Titel: Ek het woord vir jou
Weergawe: 1
Aantal woorde: 595
Kere gelees: 65
Datum gepubliseer: 15 Jul 2010
So gebeur dit dat die persoon vir my 'n boodskap bring. Van God af. Nee, ek is glo hardnekkig klouend aan die sonde, daarom kan God nie met my kommunikeer nie, daarom hoor Hy nie my gebede nie, daarom beantwoord Hy nie my smekinge nie. Nou nie dat die man weet presies wat my gebede en smekinge behels nie, maar hy kan darem sien dat ek swaarkry, dat geld min is, en so aan...
Die vrou by die kerk vertel vir my egskeiding is sonde. Daarom is daar 'n groot sloot tussen my en God, kan my versoeke nie deurgaan na Hom toe nie. Ja, ek stem volkome saam: Egskeiding is groot sonde. Veral in my geval. Sien, EK het die Eis gaan "file". Ek is dus die sondaar. My man het rondgeloop. So what? Baie (die meeste!!!) mans loop rond, en hulle vrouens het die diepte van geloof en hoop en vertroue waarmee hulle die nietige dwalinge vergewe en voortgaan om hul huwelikke te red. Hulle is mooier, meer beskikbaar, werk harder, doen alles en nog meer om hul dierbare mans gelukkig te hou, want die huwelik moet gered word. Hulle het geen selfbeskikking nie, as manlief wil gaan visvang of gaan drink met sy sports-vriende of gaan braai waar die bure se "busty" vrou en jong dogters ook tussen die cocktails rondhang, dan is dit reg. Vroulief lag en gesels en red die huwelik.
Maar ek het nie kans gesien om die huwelik teen so 'n hoë prys te red nie. Toe het ek geskei. Nou dit is, lyk my DAAROM dat God nie my gebede vir gewone oorlewing wil aanhoor nie.
Vra ek die groot geestelikes hoe moet ek God dan behaag sodat Hy my ook in sy Vaderskring sal toelaat, daar waar die ander vrouens met hul rondloper-mans se 4X4's en JEEP wat-ookals en BMW X ek weet nie meer hoeveel nie, rondry, dan weet die geestelike leiers nie. Hulle reken net ek moet my sondes laat staan, dan sal God my raaksien.
Ek sien die ander mense se sondes natuurlik meer raak as my eie. Nie omdat ek soos die Fariseër van die Nuwe Testament voor in die kerk op my bors wil slaan nie. Omdat ek nou al alles wat ek as moontlike sonde kon identifiseer, gelos het. Selfs die begeerte om 'n man te hê sodat ek as Mevrou ook bietjie status tussen die ander kan kry. Maar lyk my ek het iewers 'n sonde wat baie groter as die ander gemiddelde mense s'n is. Die wat mens maklik raaksien.
Ek wil nie graag 'n ateis word nie, want ek dink nogal ek het God baie lief. Ek het Hom lief omdat die skool en die kerk en die sondagskool my oor baie jare geleer het van God wat Almagtig is, en wat alles kan doen, mens moet net bid en vra. En van Jesus wat al jou sondes wegneem, jy moet dit net aanneem en glo. Ek probeer hard om binne in daardie reëls te lewe en bid gereeld. Ek kerm darem nie net heeltyd as ek bid nie. Ek prys God ook vir baie dinge. Soos dat die son elke dag opkom, dat ons nog Eskom krag in die winter het om heaters aan te sit, dat ek nog elke dag kos het om te eet. Maar vir die vreeslike lae standaard lewe, die vreeslike baie opofferings, die vreeslike minderwaardige situasie, daaroor prys ek Hom nie. Dalk is dit my fout, my sonde?
Ek het Woord vir jou. Niks meer nie. Net woord.
Lees ander artikels deur Trixie
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


deur Elzabe Young Heyns
'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.