Artikels

Titel: Dink jy die wereld het 'n vervaldatum?

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek kon nie help nie, maar die eerste gedagte wat in my kop gespring het was "Al die mense wat glo die wêreld gaan op die en die dag en uur vernietig/opgeblaas/weggeraap/veroordeel word... kan ek miskien hulle karre en huise kry?" Want jislaaik, hulle is nogal baie baie seker van hulle saak. Ek bedoel, hulle gaan dit nie meer nodig hê nie?

Die datums wat gegee word is nogal vrek akkuraat. Jaar en dag en alles. Dit is vir my verstommend. As ons kyk wavendaan hulle hulle inligting kry. Party hoor 'n stem uit die hemel, of het 'n droom, of doen wiskunde uit 'n 4000 jaar oue manuskrip. Die manuskrip is seker die beste een van die lot om iets op te baseer. Maar ek moet sê, hulle is geniaal verby as hulle sulke presiese datums kan kry.

Dit is seker maklike wiskunde, maar jinne. Die boek is 4000 jaar oud met 40 outers en ek moet aanneem, foutloos. Maar ek sal seker versekering by die doemprofete kry dat die manuskrip of boek foutloos is? Behalwe die ouderdom en hoeveelheid mense wat geskryf het, is die redigering, aanpassing en vertaling ook alles seker perfek. As ook die datums. Ek bedoel, ons kan seker met 100% sekerheid glo dat die voorvaders die datums reg neer... actually. Kon hulle al skryf 8-9 duisend jaar voor christus? Een oomblik.

Ok, die vroegste wat hulle begin skrywe het was so 4000 jaar voor Christus. Dis nogal cool as hulle verbaal alle datums foutloos vir 6000 jaar kon behou. Maar ok, kom ons gaan aan, ons het versekering van die kerk en die godsdiens en die manuskrip dat dit wel so is. En ons mag nie redekawel nie, want die manuskrip laat dit nie toe nie.

So, hier sit ons met 'n datum wat alles gaan opblaas of (voeg eie ramp hier) Op die dag volgens die sekere doemprofeet, gaan net sekere mense wat sekere kriteria vervul (niemand kan presies se nie want almal stry oor dit) skielik net gaan verdwyn. Ek wonder partykeer so skelm asof hulle 'n "poof" geluidjie gaan maak soos in die comics, en hulle klere net so gaan agterbly. Oeg, en miskien moet ons die loodse van die toekoms verbied om te vlieg as hulle Christene is. Net vir die wis en die onwis. Hoe erg sal dit nie wees as jou loods ewe skielik verdwyn nie, en die blonde ditsie lugwaardin 'n 747 moet land soos 'n veerpyltjie in 'n bord.

So lesers. Sal julle saamstem dat die doemprofete die einde van die wêreld verkondig vanuit die brille van hulle geloof? Ek sal liewers 'n doemprofeet soos Al Gore (klimaat) glo want hy maak 'n baie beter saak van die ding. Ek bedoel, daar is so bietjie fotos by, 'n paar statistieke (ja ja ek weet dit was nie 100% akkuraat nie, dit het ons na die tyd uitgevind) en iets wat ons met die blote oog kan sien. Hy maak 'n baie goeie saak van die ding. En klomp ander baie slim ouens met klomp Bsc Dok Post fiefomfaai agter hulle name stem saam en daar is 'n debat waar almal uitgenooi is aan. Mense praat, alle idees word oor gepraat. En kyk vandag. Ons try nie meer so baie olie brand nie, en ook probeer om iewers anders krag vanaf te kry.

Maar doemprofete wat geen opsies bied nie... dis bietjie te erg? O skies. Daar is 'n opsie. Jy moet soos hulle glo en deel in die illusie. Dan sal jy weggeraap word, en vir ewig lewe iewers anders. En jy arriveer seker kaal daar. Ek hoop maar nie ek land tussen die jonges nie, want ek begint nou net net 'n bierpens kweek. En die chicks laaik dit nie.

Maar daar was wel einde van die wêreld gebeurtenisse in die verlede. So elke couple of miljoen jaar wetter 'n moerse klip in die aarde in, en dit is amper soos 'n "reset" knoppie vir die aarde. Alles skop weer van voor af in. En daar was al 'n hele paar. Die laaste een was in Toengoeska. Dit was so groot soos 'n kernbom. Gelukkig het dit aan die gatkant van die aarde geval. Dink net as so iets op Kimberley geval het. Groot Gat Plus.

http://af.wikipedia.org/wiki/Toengoeska-voorval

Dis hoe ons die dinosourusse verloor het (meeste van hulle) en hulle self was 'n paar keer teruggeskop in hulle evolusie. Daar was 'n paar massa uitwissings al gewees. Die onlangse een was toe ons al die "super diere" verloor het. Niemand weet presies nog hoekom hulle almal ewe skielik besluit het om uit te sterf nie. Soos die een. http://en.wikipedia.org/wiki/Megatherium Ek dink selfs ou Zandberg Jansen sal gesê het "Nag ou grote"

So ja. As die einde van die wêreld kom, sal ons nie presies weet nie. Ek bedoel, as hulle weet, sal hulle seker op die meeste vir ons 'n week kan kennis gee. "Tjips ouens! Hier kom 'n mafoerse groot klip! Ons kan dit nie pypkan nie. Julle het een week. Geniet dit" En ek kan net dink watse chaos dit sal veroorsaak. Ek sal die grootste lening ooit uitneem. En ook sal jy mense sien vry soos nooit tevore nie, want hoekom dan tyd mors eh? En almal sal bos gaan om te probeer wat hulle nog nooit probeer het nie. En ek sal sonder 'n helmet ry op my bike. ens ens.

So as iemand 'n baie definitiewe datum wil neerskryf, en absoluut daarin glo, dan moet hy bietjie meer backup bring as net 'n klomp datums wat hy uit 'n ou boek gekry het, wat seker meer as die helfte van die wêreld nie in glo nie.

Maar as jy in die doemprofeet glo, sal jy sekerlik ook dan glo dat die wêreld sal vergaan op 21 Desember 2012. Hoekom is ek so presies? Want dit is wat die Majans van Meso-Amerkia geglo het. Hulle kalender tel terug! Hulle het begin met 'n moerse hoop dae en begin terug tel. Hulle kalender hou op daai dag op. En mense dink dis die dag wat alles gaan "poof" gaan.

So liewe leser. Watter een sal u glo? Een s'n is net so absurd soos die ander een. Actually, die Maja een klink baie beter. Ek bedoel, hulle het hoeveel jaar terug geweet wanneer hulle s'n gaan eindig. Maar ek dink nie Bybel het 'n datum nie, en hier het ons een persoon se stelling. As ons imperieus moet dink, dan bargain ek op die Majas s'n. Hulle hele samelewing het daarin geglo. En nie net een persoon nie.

Maar nogsteeds. As daar doemprofete is wat baie seker is dat die wêreld gaan eindig, mag ek voorstel dat julle groot vooruitgedateerde tjeks skryf en dit nou pos na die plaaslike sopkombuis of diere vereniging of Rooi Kruis of selfs Médecins Sans Frontières. As julle seker is, dan sal dit mos nie 'n probleem wees nie? O ja, en kan ek 'n kar kry? My bakkie se ratkas het ingegee (dis nou my boetie s'n en hy is 'n student en daar is nie gjeld om dit reg te maak nie)

Maar jy, tot iemand die tjappie kry waarop staan: "Die planeet verval op 23 Januarie 2034, moet nie na die datum geruik nie", sal ek vir mense aanraai om te relax. Niemand weet wanneer nie, nie die wetenskaplikes nie, nie die politici nie, en definitief nie godsdienstige mense nie.

Lekker dag daar,

Aap.



Kommentaar

Beste Aap sonner hart,

Dankie vir 'n tydige artikel. Die satire is dikwels skerp. Ek stem saam met jou dat die mense maklik somme kan maak. Maar na amper 60 jaar se gestoei met somme kan ek met oortuiging skryf dat makliker is om foute in somme te maak.

Daar is een leemte in jou artikel wat belangrik vir die onderwerp is. Daar is baie mense wat glo dat daar nie iets soos 'n laaste, deurligtige dag sal wees nie. Meeste van hulle dryf gewoonlik spot met die wat wel so glo, selfs die wat belei dat niemand die datum ken nie.

Wat my betref, as die Here hierdie skepping met 'n oerknal in 'n oomblik kon begin het, wat verhoed Hom om hierdie skepping in 'n oomblik te laat ONTLUIK in 'n nuwe skepping?

Mooi loop
2 jaar 10 maande 1 week 19 ure 49 minute oud


Ek glimlag vir jou want ek sien hoe sit jy op jou klip, jou uitkykpos en weet jy het in jou naam die waarheid verdraai.

Skerp geskryf!
2 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 6 ure 45 minute oud


Ai die mense se geheue wat so kort is - die aarde of wêreld het al tot sy einde gekom. Dit was die dag toe die Bloue bulle teen die Cheethas verloor het. haha
2 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 4 ure 53 minute oud


sell by date?
Ons is een planeet in 'n sonnestelsel, in 'n kluster, in 'n heelal. Dit is soos om die internet aan 'n mier te verduidelik.
In die middeleeue het die 'kerk' verkondig dat die aarde die middelpunt van die heelal is. Die mens MOET belangrik wees, die kroon van die skepping.
Reken ons is in vir 'n moerse ontnugtering.
2 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 5 ure 5 minute oud


'n Man in wie se bestaan jy seker ook sterk twyfel het tweeduisend jaar gelede ook van die dag van verandering gesê: "Die Vader alleen weet."
2 jaar 10 maande 3 weke 5 dae 10 ure 9 minute oud


picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar