Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die geskiedenis van sjokolade het in Latyns-Amerika, waar kakao bome wild groei, begin. Sjokolade, die gefermenteerde, gebraaide, en gemaalde bone van die Theobroma Kakao, kan teruggevoer word na die Mokaya en ander pre-Olmek groepe, met bewyse van kakao drankies wat terugdateer tot ongeveer 1900 vC. Die Olmek-woord vir hierdie bone was “kakawa”.

Sjokolade het 'n besondere rol gespeel in koninklike en religieuse seremonies van beide die Maya en Asteke. Priesters het kakao-saad as offerandes aan die gode gebied en sjokolade drankies tydens die heilige seremonies bedien.

Die bewoners van alle gebiede wat kakao-bone gegroei het en deur die Asteke verower is, is beveel om ‘n “belasting” aan die Asteke te betaal en die betaalmiddel was kakao. Hierdie kosbare bone is ook as geldeenheid deur die Maya gebruik en mens sou met ongeveer 10 kakao-bone ‘n haas of ‘n prostituut kon koop en nee, dis nie ‘n tikfout nie. ‘n Slaaf is vir 100 bone verkoop. Mmmm ... laat mens nogal dink, is dit nie?

Blykbaar is kleibone deur sommige entrepreneurs as vervalsings aangebied. Sjokolade is ook gebruik in huwelikseremonies, waar dit deur die bruid en bruidegom as geskenke aan mekaar aangebied is. Tien teen een is dit waar sjokolade se erotiese saadjie geplant is ...

Die Maya het hul sjokolade voorberei op amper dieselfde manier as wat dit vandag gedoen word. Eerstens is die bone geoes, gefermenteer en gedroog. Die bone is dan gebraai en die skulpe verwyder en die res is tot 'n pasta gemaal. Die pasta is gemeng met warm water en speserye, soos chilli, vanielje, wonderpeper, heuning, en blomme. Sjokolade was ook gemeng met koring en water om ‘n soort sop te maak.

Vir honderde jare het sjokolade onveranderd gebly, maar tydens die Industriële Revolusie het baie veranderinge plaasgevind. In die 18de eeu is masjinerie geskep wat kakaobotter vervaardig het en gelei het tot sjokolade met ‘n langer raklewe.

Die Europeërs het sjokolade versoet deur melk en geraffineerde suiker by te voeg, twee bestanddele wat destyds onbekend aan die Meksikane was. John Cadbury het 'n emulsifiseringsproses ontwikkel om soliede sjokolade te begin maak.

In 1875, het Daniel Peter en Henri Nestlé begin om kondensmelk by soliede sjokolade by te voeg en melksjokolade geskep. In 1879, het ‘n Switser, Rudolphe Lindt, ‘n masjien uitgevind wat aanhoudend draai en wat die tekstuur van sjokolade verder verfyn het.

Hoewel kakao oorspronklik uit die Amerikas kom, produseer Wes-Afrika deesdae amper twee-derdes van die wêreld se kakao, met die Ivoorkus as belangrike bron. Vandag is sjokolade wêreldwyd beskikbaar en steeds so gewild as eeue gelede.















 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ek is


. . . . 'n Peppermint Crisp en Melksjokolade-man,

. . . . maar verraai myself met daai likeursjokolades
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 5 ure oud


Ita
sjokolade
Pragtige stuk propvol nuwe informasie! Nou weet ek meer oor die geskiedenis van sjokolade...deeglike navorsing!
7 jaar 4 maande 2 weke 6 dae 1 uur oud


Uitgebreide kennis?
Uhm ... ek het 'n goeie vriend, Vic. Sy naam is Google ... :)
7 jaar 4 maande 2 weke 6 dae 8 ure oud


Sjokolade
Sjoe, so daardie intense hartklop van my was toe nie 'n hartaanval nie -- goed om te weet ;-)

KB, ek verwonder my absoluut aan jou uitgebreide kennis oor hierdie en soveel ander onderwerpe en dit seker nog sonder die Internet nè?
7 jaar 4 maande 2 weke 6 dae 21 ure oud


Vuurvrou
Tjoklit lyfverf? YUM.
Klink of dit gaan smelt sodra jy die saak ... eh, vurig begin ondersoek...
7 jaar 4 maande 3 weke 1 uur oud


the devil made me do it!
KB, dink jy dit werk vir tjoklit lyfverf ook?

Vuur sal, vir Volk en Vaderland, die saak wetenskaplik gaan ondersoek en berig ...
7 jaar 4 maande 3 weke 2 ure oud


tjoklitsoene ??? :)
Wetenskaplikes het bewys dat kakao en donker sjokolade, weens ‘n chemiese reaksie, mens régtig laat beter voel. ‘n
Studie deur die BBC het bewys dat sjokolade wat in jou mond smelt ‘n toename in breinaktiwiteit en hartklop teweeg bring
wat selfs meer intens is as ‘n passievolle soen. Die effek hou ook vier keer langer.
7 jaar 4 maande 3 weke 5 ure oud


yum!
Kyk, nou het jy 'n onderwerp beet waaroor ek dalk 'n tesis kan skryf. My vriende weet my grootste hartsbegeerte is om vir 'n naweek in die Cadbury fabriek toegesluit te word. En ek gee nie om wat enigiemand sê nie, tjoklits is goed vir jou! Ek bedoel, hoe kan iets wat AL die voedselgroepe bevat, sleg wees vir jou?
7 jaar 4 maande 3 weke 5 ure oud



Jesus Beter en Beter

deur Lynie van Westfort

'N digbundel deur God geinspireer. Geskryf deur 'n verloste vrou. Baie diep het Hy my uitgehaal.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar