weer later te lees en na te slaan.
8 jaar 9 maande 1 week 19 ure oud


Dankie
Groot waardering hiervoor - pitkos
8 jaar 9 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


beste Vesting,
wat `n uitnemende geestesoefening; dankie daarvoor!
Ek wil nie veel uitbrei op jou benadering en voorstelle nie , want dit lyk vir my so deeglik en bevoegd deurdag, dat ek dit eerder netso sou oorneem... as ek nie leemtes in jou gronde sou raaksien nie , waarop ek graag `n ietsie wil kekkel:

Waarvoor jy hierbo skryf, is vir die ontwikkeling van `n literatuurkritiek-model!? En inderdaad is dit `n hartseer gebrek in Afrikaans, waaroor NP van Wyk Louw reeds trane gestort het,{en wat beslis nie sedertdien gevul is nie}.

Tog ... waar begin ons met so `n projek? Ons wie se taal deur staat en modes geminag word. Is dit sinvol om op die 'goedheid' van die skryfstuk AS SULKS voorop te hou? Soos jy tereg uitwys: een se goed is `n ander se afstootlik... Afgesien van die lang reeks ismes wat jy neergeskryf het, staan daar `n veel kragtiger isme wat almal beheer: die anti-historisme. Seker maar die stiefkind van die evolusionisme, want hoekom sal ons ons kwel oor geestelike medeskepping van die toekoms , as alles inelkgeval reeds deur die 'voorsienigheid' van aardse evolusieprosesse voor-geskryf is? Ons hoef mos net in te val by Microsoft, Bell, Pfizer,Assosiated Press,die engelse taal, of wie nog ookal bewys het dat hulle die sterkste benadering tot hulle spesefieke sektor van bruikbaarheid volg...

`n Antwoord op die breë teen-geskiedkundigheid sou wees om die geskiedkundige nuttigheid van die werkstuk ook ten minste `n gedeeltelike rol in die beoordeling daarvan te gee. Groot digters uit die verlede { Goethe, Schiller,NP van Wyk... } KANNIE verstaan en waardeer word sonder inagneming van die rol wat hulle in hulle spesefieke kultuurgeskiedkundige era gespeel het, en elkeen van hulle word - naas hulle digwerk- ook waardeer vir akute insigte oor die betrokke tydvak.
Allermins betoog ek vir `n bende poletieke en relegieuse hithoofde. Nee, inteendeel dink ek dat `n skrywer wat in vandag se werklikheid tot `n skryfstyl met geskiedkundige vooroordeel kan aspireer, `n baie, baie wyse mens sal wees, wat vêrweg sal bly van die dom poletiek, of vlakke sektewese wat ons so pla.

Terwyl ek nou weer `n keer deur jou stuk gelees het, het ek agtergekom dat jou metode nie eers noodwendig sou bots met my voorstel nie, maar dat hulle mekaar dalk net sou kon aanvul. Die waarde van 'eksakt wetenskaplike metodes' sou natuurlik eers deeglik ondersoek moet word, soosook die kriteria vir 'geskiedkundig wees'...
8 jaar 9 maande 2 weke 17 ure oud


die weervoorspelling
dankie.
baie insiggewend en goed en 'maklik' geskryf.
(ons hoop die woesbeoordelaars van die pas afgelope kompetisie
lees ook die.)
8 jaar 9 maande 2 weke 17 ure oud


Baie dankie!
Hierdie skrywe maak groot sin vir my! Soos hulle sê, oor mooi en lekker kan nie gestry word nie ... Daarom seker kan 'n grapjas ook nie altyd almal laat lag nie. Ek moet jou gelukwens met die logiese uiteensetting en netjiese aanbieding van die skrywe - leersaam en 'n plesier om te lees!
8 jaar 9 maande 2 weke 20 ure oud


Skryf!
Daar IS so iets soos goeie, baie goeie en selfs briljante skryfwerk en vrot, en selfs uiters vrot, gedigte en ander skryfwerk. As dit nie so was nie sou uitgewers nie resensente betaal het nie. Soms word die mening van tot DRIE resensente gevra! Die onderwerp maak nie 'n gedig of verhaal of drama goed of sleg nie, maar die AANBIEDING, dus die TEGNIEK en STYL. Ek ken mense wat my al BAIE snaakser verhale as Tolla en Jan Spies vertel het, maar hulle kan dit net nie soos daardie twee AANBIED nie.
Daar is verskillende soorte skryfwerk wat op verskillende soorte leserskorpse gemik is. Nie alle skryfwerk het letterkundiuge waarde nie- en daar is selfs goeie en swakker
ontspaningslektuur.
Die gewildheid maak nie 'n werk per se groot of besonders nie.
8 jaar 9 maande 2 weke 22 ure oud


Digkuns: Kriteria en evaluering – die inhoud
Baie dankie vir hierdie insiggewende studie, wat duidelik met groot sorg verwerk is, waarin ek kan deel. Ek voeg dit beslis by as gunsteling met die doel om dit deeglik te bestudeer om vir myself bruikbaar te maak.
8 jaar 9 maande 2 weke 23 ure oud


---
Ek het groot waardering vir hierdie artikel Vesting .. baie dankie dat jy dit geplaas het.

Elke gedig is:
.. eerlik
.. waar
.. uniek
.. kosbaar
.. ’n stukkie persoonlikheid van die skrywer
.. 'n spieël van ’n stukkie van die siel van die skrywer
.. die beste waartoe die skrywer in staat is

Jou waarnemings synde gemeenskaplike patrone is spot`on!

Dankie - ek leer !Lekker!
8 jaar 9 maande 2 weke 23 ure oud



DVD-reeks, HOE HOOR EK DIE HERE SE STEM

deur Christo Nel

Hoe hoor ek die Here se stem? Soveel gelowiges vra gedurig: Maar hoe hoor ek die Here se stem in my lewe? In hiedie DVD-toerustingskursus gebruik Christo Nel 9 sessies om verskillende fasette van die antwoord op hierdie vraag vir gelowiges te belig.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar