Artikels

Titel: DISSIPLIEN
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Koning Friederich II, „die Grote”, van Pruise het uit ’n familie gestam wat bekend was vir sy kwaai dissiplien en drastiese maatreëls sou dit nie ingehou word nie. As tiener het hy van die huis af weggeloop en oral in die lande wat hy later gaan regeer, omgesien. Daarvan bestaan etlike staaltjies.  Natuurlik is hy gevang, en sy beste vriend, wat by hom was, is tereggestel. Friederich moes toesien hoe hy opgehang word. Dit sou sy les wees.

   Hy was spaarsaam tot gierig en het byvoorbeeld die offisiere se vollengte winteruniformjasse kort onderkant die boud laat afsny, om duur stof te spaar. Hy was musiek­begaafd, en sy dwarsfluitkonserte word vandag nog gespeel. Hy was streng dissiplinêr.

   Daarby wou hy sy volk, sy onderdane daartoe verhelp om
selfdissiplien uit te oefen, nes hy dit self gepraktiseer het: Sy land was klein en arm, en hy het staats­uitgawes op 'n minimum teruggesnoei en soos sy burgers lensiesop geëet. Sy soldate het hom vereer en graag gedien, want hulle het geweet dat hy hulle nooit in die steek sou laat, in 'n hopelose penarie sou laat afslag nie, soos wat menige koning dit oor die eeue heen gedoen het. Hulle het gegee wat hy verlang, en hy het sy posisie verstewig totdat hy die aanvaarde hoof van 'n statebond van duitse state was.

    As dit om dissiplien gaan, moet ons nie die drakoniese metodes van konings met byna diktatoriese mag aanwend nie. Ons kan egter leer wat hy sy mense wou vertel: Hulle sou deur
sy opgelegde disiplien leer om later die selfopgelegde dissiplien te kan uitoefen. Hulle sou aan die voorbeeld van hul staatsopperhoof leer.

En ons kinders vandag?

Byna oral op die wêreld is „Kinderbeskermingswette” van krag, waarby
   niemand 'n kind mag aanraak sonder die kind se toestemming nie,
   kinders, in die kleuterskool al, bygebring word dat hulle gelykwaardige burgers is,
   hulle leer dat niemand (hoegenaamd) hulle iets mag „beveel” nie.
   En 'n hele palet van gepaardgaande „vryhede” wat toegestaan móét word.

   Sodoende is die mag van die ouers en opvoeders aan bande gelê: „Ek eet nie boontjies/skakel die lig uit/vee my voete af/sit langs Oom Piet/skryf ordentlik/... nie. (Hy wat my probeer dwing, sal nog sien wat kom!)” Veral meisies word gedril in die kuns van afweer teen mans en seuns. (Waarvandaan kry ons die moeders van ’n navolgegeslag?) Maar ook die seuns: „Niemand het ’n reg om my te sê wat ek moet doen nie, ook nie Pa  of die onnie nie!”

   Ons sien geplaagde moeders in die inkoopsentrum wat hulle kind eenvoudig nie onder beheer het nie: „Marietjie skat, kom weg van daai rak met glas/seeppoeier/mottegif...?” „Ja, ja, maar ek het 'n arme dooi vlieg gevind...” „Kóm jy nou eindelik?” „Hmm, ek wil eers hierdie comic lees.” Persoonlikheidsafhanklik duur dit so-en-so lank tot die breekpunt kom. Dan sê die moeder vertwyfeld, „So, ek loop nou. Kom jy saam of nie?” „Nee, nee, oe-aah!” skree die kind, en alle bystanders kyk vol verwyt na die ma. „Ek bring jou nie weer saam as ek inkopies doen nie.” „Oe-aah, oe-aah!” Maar altwee weet dat Ma, alleenstaande met 'n vyf-dae-werksweek, die kind nie by die huis kan los nie, en sy kom volgende Saterdag weer saam.
   Toe ouers uit ons geslag besoek van die grootouers gekry het, het ons dikwels die verwyt gehoor, „Maar julle is te stréng, moenie so stréng wees nie!” Ouma en Oupa het met min woorde en hul lewenservaring en geduld die kinders daartoe gebring om dit te doen wat gevra is. Deesdae moet oupas en oumas eerder maan,  „’n Bietjie strengheid kan nie skade doen nie; júlle is mos die ouers, die volwassenes, die opvoeders, júlle moet sê hoe dinge moet loop.” En húlle (ons!) lewenservaring is ook beperk. Dissiplien moet wees, anders word die kinders nie gesosialiseer nie; dan staan hulle daar soos die armes, wat sonder ouers „op die straat” grootgeword het.

Hoe nou gedaan?

Een van Friederich se beginsels was dissiplien, 'n andere was voorbeeld, tot vandag toe een van die belangrikste beginsels in die opvoeding – tot in die tersiêre onderwys. Lui of onbekwame grootmense sê, „Do as I say, not as I do,” en met 'n sigaret in die mond lê hulle 'n straf op weens rook. (Het werklik met my gebeur: met my eie gekonfiskeerde siggies!) Hy of sy wie se eie slaapkamer onordentlik is, kan nooit verwag dat sy kind in sy kamer gaan opruim nie.

   Heelwat kan gedoen word sonder verwyt, met die wysvinger te dreig of te pedagogiseer. Dóén dit eenvoudig: Nadat ons gesê het, „Heer ons dank vir spys en drank,” het ons kleuterskoolkind vanselfsprekend daartoe aangevoeg, „en elkeen neem sy eetgerei kombuistoe,” soos hy alreeds vroeër die dag gesê het. Vanselfsprekendes ontstaan so. Byvoorbeeld, dat die skoene naasmekaar onder die bed staan (ons het teen daai emalje potjie geklôing om te bewys); dat die fietse altyd teen die muur aangeleun/onder die boom of die afdak/in die tweede garage/... staan; dat éérs huiswerk gemaak en dán gespeel word; dat Mamma altyd Sondags die woonkamer­blompotte natgooi en Erna (of Ernst) immer Woensdags; dat..., ensovoort. Pappa parkeer altyd sy fiets daar, en Mamma doen dit élke Sondag. Dit moet net gedoen word, sonder om groot daaroor te praat. Van aanvang aan. „So ís ons lewe mos.”

   In „Ons Huisie op die Prêrie” haal die een kind vuurmaakhout, die ander een eiers uit die hok, Pa maak vuur, Ma dek die tafel, iemand haal water,... Die amerikaanse woord vir sulke werkies in en om die huis is „chores”. In ons moderne huise ís daar nie meer soveel chores nie, maar ons kan mos tafeldek, opruim, bedopmaak, aan nie-skooldae afwas,...

   Takies moet reëlmatig uitgevoer word. As ons leer om 'n werkritme in te voer, kan hierdie vanselfsprekendheid tot stand kom. Hier by ons is seisoenstake: As iets nie regtydig voor die winter geskied nie, kan jy in Januarie invries . As die plantjies nog nie voor die einde van winter in die stoorkamer wortelgeskiet het nie, gaan hulle nie regtydig in die tuin ryp word nie. Die jaresritme. Dan die maand-, week-, dagritme, en andere: Skoeneborsel, fris bedlakens oplê, fietsketting olie,... Die ouers praktiseer dit van aanvang aan, die kinders neem dit as lewensvoorwaardes aan, en dit is ewe so.

   Aan dissiplien kom ons oor lus en graagte. Dit het Ouma en Oupa sonder moeite by ons reggekry, toe hulle sien hoe ons sukkel: Nie, „Hier, doen dit, doen dat!” nie, maar, „Kom, ons maak/doen/vee/was..., saam” „Wie haal vir my die besem (of watokal)?” Die tannies van die Padvinderwolflinge en die Voortrekkerpenkoppe het dit destyds reggekry. Ook die onnies in die laerskool het ons goeie gewoontes bygebring deur vriendelikheid en toegeneentheid, eenvoudig lief te wees. „Jy mag die hark (ens.) dra.” Dit was eg, en ek herhaal iets uit die vorige reeks: Die kinders weet wat eg en wat kamma is. Niemand moet hulle dit bybring nie.

   Humor is moeilik: Jy het dit of jy het dit (momenteel) nie. Jy kan dit nie inplan nie, dit moet spontaan kom. Dit kom egter as iemand vriendelik en toegeneig is, as iemand sy hele opmerksaamheid aan iets wy wat hy lief het. Aan die kind.

Daar het ons dit!

Die wysheid met lepels gesluk? Nee, het ons nie: „Opgeblase ou beterweter!” „Oumensgeprewel!” Op papier lees dit maklik (vervelerig?), maar hierin lê rigtingwysers vir hoe dit gedoen kán word.

Om op te som:

Om DISSIPLIEN te bereik,
   gaan die volwassenes, opvoeders met goeie VOORBEELD vooraan;
   word goeie ou gewoontes as VANSELFSPREKEND aanvaar;
   word alles wat gedoen moet word, GRAAG uitgevoer;
   word reëlmatige takies in en om die huis in RITMES deurgevoer.
   As jy BEVEEL: Soos by die Planeetkoning en die Klein Prinsie, van ses dinge wat die onderdaan wíl doen, kies die een uit wat jy wil hê, hy móét doen.
   Met MILDE en STRENGE word gehandel; 'n STRAF is nie 'n (leë) dreiging nie, dis 'n belofte en móét deurgevoer word (kies die straf so, dat dit passend is – vir die kind én die stoutheid).
   Nie vergeet om te lag en om 'n drukkie te gee nie.

Hier kom ook nie 'n slotsom nie:

[Natúúrlik het ek nie alles behandel nie; natúúrlik het sommige mense 'n ander mening. Natúúrlik loop die gesprek verder. Daarom vra ek weer beleefd dat julle met terugvoer aan die gesprek deelneem.]

©.2013.§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§§.tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Interessant
Dankie vir die geskiedenis van Friederich 11 - baie interessant!
6 jaar 2 dae 17 ure oud


Erratum: Straf
Ekskuus:
SLAF = SLAP (Alweer 'n taalmengelmoes!)
WAG (dt) = WAKKER (afr):
...die volwassene moet wakker bly...
Dankie vir die geduld
GvT
6 jaar 2 dae 20 ure oud


Straf
Dankie, mense.
Straf kom van straf = stram, styf, gespan, soos by 'n vioolsnaar;
punish kom van punire = Phonesiese oorlog, uitrotting (van euwel).
In ons germaanse tradisie was die nie die doel om iets te verniel of vernietig nie, ook geen dodesstraf nie, sonder om dit wat slaf en unmusikaals was weer helder te laat klink, suiwer toon te gee.

Die mens is nie 'n dier nie, maar soos hy van die aarde stof ge"rf het, van die plante lewe, het hy iets van die diere, dit is beweging sowel van die liggaam asook van die siel = gevoelens. By die (wild-)diere is dit suiwer en nie oortrek deur allerhand slim gedagtes nie. Dis goed as ons by die diere gaan leer.

In 'n natuurfilm van Jamie Uys staan die leeumannetjie op en wil links van die prent afloop. 'n ,Stout' welpie kom agterna en byt pa in die vers of stert. Mannetjie staan sklielik botstil en wag, hoe lank kan ek nie meer sê nie. Maar kort voor lank kom Kerneels en maak deemoedige gebare voor die tropaanvoerder, wat hom nie eers ,sien' nie en stap verder.

Die kunsgreep met die twee lepels: In die kol. Maar die volwassene moet wag bly, die kind is veel, veel slimmer as ons, Vertel ons graag wat is jou volgende ,oorlisting'.

Nogmaals dankie, GvT
6 jaar 3 dae 1 uur oud


Dissiplien
Ek glo dat ons word gebreinspoel met allerhande wette en riglyne van hoe ons ons kinders vandag moet opvoed. Ek glo dat die beste beginsels is steeds in die Bybel vir ons uitgespel. Daar is niks mee verkeerd jou geliefdes te straf as hulle verkeerd doen nie en drukkies te gee en liefderyk aan te raak solank dit nie onbehoorlik is nie. As ons kyk na die diere in die natuur sal ons sien dat die diereryk dit ook doen. 'n Hen sal die kuiken wat nie wil hoor nie 'n liefderyke pik gee en die kuikens altyd beskerm teen gevaar en hulle aan kloek na waar sy vir hulle kos uitskrop. Bobejane gee hul kleinjies pak en hou die familieband deur mekaar te groom. Lees ook my Gorrel stukkie "Raak mekaar aan en gee mekaar drukkies"
6 jaar 3 dae 14 ure oud


---
Hier by ons het ons te doen met "the terrible two's".

Om my kleinkind te kry om tande te borsel word daar twee tandeborsels na hom toe uitgehou met die vraag: Watter een wil Ironman vandag gebruik? Hoera! Tandjies word geborsel want hy dink dat hy in beheer is van die oefening. Aan die anderkant van die pennie het hy eintlik presies gedoen wat ek wou hê hy moes doen dws. tande geborsel. Ek doen presies dieselfde wanneer dit by groente eet kom. Met watter een van die twee lepels moet ouma die ertjies mee inskep. Hy kies. Ek skep. Hy eet.

As die knaap die dag regtig moeilik is, is dit "Badkamer toe!" dan sit hy daar vir 'n paar minute om aan sy sondes te dink. Afhangende van hoe erg hy stout was bepaal die aantal minute. 3 Minute is eindeloos lank vir 'n 3 jarige.

Hoe dit ookal sy, dit werk! (Tot dusver bygesê!)
6 jaar 3 dae 15 ure oud


--

Nie vergeet om te lag en om 'n drukkie te gee nie. [Seker die heel belangrikste doen tussen al die dink]
6 jaar 3 dae 16 ure oud


dissipline
Ja onse Toom, die groot probleem is dat vandag se ouers bang is vir hulle kinders. Te veel leesstof daarbuite wat allerhande twak verkondig en ouers laat vergeet om die natuurlike weg te volg.
Ek se altyd ons moet kyk wat in die natuur aangaan. Gelukkig sien ons dit baie want woon teen die Kruger Park.
Al gesien wat maak die aap en bobbejaan mammas en pappas met onmoonlike kleingoed. Boeta hulle word gestraf dat jy net blou moord hoor skree. En die leeus, wyfies en mannetjies gelyk: kan jy dink hoe dit voel as daardie merske poot jou 'n dwarsklap gee, of jy 'n dwarsbyt kry?
Maar nou-nou. nou-nou kom daardie einste kalant en soek witvoetjie want hy weet wie is baas en wie sal hom teen ALLES in die lewe beskerm. Dan word daardie poot en kwaai ouerlyf een groot sagte bondel troos. En daarmee saam die belofte, ek sal vir jou sorg.
DIT LAAT DIE KINDERS VEILIG VOEL EN KWEEK RESPEK. Groot storie die.... van veilig en beskut voel teen die groot wereld, en dit beteken nie dat ek mag maak wat ek wil nie.
6 jaar 4 dae 2 ure oud



Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar